
Dit is tragies om te aanskou hoe die steeds stygende lewenskostes en hoë werkloosheidskoers wat gepaard gaan met die snerpende winterweer ’n demper op die lewenslus van miljoene brandarm mense plaas.
In die Nelson Mandelabaai-metropool (NMBM) se mees berugte arm en geweldgeteisterde woonbuurt, Helenvale – in die Baai se noordelike gebiede – is ek onlangs met die hartseer verhaal van kroniese armoede en van ’n steeds agteruitgaande en stukkend gemeenskap gekonfronteer.
Dit is die verhaal waar die bruin mense nog steeds uitsigloos staan, omdat hul droom van ’n beter lewe vir môre amper gesterf het. Waar bendegeweld, drankmisbruik, tik en tienerswangerskap die inwoners se wens vir die dood groter gemaak het as vir die lewe.
Waar kinders hoenders, honde en katte in die strate vir vermaak verjaag. Waar speelgeriewe skaars soos hoendertande is. Waar kledingstukke of koerantpapier die wind uit die RDP-huisies met stukkende vensters moet hou. Waar – soos wyle SV Petersen gedig het – “[h]ulle op skuld leef/ tot Vrydagaand./ en tot die einde van die maand …”
Waar jong mans en meisies rigtingloos sonder werk en ’n droom in die strate ronddwaal. Waar oumense met ’n hartseer uitdrukking op hul gesigte op leë verfblikke in die son of wind of stof sit en staar na ’n beter horison wat te ver en boonop nog te hoog is om te bestyg.
Ek moet skielik stop vir ’n groep eiesinnige kinders wat in die pad speel. ’n Dame verjaag hulle met onbehoorlike taal. Sy storm nader en wil by my weet hoekom Die Son berig dat inwoners van die NMBM voortaan meer vir alle munisipale dienste gaan betaal. “Waar gaan onse mense die geld kry? Ons het nie eens geld vir kos nie. Nie eens vir skoolgeld nie. Wat te sê nog vir water en ligte? Waarheen gaan die geld in elk geval heen?”
Op daardie oomblik het ek nie geweet arm mense in die NMBM kan vir goedkoper munisipale dienste aansoek doen nie. So, ek was nie van veel hulp vir die dame nie.
’n Arm huishouding met ’n gesamentlike inkomste van twee staatspensioene (R2 400) en minder kwalifiseer vir gratis 30 kw/h elektrisiteit, 8 kiloliter water en vullisverwydering. Waterlekkasies word gratis herstel en armes kwalifiseer ook vir verlaagde eiendomsbelasting.
Dit is wel goeie nuus, maar dit lyk asof daar met die een hand gegee word en met die ander hand weggeneem word; veral by die armes.
So, is die nuus dat dié hoër tariewe besighede se bestaan in die NMBM bedreig, slegte nuus vir werkende mense wat hulle werk moontlik kan verloor en ook vir werkloses?
Die nuus dat die munisipale bestuurders van die agt metro’s in die huidige geldjaar saam meer as R17 miljoen kan verdien, klink nie goed nie. Logiese verduidelikings moet veral aan armes gegee word, sodat hulle die nodigheid daarvan – indién nodig? – kan begryp.
Wat vir my opvallend was deur gesprekke in Helenvale is dat Julie as nasionale Spaarmaand nie vir inwoners iets beteken nie, omdat hulle skaars genoeg geld het om ’n daaglikse bestaan te maak.

