Daar is ʼn internasionale tendens hier te lande en verder globaal dat politieke partye wegbeweeg van ver links of ver regs na die gematigde en aanvaarbare middelpunt van die politiek, waar populisme aan die orde van die dag is bloot om net verkiesings te wen.
Idees word nie meer vooropgestel nie en sodoende word die intellektuele genepoel in politieke partye en ook in gemeenskappe uitgeput. Die dieper vertolking of intellektuele begronding van begrippe vervaag of bestaan glad nie meer nie.
Om hierdie “beweging” of "vervaging” van “ou” en “nuwe” paradigmas in die plaaslike en internasionale politiek te peil moet die wêreldekonomie se afplatting sedert 2008 na die ineenstorting van die beleggingsfirma Lehman Brothers nie buite rekening gelaat word nie.
Skielik het die twee kernaspekte van ons gedeelde samelewingsbestaan – naamlik die “politiek” en “ekonomie” – lynreg teenoor mekaar vir die beste posisie in die beskawing gewedywer.
Met kompetisie, mits dit regmatig en deugsaam gehandhaaf word, het ek geen fundamentele dispuut nie – veral as dit vernuwende idees na vore bring.
Dit is duidelik dat brood-en-botter-kwessies of die ekonomie deur gemeenskappe wêreldwyd vooropgestel word – meer so omdat die kernbeginsels van die ekonomie as ʼn sosiale wetenskap ons leer dat die ekonomie die sleutelbousteen van ʼn suksesvolle gemeenskap is.
Die “middelregs”-uitslae van die verkiesings vir die Europese parlement verlede jaar en die Britse verkiesing in Mei vanjaar is duidelik beïnvloed deur die ekonomiese bekommernisse van Europeërs en die politieke swaai na middelregs die afgelope dekade in Europa.
Die Europeërs is meer bekommerd oor ekonomiese kwessies soos behuising, onderwys, gesondheid, immigrasie en die veilige bewaring van hul pensioene.
Dit is hoekom middelregses soos die Britse Konserwatiewes, die Front Nasionaal van Frankryk en die ietwat verregse Onafhanklikheidsparty (Ukip) van Brittanje verkiesings wen. Ukip en hul leier, Nigel Farage, is veral gewild omdat hul immigrante uit Brittanje wil hou.
Daarteenoor kwyn die steun van sosialistiese en middellinkse groeperinge soos die Franse president Francois Hollande se Sosialistiese Party en die Britse Arbeidersparty.
In Suid-Afrika het die vooropstelling van die ekonomie ontaard in die genadelose najaag van hulpbronne en die plundering van die staatskas. Die direkte oorsaak daarvan is roekelose jeugdige populisme en die uitkalwe van ʼn broodnodige intellektuele klas.
Die opbloei van populisme en die kwyning van intellektualisme in die ANC en DA is kommerwekkend.
Dink aan die ANC se nasionale kongres in Polokwane in 2007 waar die ekonoom en intellektueel Thabo Mbeki deur die halfgeskoolde Jacob Zuma onseremonieel as president van dié regerende party uitgeboender is.
Dink ook aan die onlangse DA federale kongres in Port Elizabeth waar die jong, onervare Mmusi Maimane ten koste van die gesoute intellektueel Wilmot James tot leier verkies is.
Die DA het alles – ervaring, hul klassieke of neoliberale idees en intellektuele vermoëns – omvergegooi net om saam met die ANC op die “middellinkse” punt van die politiek te kan konkurreer. Dit is nie net kortsigtig nie, maar opportunisties. Dis om meer swart stemme te trek om verkiesings te kan wen, sonder om diepdenkend oor die uitdagings en die toekoms van die land te wees.
Dit is politieke selfmoord in die ergste graad en James was ongelukkig die slagoffer daarvan. Die politieke pad waarop die DA hom nou begewe, is nie volhoubaar nie en disintegrasie is dus onafwendbaar.
Waar is die intellektuele in die ANC wat histories indringende vrae gevra het en rigting in dié party en land gegee het?
Hierdie intellektuele verval kan Suid-Afrika verwoes. Die land se toekoms kan nie op EFF-politiekery geskoei word nie.


