Waar die grond nog praat – kultuurgeleentheid in Springbok

  • 0

Foto: Farroll Coetzee

...
“Dan het antie Susanna, ’n vrou uit die gehoor, ook oopgemaak oor die onthougoed wat nog eina lê. Oor hoe sy haar eerste Nama-woorde ontdek het, Te Elotse. As klein kjeent het sy altyd tussen die grootmense gesit en varkoor gooi. Toe eendag hoor sy haar ma dit sê. Dit was vir haar die mooiste woorde. Sy wou die heeltyd voel hoe dit in haar mond rol. Al om die kookhuis het sy dit bly oor haar tong laat gly. Maar arme klein Susanna het nie ’n benul gehad wat dit beteken nie. Toe haar ma dit hoor, toe slaan sy vir haar so dat Susanna besluit het om nooit weer Nama te praat nie.”
...
“Ellie Cloete was die alleeneienaar van die plaas Melkboschuil (vorige naam van Springbok) wat die eerste ongedokumenteerde vroue-optog met 60 ander Nama-vroue in 1912 gelei het en wat tot haar dood toe geveg het vir haar grond, asook die regverdige behandeling van alle Nama-mense in die Namakwa-streek.”
...

Namaqualand Digital Story Lab het op 24 en 25 September vir ons ’n ontmoeting van foto-uitstallings, kulturele optredes en gesprekke oor groen ekstraktivisme, onder die treftitel Klimeit se lyf van uitgeskryf tot ingeskryf, in Springbok, Noord-Kaap aangebied.

Tony Links skryf in So praat ons Namakwalanders (1989, Tafelberg) dat die woord klimeit nie sy oorsprong as skelwoord het nie, maar afkomstig is van “klein meisie”. Een van die projeksamestellers Ester Engelbrecht noem dat sy juis die woord uit koloniale onderdrukking wil opeis en dit met hierdie projek weer ’n opbouende en positiewe betekenis gee. Die egte betekenis. Die regte een.

Foto: Farroll Coetzee

Dit is juis die hart en vertrekpunt van die projek: om te kyk hoe jong vroue van Namakwaland hulself en hul mense weer in die geskiedenis kan terugskryf. Toe het die drie lede van KUM Africa Engelbrecht, Maquen Carstens en Janine Lange besluit om ’n fotografie-inisiatief te loods. Met die ondersteuning van WoMin African Alliance (die hoofbefondser), kon die projek na Namakwaland keer, waar dit reeds vroeër vanjaar by Iziko Slave Lodge te sien was.

Die programleier van WoMin South Africa Elsbeth Engelbrecht sê dat hulle graag vir jong vroue die tyd en ruimte wou gee om met ’n kamera of ’n onderhoud huis toe te gaan en begin luister.

“KUM Africa se werk en visie was deel van die grond waaruit hierdie proses gegroei het. Saam met VVVT, Building Feminist Futures en ander vennote, het WoMin gehelp om die Digital Story Lab te ontwikkel en te dra,” sê Elsbeth.

 Al drie van KUM het die projek saam gelei. Met dié dat Ester Engelbrecht die jong vroue help om stories uit hul onderskeie gemeenskappe neer te pen. Carstens het die vroue weer gementor om die foto’s wat daarmee saamgaan, te neem. Lange het die leerproses ontwerp, vennootskap help ontwikkel, fondsinsameling en administrasie behartig. Hiermee bevorder hul dan juis ook vaardigheidsontwikkeling en gemeenskapsdokumentering. Dit is verder ontwikkel en tot stand gebring deur Nama-Khoi Munisipaliteit en die volgende organisasies: Building Feminist Futures, WoMin African Alliance, VVVT, African Gender Institute, QFFF (Queer Feminist Film Festival) en Tshisimani Centre for Activist Education.

12 lede van die VVVT (vrywillige, vooraf en volledige, voortdurende ingeligte toestemming) is gekies om aan die projek deel te neem.

Hul sluit in: Shaney Christian (Steinkopf), Nadine van den Heever (Rooiwinkel), Monichia Dirkse (Rooiwinkel), Jadene Bates (Komaggas), Deborah Meiring (Concordia), Jaydey Matroos (Steinkopf), Sharell Carstens (Steinkopf), Alecia Wanza (Rooiwinkel), Mevonѐ Meyer (Steinkopf), Maxine Roberts (Steinkopf) en Chesrѐ van Neel (Concordia).

Foto: Farroll Coetzee

Hulle onderskeie foto’s met stories daarby is met eenvoud en styl aangebied. Elkeen het ’n ander onderwerp gehad, van Nama-hutte, bejaardes, musikante, veewagters en die natuur. Prente wat stories van volharding en vele herinneringe vertel. Van verledes wat met elke plooi op die hand of wang lê. Tot grond, klippe en koper wat van ’n onregverdige verlede getuig. Die span het hul goed van hul taak gekwyt en die testament hiervan was die terugvoering van hul onderwerpe: die grootmense van Namakwaland.

Maxine Roberts se model Lena Joseph het bewoë gesê dat Maxine haar “gebrei het en nou’s ek vry. Ek ken die prys van eiers en weet hoe hulle smaak.”

Dan het antie Susanna, ’n vrou uit die gehoor, ook oopgemaak oor die onthougoed wat nog eina lê. Oor hoe sy haar eerste Nama-woorde ontdek het, Te Elotse. As klein kjeent het sy altyd tussen die grootmense gesit en varkoor gooi. Toe eendag hoor sy haar ma dit sê. Dit was vir haar die mooiste woorde. Sy wou die heeltyd voel hoe dit in haar mond rol. Al om die kookhuis het sy dit bly oor haar tong laat gly. Maar arme klein Susanna het nie ’n benul gehad wat dit beteken nie. Toe haar ma dit hoor, toe slaan sy vir haar so dat Susanna besluit het om nooit weer Nama te praat nie.

...
“As ons mense dood, dan is dit ’n biblioteek wat afbrand.”
...

Hierdie vertelling het my bewus gemaak van die intergenerasietrauma van die taal. Hoe ’n woord wat eintlik “Loof die Heer”, soms “O Jirre”, beteken, so lelik en strafbaar gemaak kon word. Die skaamte en pyn hiervan nog tasbaar. Tog is die vuur in die jong vroue se foto’s vasgevang amper aansteeklik. Die durf om geskiedenis nie net oor te skryf nie, maar om dit met nuwe respek en eer aan die reeds kleurvolle lappieskombers van stories oor Namakwaland as komvandaan vas te ryg. Met dié idee in gedagte, tref Engelbrecht se woorde ’n seer aar wanneer sy sê: “As ons mense dood, dan is dit ’n biblioteek wat afbrand.”

Die 12 se foto’s kan by hierdie skakel na die aanlyn uitstalling waardeer word.

Iets wat ook xhoei (gereeld) xham (vaskleef) aan my onthou, is ’n muur vol stoele wat deel was van die uitstalling. Verskeie stoele is met tou van die dak afgehang. Elkeen met ’n naam op. Vroue wat groot spore in Namakwaland gelos het: Ellie. Rabekka. Miena. Lena. Lydia. Jakoba. Marta. Miemie. Katriena. Elsie. Eva. Marie. Koekie.

Die lys gaan aan.

Al die mure van die gebou te min om almal te eer.

Name wat vir altyd in ons harte en in die grond sal agterbly.

’n Gedig is onder die hangende stoele geskryf:

Die stoele is leeg.
Maar die afwesigheid sit nog.
Inie huis.
Inie grond.
Inie stof wat om die stoelbene bly lê.
Inie merke op die vloer waar die stoele eens gestaan het.
Inie hanne wat nog onthou hoe ’n stoel se rugleuning gevoel het.
Inie plek langs die vuur waar sy altyd gesit het.
Inie name wat ons hardop lees.
En bo ons hang 24 stoele –
leë plekke
waar liggame eens gerus het,
waar voorskote teen hout geskuur het,
waar hanne gewerk het,
waar vingers geskil en kinders se hare gevleg het,
waar vrouens gewag het,
waar stories tussen asem en stilte gebly het.
Hulle hang soos monne
wat oopgebly het
nadat die wêreld
besluit het
om nie te luister nie.
Elke leë plek vra
wie nog onthou,
wie nog luister,
wie nog sal praat.
24 stiltes
wat nie leeg is nie.
En onder hulle
staan ons –
met die stof aan ons voete,
die name in ons monne
                                    en die stilte
                                                wat nie aan hulle behoort nie.

(“Die stoele” deur Maquen Carstens)

Dan is daar ook paneelgesprekke aangebied wat die ore geprikkel het. Kom ek begin by die eerste een met die naam “Wat die argief nie kon stilmaak nie”, met Samuel Ruiter onder leiding van Mary Hames. Ruiter het eerste die ikoniese verhaal van Ellie Cloete neergepen, wat begin het as ’n skoolproduksie met Bergsig se Sekondêre Skool SA van Wyk. Dit is toe daarna deur Veronique Jephtas en later Maquen Carstens vir die verhoog verwerk, waar dit onder andere by Artscape se Women and Human Rights Festival vertoon is en ’n plaaslike toer gehad het. Met die gewilde televisiepersoonlikheid Lyntjie Jaars in die titelrol.

Ellie Cloete was die alleeneienaar van die plaas Melkboschuil (vorige naam van Springbok) wat die eerste ongedokumenteerde vroue-optog met 60 ander Nama-vroue in 1912 gelei het en wat tot haar dood toe geveg het vir haar grond, asook die regverdige behandeling van alle Nama-mense in die Namakwa-streek. Later die jaar word Voortrekkerstraat in Springbok na haar vernoem.

Kragtige vertonings het die eerste dag se verrigtinge afgesluit.

Albei deur Boitshepo Development Foundation, ’n multi-dissiplinêre maatskappy van Okiep gestig deur Tasmeen Gertze en onder leiding van haarself en Cameron Wilson. Ander lede van die geselskap sluit in Danique Jass, Kaede Swartz, Bianca Thomas, Tiaan van den Heever, Ronan Christiaans en Raylene Marthinus. Die eerste twee optredes was met Engelbrecht wat die stories van verskillende Nama-vroue vertel het, wat hul lewens aan die hand van verkragters verloor het, asook dié wat oorleef het. Daarna is ’n gedig van Carstens opgevoer met Boitshepo se dansers aan’t Namastap tussendeur verweef. Toe sluit Boitshepo die funksie op ’n hoogtepunt af met ’n uittreksel uit hul vers- en dramaproduksie Stem van die grond.

Die volgende reëls rol soos sand oor die gehoor:

in die grond lê ’n stem wat fluister
diepgetrapte spore is weggesleep deur die koue kloue van gister se wind
dis nog daar
onse wees
onse is
in die grond is ons geheime gebind, ryp gedruk, stilgemaak en weggesit

(Uittreksel uit Stem van die grond deur Cameron Wilson)

Die tweede dag was slegs ’n aandfunksie met twee items: ’n paneelgesprek genaamd “Om moeilike stories te dra sonder om die mense wat dit dra, skade aan te doen” en ’n vertoning van die dokumentêr Vroedvrou, met Irene van Steinkopf wat vrywilligers ’n gratis insmeer bied.

Alex Hotz het met Shireen Fortuin en ander lede van die VVVT gesels oor groen ekstraktivisme en hoe ons, ons gemeenskappe kan beskerm daarteen. Hodds vertel hoe die organisasie begin het met haar en tannie Ina van Pella wat onder ’n boom by Springbok Lodge gesit het en die ding beplan het. Die lede glo daarin om verplasing in hul gemeenskap te verhoed wat lei tot slegte leefomstandighede en onbillike arbeid, sowel as klimaatsveranderinge weens mynbou wat lei tot die beskadiging van inheemse diere en plante.

Daarna was dit die dokumentêr Vroedvrou, onder regie van Siona O’Connell en Loretta Feris. Die rolprent volg twee plaaslike vroedvroue van Namakwaland, naamlik Katrien Majiet en Veronika Roberts. Hul leer kykers oor die spesiale vaardigheid van vroedvrou-wees en insmeer. ’n Diens en gawe wat sterk eie aan die Nama-kultuur is. Die twee vroue leer in die film hoe om natuurlike geneesmiddels, soos koorsbos en dassiepis, te benut, sowel as hoe om aftercare aan nuwe moeders te bied. Tog is daar iets nog dieper aan die taak. Majiet noem dat hul as vroedvroue die trane van moeders neem en dit beter maak, of ten minste help dra.

Sien die skakel na die dokumentêr hier: https://vroedvrou.com/film/.

Die laaste dag het ook met ’n eienaardigheid van sy eie gekom. ’n Ding wat skaarser is as hoendertanne dié kant.

Reën.

En baie daarvan.

Boonop xhoeroewolke (donderweer). Iets hiervan het my laat besef dat dit spesiale werk is wat hier plaasvind.

Dit is foto’s, stories en gesprekke wat uit die aarde kom.

En met reën geseën is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top