Vyf vrae aan Nelmari Kemp en Niel le Roux oor die SBA

  • 2

Die SBA het onlangs die organisasie se geskiedenis laat opteken in ’n bondige boekformaat wat op 2 Oktober bekendgestel is. Remona Voges het met Nelmarie Kemp (die SBA se projekbestuurder) en Niel le Roux (hoof van die SBA) gesels. 

Hallo Nelmari en Niel. Kan julle asseblief vir ons lesers ’n bietjie agtergrond oor die SBA gee? Hoe en waarom is die SBA aanvanklik gestig?

Nelmari: In 1992 is ’n Afrikaans-Geletterdheidstrust gestig deur Ton Vosloo (voormalige voorsitter van Naspers) en wyle Elize Botha (Universiteit Pretoria) en ander Afrikaanse leiers met die doel om, spesifiek in die Wes-Kaap, alle Afrikaanssprekendes te bemagtig in veral plattelandse, ondervoorsiene gemeenskappe. Uit hierdie trust is die SBA as niewinsgewende organisasie gestig.

Wat doen julle presies en wat is julle doelwitte?

Nelmari: Die SBA se missie is om geletterdheid deur Afrikaans te ontwikkel en terselfdertyd respek vir Afrikaans te bewerkstellig. Geletterdheid omsluit vir die SBA alle kommunikasievaardighede wat verwerf word op grond van gesproke en geskrewe taalvaardighede en wat noodsaaklik is vir die uitlewing van volle menswaardigheid op alle lewensterreine. Die SBA-projekte word ontwerp om te help met nasiebou deur Afrikaans, en ingeboude veeltaligheid is ’n belangrike komponent daarvan. Die SBA het ook ‘n unieke fokus op die skep van inklusiewe geleenthede, met spesiale aandag aan geleenthede vir gestremde persone.

Sandra Prinsloo (nuutverkose SBA-voorsitter), Marlene le Roux (uittredende SBA-voorsitter), Ton Vosloo (stigter van die SBA), Fatima Allie (voormalige SBA-direksielid) saam met verteenwoordigers van SBA-borge, prof Andreas van Wyk (voormalige voorsitter Het Jan Marais Nationale Fonds) heel links en Theuns Eloff (voorsitter Dagbreek Trust en Trust vir Afrikaanse Onderwys) heel regs.

Die SBA is reeds ’n klompie jare aan die gang. In watter mate het julle gegroei sedert jul ontstaan in 1992?

Niel: Die grootste groei is in die direksie (sigbaar op die agter- en voorbladfoto) van meesal wit mans in 1992 na ’n totaal ras- en gender-geïntegreerde groep. Ook ’n professioneel saamgestelde bestuurspersoneel met kantoororganogram en kantoorriglyne en -beleide. Projekte was wyd uitgesprei, soos ’n Afrikaans-Ekspo in Pretoria, ’n kantoor in Kimberley en kultuurdae in Soweto- en PE Vista-universiteitkampusse (bestaan sedert 2004 nie meer nie), na ’n sterk fokus op Wes-Kaapse munisipalitiete sodat die hele Wes-Kaap in 2020 gedek is.

Kan julle vir ons ’n bietjie meer vertel oor van die projekte waarby julle tans betrokke is?

Nelmari: Die SBA se projekte kan in vier kategorieë verdeel word:

  • Lees is ’n fees
  • Kreatiewe Kunste-ontwikkeling
  • Slypskole en mentorskap
  • Taalerfenis

Projekte in elkeen van die kategorieë sluit tans die volgende in:

Lees is ’n fees

Zoë-leesprojek

’n Voorleesprogram vir graad R tot graad 3 om ’n liefde vir lees by kinders te kweek, aangebied deur opgeleide leesfasiliteerders uit die omgewing, wat terselfdertyd tot werkskepping bydra.

SBA-storieboeke

  1. Die Kokerboom / Ukhalakhulu: ’n Eg Suid-Afrikaanse kinderverhaal in Afrikaans/Xhosa is vanweë die gewildheid daarvan herdruk as ’n storie-inkleurboek, met die doel om ’n liefde vir lees en die kreatiewe kunste onder jong kinders aan te wakker. Die boek is aangepas vir spesiale onderwys en sal in die amptelike Suid-Afrikaanse tale, asook in braille en as ‘n oudioweergawe beskikbaar wees. Dit word ook spesiaal in Khoekhoegowab gedruk.
  2. Robbie die Rowwe Rot: ’n Gekombineerde Afrikaans/Xhosa-weergawe vir graad 6- en graad 7-leerders, wat die vorm aanneem van ’n byderwetse strokiesprentavontuur oor die lewe van ’n Mitchells Plain-rot. ’n Aangepaste weergawe met leë spraakborrels vir voltooiing deur leerders bied geleentheid vir kreatiewe geletterdheidsontwikkeling.
  3. Fatima: ’n Storie-inkleurboek in Afrikaans/Xhosa/Engels/Arabies en braille oor ’n Moesliem-meisie van die Bo-Kaap en haar ervaring van die Islamitiese tradisie.

Beroepsakgids (Wikkel met Werksoek / Qala Ukufuna Umsebenzi / Start the Job Hunt): Bondige, praktiese riglyne om aansoek te doen vir werk, ook beskikbaar in braille.

Kreatiewe Kunste-ontwikkeling

  1. Afrikaans Sing!: ’n Fees van Afrikaanse koorsang aangevul deur ander inheemse Suid-Afrikaanse tale, telkens met ‘n tema, soos vantevore die jeug en vroue, terwyl die klem in 2021 op moedertaal val. Deelnemers is uitgesoekte kore van diverse afkoms, klank, gebiede, sanggenres en agtergronde. Op 3 November 2019 vind dié koorfees weer by Kunstekaap plaas met die tema Movember, met slegs manstemme, gerig op bewusmaking oor prostaat- en testikulêre kanker.
  1. Teaterbywoning: Hoërskool- en laerskoolleerders kry die geleentheid om teaterproduksies by te woon vir teaterbekendstelling, asook geletterdheids- en onderrigondersteuning. Die fokus op gestremdheid is integraal, onder meer deur die verskaffing van gebaretaaltolke en rolstoeltoegang. 
  1. Wêreldvoedseldag: ’n Poppeteaterproduksie rondom die tema van voedselsekerheid en -belangrikheid word saam met die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangebied, terwyl leesboeke ook aan leerders uitgedeel word.

Slypskole en mentorskap

  1. Brugbou: ’n Leerdermentorskap wat in graad 9 met korrekte vakkeuses ’n aanvang neem tot en met graad 12, om die oorgang van skool na tersiêre opleiding en die professionele werksomgewing te vergemaklik.
  1. Woeker met Wiskunde: ’n Kongres vir opvoeders van graad 1 tot graad 12 om wiskundegeletterdheid te bevorder.
  1. Chemie: ’n Inisiatief om wetenskap as vak te ontwikkel en te bevorder, met laboratoriumopleiding en -besoeke vir onderwysers en leerders. Rondreisende werkswinkels aan spesifiek laerskoolleerkragte word in samewerking met SUNCOI (die Universiteit Stellenboschse Chemie-uitreikinisiatief) aangebied. ’n Spesiaal saamgestelde handleiding vir praktiese eksperimente, asook ’n volledige wetenskapkissie, word by die werkswinkels uitgedeel.

Taalerfenis

  1. Stories:Unieke streke en gemeenskappe soos Op-die-berg, Melkhoutfontein, Verlorenvlei, Vredenburg, Kalkbaai, asook hoor- en siggestremde persone se stories, word op video vasgelê ter erkenning aan die herkoms van Afrikaanse senior burgers. Gebaretaaltolking en Engelse onderskrifteword ook verskaf. Terselfdertyd beeld plaaslike opkomende kunstenaars dié stories in visuele kuns uit.
  2. #Amagama (woordeskat): Studente van die Departement Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch leer feesgangers by die US Woordfees daagliks 10 nuwe Xhosa-woorde.

Die historie-opskrywing is vir die SBA ook ’n belangrike projek om ons konkrete nalatenskap te skep van waar ons vandaan kom om ons te herinner aan waarheen ons op pad is. Die SBA-geskiedenis, nou beskikbaar in boekformaat, sal met jaarlikse addendumbyvoegings uitgebrei word.

“Die Stigting kan vir Afrikaans ’n nuwe staanplek in Suid-Afrika verower. Stigting Afrikaans moet ’n volksaksie word.” Waar en hoe kan belangstellendes by die SBA betrokke raak?

Nelmari: Die projekte van die SBA steun altyd op die insette van die gemeenskap waarbinne projekte aangebied word. Daar word jaarliks op ’n geografiese fokusgebied besluit waar projekte dan in daardie jaar geloods word. Leesfasiliteerders vir die Zoë-voorleesprojek word byvoorbeeld deur die betrokke gemeenskap self aangewys en storievertellers vir die Stories-projek en ‘n plaaslike skakelpersoon vir die projek word in die spesifieke gemeenskap geïdentifiseer. SBA-kantoorpersoneel bied basiese logistieke ondersteuning binne die raamwerk van die projek om op hierdie wyse te verseker dat ’n projek op voetsoolvlak ’n impak binne ’n gemeenskap kan hê met die hoop dat die voetspoor wat agter gelaat word ’n blywende impak sal maak. Die SBA is ook van mening dat die reikwydte en gehalte van projekte deur vennootskappe versterk word en snoer graag kragte saam om aan ons visie gestalte te gee.

Diegene wat belangstel om direk betrokke te raak is welkom om die SBA se webtuiste dop te hou of in te teken op ons nuusbrief wat twee maal per jaar verskyn en sodoende op hoogte te bly van ons werksaamhede en geleenthede waarby hulle kan aansluit.

Lizette Murray en Niel le Roux (SBA-hoof).

Wat hou die toekoms vir die SBA in? Waarheen is julle op pad?

Niel: Ons het reeds die pad begin loop van insluiting van die ander amptelike en inheemse tale soos Khoekhoegowab, met Afrikaans altyd eerste, prominenter en respekvoller ter wille van nasiebou. Terselfdertyd bestaan reeds ’n sterk gestremde fokus in al die projekte, soos braillering en gebaretaaltolking wat uitgebrei sal word na publikasies in gebaretaal, verklanking van SBA-publikasies, verering van alle internasionale dae wat op gestremdhede fokus, soos Gebaretaal-, Doofblind- en Gidshonddag, met uitbreiding na ander provinsies van ons bestaande gevierde Internasionale Moedertaal- en Wêreldboekedag. As voetsoolorganisasie streef ons daarna om in die nuwe dekade daardie plekke in spesifiek die Wes-Kaap te bereik wat langs die pad nie ingesluit was nie, soos Uniondale, Tankwa Karoo en Oceanview in die Kaap.

Lees die boek oor die SBA hier.

Lees die persvrystelling van die bekendstelling hier.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Die SBA is veronderstel om alle Afrikaanssprekendes te bemagtig. In die praktyk word daar egter min aandag aan blanke Afrikaanssprekendes gegee. Die SBA wil glo respek vir Afrikaans bewerkstellig, maar doen niks om Afrikaans-taalsuiwerheid te bevorder nie - iets wat dringend nodig, eintlik noodsaaklik, is. Erkenning word aan die internasionale Moedertaal- en Wereldboekedag gegee. Waarom nie ook aan Afrikaansdag, 14 Augustus, nie?

  • Ons vier 14 Augustus elke jaar, so het ons vanjaar die hele Vlooi opvoering by Artscape uitgekoop en leerders wat spesiale onderrig ontvang, insluitende leerders gekoppel aan suurstofmasjiene en rolstoele, dowes en siggestremdes, daarheen vervoer. Dit was ook in gebaretaal getolk. N Vorige keer het ons op 14 Augustus n massiewe koorprogram, Afrikaans Sing!, ook by Artscape aangebied, Telkens was dit rasdivers in gehoor en op verhoog. Niemand by SBA word uitgelaat nie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top