
’n Witrugaasvoël
Mense gril as hulle aan aasvoëls dink.

’n Kransaasvoël
Ten spyte daarvan dat aasvoëls, soos hiënas, ’n baie belangrike rol speel in die ekologie, word hulle op groot skaal vergiftig en geskiet.
- Party boere glo aasvoëls vang jong lammers, al aas hulle net. Aasvoëls jag nie, maar sal kom skoonmaak wanneer ander roofdiere reeds aan ’n karkas gevreet het.
- Mutimakers vergiftig aasvoëls. Daar word glo goeie geld betaal vir toormiddels wat dele van aasvoël bevat. Hulle is immers groot diere, met enorme krag in hul snawels en pote.
- Ook stropers vergiftig aasvoëls. Hulle dink dis beter as daar nie aasvoëls is wat in die lug sirkel kort ná ’n dier gestroop is nie.
So word die aasvoëls jaarliks minder.

’n Witrugaasvoël
Ook kragdrade, so noodsaaklik vir mense se oorlewing, eis ’n tol. Aasvoëls se geweldig groot vlerkspanne maak dat hulle soms in kragdrade vasvlieg en doodgeskok word.

’n Swartaasvoël
Doodgewone mense, wat geen belang het by hulle dood nie, dra ongelukkig by tot die negatiewe persepsie van aasvoëls deur hulle feitlik altyd met slegte dinge te assosieer. As iemand jou vertel dat die aasvoëls metafories om ’n persoon of onderneming draai, beteken dit niks goeds nie.

’n Witrugaasvoël
Arende word met krag en skerp oë geassosieer, maar aasvoëls, wat ewe groot en sterk is, met geweldig skerp oë, het helaas nie ’n positiewe konnotasie in die algemene omgangstaal nie.
Vulpro probeer dié persepsies verander.

Vulpro
Vulpro het takke in verskillende dele van Suid-Afrika.
Hulle behandel beseerde aasvoëls en probeer ook ander voëls wat gif ingekry het, red. Verder bestaan ’n groot deel van hulle werk daaruit om mense oor aasvoëls in te lig.

’n Swartaasvoël
Vulpro werk baie nou saam met ander instansies, soos BirdLife South Africa, om mense se persepsies van dié vreemde voëls te verbeter. Kom ons weer eerlik: Party aasvoëls is lelik, maar dit maak hulle nie minder interessant nie.

’n Kransaasvoël
Vulpro het fasiliteite by Hartbeespoort, noord van Johannesburg, en in die Oos-Kaap op Shamwari, ’n privaat wildreservaat so ongeveer 70 km van my huis af.
Kom ek dus gereeld by Shamwari? Ongelukkig nie. Hulle pryse is heeltemal buite my bereik.
Die voordeel van ’n bewaringsentrum op so ’n duur wildsplaas is egter veelvuldig:
- Daar is baie goeie sekuriteit.
- Die sentrum is nie sigbaar van die pad af nie, en gewone mense weet nie daarvan nie.
- Vulpro is ’n organisasie sonder winsbejag en is geheel en al afhanklik van donasies. Die mense wat Shamwari se pryse kan bekostig, kan ook donasies maak aan Vulpro vir die werk wat hulle doen.
- Dit word nie hardop gesê nie, maar Shamwari ondersteun duidelik ook die werk wat Vulpro doen.
Gewone mense, soos ek, kom egter nie sommer daar nie. Behalwe wanneer Shamwari dit nou en dan vir lede van BirdLife moontlik maak.
Dit is hoe ek daar beland het, en hoe die navorsers en gidse my toegelaat het om foto’s te neem van hierdie ongelooflike voëls.

Obert Phiri (bo) was ons gids vir die dag.
Met fyn humor het hy ons rondgelei en meer vertel van die werk wat Vulpro doen.
Die organisasie is in 2007 gestig om die agteruitgang in aasvoëlgetalle, en Afrika se aasvoëlspesies, te help stuit.
Aan die een kant is hulle ’n reddingsentrum. Wanneer aasvoëls beseer of vergiftig word, is Vulpro so gou as moontlike betrokke om die voëls te help red en daarna te rehabiliteer.
Enige voël wat later sterk genoeg is, word weer vrygelaat in die natuur. Daar is egter ander wat so ernstig beseer is dat hulle nie in die natuur sal kan oorleef nie. Voëls wat nie weer vrygelaat kan word nie, word dan by Vulpro versorg.
Op Shamwari sorg Vulpro tans vir drie soorte aasvoëls.

’n Swartaasvoël
Die swartaasvoëls (Torgos tracheliots, of lappet-faced vulture in Engels) is enorm met ’n geweldige bek. Hulle daag gewoonlik eerste op by ’n karkas en gebruik daardie kragtige snawels om ’n dier se vel oop te skeur.

’n Witrugaasvoël
Daar ook witrugaasvoëls (Gyps africanus, of white-backed vulture in Engels).

’n Kransaasvoël
Vulpro het ook kransaasvoëls (Gyps coprotheres, of Cape vulture in Engels) wat permanent inbly.
Die meeste aasvoëlsoorte is bedreig, en daarom het Vulpro ook ’n teelprogram.
Phiri vertel dat hulle die aasvoëleiers wegneem kort ná hulle gelê word. Die eiers broei dan uit in ’n broeikas. Vir die ouerpaar word ’n fopeier neergesit sodat hulle kan aanhou om vir die komende kleinding te sorg.
Wanneer die kuiken uitbroei, bring die navorsers die kuiken terug na die ouerpaar en die fopeier word verwyder. So word die kuiken as ’n aasvoël groot, sonder te veel menslike inmenging. Wanneer hulle groot en sterk genoeg is, kan die jongklomp vrygelaat word.
Sommige voëls word dan met satellietsenders toegerus, en data word op dié manier ingesamel.

Swartaasvoëls
Sommige van Shamwari se permanente inwoners woon in enorme hokke; ander loop in oop kampe rond.

’n Kransaasvoël
Dit gebeur dikwels dat wilde voëls ’n ruk lank kom oorbly saam met die voëls wat in oop kampe is, en dan weer vertrek.

Kransaasvoëls
Daar was by geleentheid sprake dat Shamwari ’n aparte “aasvoëlrestaurant” sou oopmaak waar wilde voëls sou kon kom kos soek, maar Phiri sê dit is nie meer deel van die plan nie. Die wilde voëls wat wel opdaag om saam met die aasvoëls in die kampe te kom eet, word egter toegelaat om dit te doen.
Tydens ons besoek was daar juis ’n jong mannetjie wat kom inloer het. Phiri het hom herken en aan ons uitgewys. Dié knaap is in Januarie vrygelaat, maar is nie dom nie en hy weet hy is welkom vir ’n happie elke nou en dan.
Ná hy ons rondgewys het, was Phiri gewillig om enkeles van ons toe te laat om in van die afgebakende gebiede in te gaan, maar sy waarskuwing was duidelik: Dit bly wilde voëls en diegene met kuikens kan kwaai wees. “They give me my steps each day!” het hy gelag.

’n Swartaasvoël
Vulpro doen baie om die breë gemeenskap bewus te maak van aasvoëls se nut in die omgewing, maar ook van die maniere waarop hulle bedreig word. Soms doen hulle dit deur mense soos die uwe toe te laat om kiekies te neem van die aasvoëls, sodat ek weer my kennis met LitNet se lesers kan deel, maar dikwels is dit lang gesprekke in die veld met boere en tradisionele leiers wat die beste resultate lewer.
Vulpro werk dus op verskeie fronte, en bewusmaking is ’n baie belangrike deel van hulle werk.
Ek het al verskeie aasvoëls in die veld afgeneem, maar om so naby dié fassinerende diere te kom, was iets besonders. (Ek het steeds lang lense gebruik, terloops.)

’n Witrugaasvoël
Soos Phiri verduidelik, is Vulpro daar om ook ’n stem te gee aan hierdie besonderse voëls. Sy woorde het my laat dink aan Tiemie se ikoniese sêding in PG du Plessis se Siener in die suburbs: “Ek wil van geweet wees, Ma, ek wil nie vrek soos ’n hond nie, ek wil van geweet wees.”

’n Swartaasvoël
Dis nie nodig om menslike eienskappe aan hierdie voëls toe te ken nie. Dis wel nodig dat ons, as mense, raaksien dat almal – diere en voëls – soos mense gesien moet kan word en van geweet wil wees. Vir mense gaan dit dikwels oor onsself. Vir aasvoëls wentel kennis om die verskil tussen lewe en dood.
- Fotografie: Izak de Vries


Kommentaar
Izak, dankie vir die stuk en die pragtige fotos! Dit vertel 'n storie wat min mense ken.
Die kaal kop en nek is hulle werksklere. Hulle steek hul koppe diep in karkasse. Vere sou vol bloed en bakterieë sit; kaal vel vee skoon, en die son help dit steriliseer. Dieselfde kaal vel is ook ’n termostaat vir liggaamstemperatuur: nek uit op die grond in die hitte, intrek as hulle hoog en koud sweef. Die groot vlerke is om kilometers te soek sonder om energie te mors; die kragtige bek is om vel oop te skeur, nie om lammers te vang nie.
Hierdie eenvoudige kennis oor hoekom hulle so lyk, het vir my respek vir hulle gegee. Hulle is nie lelik nie. Hulle is gebou vir ’n noodsaaklike werk. Vulpro se voëls verdien inderdaad om van geweet te word.
Waardevolle inligting, dankie Cornelius.
Ja - nee, die foto met die 'hand op die heupe' van die breedgeskouerde swartaasvoël net onder die bakkie se agterkant spreek boekdele - "aasvoël... ek, sê jy?"
Dat daar nou nog in hierdie verligte tye plaaseienaars/boere is wat glo dat hulle 'lammervangers' is, is om van te huil.
En dan nog daardie muti-ding.
Ek het so twee jaar of wat gelede my skoonseunboer, nadat hy 'n rinkhals met die haelgeweer desmoers geblaas het, daarop gewys dat dit op die rooi datalys is.
"Se moer pa - nie langs my voorstoep nie!'
Nou ja.
Ek het na ek hier gelees het, die swartaasvoël gaan opsoek. Vir julle wat belangstel in sy status kan jy dit hier gaan lees en ek haal dit sommer ook vir jou gemak aan:
https://www.inaturalist.org/af/taxa/5401-Torgos-tracheliotos
The lappet-faced vulture's world population is believed to have decreased perceptibly, and as of October 2015 their IUCN status was updated to Endangered. They are declining in the Sahel and several parts of their southern, northern and western distribution in Africa. They are apparently currently stable in Arabia but have a small population there and have been extirpated from Israel as a breeding bird. The declines are almost entirely due to human activities, including disturbances from habitat destruction and cultivation, disturbances at the nesting site (to which the species is reportedly quite sensitive) and ingestion of pesticides, which are usually set out for jackals and other small mammalian carnivores. Domestic cattle, who have replaced natural prey over much of the range, are now often sold off, rather than abandoned, due to the proliferation of markets and abattoirs and rarely left to die and be consumed by vultures. Lappet-faced vultures are also sometimes victims of direct persecution, including shooting and the use of strychnine and other poisons. In Namibia, 86 vultures died after eating poisoned cattle carcasses, because the farmers erroneously believed they were killing and eating the cattle. In some cases the poisoning is done by poachers, who fear the presence of vultures will alert authorities to their activities, the illegal killings of protected species. They are considered Vulnerable at the species level, with an estimated world population of under 9,000 individuals.[1][5]
On 20 June 2019, the corpses of 468 white-backed vultures, 17 white-headed vultures, 28 hooded vultures, 14 lappet-faced vultures and 10 cape vultures, altogether 537 vultures, besides 2 tawny eagles, were found in northern Botswana. It is suspected that they died after eating the corpses of 3 elephants that were poisoned by poachers, possibly to avoid detection by the birds, which help rangers to track poaching activity by circling above where there are dead animals.[10][11][12][13]
On 3 April 2022 the Israel Nature and Parks Authority announced the first hatching of a lappet-faced vulture since 1994 [14][15]