Vuil kouse

  • 0

LitNet se Stemme | Voices | Amazwi is ’n reeks van 15 kort, kragtige monoloë deur gevestigde en opkomende dramaturge geskryf, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV.

In Heloïne Armstrong se Vuil kouse vertel ’n jong meisie hoe dit voel om in dieselfde buurt te woon waar jou bloedpa en sy nuwe gesin jou bestaan ontken. René Cloete vertolk die monoloog, geregisseer deur Bianca Flanders.

René Cloete en Bianca Flanders gesels hier oor hulle benadering tot die vertolking van Vuil kouse.

Vuil kouse

Ek was sestien toe ek hom die tweede kee ontmoet het.

Dit was ’n Satedagmiddag en ek’t lekke gelê en tiep. Uitasem ruk sy die komberse van my af en sê hy’s byte. Ek, deurie slaap, dink vi ’n moment ek droom.

“Staan op. Hy’s hie. Hy wag!” skreeu sy vrek excited.

Hoe steek hy yt, somme so … ewe skielik, wonder ek.

Sy skel: “Kom net an, voo die man verdwyn!”

Ek, confused, paap: “Wat’s sy storie? Waarom nou na allie jare, mee as ’n dekade, se ignore? En by the way, wie sê ék wil hom sien?”

Maa om haa te please sluk ek my woorde en belowe ek sal eeder netou self tot by hom gan.

My hart klop in my keel.

Vi ure sit en breek ek my kop oor dié “guest appearance”. Meanwhile wil sy, impatient, permie weet wanne gan ek dan.

Finally bou ek genoeg confidence op. Sterk gevreet, besluit ek om na sy huis toe te loop. Op pad soontoe remind ek myself ommie nog much feelings te koppel nie.

But … wat as dié kee maybe different is? Wat as hy gechange het? Of … wat as hy ook … verlang?

Ek klop. Olivia, sy oudste dogter, maak oop.

Ôs hettie selle moesie, oppie selle arm, oppie selle plek, notice ek.

Ek wil graag met haa gesels. Maa wat sê mens vi iemand wie jy net once in a while by die spaza shop sien?

Sometimes ry ôs in een taxi. Sy groet altyd vriendelik. Ek likes van haa en wens ek kon dit vi haa sê. Maa ôs leef veby mekaa en het nog nooit gepraatie.

Tog bly ôs net ’n entjie van mekaa af. En die bloed wat dee haa are loop, vloei dee myne ok.

So naby, ma tog so baie vêr.

My suster. Naamgenoot. Lookalike. Vreemdeling.

Sy beduie my tot by sy kamer.

Nors sit hy oppie kooi en koerant lees. “Goeiemiddag,” sê ek en gan sit oorkant hom.

“Hi,” reply hy koud. Stilte.

“Long time no see. Hoe ganit?” vra ek ma vi ’n ice-breaker.

“Fine, jy?” met ’n serious Meneer-stem.

“Goed, dankie,” lieg ek.

Stilte.

Na elke lang awkward silence vra hy iets – kortaf, sonder opkyk: “Heloise, Hoe oud is jy? Standerd hoeveel? Jy goed geslaag. Het jy ’n outjie?” Ens.

Heloise?! Jor, watte klas persoon kannie hulle kind se naam onthou of behoorlik uitspreek nie?

Ek weetie of ek moet lag of huilie.

Vêder, anmekaa as ek praat lyk’it hy’s bored en ampe asof ek op sy nerves werk. Ek kan mos sien hy smaakie rêrig an my lyste nie.

Dis loud en clear dat hy vroeër glattie yt sy eie yt “kom inloer” hettie, soos Mammie dit kamstag laat klink'it. Sy’t hom seke wee langsie pad gestop en dik gehou dat hy moet kom visit.

Ek’s upset en weet ookie mee hoe om my pose te hou nie. Uncomfortable en unwelcome sit ek daa met ’n fake smile.

“Olivia!” roep hy streng. “Dè.” Hy trek sy kouse yt en gooi dit vi haa. Sy vang dit bang gat; sê niks en maak haaself skaars tot innie kombuis, waa sy besig is om kos te maak en skoon te maak, en nou moet sy kouse ook was. Imagine?!

Ek’t altyd gefantasise oor hoe nxa dit sou wees om ’n “pa” te hê. Maa, voo die Here, die idea van ’n onbeskofte oom se vuil kouse mettie hand was, issie ’n joke nie – al is hy ok wettig my pa. Nee wag jong.

Kliphard, dramaties maak hy sy keel skoon. Obviously is hy nou op van my en dis tyd dat ek spat.

Hy’t nogals ’n vuil trap, nè, maa orraait. Ek gannie junk voel daaroor nie. Is klaa wat dit so is.

Toe ek baai sê, dink ek an daai stuk wat ek laas oppie TV gekyk het waa ’n ma vi haa meisiekind fluister: “No father is better than an unkind father.”

Spyt, loop ek ommie draai trug huis toe, sonder omkyk …

Ek kan op my hand tel
hoeveel keer ek al
sam my pa gepraat het.

Met ’n mond vol regrets
raak’it makliker om te sê hy’s dood
as om te sê hy’t gan seep koop.

 

Stemme | Voices | Amazwi is supported by the National Arts Council.

Stemme | Voices | Amazwi is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.

Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar:

Stemme | Voices | Amazwi

Kyk hier na LitNet en die Suidoosterfees se eerste Stemme-reeks wat in 2021 aangebied is:

Stemme

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top