Vryheidsdag 2020 en COVID-19: Beggars can’t be choosers

  • 0

Fotobron: Canva

Dis tog lekker om te sien hoe stiek politieke partye hulleself in die skande deur te doen wat hulle doen teenoo die mense wat hulle in daai posisies gesit het. Maa dit warrie my dat die mense wat tel, sien nie die goed raakie. Dit walg my – die maskers, die kospakkies, die situasie by Strandfontein-sportgronde. Maa wat kan mens dan maak as om net die storie soe te kyk soes dit ontwikkel? Ek mien, hoe kry hulle dit reg om die koronavirus nog ’n politiese PR stunt te maak? Terwyl mense se veiligheid en lewens op die spel is? Because dis hoe dit lyk, soes ’n PR stunt om nog stemme te wen.

Maa wat verwag ôs? Politiek het nog nooit in Suid-Afrika gegaan oo die mense nie, maa oo die leiers, en hulle agendas. Die dinge wat hulle doen, het hulle nog altyd gedoen om Brownie points te score by diés wat hulle kan daa boe hou.

Maa leer ôs deur die goete? Nee, ôs leer nie. Kyk nou hier in die Wes-Kaap waar die DA mos nou ôs se leiers is. Wat het hulle al sover gedoen om mense te help wat hulle nou deurmaak in die tyd van COVID-19? Volgens hulle baie, maa die photos wat almal voor my afspeel is daai kamp op Strandfontein-sportgronde, die wapper van daai tent soes die wind waai, die gedruk van daai antie tien daai fêns met die kommer wat draai in haar oë, die hande wat brood wys na die kamera wat net nat gemaak is met ’n bietjie jêm en bietjie peanut botte. Die nuusberigte van R32 miljoen wat dit die City of Cape Town maandeliks kos om daai kamp oep te hou; die berigte van ’n jong vrou wat gerape was; vrae van mense wat vra, "Maa hoekô is hy uit op bail, waa het hy daai R2 000 gekry as hy oek homeless was?" Die video’s wat ek sien van hoe mense proebee om te ontsnap, en truggehou wôt met rubber bullets, en daai video waa JP Smith eeder skel met Cameron Dugmore oor die toestand van daai kamp. En dan wonder ek vir myself, maa hoe slaap hulle in die nag, die mense wat supposed is om ôs te lei, hoe kan hulle slaap? Om te sien hoe mense suffer en eeder te sê "Dis die beste wat ôs nou kan doen."

My muur is vol van Facebook-vrinne wat voorstelle gie van wat die City kan doen om die situasie bieter te hanteer, soes die vakansieoorde wat onder die City se leierskap lê wat kon reggemaak was om die mense wat die straat hulle huis noem, regte plek te gie. Ek mien maa, daa staan hoeveel chalets leeg, maa is dit omdat hulle gewarried is oo wat hulle sal moet doen met daai mense once lockdown oor is? Dis hoekô daa nog hordes mense op die straate bly, wan hulle sal eeder op die straat in die koue bly, as in ’n kamp waa djy op geskiet gaan wôt as djy ’n anner plek vi jou wil gaan soek om te bly.

Ôs amal sien die mense wat op straat bly in die stad, en oral waa dit stink van middelklas en privilege as iets wat nie daa behoort nie. Ôs sien dit as iets wat moet skoongemaak wôt. Maa amal daai mense wat op die straat bly, dit maakie saak in watter gemeenskappie, is deel van daai gemeenskap, en dit moet die wêk van daai gemeenskap wies om agter hulle te kyk.

Die gesêgde, "Beggars can't be choosers" sing in my kop, dis ’n comment wat gedeel was op een van die photos wat soe in my kop afspeel. En hoeveel van ôs leiers stap oekie met daai selle gedagte nie? "Ja, hulle is anyway op die pad, soe hulle moet dankbaar wies vi daai stukkie brood, en daai matras, en daai tent oo hulle koppe." Die anne dag skel ek en ek sê toe, die Jirre slaapie, maa na ek daai woorde geuiter het, toe wonne ek, maa as die Jirre dan nie slaapie, waa is die Jirre dan? Of is dit net sekeres wat agter gekyk wôt?

Dit is sekerlik verkeerd om in ’n tyd soes dié hoep te veloor, maa hoe maak mens met die donker wat om mens staan? Net omdat ’n mens op die straat bly, bedoel dit nie daai persoon het nie waarde nie.

Ek is Olivia M Coetzee, skrywer van Innie Shadows wat beskikbaar is. Die boek is volledig in Kaaps geskryf. Dankie vir die ondersteuning wat julle gee deur my rubrieke te lees en te deel met julle netwerk. Bly veilig daar buite en help asseblief waar julle kan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top