
Vier manlike protagoniste deel die verhoog, soms vrywillig en soms mededingend: 'n grootpraterige sepiester, gefrustreerde jong pa, onsekere alleenloper en 'n staffie (hond) met 'n aansteeklike glimlag – almal vertolk deur die talentvolle akteur James Cairns in sy eenman-vertoning Dirt.
Die uiteenlopende hoofkarakters is gebind deur 'n gemeenskaplike vriend wat skielik oorlede is tydens 'n dwelmgeïnduseerde motorongeluk.
Die storie speel grotendeels af op die N1 vanaf Johannesburg na Kaapstad, waarheen die vier vriende op pad is om hul vriend ter aarde te gaan lê. Die vier is nog nie eens by die oprit uit wanneer jare lange struwelinge kop uitsteek nie.
Dirt vertel die storie van manwees en vriendwees en hoe elke greintjie "afpersmateriaal" vriendskappe as't ware skaaf en vorm en vriende uiteindelik onlosmaaklik deel raak van mekaar se lewens. Eerlikheid en kameraadskap word baie suksesvol uitgebeeld deur "die mens se beste vriend", Tom die staffie, en hy dien ook as bemiddelaar wanneer die ander drie hulself in breekpuntsituasies bevind. Daar kan dalk geïnterpreteer word dat die vierbenige vriend 'n ongerepte weergawe van manwees verteenwoordig - 'n heimwee na die ongekompliseerdheid wat TV-faam, hormoon-oorweldigde ma's en jare alleen op 'n sitkamerbank voorafgegaan het.
James Cairns se vertolking van hierdie rolle, en andere vlietende karakters, geskied oortuigend en met oorgawe. Sy raakvat-interpretasies van stereotipies tradisionele manlike eienskappe is aangrypend en het heel dikwels komiese gevolge. Die vertoning was boeiend, haarfyn aanmekaar gesit en lewer 'n nodige kommentaar in 'n samelewing wat dikwels die gekompliseerdheid van manlike verhoudings onderskat.
Geen vroue word uitgebeeld in hierdie produksie nie – ook nie katte nie.


Kommentaar
Aitsa, dis selde!
Groete,
Johannes Deetlefs
Harmonieweg 4
9601 Lütisburg-Station
Switserland