Vryfees 2013: Romanz en Nianell

  • 0
Romanz

 

Gitswart en glinsterend swart het Romanz en Nianell op die verhoog gestap met die aanvang van ’n Duisend drome ten tye van die Vryfees in die Callie Human-sentrum by die Universiteit van die Vrystaat. Pienk was die volgende kleur in die progressie van Nianell se rokkleur-nuanses wat met ’n sterk, kontrasterende sneeuwit geëindig het.

Net soos die kleure wat in ’n bepaalde volgorde vertoon is, het ook klank ’n eie vloeilyn ontgin. So absoluut soos swart, so duidelik en definitief, het “Duisend drome” die musiekkonsert begin. “La Voi” en “Stil binne my” het gevolg, met terselfdertyd die opvallendheid van die jeugdige energie van Christopher Viljoen (alias Fafa) wat Louis Loock in hierdie boy band-stemkwartet vervang het. Sonia Nell, oftewel Nianell, het die program tussendeur met ’n meesleurende solo, “Who painted the moon tonight?” en “Monday”, ’n uitspattige blues-vertolking, afgewissel.

André Venter, wat onlangs Bloemfontein toe verhuis het, het “Mona Lisa” aan sy vyftien maande oue dogtertjie opgedra.

Met “Solitaire” het dit opgeval hoe dig bymekaar die groeplede teen mekaar gaan staan het. Dalk om die alleenheid van die lied se lirieke lyflik af te weer?

Die atmosfeer het daarna verdiep met Romanz se vertolking van “The Prayer” en “Die Magaliesburgse Aandlied”.

’n Genotvolle en ryklik gevarieerde anderhalfuur is afgesluit met ’n grootse vertolking van “Barcelona”. Laasgenoemde lied kan nie deur enige boy band op die planke gebring word nie, want daar is soveel passie en stemkrag wat omvat word in die stuk. Maar Romanz en Nianell staan werklik nie een oomblik terug om die kragtoer te herhaal nie. Dit is so majestueus aangebied dat hierdie lied gerus met die afsluitingslied van die vertoning, “Time to say goodbye”, omgeruil kon gewees het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top