Vrouemaand – net nog ’n gimmick, soos Valentynschocolates en Paaseiers

  • 3

Elke Augustus is dieselfde: ’n string uitnodigings om praatjies te lewer oor die rol van die vrou, die nasionale Departement vir Vroue en Kinders skrik wakker en onthou dat hulle eintlik ook ’n rol te speel het, en politici stof hulle “vroue is wonderlik” speech van die vorige jaar af en paradeer dit.

Maar wat het regtig verander vir vroue?

Op 1 Augustus het vroue in hul hordes opgeruk in wat bekend geword het as #TotalShutdown. Dis ’n landwye protes om in opstand te kom oor die toestande waarin vroue leef: die vrees vir veiligheid, die onsimpatieke wyse waarop die howe met vroulike slagoffers omgaan, die misbruik wat talle vroue daagliks ervaar.

Op papier het vroue gelyke regte met mans. Die praktyk lyk egter nog steeds anders. Die grootste deel van kindersorg rus vierkantig op die vrou se skouers. Nog hopeloos te veel mans voel hulle moet ’n medalje kry as hulle net een slag die skottelgoed gewas het. Nadat vroue ’n volle dag se werk agter die rug het, word daar steeds verwag dat hulle die versorging van die man en kinders moet waarneem wanneer hulle tuiskom. Wie moet sorg dat daar gebalanseerde maaltye voorgesit word? Wie sorg dat die wasgoed gewas is, strykwerk gedoen is, die huis skoongemaak is? Die vrou. In middelklasgesinne is dit ’n ander vrou wat dan nog na haar eie huis en kinders ook moet omsien. En wie doen daai vrou se huiswerk? Nie haar man nie, dis vir seker.

Op papier word gelyke werk met gelyke vergoeding beloon. In die praktyk verdien mans egter nog steeds meer as hulle vroulike kollegas in dieselfde posisie. Dan word dit verskoon met die verduideliking dat hy die broodwinner is. Asof sy persoonlike situasie en sy werksvermoë een en dieselfde ding is. Die realiteit is egter al meer dat vroue die broodwinner is, dat vroue baie keer as enkelouer alleen die mas moet opkom, maar steeds nie kan staatmaak op vergoeding wat hul werk en hul status as broodwinner weerspieël nie.

Dan is daar nog boonop sogenaamde pienk belasting. Hoekom is kondome soveel goedkoper as sanitêre doekies of tampons? Of, om appels met appels te vergelyk, hoekom is kondome soveel goedkoper as die pil of inspuiting ter voorbehoed? Of, selfs meer basies, hoekom is die manlike kondoom soveel goedkoper as die vroulike kondoom, die Femidome? Gaan staan in enige winkel. Vergelyk die pryse van vroulike reukweerder teenoor manlike reukweerder. Probeer dit binne dieselfde vervaardiger. Daar is altyd ’n hele paar rand verskil. Kyk na skoonheidsprodukte. ’n Man kom weg daarmee om een produk te koop wat vir gesig, lyf en hare werk. Vir die vroulike mark is daar minstens drie tot vier produkte vir hare, minstens drie vir gesig en dan apart vir die lyf ’n verdere minstens twee, teen aansienlik hoër pryse. Dan is grimering nog nie eens daarby ingesluit nie. Gaan kyk verder na die verskil in pryse (en gehalte) tussen klere en skoene vir mans en vroue. Vergelyk die verskil in pryse van skoolklere vir seuntjies teenoor die pryse vir dogtertjies. Dis altyd kunsmatig hoër.

Ek het onlangs na ’n bepaalde handelsmerk vogroom gaan kyk terwyl dit op spesiale aanbieding was. Ek is mos nou besig om aan te stap vyftig toe, en dis seker nooit te laat om te probeer red wat daar nog te redde is nie. Ek het amper op my rug geval. R4 000 vir 50 ml? Dan moet ek maar plooie kry, en PhotoShop mildelik gebruik.

Dan is daar werk. Steeds word mans baie keer in nuwe posisies aangestel bo ’n vrou wat dalk beter gekwalifiseer is. Die rede? As sy swanger word, gaan die werk vir die tydperk van haar swangerskap en kraamverlof ly. Asof vroue net broeimasjiene is. Die #MeToo-beweging het dit baie duidelik gemaak dat vroue ook by hulle werk nie veilig is van die aanslae van mans wat weier om te verstaan dat “Nee” inderdaad “Nee” beteken nie. Hulle is nie veilig van die aandag van mans wat bereid is om hul posisies en senioriteit te misbruik om ’n vrou se compliance te verkry nie.

In ’n onlangse gesprek het ’n vriendin my vertel van ’n situasie by haar werk waar haar hoof haar betas het. Ek het haar probeer oortuig om ’n klag te lê, maar toe ontdek dat haar werkgewer geen beleid teen seksuele teistering daargestel het nie. Om dinge te vererger, het ’n kollega wel gekla, en haar kontrak is summier beëindig.

Is ons dan verbaas dat vroue keelvol is? Is ons verbaas dat vroue nou voet neersit en in hul massas protes aanteken? Is ons verbaas dat Vrouemaand net deur politici ernstig opgeneem word? Daar is vir vroue bitter min om te vier hierdie maand, of enige ander maand. Vrouemaand het net soveel van ’n klug geword soos die chocolates en rooi satynharte in Februarie, of die Paaseiers en hot cross buns oor Paastyd – heeltemal verwyderd van waaroor dit eintlik behoort te gaan.

Die afgelope aantal jaar al hou ek die koerante fyn dop. Klokslag elke jaar, binne die eerste week van Vrouemaand, is daar een of ander gruwel wat teen ’n vrou of kind gepleeg word. Dit voel altyd of dit meer wreedaardig en doelgerig is, asof die oortreder doelbewus sy middelvinger wys vir hierdie vertoon van solidariteit teenoor vroue.

Ek hoop dat hierdie jaar die begin van iets anders gaan wees. Tot dan, long live #TotalShutdown, long live. #Womandla!

  • 3

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Bettina is, soos Boeta was, die bliksem in ... dis 'n kwaad-stuk dié. En natuurlik mag sy voel soos sy voel. Hier's baie waarhede in en dis goed dat keel skoon gemaak word oor die dinge wat krap en grief. Nie dat dit iets nuut is nie, maar tog ...
    Soos wat politici ou toesprake afstof en elke jaar oor-en-oor hou, net so sien mens hierdie soort skrywes oor-en-oor en so sal dit ook volgende jaar tydens vrouemaand wees. Dit hoort nie so nie, maar dis hoe dit is. Wat nie so is nie, is dat bietjie veralgemeen word. Daar's baie vrouens wat sal getuig dat hulle hulp en ondersteuning van hul wederhelf kry en dat dinge redelik gebalanseerd verloop. In sekere gevalle is daar mans wat hulleself oortref en meer as die ekstra myl loop. Mens sê dit om darem ook 'n lansie vir die manlike spesie te breek.
    Maar ja, Bettina is reg. Dinge is nie soos dit moet wees nie en eintlik is dit maar net 'n simptoom van 'n groter probleem. Dit is 'n beskawing (norme en waardes) en opvoedingsding wat ontbreek. Kyk ons om ons, sien ons moord, doodslag, geweld, korrupsie, kinder- en dieremishandeling, gierigheid, afguns en hope ander dinge wat nie tuishoort nie. Die dominees preek hieroor, die onderwysers praat hieroor, ouers probeer hul kinders hieroor opvoed maar hoe meer dinge verander hoe meer bly dit dieselfde. Dis een tree vorentoe en twee terug.
    Die groot vraag bly dus steeds dieselfde: Hoe verander mens die ingesteldheid en optredes van die mens? Is daar praktiese oplossings en waar begin jy? Tot tyd en wyl ons nie 'n antwoord hierop kry nie sal ons tereg soos Bettina sê, weer volgende jaar hieroor praat. Intussen kan almal dalk probeer om een ding te verander om 'n verskil te maak, want iewers moet mens begin.

  • Chris Marnewick SC

    Die Grieke het geweet dat as jy 'n hele samelewing se houding of beleid wil verander, dan moet die vroue saamstaan en hulle dienste weerhou tot hulle hul sin kry. Lysistrata en haar vriendinne het 'n oorlog kon stopsit, en dit bloot deur "word of mouth" verspreiding van hulle boodskap. Soveel makliker vandag met sosiale media en vroue in magtige media-organisasies.

    So terloops, ek woon (heel gelukkig) in 'n land waar vroue heers as eerste minister, hoofregter, goewerneur-generaal, en, natuurlik, met Elizabeth II se beeld op die munststukke en note.

  • Bliksem-in-Man@Regverdigheidshoogte

    Geagte Me Wyngaard,
    Die probleem van verkragtings van vroue en kinders moet sekerlik die heel hoogste prioriteit kry. Fokus op hierdie probleem eerder as om alle grieweprobleme gelyktydig te wil aanspreek.
    Hiermee stel ek voor dat die Suid-Afrikaanse dames 'n nuwe party stig: die "Women Only Party (WOP)". Span dan saam en stem die huidige regerende party uit die kussings. Doen dan die ding wat julle glo reg en regverdig is.
    Hoe sal die WOP sy sukses mbt die oplossing van die verkragtingsprobleem meet? Die kernvraag aan die einde van die dag bly steeds: "In welke mate het vroue wetenskaplik gebaseerde gegronde rede vir bekommernis oor hul en kinders se veiligheid betreffende verkragting?"
    Die alternatief is dat #TotalShutdown en #Womandla en geagte Bettina Wyngaard se goeie 2018-08-06 artikel weer afgestof gaan word vir Vrouedag 2019, Vrouedag 2020 ensovoorts. Sterkte en ek sal ook vir die WOP wil stem.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top