Vrouemaand: net nog 'n betekenislose Hallmark-geleentheid?

  • 0

Wat begin het as ’n dag ter herdenking aan die dapperheid en vasberadenheid van vroue, het nou in ’n maand lange orgie van selfvoldaanheid ontaard.

Thelma and Louise, en elke ander fliek wat net skuinsweg lyk of dit ’n sterk vroulike karakter uitbeeld, word elke jaar afgestof en met groot fanfare op TV-kanale gespeel. Politieke partye haal dieselfde retoriek van die vorige jaar uit, recycle dit net ’n bietjie en druk dit in potensiele kiesers se kele af as splinternuwe materiaal.

In dieselfde asem word die openbare beskermer, ’n vrou, aangeval omdat sy besluite neem wat nie die regerende party geval nie. Geen van haar manlike voorgangers het ooit dieselfde probleem gehad nie – maar dalk was hulle ook nie manhaftig genoeg om vir hulleself te dink en met integriteit op te tree nie. Gerieflikheidshalwe vergeet die regerende party dat Thuli Madonsela juis aangestel was met ’n mandaat om onpartydig op te tree. Die regering het nou al oor en oor bewys dat hulle bereid is om hulle eie wette in ’n pretzel te buig en selfs te breek, maar ek is bereid om elke sent wat ek vir die res van my lewe gaan verdien, te verwed dat hulle die wet wat die OB beperk tot een enkele termyn van diens, tot op die letter gaan nakom en nie ’n aks daarvan sal afwyk nie.

Teen hierdie tyd behoort ons nou al gewoond te wees daaraan dat regsbeginsels op die altaar van politieke expediency geoffer word soos wat dit die regerende party pas. Die manier waarop Oscar Pistorius se paroolaansoek hanteer was, is egter vir my aanduidend van ’n nuwe laagtepunt wat bereik is. Ek het nog nooit ’n geheim gemaak van my mening dat die regter ’n fout gemaak het, dat hy aan moord skuldig bevind moes gewees het en dat hy hopeloos te kort tronkstraf opgelê was nie. Ek was onlangs betrokke by ’n bedrogsaak waar die beskuldigde agt jaar gevangenisstraf opgelê was. Hoe is dit moontlik dat die neem van ’n menselewe ligter gestraf word as die neem van geld?

Dat Pistorius te lig gestraf was, en dat hy nie op hierdie stadium op parool behoort te gaan nie, is nie vir my in geskil nie. My probleem is egter die redes hoekom daar ingegryp was deur die minister van justisie, en ander partye. Daar was ’n onderhoud gevoer met ’n vroulike pastoor, segsman vir een groep wat sy vrylating op parool teëstaan. Die hoofgrond waarop hulle dit teenstaan? Dit gaan sleg lyk as hy in vrouemaand vrygelaat word. “Just wait until the first of September,” sê sy, “then we’ll be happy.” Daar is skynbaar geen verontwaardiging omdat ’n persoon wat op sy eie weergawe sy beminde se dood veroorsaak het, na tien maande vry kan gaan nie. Daar is geen verontwaardiging omdat hy twee maande vroeër as waarop hy geregtig is, vir parool oorweeg word op gronde wat nie duidelik is nie. Die verontwaardiging is dat dit tog nie met ’n public relations oefening moet inmeng nie.

Wonder ons dan nog steeds oor die morele verval wat ons samelewing belewe? Wonder ons nog steeds hoekom dogters van 14 en 15 jaar oud alreeds hulle tweede aborsie deurgaan, en aborsie as ’n vorm van voorbehoed gebruik? Wonder ons hoekom lewe lankal nie meer as sacred beskou word nie?

Die Minister se redes is ewe niksseggend. Ek vermoed hulle het onder druk van die ANC Vroueliga gekom om een of ander proses aan die gang te sit sodat Pistorius eers in September kan uitkom. Geen regsgronde word voorgehou nie. Augustus as vrouemaand, ’n Hallmark-konvensie op dieselfde vlak as Valentynsdag, wat iewers in die laaste paar jaar ontstaan het, word nou as verhewe bo die rule of law hanteer.

Pistorius verdien om in die tronk te bly, maar nie vir sulke ligsinnige redes nie. Bied behoorlike regsargugmente aan, en ek sing voor in die koor van mense wat sy verdere aanhouding aanmoedig. Wanneer regsbesluite egter geneem word op grond van populistiese menings, dan beweeg ons as ’n gemeenskap op bitterlik dun ys.

Wetstoepassing is alreeds onder druk. Polisiebeamptes word aangekla van moord, wapensmokkelary, bankrowe, verkragting en dies meer. Ons kan nie meer die manne en vroue in blou vertrou om ons te beskerm nie. Die optogte in Houtbaai die afgelope ruk, waar gewone burgers die strate patrolleer, is sprekend van ’n gebrek aan vertroue in die polisie se bevoegdheid om gebiede te beveilig. Wanneer ons egter ook nie die regsprekers en die uitvoerende gesag kan vertrou om besluite binne die raamwerk van ons wetgewing te maak nie, is ons nie dan besig om op anargie af te stuur nie? Stuur ons nie af op ’n situasie waar vigilantes aangemoedig word om beheer oor te neem nie?

Toe Pagad destyds begin het om onder dwelmhandelaars in te spring, hulle huise en eiendom en besighede te vernietig, het andersins wetgehoorsame burgers hulle van die kantlyn gecheer. Daar was selfs by ’n destydse sirkelvergadering van die prokureurs in my area ’n besluit dat ons enige Pagad-lede wat in ons howe verskyn, pro bono sal help indien hulle nie regsdienste kan bekostig nie. Nou ja, gelukkig het daai situasie nooit realiteit geword nie, en ons was later wreed ontnugter toe die leierskap van Pagad ontmasker is as ewe krimineel as die persone wie hulle aanval.

Die sentiment dat mense moeg is daarvan om onder kriminele deur te loop, bly egter staan. Vroue is moeg daarvan om te vrees vir hulle lewe en veiligheid. In Vrouemaand word daar lippediens aan sorg vir vroue gelewer, maar niks daadwerkliks gebeur nie. Hierdie week weer is ’n vrou en haar drie dogters deur ’n groep mans verkrag. Gaan die kerkgroepe nou weer vra dat die mans se borgaansoek tog net uitgestel moet word tot September, sodat hulle nie in Augustus vrygelaat word nie? Waar is die outrage omdat vroue steeds nie veilig in hulle eie huise kan wees nie? Waar is die sterk uitsprake teen mans wat hulle vroue en meisies aanrand, vermink en vermoor? Die boodskap wat die kerkgroepe, politieke partye en elke ander belangeparty skynbaar uitstuur, is: dis OK, solank dit net nie in Vrouemaand gebeur nie.

Laat elke maand dan Vrouemaand wees, sê ek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top