Vrouedag-skryfkompetisie: Ongetiteld

  • 0

Jy het nooit voor ander gehuil nie, maar die oggend toe jy my skaam na die kantien lok en jy jou romp optrek, kon ek die trane in jou oë sien.

“Wat het gebeur?”

“Ek het geval.”

“Weer by die bus?” vra ek, want ek het geweet van die mislike drywer wat gery het voordat jy jou kort bene van die  onderste sport kon aflig. Ek het ook geweet dat die ander werkers vir jou gelag het en jy jouself met moeite langs die pad afgestof het voordat jy die fabriek se werf binnegekom het. Ek verbeel my vandag steeds die waaie van jou boarms en jou pofferige hande wat vies oor die voue van jou rok vee, die swart-en-goud handsak tussen die klippe en gras; jou gekwetste, donker oë versteek agter jou oordadige sonbrille. Jy was een van die trotses.

“Nee.” Jy wys na die heup wat sedertdien pla. “By die huis.”

“Oukei,” antwoord ek onseker terwyl jy stelling op die stoel oorkant my inneem en jou romp tot by jou heup opwikkel. Jy ruik na Lace-handeroom en Dove-seep. Jy dra nie vanoggend die dik, lang sokkies waarmee ek jou al gesien het nie. Ek vind dit vreemd, want dit is ʼn bitterkoue Juliemaand. Onder jou romp sien ek niks behalwe vleklose, gladde vel nie.

“Waar is dit seer?” vra ek uiteindelik.

“Daar,” beduie jy na die kant van jou dy.

“Hierdie een?” vra ek voordat ek oorleun.

“Tsss …” vertrek jou gesig met pyn, jou oë toe as ek jou been sywaarts trek.

Ek deins effe terug toe ek dit sien. “Hoe het dit gebeur?”

Jy praat van agter jou hand wat jy voor jou oë hou. Ek kan sien dat jou wange nat is.

“Die heup,” wys jy voordat jy vinnig weer jou hand terugplaas asof jy nie wil sien waarna ek kyk nie. “Dit was koud. Saterdagaand. Ek het nie ʼn heater nie. Ek het op die heup gesit. Toe ek opstaan ...”

“Ek verstaan,” stil ek jou. Die twee ringe sit duidelik waar jy met jou volle gewig op die tweeplaatstofie geland het. Die stoofplate moes rooiwarm gewees het want die vel is weggebrand tot waar ek die aartjies en vetselle deur die waterige wonde kan sien.

“Sit net stil.”

“Dis seer.”

“Ek weet.”

Ek het myself na die eerstehulpkassie gehaas. Jy loop al twee dae só. Ek laat jou die Adcodol’s fynkou voordat ek met die paraffienlappe begin.

“Dankie,” sê jy toe ek klaar is.

Deur die ruit van die kantien het nuuskierige gesigte om die beurt geloer. Jy sit met jou rug na hulle. Onbewus van more-oggend se skinderstories.

“Trek jouself aan voordat jy uitgaan. As die pyn te erg raak, kom kry nog van die pille.”

Dit word ʼn daaglikse ritueel. Jy kom haal my by my kantoor. Die verbande en potjie paraffiensalf staan in die kantien gereed.

ʼn Paar weke later hou jy op met kom. Jy waai vlugtig van agter jou sonbrille as ek met my bakkie verby jou ry.

Skryf hier in:

Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top