Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 1

Maria Catharina Fredericka Kriek is haar doopname, maar ek het haar leer ken as "Oumie" – my ouma met die flink verstand, groot hart en sagte boesem. Sy't nie universiteitsopleiding deurloop nie, maar die lewe was haar leerskool en ervaringsveld. Haar kennis en wysheid het sy onvoorwaardelik gedeel met almal - tot groot voordeel van al vyf haar kleinkinders!

Sy's in die laat agtienhonderds op ’n plaas duskant Volksrust gebore en dis hier waar sy vir die eerste keer kennis gemaak het met die rou werklikheid van oorlog en konsentrasiekampgruwels.

Dog, die pynlike ervaring as jong meisie het haar nie verbitter nie, maar geleer om te vergewe en steeds die goeie in mense raak te sien: "Al is dit die vyand my kind, alle mense het ’n blink kant," het sy altyd gesê.

Sy't haar kleinkinders geïnspireer en geleer van geloof, deursetting en vergifnis. Haar onuitputlike algemene kennis het my as jongeling geprikkel om vrae te vra: sekerlik die geboorte van my latere loopbaan as joernalis!

Ouma kon onder meer vir ons as kinders uiteensit waarom ’n vliegtuig in die lug bly “hang”, hoe die Tweede Wêreldoorlog beëindig is, wie die eerste elektriese lig aangeskakel het en waarom Winston Churchill as joernalis ’n draai in Pretoria moes maak. Sy kon met ’n passie vertel van haar laaste rit op ’n ossewa, die eerste Fordjie, die pennies omdraai tydens die Depressiejare, die hartseer storie van Jopie Fourie, en die dame met die goue hart, Emily Hobhouse.

Haar skatkis van herinnering het by al haar kleinkinders ’n groot liefde vir plaaslike en internasionale geskiedenis gekweek. Die vertellings het sonder twyfel ook die navorser in ons wakker gemaak en tot latere akademiese voorkeure en prestasies bygedra.

Soos sy geleef het, só is sy dood: nederig en met ’n onwrikbare geloof in haar Skepper. Vroeg een Sondagoggend het ons op haar afgekom waar sy op haar knieë voor haar bed in ’n biddende posisie gesterf het.

Sy is op ’n reënerige wintersoggend in Wespark, Johannesburg, begrawe, maar haar vertellings en inspirasie sal bly voortleef tot die dag dat ek, haar naamgenoot en kleindogter, Maria Warrington, by haar sal "aansluit".

Skryf hier in:

Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top