Vrouedag-skryfkompetisie: Martie Retief Meiring

  • 0

Martie Retief Meiring is onwetend vir by die 50 jaar my mentor. Die lang, stylvolle vrou wat met haar fyn, ekspressiewe hande en gevatte welsprekendheid oor net mooi enige onderwerp met gesag kan praat, het my van toeka af al laat wens om net naastenby soos sy te wees.

Over geset synde loop ek lank al met bewondering in haar glystroom. Onwetende mentorskap gaan gepaard met bewondering, inspirasie en, in hierdie geval, gewaardeerde vriendskap wat met die volgende geslag verder gevoer word.

Martie het al ’n kleurryke Fleet Street-ondervinding agter die blad gehad toe ek as ’n grootoog- en nat-agter-die-ore koerantmeisie by Die Burger begin werk het. Wat my van meet af aan laat flou lê het, was haar vlugheid van verstand. Martie is trouens dalk die mens met die vinnigste begrip en antwoord wat ek nog ooit leer ken het. 

Uit Keeromstraat is ons saam Johannesburg toe as pioniersredaksielede van Beeld. Martie as rubriekskrywer en ek by die vrouedele, soos ons dit genoem het. Meeste van ons (’n gedugte span, bygesê) het in Hillbrow nesgeskop – hard gewerk en ewe hard gespeel – behalwe dat Martie (steeds) al hoe slimmer word van rooiwyn en ek al hoe blonder.

As raad te vra was, altyd na Martie toe vir ’n oorwoë mening. Sy het, after all, feitlik almal in die land geken en kon tot bloedlyne van resiesperde vir jou uitlê. As ons girls wou kla oor die laer salarisse, het Martie ons gelei; as jy meer oor ’n politieke ondertoon wou agterkom, was sy jou bron en toe ons gebou se dak gelek het, het sy reguit na die argitek toe gegaan: Hannes Meiring.

Martie en Hannes is ’n paar maande na my en Leo getroud en ons het ná ’n paar draaie saam in Pretoria beland. Weer was ek in haar glystroom met raad oor werk, met ’n baba op die heup en mans wat van paartie gooi gehou het. Destyds het sy my betrek by Kontak (vir beter verhoudings) waaroor ek nog dankbaar is. Martie en Hannes kon altyd ’n klomp onwaarskynlike mense, wat normaalweg nie sou vlot nie, bymekaarhark en laat kuier. Sy het geen vooroordeel nie, maar skroom nie om ’n eerlike mening te gee nie.

Nou, in hierdie laaste pylvak, klop ek weer by haar aan vir raad oor weduweeskap (wanneer gooi jy sy tandeborsel weg?) en ons, nou volwasse, kinders en hul weë. Altyd die wyse Liewe Martha met haar groot gees en geestigheid. Dis met dankbaarheid dat ek kan terugkyk op ’n lang en gewaardeerde glystroom. En dat ons kinders met hul gedeelde grootmaakagtergrond die vrinskap met net soveel bekkigheid voortdra.

Skryf hier in:

Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top