Vrouedag-skryfkompetisie: Huldeblyk aan Agnes

  • 0

"Where did you buy your jersey? If you don't want it anymore you can give it to me."

Ek skrik en kyk verbaas om na die klein, ouerige vroutjie agter my. “Sorry?"

Sy lag. "I am Agnes Ntota.”

Ek steek my hand uit en vou ’n maer, eelterige hand toe in myne. Ek verluister my aan haar Engels wat beter is as myne. "Elizma Coetzee. I am here for a pre-school meeting.”

"Ek weet, op die regte tyd ook. Maar hier werk ons met Afrikatyd.”

Ek luister verbaas na die Afrikaans wat sy net so perfek gebruik. "Dink jy die ander gaan laat wees?”

"Beslis, minstens ’n uur, en dan kom hulle soos beeste in die agtermiddag wat teruggaan kraal toe, een na die ander, asof dit so hoort.”

Ek glimlag vir die vies uitdrukking op haar gesig. "Jy is betyds.”

"Dis my plek die.”

Ek kyk na die verwaarloosde, amper vervalle gebou, maar die trots in haar oë maak my stil. Ek weet elke steen vertel sy eie storie. "Waar is die kinders?”

"Hulle sal môre weer kom. Is dit waar dat jy vrouens help om met projekte te begin?”

"Ja, maar julle het dan reeds kleuterskole.”

"Die ouers is arm.”

Ek knik. "Is jy nog altyd betrokke by kleuterskole?"

Ek sien weer die trots in haar oë. "Ek was ’n onderwyser, toe skoolhoof by Ntota-skool en eers toe ek op pensioen gaan het ek met die kleuterskool begin. Ntota skool is na my genoem, weet jy?”

"Wow, mag ek vra hoe oud jy is?”

"Twee-en-sewentig.”

"Nooit! Regtig? Ek sou dit nooit sê nie.”

Die vergadering begin ’n uur laat en die laaste persoon kom in tydens die afsluitingsgebed. Ons besluit om met ’n kersmaakprojek te begin wat na-ure gedoen sal word en die kerse kan oor naweke verkoop word. Na die vergadering nooi Agnes my om weer te kom kuier. So begin ’n baie spesiale vriendskapsverhouding. Agnes leer my van deel al het jy niks, ander help al is jy moeg, en ongelooflike uithouvermoë. Behalwe vir die kleuterskool het sy ook ’n winkel met die nodigste voorraad om gate toe te stop.

Dit word ’n gewoonte om gou by haar te stop wanneer ek in die omgewing werk.

***

Dit is winter en ek draf gou weer by Agnes in. Ek sien dadelik iets is anders.

"En nou Agnes, hoekom lyk jy so vreemd?”

Sy tel ’n groot kombers op. "Kom kyk." Twee bruin ogies loer na my. "Hierdie was vanoggend op my stoep." Ek hoor ontsag in haar stem.

"En nou?”

"Dis ’n geskenk van Bo.”

"Wat gaan jy doen? Jou pensioen is klein en die ouers betaal so min vir die kleuterskool, as hulle ooit betaal.”

"Die Here sal voorsien, hy het nog altyd. Ontmoet Tenjiko."

***

Tenjiko is met liefde grootgemaak totdat Agnes hierdie blyplek wat ons Moeder Aarde noem, verlaat het. Sy het ’n groot leemte agtergelaat maar haar voetspore sal nooit doodgevee word nie.

Skryf hier in:

Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top