Vrouedag en vrouekrag

  • 0

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het op 9 Augustus 2013 ’n Vrouedaggeleentheid met die tema Vrouedag, Vrouekrag! aangebied. 

 

Dit het plaasgevind by die Studentesentrum van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie in Wellington, ’n hanetreetjie van waar die ATR vyf jaar gelede tot stand gekom het. Die soeklig het geval op die rol van die vrou as vennoot in die verwesenliking van die ATR se missie – om Afrikaans en Afrikaanssprekers te bemagtig, bevorder en beskerm.

Nagenoeg 150 vroue van ledeorganisasies en ander instansies, waaronder twee plaaslike bejaardesorgsentrums, het ’n genoeglike dag beleef.

Die ATR en die SA Dameskring se verteenwordigers by die geleentheid: Magdie, Alana, Michael, Lynette, Amanda en Ria

 

Die spesiale gas by die geleentheid was Lynette Francis, bekende radio- en TV-persoonlikheid. Sy en ander sprekers het klem gelê daarop dat vroue vir niks moet terugstaan nie. Magdie de Kock van die SA Dameskring het die belangrikheid van die vrou se maatskaplike ontwikkeling beklemtoon. Die digteres Diana Ferrus het van haar gedigte voorgelees, en ook vier nuwe vroulike digters bekend gestel wat tans onder haar mentorskap by die Breytenbach Sentrum op Wellington werk.

 

Sylvia by uitstalling

Volgens die voorsitter van die ATR, Michael le Cordeur, geskied hierdie bymekaarkom rondom die vrou se rol in die verwesenliking van die ATR se strewe in dieselfde gees van daadkrag en saamstaan wat gelei het tot die viering van Vrouedag jaarliks op 9 Augustus. ’n Paneelbespreking met die tema “Vrouekrag in aksie!”, onder leiding van Christa van Louw, wat ’n belangrike rol gespeel het in die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad, het ’n platform gebied vir interaktiewe bespreking oor die vrou se rol in gemeenskappe ten opsigte van die volgende kwessies: maatskaplike opheffing; taalaktivisme; voorlees vir kleuters; en die benutting van die digkuns vir vrouebemagtiging. As demonstrasie van vrouekrag is ’n aksieplan geformuleer om ’n vrouenetwerk tot stand te bring om onder die vaandel van die ATR te help om prakties aan die organisasie se missie gestalte te gee.

 

Diana Ferrus

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top