Voorblad: Boekbekendstelling met Hannes Visser en Igno van Niekerk by NALN | 15 Februarie 2024

  • 0

Voorblad het sy ontstaan gehad in ’n kortverhaal wat Hannes in 2013 vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging ingestuur het. Die verhaal is as die wenverhaal vir ongepubliseerde skrywers aangewys. Vir ander kortverhale het Hannes onderskeidelik in 2007 en 2011 tweede en derde plek in die BSV-kompetisie behaal. Hy is tans besig met die beplanning van ’n opvolg op Voorblad  nadat lesers gevra het of daar ’n tweede boek met dieselfde hoofkarakters gaan verskyn.

Voorblad is ’n misdaadroman vol intrige en afdraaipaaie wat die leser op die punt van sy stoel sal hou. ’n Keurder het die volgende gesê:

“Die lakmoestoets vir hierdie genre is dat die leser nie die boek wil neersit as hy eers begin lees het nie. Die skrywer slaag hierdie toets. Hierdie skrywer kán skryf!(Naledi)

Hannes se debuutdigbundel, Die jaar toe pa ... het in 2019 by Naledi verskyn en is dieselfde jaar herdruk. Die bundel met agt bykomende gedigte en ’n nuwe voorkoms het in 2022 as heruitgawe by Turksvy Publikasies verskyn. Die bundel is outobiografies en beeld die lewe van ’n 10-jarige kind in 1967 uit. Die sentrale gedig in die bundel handel oor die dood van Hannes se pa in 1967. Dié gedig is as tweedeplekwenner in die BSV-kompetisie van 2013 aangewys en die bundel het rondom hierdie sentrale gedig gestalte gekry.

Hannes het in 2018 die BSV-kompetisie se poësie-afdeling gewen en ’n tweede gedig is as die beste bydrae vir die BSV vir 2018 aangewys. Daardie twee gedigte van 2018 is deel van ’n bundel waaraan hy tans werk. Hy het in 2020 die derde plek in Avbob se nasionale poësiekompetisie behaal. Hy sal ook tydens sy optrede by NALN oor sy gedigte gesels.

Die volgende boeke deur Hannes Visser is by NALN beskikbaar op 15 Februarie 2024:

Voorblad (Naledi, 2023), R290
Die jaar toe pa (Turksvy Publikasies, 2023), R250
Donkirbedônirt (Kersligmedia, 2023), R180 (Dit is ’n swart boekie met kort verse in wit teks wat gekskeer met beurtkrag.)

Dié geleenthede vorm deel van die NALN 50-feesjaar. Op 24 Maart 2024 is die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum reeds 51 jaar oud.

Kom kuier gerus Valentynsdag by NALN:
Tom Dreyer & Toast Coetzer: In my droom ry jy oor ’n rooi robot. Valentynsdag by NALN om 18:00.
RSVP: annelien.naln@gmail.com

Op Saterdagoggend 17 Februarie 2024 geld die Halfeeu, halfprys-aanbod in Vriende van NALN se ondergrondse Boekemark in die Ketelkelder 08:30-12:00.

Sien ook:

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top