Vonnisbespreking: Privaat vervolgings as meganisme vir die ontwikkeling van ’n grondwetlike regstaat

  • 0

Vonnisbespreking: Privaat vervolgings as meganisme vir die ontwikkeling van ’n grondwetlike regstaat
National Society for the Prevention of Cruelty to Animals v Minister of Justice and Constitutional Development 2017 1 SACR 284 (KH); 2017 4 BCLR 517 (KH)

Wian Spies en Llewelyn Curlewis, Departement Straf- en Strafprosesreg, Universiteit van Pretoria

LitNet Akademies Jaargang 19(2)
ISSN 1995-5928

 

Abstract

Private prosecutions as mechanism for the development of a constitutional legal state

In recent case law it became evident that private prosecutions might be the remedy to unprosecuted criminals in South Africa. South Africa recently obtained its very own private prosecuting unit when the human rights organisation AfriForum hired Advocate Gerrie Nel to join forces and to prosecute alleged criminals.

In this discussion the fundamentals of private prosecutions in South Africa will be explored. The historical development and commencement of private prosecutions in a South African context will be explained with specific reference to case law from both the pre- and post-apartheid perspectives. The focus will then be on the decision of the Constitutional Court under discussion (“NSPCA case”) which will be elaborated on, explained and evaluated. In this case the question whether the Criminal Procedure Act 51 of 1977 discriminates against juristic persons arose. This aspect of the judgment will also be explored further. Lastly, some crime statistics in South Africa will be examined as well as whether private prosecutors can somehow assist the National Prosecuting Authority in their quest to prosecute all crimes and keep South Africans safe.

The conclusion is that the NSPCA case is correct. The court found that the NSPCA has the legal capacity to prosecute. However, the court did not express itself on the question whether section 7(1)(a) of the Criminal Procedure Act is in accordance with the Constitution as it clearly discriminates against juristic persons by omitting them from the wording of the section. It is submitted that provision should be made to allow juristic persons to prosecute so that the capacity to prosecute privately in South Africa can be extended. Of course, juristic persons will also have to comply with the requirements of section 7(1)(a) and they will be able to prosecute only after a nolle prosequi-certificate has been issued to them by the National Prosecuting Authority.

Keywords: crime; discrimination; juristic person; nolle prosequi; post-apartheid; private persons; private prosecution; private prosecution unit; public prosecution; public prosecuting authority; state prosecutor; transformation

Trefwoorde: diskriminasie; misdaad; nolle prosequi; postapartheid; privaat persone; privaat vervolging; privaat vervolgingseenheid; publieke vervolging; publieke vervolgingsgesag; regspersone; staatsaanklaer; transformasie

 

1. Inleiding

Uit onlangse gesag blyk dit duidelik dat privaat vervolgings al hoe meer die oplossing vir die vervolging van misdadigers behoort te wees. Suid-Afrika het onlangs ook sy eerste privaat vervolgingseenheid ryker geword nadat die burgerregteorganisasie AfriForum die oudstaatsaanklaer advokaat Gerrie Nel aangestel het om kriminele oortredings te vervolg.

In hierdie bydrae word privaat vervolgings ondersoek. Die historiese ontwikkeling en ontstaan van privaat vervolgings in die Suid-Afrikaanse konteks word bespreek met spesifieke verwysing na gesag in sowel die pre- as postapartheid bedelings. Daar word in die besonder gefokus op die onderhawige beslissing van die Konstitusionele Hof (die NSPCA-saak). Die vraag of regspersone dieselfde regte het wanneer dit gaan oor privaat vervolgings ingevolge die Strafproseswet 51 van 1977 kom ook ter sprake. Die kwessie rakende moontlike diskriminasie teen regspersone word indringend bespreek. Laastens word gekyk na die onlangse misdaadsyfers wat tans oor Suid-Afrika se kop hang en of privaat vervolgings moontlik die agterstand van vervolging van ernstige misdade kan uitwis.

Die besluit om te vervolg al dan nie berus by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) (ingevolge art. 179 van die Grondwet, 1996 en art. 20 van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag 32 van 1998 (die NVG-wet)). In uitsonderlike gevalle mag ’n privaat persoon ’n vervolging instel indien die NVG weier om te vervolg (art. 7 van die Strafproseswet 51 van 1977). (Tensy uitdruklik anders aangedui, is elke verdere verwysing na ’n wetsartikel ’n verwysing na ’n artikel van hierdie wet.)

Benewens die privaat vervolging bedoel in artikel 7 (waarvolgens ’n wesenlike en besondere belang wat uit benadeling as gevolg van die pleging van ’n misdaad ontstaan het, ’n vereiste is), word in artikel 8 ook voorsiening gemaak vir privaat vervolging deur ’n liggaam of regspersoon (byvoorbeeld ’n plaaslike owerheid) wat wetlik daartoe gemagtig is. Daar word hier onder in meer besonderhede op die twee vorme van privaat vervolging ingegaan.

Privaat vervolging as meganisme vir die ontwikkeling van ’n grondwetlike regstaat word vervolgens verduidelik, met spesifieke verwysing na die beslissing in die NSPCA-saak. Daar sal eers aandag gegee word aan die historiese ontwikkeling van privaat vervolging voordat die huidige verskyningsvorm daarvan bespreek word. Daarna volg ’n opsomming van die NSPCA-saak en laastens die gevolgtrekking met ’n paar finale opmerkings.

 

2. Agtergrond tot privaat vervolging

Die Suid-Afrikaanse regstelsel is oor ’n tydperk van meer as drie eeue deur sowel Romeins-Hollandse as Engelse reg beïnvloed. Die Romeins-Hollandse reg was die heersende reg voordat die Engelse aan die Kaap geland het (Groenewoud and Colyn v Innesdale Municipality 1915 TPD 413).

In die Groenewoud-saak het die regsvraag ontstaan of die plaaslike munisipaliteit oor die vervolgingsbevoegdheid beskik het om kriminele oortredings te vervolg. Die regsgeldigheid van privaat vervolging as sodanig het ook ter sprake gekom en die hof het met ’n beroep op die Criminal Ordinance van 5 Julie 1570 sodanige regsgeldigheid bevestig. Die beginsel ten grondslag van hierdie uitspraak het in die Criminal Procedure Ordinance 40 of 1828, in die Transvaalwet 9 van 1866 en in die Criminal Procedure Code 1 of 1903 neerslag gevind.

Volgens bogenoemde statutêre bepalings is die enigste persoon wat privaat vervolgingsbevoegdheid het, die een wat ’n wesenlike en besondere belang by die saak het. Verder word vereis dat daardie wesenlike en besondere belang deur die handelinge van die beskuldigde in gedrang gekom het. Hierdie beginsel het in artikel 7(1)(a) van die Strafproseswet behoue gebly.

Gedurende die volle duur van die 19de eeu het privaat vervolging toenemend ’n probleem op regsgebied aan die Kaap geskep (Theal 1897:266). Die Britse House of Commons het gevolglik ’n kommissie van ondersoek, bekend as die Colebrooke and Bigge Commission (Mujuzi 2019:134), aangestel om die probleem op te los. Die kommissie het verskeie aanbevelings gemaak en was ook baie krities oor die toestand van die Kaapkolonie se regstelsel (Theal 1897:266). Na afloop van die kommissie se werksaamhede het die Britse Secretary of State for the Colonies, burggraaf Goderich, aan majoor-generaal Richard Bourke ’n brief geskryf waarin hy die aanbevelings van die kommissie oorgedra het (Theal 1897:266–7). Bourke was die destydse luitenant-goewerneur van die Westelike en Oostelike distrik van die Kaapkolonie in 1821, ’n tydperk waarin daar ’n aansienlike hoeveelheid verandering en “ontwikkeling” geskied het (New History of South Africa 2010). Volgens hierdie aanbevelings is dit baie duidelik dat Goderich geen verwagting gekoester het dat die regskonsep van privaat vervolging aan die Kaap sou deug nie. Volgens hom sou dit moontlik gewees het slegs indien verskeie landdroste oor die Kolonie verspreid was. Hy onderskei die posisie aan die Kaap van dié in Engeland op die basis dat daar in Engeland ’n gevestigde regstelsel bestaan het, iets wat hy nie aan die Kaap in die vooruitsig sou stel nie (Theal 1897:267).

Uit die kommissie se bevindings was dit duidelik dat dit die openbare vervolgingsgesag se verantwoordelikheid is om misdade teen private persone te ondersoek en die beskuldigdes te vervolg. Voordat die 1828-Ordinance in werking getree het, het gewone private persone nie die reg gehad om persoonlik die beskuldigde wat hom/haar wesenlik en persoonlik skade aangedoen het, te vervolg nie. Die 1828-Ordinance het dit baie duidelik gemaak dat die enigste geval wanneer ’n privaat persoon ’n beskuldigde privaat mag vervolg, sou wees indien die openbare vervolger aangedui het dat die beskuldigde nie deur die openbare vervolger vervolg gaan word nie (Mujuzi 2019:136). Die openbare vervolger reik dan ’n sertifikaat uit aan die privaat persoon wat aan die slagoffer die reg gee om die beskuldigde privaat te vervolg. Hierdie prosedure word tans in artikel 7 van die Strafproseswet voorgeskryf. Die betrokke sertifikaat staan bekend as ’n nolle prosequi-sertifikaat.

Barclays Zimbabwe Nominees (Pvt) Ltd v Black 1990 ZASCA 92; 1990 4 SA 720 (A) was die eerste Suid-Afrikaanse saak waarin ’n regspersoon ’n ander persoon ingevolge artikel 7(1)(a) privaat wou vervolg. In hierdie saak het die destydse prokureur-generaal geweier om die beskuldigde te vervolg en aan die regspersoon, Barclays Zimbabwe Nominees (Pvt) Ltd (Barclays), ’n nolle prosequi-sertifikaat uitgereik. Die beskuldigde (Black) het ’n pleit ingevolge artikel 106(1)(h) opgewerp en aangevoer dat Barclays nie die bevoegdheid het om te vervolg nie, aangesien die maatskappy nie ’n privaat persoon soos bedoel in artikel 7 was nie. Die Streekshof het die pleit van die hand gewys sonder om ’n rede te verskaf. Die saak het voortgegaan en die respondent is aan bedrog skuldig bevind.

Die Appèlhof het geworstel met die vraag of artikel 7(1)(a) moontlik ook daarvoor voorsiening maak dat regspersone mag vervolg. Verskeie vertalings en woordeboekdefinisies is geraadpleeg. Die hof bevind dat artikel 7 klaarblyklik nie voorsiening maak vir regspersone nie. Die hof wys verder daarop dat indien daar gekyk word na die woorde “wat hy persoonlik gely het”, daar verwys word na die nadeel wat ’n (natuurlike) persoon persoonlik moes gely het. ’n Regspersoon bestaan immers uit ’n groep mense wat ’n struktuur vorm, in teenstelling met die enkel- (natuurlike) persoon soos bedoel in artikel 7.

Die hof wys verder daarop dat die woord “him” in artikel 7 ook nie na regspersone of besighede kan verwys nie omrede woorde soos “him” en “her” na natuurlike persone verwys. Die hof het laastens as algemene beleid neergelê dat alle sake openbare vervolgings in die naam van die staat moet wees. Die enigste uitsonderings op die algemene reël sou wees wanneer aan bepaalde liggame deur wetgewing die bevoegdheid verleen word om ingevolge artikel 8(2) te vervolg en wanneer dit ’n privaat persoon is wat kragtens artikel 7 mag vervolg. Die appèl word gevolglik met koste van die hand gewys.

In Nundalal v Director of Public Prosecutions ZAKZPHC 25 (2015) het die hof verduidelik in watter mate die vereistes van artikel 7 van toepassing is en hoe dit nagekom behoort te word. Hier het ene Niemesh Singh gepoog om die applikant, Arnold Denzil Nundalal, privaat te vervolg omrede hy ’n vals uitlating gemaak het wat op dwarsboming van die gereg neergekom het (par. 4). Die hof (par. 53) bevind dat die persoon wat privaat vervolg, die bewyslas dra om te bewys dat hy aan al die vereistes vir ’n privaat vervolging voldoen. Ingevolge artikel 7(1)(a) is dit duidelik dat daar op grond van die betekenis van sommige van die woorde bevind kan word of ’n privaat vervolging toelaatbaar is al dan nie. Die woord “wesenlike” beteken dat die belang wat die privaat vervolger in die saak het, van so ’n aard moet wees dat die saak tot ’n vervolging van die oortreder kan lei (par. 47). Dit beteken dat indien dit nie die geval is nie, daar geen rede is om in die eerste plek ’n privaat vervolging te loods nie. Daarom is dit ’n baie belangrike vereiste in ’n aansoek om privaat te mag vervolg dat die persoon wat privaat wil vervolg, moet kan bewys dat hy of sy ’n wesenlike en besondere belang in die saak het en dat die benadeling wat hy/sy ervaar het, hom/haar persoonlik raak (par. 53). Die hof (ibid.) beslis dat daar ’n algehele verbintenis moet wees tussen die nadeel wat die slagoffer ervaar het en die daad van die oortreder. Die hof (ibid.) beslis voorts dat die “nadeel” waarvan die Strafproseswet praat, ook nadeel van ’n persoon se goeie naam kan insluit en dat persone op grond van laster ook privaat vervolgings kan loods. Laastens bevind die hof (ibid.) dat daar ’n prima facie-saak moet wees dat die privaat persoon aan al die vereistes vir ’n privaat vervolging voldoen.

 

3. Privaat vervolging ingevolge artikel 8 van die Strafproseswet

In die Suid-Afrikaanse strafprosesreg bestaan twee vorme van privaat vervolging, naamlik privaat vervolging ingevolge ’n nolle prosequi-sertifikaat (soos hier bo genoem) en ’n privaat vervolging ingevolge ’n statutêre reg ingevolge artikel 8 (Joubert 2017:92). In hierdie gedeelte van die bydrae sal daar gefokus word op artikel 8, wat in werklikheid nie privaat vervolging in die ware sin van die woord behels nie (ibid.).

’n Vervolging kragtens artikel 8 is nie van toepassing op persone wat gegrief is deur die vervolgingsgesag se weiering om te vervolg nie (ibid.). Vervolgings ingevolge artikel 8 geskied uit hoofde van ’n bevoegdheid wat deur wetgewing aan ’n bepaalde instansie, byvoorbeeld ’n munisipaliteit, verleen word om vervolgings in te stel. Dit is juis hierdie vorm van vervolging wat in die Groenewoud-saak waarna hier bo verwys is, ter sprake was.

Indien ’n liggaam of persoon ’n vervolging ingevolge artikel 8 wil instel, moet daar eers ingevolge artikel 8(2) aan twee basiese vereistes voldoen word. Die liggaam of persoon moet eers die betrokke direkteur van die openbare vervolgingsgesag raadpleeg. Die direkteur sal dan die liggaam of persoon toestemming gee om die vervolging te behartig en in effek self terugstaan en afstand doen van die reg om te vervolg. Vervolgings ingevolge artikel 8 is uiteindelik klaarblyklik steeds onder die beheer van die direkteur van openbare vervolgings.

Artikel 8- privaat vervolgings is dus in werklikheid nie ’n totaal onafhanklike privaat vervolging nie (Joubert 2017:92). Groot munisipaliteite sal in die praktyk dikwels vervolgings instel teen persone wat die munisipale verordeninge oortree. Die direkteur van openbare vervolgings kan self op meer ernstige misdade fokus. Vir die direkteur van openbare vervolging is artikel 8 in werklikheid ’n moontlike alternatief om te verseker dat oortreders steeds vervolg word, maar as’t ware op ’n ander persoon of liggaam se onkoste en tyd.

 

4. Konstitusionele Hof se uitspraak

In die NSPCA-saak was die feite soos volg: Twee kamele is voor ’n skare mense op ’n wreedaardige wyse geslag (par. 4). Na aanleiding van ’n aanklag wat deur die NSPCA ingedien is, het die direkteur van openbare vervolging geweier om te vervolg en ook geweier om ’n nolle prosequi-sertifikaat uit te reik wat die NSPCA in staat sou kon stel om ’n privaat vervolging kragtens artikel 7(1)(a) in te stel. Die vervolgingsgesag se argument was dat ’n regspersoon nie daarop geregtig is om ’n privaat vervolging kragtens artikel 7(1)(a) in te stel nie (par. 6). Die NSPCA het aangevoer dat die kamele uit die aard van die feite direkte slagoffers van die misdaad was, soos vereis word in artikel 7(1)(a). Op grond van die feit dat die kamele nie regstappe namens hulself kon instel nie, het die NSPCA dit kragtens artikel 7(1)(a) namens die kamele probeer doen.

Die Hooggeregshof beslis (National Society for the Prevention of Cruelty to Animals v Minister of Agriculture, Forestry and Fisheries [2012] ZAGPPHC 329) dat die onderskeid tussen regspersone en privaat persone in die Strafproseswet op diskriminasie neerkom, maar dat hierdie diskriminasie nie onregverdig is nie (NSPCA par. 13).

In appèl na die Appèlhof word die grondwetlikheidstoets in Prinsloo v Van der Linde 1997 6 BCLR 759 (KH) gebruik om die grondwetlikheid van artikel 7(1)(a) te bepaal. Die hof gee die Hooggeregshof gelyk dat daar met die oog op die toepassing van artikel 7(1)(a) wel ’n mate van differensiasie tussen regspersone en privaat persone bestaan. Die hof bevind dat daar ’n aanvaarbare rede is waarom die Strafproseswet onderskei tussen regspersone en privaat persone en bevind voorts dat privaat vervolgings tot sekere soorte sake beperk behoort te word en dat artikel 7(1)(a) wel grondwetlik is (NSPCA par. 16).

Die NSPCA beroep hom verder op die Konstitusionele Hof dat artikel 7(1)(a) ongrondwetlik is omdat dit teen regspersone diskrimineer. Daar word aangevoer dat drie vrae beantwoord moet word. Die eerste vraag is of die Nasionale Dierebeskermingswet 169 van 1993 aan die NSPCA die reg gee om privaat te vervolg; die tweede vraag is of artikel 7(1)(a) dan aan die NSPCA die reg bied om privaat te vervolg; en die derde vraag is of, indien die NSPCA nie oor die reg beskik om ingevolge artikel 7(1)(a) te vervolg nie, hierdie artikel dan nie inderdaad teen regspersone diskrimineer nie.

In artikel 6(2)(e) van Wet 169 van 1993 word bepaal dat die NSPCA die reg het om regstappe te doen. Die hof bevind dat dit nie sin sou maak om die artikel so te interpreteer dat dit nie die NSPCA magtig om te mag vervolg nie (NSPCA par. 48). Verder word bevind dat wette nie so geïnterpreteer moet word dat dit ander wette nietig maak nie (ibid.). Die hof beslis dat indien artikel 6(2)(e) tesame met artikel 8 van die Strafproseswet gelees word, dit moontlik aan die NSPCA die remedie waarna hulle soek, voorsien.

Die Konstitusionele Hof is met drie vrae gelaat in hul taak om te bepaal of die NSPCA kragtens artikel 7(1)(a) of artikel 8 privaat mag vervolg. Eerstens moes die hof bepaal of die NSPCA-wet daadwerklik die NSPCA voorsien van die statutêre reg om ’n privaat vervolging te mag instel. Tweedens moes die hof besluit of, indien die NSPCA-wet en artikel 8 van die Strafproseswet nie aan die NSPCA die reg voorsien om privaat te vervolg nie, artikel 7(1)(a) van die wet moontlik wel dié reg aan die NSPCA voorsien. Derdens, indien nie een van die bogenoemde twee aspekte die NSPCA in staat stel om privaat te mag vervolg nie, sou die hof moes beslis oor die grondwetlikheid van artikel 7(1)(a) (NSPCA par. 27).

Die hof meen dat dit belangrik is vir die NSPCA om privaat te kan vervolg en dat artikel 8, gelees saam met artikel 6(2)(e) van die Nasionale Dierebeskermingswet, aan die NSPCA meer as genoeg gronde voorsien om dit te mag doen (NSPCA par. 51–3). Die hof is verder van mening dat aangesien die vraag of die NSPCA ingevolge artikel 7(1)(a) mag vervolg, nie voor die hof geargumenteer is nie, dit vir die hof onnodig is om in hierdie saak oor die grondwetlikheid van artikel 7(1)(a) te beslis. Corruption Watch, wat hulle as amicus curiae by die saak gevoeg het, het wel aangevoer dat artikel 7(1)(a) op so ’n wyse geïnterpreteer behoort te word dat dit aan regspersone die reg voorsien om ingevolge dié artikel te kan vervolg. Die hof het egter hul argument van die hand gewys omrede dit die amicus curiae se taak is om die hof by te staan om die dispuut tussen die twee partye op te los. Aangesien die NSPCA privaat mag vervolg, is dit nie meer nodig vir die hof om te beslis oor die grondwetlikheid van artikel 7(1)(a) nie (NSPCA par. 64). Die hof beklemtoon die doel van die stigting van die NSPCA en wys daarop dat die Dierebeskermingswet spesifiek die NSPCA die reg gee om regstappe te doen. In die lig daarvan, en om nie die NSPCA se “vlerke te knip” en daardie organisasie te verhinder om hul taak om diereregte te bevorder uit te voer nie, bevind die hof dat artikel 7(1)(a) wel grondwetlik is (NSPCA par. 51–3).

 

5. Ontleding van die uitspraak in die konteks van die wetgewende raamwerk

In die NSPCA-saak word die onderskeid tussen artikel 8- privaat vervolgings en artikel 7(1)(a)- privaat vervolgings baie duidelik gemaak. Die NSPCA het versoek om ’n privaat vervolging in te stel ingevolge artikel 7(1)(a) ten einde die beskuldigdes te kan vervolg. Die direkteur van openbare vervolging was van mening dat die vervolging nie ingevolge artikel 7(1)(a) kan geskied nie, omdat die NSPCA nie ’n privaat persoon is wat direk ’n wesenlike en persoonlike benadeling ervaar het nie.

Die Konstitusionele Hof is egter van mening dat dit nie saak maak of ’n liggaam of persoon ingevolge artikel 7(1)(a) of artikel 8 vervolg nie. Die hof het dit ook duidelik gestel dat dit in hierdie saak nie nodig is om die kwessie rakende die diskriminasie van artikel 7(1)(a) aan te spreek nie, omdat die NSPCA in elk geval oortreders vir dieremishandeling mag vervolg. Die hof het in die saak ’n goeie geleentheid gehad om die vrae rakende die moontlike ongeregverdigde diskriminasie in artikel 7(1)(a) uit te klaar, maar het daarteen besluit. Indien die hof egter wel voortgegaan het om die grondwetlikheid van artikel 7(1)(a) te oorweeg en sodoende die artikel ongrondwetlik te verklaar, sou daar ’n omvangryke verandering in die vervolging van strafsake plaasgevind het. Dit sou moontlik vir regspersone die geleentheid gun om namens hulself oortreders privaat te vervolg, of oortreders wat krimineel die wet teen hul lede oortree. Wanneer daar in die toekoms weer ’n regspersoon is wat ingevolge artikel 7(1)(a) privaat wil vervolg, sal dit waarskynlik onsuksesvol wees, aangesien die direkteur van openbare vervolging bloot sal weier om aan die regspersoon ’n nolle prosequi-sertifikaat te verskaf en sodoende die NSPCA-saak as presedent gebruik.

Met die oog op die beslissing in Barclays is dit belangrik om daarop te let dat die beslissing in 1990 geneem is, voor die inwerkingtreding van die Suid Afrikaanse Grondwet in 1996. Die Grondwet fokus baie streng op diskriminasie (Mujuzi 2015). Mujuzi lê baie klem op die feit dat daar onregverdige diskriminasie geskied wanneer daar in artikel 7 tussen regspersone en privaat persone onderskei word. Die moontlikheid bestaan dus wel dat artikel 7 as ongrondwetlik verklaar behoort te kan word, soos deur die NSPCA geargumenteer.

Soos reeds vermeld, het dit in Groenewoud gegaan oor die vraag of munisipaliteite mag vervolg. Hierdie saak is in 1915 beslis. Bykans 60 jaar het dus verloop voordat die Strafproseswet van 1977 in werking gestel is en daarna nog 19 jaar totdat die Grondwet aanvaar is. Dit is feitlik korrek dat daar sedert die Groenewoud-saak heelwat transformasie met betrekking tot Suid-Afrikaanse wetgewing plaasgevind het en so ook in die Suid-Afrikaanse prosesreg.

Die algemene reël is dat beskuldigdes deur die direkteur van openbare vervolgings vervolg moet word. Hierdie reël is deur Grondwet en die Strafproseswet bevestig. Daar moet egter in ag geneem word dat dié wet geskryf is gedurende die tyd toe die politieke klimaat en regeringstruktuur in Suid-Afrika beduidend anders gelyk het. Dit is egter ook geen geheim dat misdaadgetalle elke jaar in Suid-Afrika toeneem nie. In ’n onlangse opname is daar bevind dat ernstige misdade soos aanranding, huisinbrake, motordiefstal, moord en seksuele oortredings tussen 2018 en 2019 toegeneem het (Statistics South Africa 2019/2020:41). Daar is in die jaar 2018–2019 meer as 12 000 gevalle van moord gerapporteer (Statistics South Africa 2019/2020:26). In die jaar 2019–2020 is daar 18 000 gevalle van moord gerapporteer (Statistics South Africa 2019/2020:26). Dit is ’n toename van bykans 3 000 gevalle van moord binne ’n jaar. Vir die openbare vervolgingsgesag om al hierdie sake te behartig, is bykans ’n onbegonne taak.

Suid-Afrika is vandag moontlik in die posisie om die reg op so ’n wyse te transformeer dat dit ook aan regspersone die geleentheid gee om kragtens artikel 7(1)(a) privaat te vervolg. Dit sal beteken dat regspersone makliker self ook beskuldigdes kan vervolg. Burgerregteorganisasies is dan in die posisie om beskuldigdes sonder moeite te vervolg. Daar kan nuwe privaat vervolgingsorganisasies geskep word wat as hoofdoelwit het om oortreders te vervolg. Suid-Afrika sal definitief daarby kan baat vind indien die entiteite wat vervolgings kan inisieer en dryf, vermeerder word.

 

6. Gevolgtrekking

Die uitspraak in die NSPCA-saak is korrek. Die hof het noukeurig gekyk na waaroor die kruks van die saak handel en bevind dat dit bloot daaroor gaan of die NSPCA die bevoegdheid het om te kan vervolg. Daar is nie fout te vind met die bevinding dat die NSPCA mag vervolg nie. Dit hoef egter nie daar op te hou nie. Daar moet meer voorsiening gemaak word vir privaat vervolgings om sodoende die vervolgingskapasiteit in Suid-Afrika te verhoog.

Dit is duidelik dat die Konstitusionele Hof in die NSPCA-saak eerder wou wegskram van die vraag oor die grondwetlikheid van artikel 7(1)(a). Die hof het doelbewus nie oor hierdie omstrede regskwessie beslis nie.

Om aan ’n regspersoon die bevoegdheid te gee om kragtens artikel 7(1)(a) te vervolg, beteken nie dat net enige persoon sonder meer kan vervolg nie. Die vereistes vir ’n privaat vervolging bly steeds van toepassing en daar moet steeds eers ’n nolle prosequi- sertifikaat aan die voornemende privaat vervolger uitgereik word. Met ander woorde, die Nasionale Vervolgingsgesag kan ’n keuse gegun word om te vervolg, nie te vervolg nie, of nie te vervolg nie en die vervolgingsreg aan ’n ander belanghebbende regspersoon oor te dra. Soos in Groenewoud gemeld, verleen dit aan die Nasionale Vervolgingsgesag die geleentheid om op meer ernstige sake te fokus en hulpbronne elders aan te wend en nie bloot sake uit te stel of nie te vervolg nie.

 

Bibliografie

Joubert, J.J. 2017. Strafprosesreghandboek. 12de uitgawe. Claremont: Juta.

Mujuzi, J.D. 2015. Private prosecutions and discrimination against juristic persons in South Africa: A comment on National Society for the Prevention of Cruelty to Animals v Minister of Justice and Constitutional Development & Another. African Human Rights Law Journal, 15:580–95. http://dx.doi.org/10.17159/1996-2096/2015/v15n2a17 (21 Januarie 2022 geraadpleeg).

—. 2019. The history and nature of the right to institute a private prosecution in South Africa. Fundamina, 25(1):131–69. https://dx.doi.org/10.17159/2411-7870/2019/v25n1a6 (20 Januarie 2022 geraadpleeg).

New History of South Africa. 2010. The British take root: The revolution in government. South African History Source Written by Experts (25 Junie 2010). https://web.archive.org/web/20110723183826/http://newhistory.co.za/part-1-chapter-3-the-british-take-root-the-revolution-in-government (3 Februarie 2022 geraadpleeg).

Statistics South Africa. 2019/2020. Governance, public safety and justice survey GPSJS 2019/2020. http://www.statssa.gov.za/?page_id=1854&PPN=P0341&SCH=72635 (3 Februarie 2022 geraadpleeg).

Theal, G.M. 1897. Records of the Cape Colony 1837–1919. Vol 21. Londen: Clowes.

 

  • Die fokusprent deur Succo by hierdie artikel is op Pixabay.

LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top