Llewelyn Curlewis is ’n senior lektor in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit van Pretoria en ’n voormalige aanklaer en advokaat. Hy is ’n prokureur, notaris, boedelberedderaar, taksateur en senior verhoorspesialis in voltydse praktyk en was al by talle hoëprofielhofsake betrokke.
Hy beskik ook oor ’n gevorderde sertifikaat in forensiese rekeningkunde, asook ’n gevorderde sertifikaat in ADB (cum laude) van AFSA. Hy doseer by verskeie ander instellings en dien op talle rade en direksies in die regsberoep en elders, insluitend die Suid-Afrikaanse Nasionale Regspraktykraad. Hy is ’n erelid van die PPV, asook van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Waardeerders.
Curlewis is ’n bekende spreker op talle radiostasies en ’n bekende gesig op baie televisiekanale in sowel die RSA as die buiteland. Hy is ’n ontvanger van talle toekennings, en die skrywer van ’n aantal regshandboeke en talle regsartikels in plaaslike en internasionale tydskrifte/joernale. As voormalige president van die Prokureursorde het hy die regsberoep op ’n globale skaal verteenwoordig en as hoofspreker aan honderde plaaslike en internasionale konferensies deelgeneem.
Hy is een van baie min Suid-Afrikaners op die paneel van verdedigingsadvokate van die Internasionale Strafhof in Den Haag in Nederland. Hy is ’n ywerige sportman; hy het oor die jare by verskeie geleenthede provinsiale kleure in vyf sportdissiplines verwerf en het Suid-Afrika ook twee keer by die Wêreldkampioenskappe verteenwoordig en by albei geleenthede goud vir die land verwerf.
Wat stokperdjies betref, is hy onder andere ’n gekwalifiseerde valskermspringer, gevorderde skubaduiker, gesertifiseerde giftigeslanghanteerder, gekwalifiseerde noodhulpbeampte en ultra-afstand-hardloper wat al meer as 25 Comrades-marathons (baie daarvan met silwer medaljes) voltooi het, asook vele ander marathons die wêreld oor. Hy reis gereeld na die buiteland.