|
||||||||
Abstract
The role of the prosecuting authority regarding the (re)issuance of the nolle prosequi certificate
The Supreme Court of Appeal in Polovin v The Director of Public Prosecutions 2024 4 All SA 675 addressed and purported to resolve two important uncertainties regarding private prosecutions. First, it determined that a particular Director of Public Prosecutions (DPP) is not compelled to issue a certificate nolle prosequi to every prospective private prosecutor who requests one. It also held that a prosecutor is, at most, required to perform a “factual inquiry” to ascertain whether the prospective private prosecutor complies with the formalities under section 7 of the Criminal Procedure Act 51 of 1977 (CPA). The Supreme Court of Appeal (SCA) further held that a DPP is entitled to reissue a certificate that has lapsed after three months and may also include additional crimes not contained in the original certificate.
In this case note, I critically evaluate the judgment in Polovin against the legislative framework under the CPA and investigate the practical implications for future prospective private prosecutors.
Keywords: certificate nolle prosequi; locus standi; private prosecution; public prosecution
Trefwoorde: locus standi; nolle prosequi-sertifikaat; openbare vervolging; private vervolging
1. Inleiding
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is verantwoordelik om strafregtelike verrigtinge namens die Staat in te stel, maar is nie verplig om elke beweerde misdaad te vervolg nie. Indien die NVG besluit om nie ’n saak te vervolg nie, mag ’n gegriefde persoon ’n private vervolging ingevolge artikel 7 van die Strafproseswet 51 van 1977 (die Strafproseswet) instel. Private vervolgings kan dus as ’n teenwig (of “veiligheidsmeganisme”) beskou word wat bedoel is om ’n leemte te vul wanneer die NVG versuim om op te tree, hetsy weens onbekwaamheid, ’n gebrek aan hulpbronne, of politieke inmenging en korrupsie (sien Joubert 2020:103; Outeur onbekend 1955:215). Ten spyte daarvan dat private vervolging nie juis ’n toeganklike opsie vir die deursnee Suid-Afrikaner is nie, bied dit steeds ’n aanloklike alternatief.
Hierdie meganisme is egter nie aan almal beskikbaar nie. Slegs ’n persoon wat aan die nodige vereistes voldoen, met inbegrip van iemand met die nodige locus standi, kan ’n private vervolging instel nadat hy of sy ’n nolle prosequi-sertifikaat van die betrokke direkteur van openbare vervolgings (DOV)1 verkry het. Daar het egter tot redelik onlangs onsekerheid geheers oor die vraag of ’n DOV verplig is om sodanige sertifikaat uit te reik aan enigiemand daarom aansoek doen. Anders gestel, moet ’n DOV ’n ondersoek instel om te bepaal of ’n voornemende private vervolger die nodige locus standi het en, indien wel, wat presies sodanige ondersoek vereis. Twee uitsprake, naamlik Singh v Minister of Justice and Constitutional Development 2009 1 SACR 87 (N) en Nundalal v Director of Public Prosecutions 2015 JDR 0876 (KZP), het teenstrydige gevolgtrekkings rakende hierdie vraag bereik. Hierdie onsekerheid is egter in Polovin v The Director of Public Prosecutions 2024 4 All SA 675 (HHA) aangespreek en skynbaar opgelos. Die Hoogste Hof van Appèl (HHA) het ook beslis oor die vraag of ’n DOV geregtig is om ’n tweede sertifikaat uit te reik nadat die aanvanklike een verval het en of daardie tweede sertifikaat verdere misdrywe mag insluit wat nie in die eerste een vervat was nie. In hierdie bydrae word die HHA se uitspraak in Polovin beoordeel en ’n oorsig verskaf oor die praktiese gevolge daarvan. Voordat hierdie uitsprake bespreek word, sal daar ’n oorsig oor die relevante regsraamwerk ingevolge die Strafproseswet sowel as die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag 32 van 1998 (die NVG-wet) verskaf word, aangesien die hof se uitspraak die uitleg van die relevante bepalings toelig.
2. Openbare vervolgings en private vervolgings
2.1 Algemene opmerkings oor openbare vervolgings
Die Konstitusionele Hof (KH) in National Society for the Prevention of Cruelty to Animals v Minister of Justice and Constitutional Development 2017 1 SACR 284 (KH) (NSPCA) het beslis dat daar in wese drie vorme van vervolging in Suid-Afrika is, te wete openbare vervolging, private vervolging en statutêre private vervolgings ingevolge artikels 7 en 8 van die Strafproseswet (NSPCA par. 31).
Rakende openbare vervolgings, lui die Grondwet dat die NVG die bevoegdheid het “om strafregtelike verrigtinge namens die staat in te stel en om enige funksies te verrig wat in verband met die instel van strafregtelike verrigtinge nodig is” (art. 179(2)). Die Grondwet bepaal ook “[a]lle ander aangeleenthede betreffende die vervolgingsgesag moet deur nasionale wetgewing bepaal word” (art. 179(7)). Hierdie funksie word hoofsaaklik deur die NVG-wet bewerkstellig en word deur die Strafproseswet aangevul (NSPCA par. 31).
Die NVG-wet lys die “drie hooffunksies” van die NVG ingevolge artikel 20(1)(a) (saamgelees met art. 179(2) van die Grondwet; sien ook Theophilopoulos 2019:176), naamlik die instelling van “strafregtelike verrigtinge namens die Staat”, die verrigting van enige verbandhoudende funksies met betrekking tot laasgenoemde, sowel as die beëindiging van sodanige strafsake (artikels 20(1)(a)–(c) van die NVG-wet).
Gewoonlik moet prima facie-sake vervolg word, aangesien paragraaf 3(A) van die nasionale direkteur van openbare vervolgings (NDPV) se vervolgingsbeleid (Prosecution Policy wat ingevolge artikel 21(1)(a) van die NVG-wet uitgereik is) vereis dat sake wat ’n redelike vooruitsig op sukses het, vervolg moet word.2 Die bepaling maak dit egter duidelik dat dit nie ’n verpligte vervolgingstelsel daarstel nie, aangesien dit ’n “onmoontlike las” (“impossible burden”) op sowel die aanklaers as openbare hulpbronne sal plaas (par. 3(A) van die Vervolgingsbeleid; sien ook Joubert 2020:86; Nundalal par. 24). Verder moet openbare vervolgings ook altyd in die openbare belang wees. Gevolglik kan ’n aanklaer besluit om nie ’n saak te vervolg nie, al is daar ’n redelike vooruitsig op sukses (par. 3(C) van die Vervolgingsbeleid). Aanklaers moet dus beoordeel of die vervolging van ’n saak in die openbare belang sal wees deur na drie faktore te kyk: die aard en erns van die misdryf, die omstandighede van die verdagte, asook die belange van die gemeenskap en die betrokke slagoffer (par. 3(C) van die Vervolgingsbeleid). Rakende die eerste faktor, moet aanklaers onder meer oorweeg of die misdryf beuselagtig is, hoe algemeen die misdryf voorkom en wat die moontlike vonnis in geval van skuldigbevinding sal wees (par. 3(C) van die Vervolgingsbeleid). By die oorweging van die verdagte se omstandighede, kan die aanklaer die verdagte se persoonlike omstandighede in ag neem, insluitend enige vorige veroordelinge (par. 3(C) van die Vervolgingsbeleid). Die aanklaer kan ook oorweeg of die strafregstelsel beter gedien sal word indien die beskuldigde deur meganismes buite die strafregstelsel aangespreek word (par. 3(C) van die Vervolgingsbeleid). Laastens, wanneer die belange van die slagoffer en die gemeenskap oorweeg word, kan ’n aanklaer die slagoffer se wense en/of standpunt oorweeg in hul besluit om te vervolg, al dan nie. Dit is dan verder ook belangrik om in gedagte te hou dat selfs al verkies ’n slagoffer dat die oortreder nie vervolg moet word nie, dit steeds in die openbare belang mag wees om die saak wel te vervolg (par. 3(C) van die Vervolgingsbeleid).
DOV’s moet verder ook tussen sterk en swak prima facie-sake onderskei, sodat die hofrolle nie met laasgenoemde belas word nie (Nundalal par. 24). Die impak van ’n vorige veroordeling weens die vervolging van ’n geringe misdryf, kan ook ongeregverdig wees, in die lig van die moontlike koste en gevolge vir die beskuldigde se lewe (par. 24). Daar is dus ’n wye verskeidenheid van oorwegings wat ’n DOV in ag moet neem wanneer ’n vervolgingsbesluit geneem word (par. 25).
Artikel 6 van die Strafproseswet magtig ook DOV’s om sake terug te trek of te staak. Ingevolge artikel 6(a) kan ’n DOV ’n klag terugtrek indien die beskuldigde nog nie gepleit het nie (sien art. 106(1)(a)–(i) vir die volledige lys pleite). Dit beteken nie dat die beskuldigde vrygespreek is nie; hy of sy kan weer van dieselfde misdrywe aangekla word (art. 6(a) van die Strafproseswet). ’n Saak kan egter ingevolge artikel 6(b) gestaak word. Staking van vervolging vind plaas nadat die beskuldigde gepleit het, maar voordat hy of sy skuldig bevind is en dit ’n vryspraak tot gevolg het (art. 6(b) van die Strafproseswet). Indien die beskuldigde later weer van dieselfde misdryf aangekla word, kan hy of sy die pleit ingevolge artikel 106(1)(d) van die Strafproseswet opper, naamlik dat hy of sy reeds van die betrokke misdryf vrygespreek is.
2.2 Locus standi
Sekere persone mag ’n private vervolging ingevolge artikel 7 van die Strafproseswet instel.3 Dit is ’n uitsondering op die algemene beginsel dat die NVG “eksklusief” vir die vervolging van misdaad verantwoordelik is (President of the Republic of South Africa v Zuma 2023 1 SACR 610 (GJ) (die Zuma I-saak) (par. 12). So ’n proses kan egter eers ingestel word en ’n persoon kan eers voor die hof gedaag word nadat hy of sy ’n getekende nolle prosequi-sertifikaat van die betrokke DOV bekom het (art. 7(2)(a) van die Strafproseswet; Zuma I par. 12; Joubert 2020:106). Dié sertifikaat dien as prima facie-bewys dat die DOV die tersaaklike beëdigde verklarings oorweeg het en tot die gevolgtrekking gekom het dat daar geen prima facie-saak bestaan om te vervolg nie (Nundalal par. 21). Soos vermeld, mag daar ook ander redes wees waarom ’n saak nie vervolg word nie, byvoorbeeld die belange van die gemeenskap, die slagoffer, of die feit dat dit ’n beuselagtige misdryf is.
Indien ’n persoon sonder ’n sertifikaat voor die hof gedaag word, mag dit selfs neerkom op ’n inbreukmaking van hul persoonlikheidsregte. Dit mag ook die fundamentele regte op gelykheid, menswaardigheid, vryheid en sekerheid van die persoon en die reg op regmatige, redelike en prosedureel billike administratiewe optrede, skend4 (Zuma I par. 13).
Die Strafproseswet bepaal in artikel 7(1)(a) dat ’n private persoon oor locus standi sal beskik indien hy of sy ’n wesentlike en besondere belang in die uitkoms van die verhoor kan bewys, voortspruitend uit benadeling wat hy of sy persoonlik weens die pleging van die betrokke misdryf gely het (art. 7(1)(a) van die Strafproseswet). Verder kan die gade, kind, naasbestaande, wettige voog, of kurator in bepaalde omstandighede sodanige private vervolging instel (art. 7(1)(b)–(d) van die Strafproseswet).5 In beginsel verhoed hierdie proses dat gegriefde persone (die slagoffers van misdaad) die reg in eie hande neem indien daar geen openbare vervolging plaasvind nie (North Western Dense Concrete CC v Director of Public Prosecutions (Western Cape) 1999 2 SACR 669 (K) op 681). Die Strafproseswet stel juis ’n private vervolger in staat om ’n saak te vervolg waar daar wel ’n prima facie-saak uitgemaak is, maar ’n openbare vervolger hul diskresie om nie die saak te vervolg nie, uitgeoefen het (North Western Dense Concrete op 680). Artikel 7 vereis ook nie dat ’n persoon ’n prima facie-saak moet uitmaak alvorens hy of sy ’n private vervolging kan instel nie (Mujuzi 2019: 153). Waar die vervolgingsgesag derhalwe glo dat die aangeleentheid nie ’n prima facie-saak uitmaak nie, of waar daar slegs ’n swak prima facie-saak bestaan, kan ’n private vervolging steeds plaasvind (Solomon v Magistrate, Pretoria 1950 3 SA 603 (T) op 613; Mujuzi 2019:152 vn. 127).
Die probleem is egter dat die Strafproseswet nie uitdruklik spesifiseer watter proses, indien enige, gevolg moet word om te bepaal of ’n betrokke persoon die nodige locus standi het om die private vervolging in te stel nie. Dit is juis hierdie kwessie waarmee die howe in Singh, Nundalal en Polovin gekonfronteer is en dit sal hierna in meer besonderhede bespreek word. Artikel 7(2)(b) van die Strafproseswet bepaal egter dat die betrokke DOV in elke geval waarin hy of sy weier om te vervolg, op versoek van die persoon wat voornemens is om te vervolg, die sertifikaat waarna in artikel 7(2)(a) verwys word, moet toestaan. Alhoewel artikel 7(1) dit duidelik stel dat slegs ’n persoon met die nodige locus standi (of hul regsverteenwoordiger) ’n private vervolging mag instel, swyg artikel 7(2) egter oor of slegs sodanige persone die sertifikaat mag aanvra. Inteendeel, artikel 7(2) blyk nie daarop te dui dat ’n DOV kan weier om die sertifikaat uit te reik, of dat die DOV ’n proses kan instel om te bepaal of die persoon wat wil vervolg aan die vereistes van artikel 7(1) voldoen nie.
Reeds om daardie rede kan daar aangevoer word dat die private vervolgingstelsel by tye vatbaar was vir misbruik (Tshehla 2025:15; sien ook Mujuzi 2015(b):250–54; Du Toit e.a. 1987:1−75-1−76D). In sulke gevalle het die howe ondubbelsinnig beslis dat die private vervolgingstelsel en die breër strafregstelsel, met inbegrip van die howe, nie misbruik mag word om vendettas na te streef nie. In Phillips v Botha 1999 2 SA 555 (HHA) het die HHA gesteun op Solomon, waarin daar beslis is dat die (hooggeregs)hof oor die inherente bevoegdheid beskik om sy prosesse teen “beuselagtige of kwelsugtige” (“frivolous or vexatious”) aangeleenthede te beskerm. Hierdie beginsel is ook van toepassing waar hofprosesse misbruik word om ’n private vervolging te fasiliteer (Solomon 607; Phillips 565). Appèlregter Hoexter het in Phillips beslis dat ’n hof in wese verplig is om private vervolgings te verhoed waar die stelsel misbruik word om “verborge motiewe” (“ulterior motives”) na te streef (Phillips 565). Die strafregstelsel moet dus slegs gebruik word om geregtigheid na te streef en nie om ’n “bykomstige en onbehoorlike doel” (“collateral and improper purpose”) te bereik nie (ibid).
Verder het die hof in Nedcor Bank Ltd v Gcilitshana 2004 1 SA 232 (SE), met verwysing na Hudson v Hudson1927 AD 259, beslis dat ’n hof slegs in duidelike gevalle van misbruik mag ingryp en dat hierdie bevoegdheid met groot omsigtigheid uitgeoefen moet word (Nedcor par. 27, met verwysing na Hudson 268). Regter Erasmus het egter bevind dat, alhoewel howe met omsigtigheid te werk moet gaan en slegs in duidelike gevalle moet optree, howe nie sal huiwer om in te gryp waar dit nodig is om te voorkom dat die regspleging in gedrang kom nie (Nedcor par. 27). Daar moet gevolglik opgetree word wanneer die feite dit regverdig (ibid).
In Zuma v Downer 2024 2 SA 356 (HHA) (Zuma II) het die HHA bevind, met verwysing na Nedcor, dat die beoogde private vervolging deur oudpresident Zuma ’n duidelike geval van onbehoorlike private vervolging is (Zuma II par. 28). Kortom, die HHA het bevind dat Zuma inderwaarheid ’n Stalingrad-strategie teen die sogenaamde beskuldigdes geloods het (parr. 6–8, 28). Die HHA het weer eens beklemtoon dat howe daartoe geregtig én verplig is om hul eie prosesse teen misbruik te beskerm (par. 31).
2.3 Verdere prosedurele kenmerke van ’n private vervolging
Die sertifikaat verval drie maande ná die datum van uitreiking daarvan indien geen stappe gedoen word om die vervolging in te stel nie (art. 7(2)(c) van die Strafproseswet). Volgens die hof in Nundalal dien hierdie tydperk onder meer om ’n misbruik van die proses te voorkom (Nundalal par. 22). Hierdie tydperk moet onderskei word van die verjaring van die reg om vervolging in te stel ingevolge artikel 18 van die Strafproseswet. Die reg om vervolging vir ’n misdryf in te stel, verjaar oor die algemeen ná “’n tydperk van 20 jaar vanaf die tyd toe die misdryf gepleeg is, tensy ’n ander tydperk regtens uitdruklik daarvoor bepaal word” (art. 18(1) van die Strafproseswet). Die Strafproseswet bevat ’n aantal misdrywe wat buite die bestek van hierdie algemene reël val, soos moord (art. 18(1)(a)) en enige seksuele misdryf ingevolge enige wet of die gemenereg (art. 18(1)(f)).
Afgesien van die feit dat die vervolging deur ’n private persoon of hul regsverteenwoordiger hanteer word, is dit wesentlik identies aan ’n vervolging deur die Staat (art. 12(1) van die Strafproseswet). Die reg om die vervolging uit te voer gaan egter nie ten volle oor op die private vervolger nie, aangesien die Staat verplig is om die vervolging oor te neem indien die beskuldigde skuldig pleit (art. 12(2)). Die Staat kan ook te eniger tyd ingryp en by wyse van ’n mosie die hof versoek om die private vervolging te stop wat reeds aanhangig gemaak is, sodat die vervolging van staatsweë ingestel of voortgesit kan word (art. 13; Joubert 2020:108).
Die beskuldigde behou ook hul reg op ’n billike verhoor ingevolge artikel 35 van die Grondwet (sien Nundalal parr. 32, 68; President of the Republic of South Africa v Zuma 2024 1 SACR 32 (GJ) (Zuma III) par. 152; Hendricks v Asmal 2021 case no A73/19 (WCC) par. 64; Bothma v Els 2010 2 SA 622 (KH); Crookes v Sibisi 2011 1 SACR 23 (KZP) parr. 8–9; Joubert 2020:104; Mujuzi 2015(b):240–5). Gewoonlik word daar van ’n lid van die vervolgingsgesag verwag om “sonder vrees, begunstiging of vooroordeel” op te tree (sien art. 32(2)(a) van die NVG-wet; Nundalal par. 68). Regter Pillay wys egter in Nundalal daarop dat dit moeilik is om dieselfde standaard van ’n private vervolger te verwag, aangesien ’n private vervolger per definisie nie ’n onpartydige buitestander is nie. Die private vervolger kwalifiseer juis as sodanig omdat hy of sy persoonlik deur die betrokke misdryf benadeel is (Nundalal parr. 68–9).
Die vervolging word in die naam van die private vervolger ingestel en gevoer en alle tersaaklike prosesstukke word in die naam van die private vervolger uitgereik (art. 10(1) van die Strafproseswet). Volgens die hof in Nundalal moet “die naam, beskrywing en handtekening van die private vervolger” byvoorbeeld op die dagvaarding verskyn (Nundalal par. 32). ’n Private vervolger kan slegs ’n persoon by wyse van dagvaarding (in die landdroshof) of by wyse van ’n akte van beskuldiging (in die hooggeregshof) voor die hof daag (art. 12(1) van die Strafproseswet).
Die private vervolger moet die voorgeskrewe gelde ten opsigte van alle geregtelike prosesse betreffende die private vervolging aan die griffier of klerk van die betrokke hof betaal (art. 14). Die private vervolger is ook oor die algemeen verantwoordelik vir die koste en uitgawes van ’n private vervolging (art. 15(1); Joubert 2020:108). Daar is egter ’n uitsondering op hierdie vertrekpunt. Artikel 15(2) bepaal dat waar ’n hof iemand ná ’n private vervolging skuldig bevind, daardie persoon deur die hof beveel kan word om die koste en uitgawes van die vervolging (insluitende ’n appèl teen die skuldigbevinding en/of vonnis) te betaal. Verder kan die hof ook gelas dat die Staat die koste en uitgawes van die private vervolging betaal (art. 15(2)).
Waar die beskuldigde egter na ’n private vervolging vrygespreek word, waar die klag afgewys word, of waar ’n appèl ten gunste van die beskuldigde beslis word, kan die hof beslis dat die private vervolger die geheel of ’n gedeelte van die koste en uitgawes van die beskuldigde moet betaal wat laasgenoemde aangegaan het (art. 16(1); Kruger 2026:1–19). Verder, waar die hof van mening is dat die private vervolging “ongegrond en uit kwelsug ingestel was”, kan die hof “koste en uitgawes” wat vir doeleindes van die vervolging aangegaan is, soos die hof goedvind, aan die beskuldigde toeken (art. 16(2)).
3. Die teenstrydigheid in Singh, Nundalal en Polovin
Soos hierbo vermeld, is die Strafproseswet betreklik onduidelik oor die proses wat gevolg moet word voordat ’n sertifikaat uitgereik kan word. Dit blyk uit die teks van die Strafproseswet dat sodanige sertifikaat aan enige persoon toegestaan moet word wat beoog om ’n private vervolging in te stel. Al word hierdie uitleg van die teks verwerp, stel die Strafproseswet nie ’n proses daar wat ’n DOV moet volg voordat die sertifikaat uitgereik word nie. Dit was tot dusver die taak van die howe om hierdie kwessie aan te spreek en moontlik ook op te los.
In Singh het die eertydse Natalse Provinsiale Afdeling van die hooggeregshof by monde van waarnemende regter Hollis uitdruklik die argument verwerp dat die nasionale direkteur van openbare vervolgings (NDOV) verplig was om die sertifikaat uit te reik ná die besluit om nie die saak te vervolg nie, (Singh 93). Daar moet ook klem gelê word op die feit dat die applikant in hierdie geval ’n mandamus verlang het om die vervolgingsgesag te dwing om ’n sertifikaat uit te reik, alhoewel die hof, skynbaar obiter, opgemerk het dat dié regsmiddel nie in hierdie geval nodig sou wees nie (op 94). In Wronsky v Prokureur-Generaal 1971 3 SA 292 (SWA) het regter Hoexter beslis dat die hof slegs ’n mandamus kan toestaan indien die DOV met mala fides opgetree het (op 293–5; sien ook Theophilopolous 2019:189, vn. 78; Kruger 2026: 1–16). Die applikant in Singh het skynbaar hierdie regsmiddel aangevra met die veronderstelling dat hy ’n “absolute reg” op uitreiking gehad het, nadat daar ’n besluit was om die saak nie te vervolg nie (Singh parr. 89–90, 94).
Waarnemende regter Hollis het bevind dat die applikant se beëdigde verklaring geensins die “elemente” van die misdrywe ingevolge artikel 7(1)(a) aangespreek het nie. Soos reeds genoem, was dit waarskynlik, omdat die applikant van mening was dat hy die “absolute reg” gehad het om die uitreiking van die sertifikaat aan te vra (op 94). Die applikant sou dus slegs suksesvol wees deur twee aspekte te bewys, naamlik ’n substantiewe en ’n prosedurele aspek. Eerstens moes die applikant bewyse voorlê dat elke beweerde misdryf gepleeg is. Die tweede, prosedurele aspek verlang dat hy ’n “wesentlike en besondere” belang in die onderhawige saak het; dat hierdie belang uit die een of ander benadeling spruit wat die private vervolger self ervaar het, asook dat die benadeling uit die pleeg van die misdryf voortspruit (op 95).
Daar word hier aangevoer dat die uitspraak in Singh slegs binne ’n beperkte konteks gesien moet word. Die applikant het ’n mandamus aangevra, maar daar was onvoldoende getuienis voor die hof om hierdie regsmiddel toe te staan. Die hof het (op 94–5) onder meer na Cooper v Syfrets Trust Ltd 2001 1 SA 122 (HHA) op 133 verwys, waar beslis is:
A party whose case had unravelled before a trial court cannot stitch together a new one on appeal if it is not properly covered by the pleadings or was not properly covered in evidence. He cannot in fairness be allowed to advance a case different from the one he presented on paper – be it in the affidavits on motion.
Dit is dus te betwyfel of Singh ’n algemene reël daarstel waarvolgens die vervolgingsgesag ’n ondersoek moet instel om te bepaal of die voornemende private vervolger aan die vereistes van artikel 7(1)(a) voldoen, en dat die voornemende private vervolger bykomende bewyse moet voorlê om dit te bewys. Die enigste algemene posisie wat uit Singh blyk, is dat nie enigeen wat die sertifikaat aanvra, noodwendig daarop geregtig is nie.
In 2015 het die volbank van die KwaZulu-Natalse Afdeling van die hooggeregshof in Nundalal egter hierdie benadering verwerp (Nundalal par. 21; sien Polovin par. 11). Die hof het in Nundalal eerder bevind dat die DOV verplig is om die sertifikaat uit te reik, skynbaar aan enigiemand wat dit aanvra (Nundalal par. 21). Die hof het beslis dat dit nie die DOV se taak is om ondersoek in te stel na die vraag of die voornemende private vervolger aan die vereistes (spesifiek locus standi) van artikel 7 van die Strafproseswet voldoen nie (sien par. 21). Soos reeds daarop gewys, dien die sertifikaat bloot as prima facie-bewys dat die betrokke DOV die tersaaklike beëdigde verklarings oorweeg het en tot die gevolgtrekking gekom het dat daar nie ’n prima facie-saak is om te vervolg nie (par. 21). Die hof dui ook aan dat die persoon wat die sertifikaat aanvra dit ook op grond van ander redes kan aanvra, byvoorbeeld om dit aan hul werkgewer voor te lê as bewys dat hy of sy nie vervolg gaan word nie (par. 21). Dit is veral nodig, aangesien die Staat oor die algemeen nie bewyse te dien effekte uitreik nie.
Aangesien daar ’n wesentlike teenstrydigheid tussen Singh en Nundalal bestaan, was die HHA genoodsaak om die onsekerheid op te klaar. Die eenparige HHA-uitspraak uit die pen van appèlregter Mothle verwys na die “elemente” of “jurisdiksionele vereistes” wat in Singh uiteengesit is (Polovin par. 22). Die HHA verwys ook na die posisie ingevolge Nundalal dat die sertifikaat verpligtend uitgereik moet word en dat daar ’n “bestudering” van die dossier moet plaasvind voordat ’n sertifikaat uitgereik word (par. 22). Die HHA beslis egter dat die Nundalal-interpretasie te “omvattend en inkorrek is” (par. 23). Die rede daarvoor is dat nie almal geregtig is om ’n sertifikaat aan te vra nie en dat die verwysing na “[any] person”6 ingevolge artikel 7(1)(a) ’n klaer of klaagster (slagoffer) sou insluit (par. 23). Sodanige klaer of klaagster het ’n direkte belang in die strafaangeleentheid weens ’n inbreukmaking hul “persoon, persoonlikheid of eiendom” en soek gevolglik “geregtigheid en/of wraak” (par. 23). Appèlregter Mothle beslis voorts dat die beperking op die klas persone wat ’n private vervolging kan instel, ontwerp is om meestal na klaers of klaagsters in strafregtelike aangeleenthede te verwys (par. 23).
Die appellant steun op Singh om aan te voer dat die vervolgingsgesag getuienis moet evalueer om te bepaal of die voornemende private vervolger aan die jurisdiksionele vereistes voldoen alvorens ’n sertifikaat uitgereik word (par. 24). Die HHA bevind egter dat Singh in hierdie opsig verkeerd was en dat geen “assessering en evaluering” of “ondersoek” plaasvind alvorens ’n sertifikaat uitgereik word nie (par. 25; sien ook Du Toit e.a. 1987: 1−75). Appèlregter Mothle beslis egter soos volg: “All that is required of the DPP is to peruse the statements and affidavits in the docket, in order to prima facie verify that the jurisdictional requirements of s 7(1)(a) have been met” (par. 25). Volgens die hof vereis “’n behoorlike uitleg” van artikel 7(1)(a) “’n feitelike ondersoek” om te bepaal of die betrokke persoon aan die jurisdiksionele vereistes voldoen (par. 27). In die betrokke geval was die omvang beperk tot die beskikbare getuienis, spesifiek die klaer en die getuies se verklarings. Die beskuldigde het eenvoudig die bewerings ontken (parr. 27–9). Die HHA bevind uiteindelik dat daar geen meriete in die appellant se argument is nie, naamlik dat die tweede respondent nie aan die vereistes ingevolge artikel 7(1)(a) voldoen nie (par. 29).
Dit is moeilik om te bepaal of die HHA se benadering die “korrekte” benadering is. Die Strafproseswet stel eenvoudig nie ’n proses daar wat van ’n DOV vereis om enige soort ondersoek in te stel nie, of dit nou ’n “assessering en evaluering”, ’n “ondersoek”, of ’n “perusal” (“’n sorgvuldige deurlees” of “feitelike ondersoek”) is. Indien daar aanvaar word dat die een of ander “ondersoek” nou volgens Polovin vereis word, word daar aangevoer dat hierdie onderskeid in prosesse op haarklowery neerkom. Wat presies die onderskeid tussen ’n “ondersoek” in Singh en ’n “feitelike ondersoek” in Polovin daarstel, is onduidelik. Daar word verder aan die hand gedoen dat die bestek van die Singh-beslissing, soos hierbo bespreek, nooit ’n algemene verpligting op die vervolgingsgesag geplaas het nie.
Die HHA het nie juis die kwessie as ’n uitlegsprobleem benader nie. Na my mening kan die HHA se gevolgtrekking, en nie noodwendig die beredenering nie, vanuit hierdie perspektief geregverdig word. In Natal Joint Municipal Pension Fund v Endumeni Municipality 2012 4 SA 593 (HHA) het die hof na ’n objektiewe “unitary approach” verwys waarvolgens die teks, konteks en doel van die wetgewing in die wetsuitlegproses op gelyke voet geplaas word (Endumeni parr. 18–9; sien ook Kasselman v The South African National Road Agency SOC Ltd (SANRAL) 2026 1 All SA 275 (HHA) par. 29; Minister of Police v Miya 2025 3 SA 130 (HHA) par. 12). Verder moet ’n sinvolle uitleg voorkeur geniet, veral waar ’n ander uitleg onpraktiese gevolge sou hê of “die skynbare doelwit van die dokument sou ondermyn” (sien Endumeni par. 18). Indien die teks, konteks en doel van die wetgewing in ag geneem word, is dit duidelik dat artikel 7 van die Strafproseswet in breë trekke ’n stelsel vir private vervolging daarstel. Alhoewel daar blykbaar geen diskresie aan die vervolgingsgesag verleen word om die uitreiking van die sertifikaat te weier nie, is dit ook duidelik dat ’n private vervolging slegs moontlik is indien daar aan die jurisdiksionele vereistes voldoen word. ’n Feitelike ondersoek wat evalueer of die voornemende private vervolger aan die jurisdiksionele vereistes voldoen, is dus versoenbaar met die teks, konteks en doel van artikel 7.
4. Kan die NVG weer ’n sertifikaat uitreik?
Die HHA het in Polovin ook oorweeg of die vervolgingsgesag geregtig was om weer ’n sertifikaat uit te reik en, verder, of die tweede sertifikaat verdere misdrywe kon insluit wat nie in die eerste sertifikaat vervat was nie. Die tweede stel misdrywe spruit uit die appellant se “optrede tydens die ondersoek” na die eerste stel misdrywe, waar hy op ’n onregmatige wyse toegang tot die respondent se persoonlike inligting verkry het (Polovin par. 35).
Die appellant het eerstens aangevoer dat die waarnemende DOV functus officio was en dus onbevoeg was om weer die sertifikaat uit te reik (par. 34). Die HHA het beslis dat die appellant geen gesag verskaf het om hierdie argument te ondersteun nie (par. 35). Die hof het verder beslis dat die appellant die reg om ’n vervolging in te stel (met ander woorde, verjaring ingevolge artikel 18 van die Strafproseswet) met die verstryking van die sertifikaat verwar het (par. 34). Volgens die hof het die vervolgingsgesag dus die reg om die sertifikaat weer uit te reik, omdat die reg om vervolging vir misdrywe in te stel oor die algemeen eers na twintig jaar verjaar, (par. 34).
Die vervolgingsgesag kan verder ook bykomende misdrywe oorweeg en besluit om nie te vervolg nie en ’n sertifikaat uitreik vir verdere misdrywe ingevolge die oorspronklike (par. 35). Ter ondersteuning van hierdie punt wys appèlregter Mothle op voorbeelde wat die NVG se bevoegdhede illustreer (par. 35). Die vervolgingsgesag mag byvoorbeeld, ingevolge artikel 13 van die Strafproseswet, ingryp en ’n private vervolging oorneem. Verder magtig artikel 22(2)(c), saamgelees met artikel 23 van die NVG-wet, die NDOV om vervolgingsbesluite, met inbegrip van die besluit om nie te vervolg nie, te hersien (par. 34).
Uiteindelik het die HHA beslis dat hierdie argument sonder enige meriete is en dat die waarnemende DOV gemagtig was om die sertifikaat weer uit te reik, tesame met die insluiting van verdere misdrywe (par. 37).7
Die gevolgtrekkings van die HHA het hier op vreemde gronde berus. Die appellant het geensins aangevoer of gesuggereer dat die NVG weens verjaring nie daarop geregtig was om die sertifikaat weer uit te reik nie. Aangesien die sertifikaat ná drie maande verval het en ’n private vervolging dus nie daarna moontlik was nie, het die appellant in wese aangevoer dat die NVG nie by magte was om so ’n vervalle sertifikaat te laat herleef nie.
Daar kan ook nie veel waarde aan die verwysing na artikel 13 van die Strafproseswet geheg word nie. Die feit dat die NVG ’n mate van beheer oor ’n private vervolging mag uitoefen, het min te doen met die aanvanklike besluit om te vervolg en die vraag of die heruitreiking van die sertifikaat moontlik is. Dit sou waarskynlik voldoende gewees het om hierdie deel van die beslissing op artikel 22(2)(c) van die NVG-wet, gelees met artikel 23, te baseer. Soos reeds genoem, magtig artikel 22(2)(c) die NDOV om vervolgingsbesluite te hersien, in oorleg met die betrokke DOV en nadat vertoë van die klaer en die beskuldigde verkry is. ’n Breë uitleg van hierdie bepaling kan vir heruitreiking voorsiening maak.
5. Slotopmerkings
Tensy die Konstitusionele Hof ’n uitspraak oor hierdie aangeleentheid maak, bly Polovin gesaghebbend oor die volgende drie aspekte. Eerstens is nie elkeen wat ’n sertifikaat aanvra daarop geregtig nie; die regsposisie ingevolge Nundalal is dus verwerp.
Tweedens vereis artikel 7(1)(a) van die Strafproseswet nie dat die vervolgingsgesag ’n “ondersoek” moet instel om te bepaal of die voornemende private vervolger aan die jurisdiksionele vereistes voldoen nie. Al wat wel vereis word, is ’n “feitelike ondersoek”. Alhoewel die onderskeid tussen hierdie soorte “ondersoeke” subtiel is, blyk dit dat daar nie van die voornemende private vervolger verwag kan word om bewyse voor te lê wat toon dat hul optrede binne die bestek van artikel 7(1)(a) val nie. Die “feitelike ondersoek” is eerder beperk tot die beskikbare getuienis in die dossier.
Die HHA het egter nie beslis dat ’n ondersoek soos dié in Singh nie moontlik of toelaatbaar is nie. Daar moet weer beklemtoon word dat Singh nie ’n algemene beginsel daargestel het nie. Die applikant in daardie saak het om ’n spesifieke regsmiddel aansoek gedoen (gedwonge uitreiking van die sertifikaat), maar het nie daarin geslaag om genoegsame getuienis voor die hof te plaas om dit te regverdig nie.
Laastens kan die vervolgingsgesag weer ’n sertifikaat uitreik nadat die oorspronklike tydperk van drie maande verstryk het. Hierdie bevinding is van groot praktiese belang, want in Polovin was daar ’n groot vertraging met die verkryging van die dossier en die oorspronklike sertifikaat as gevolg van die COVID-19-pandemie. Teen die tyd dat dit gebeur het, het die tydperk van drie maande reeds verstryk (Polovin par. 33). Verder kan hierdie tweede sertifikaat ook bykomende misdrywe bevat. Dit is ook van praktiese belang, aangesien die appellant se optrede tydens die ondersoek, soos in Polovin, aanleiding gegee het tot moontlike verdere misdrywe.
Alhoewel die HHA se beredenering plek-plek twyfelagtig is, bied die uitspraak oorwegend sekerheid oor ’n onsekere punt wat al byna twee dekades lank bestaan.
Bibliografie
Du Toit, E., F. de Jager, A. Paizes en S.E. van der Merwe. 1987. Commentary on the Criminal Procedure Act. Diensuitgawe 74. Kaapstad: Juta.
Joubert, J.J. (red.), G.P. Kemp, J.P. Swanepoel, S.S. Terblanche, S.E. van der Merwe, D. Ally en M.T. Mokoena. 2020. Strafproseshandboek. 13de uitgawe. Claremont: Juta.
Mujuzi, J.D. 2015a. Private prosecutions and discrimination against juristic persons in South Africa: A comment on National Society for the Prevention of Cruelty to Animals v Minister of Justice and Constitutional Development & Another. African Human Rights Law Journal, 15:580–95.
—. 2015b. The right to institute private prosecution. International Human Rights Law Review, 4(2):222–55.
—. 2019. The History and Nature of the Right to Institute a Private Prosecution in South Africa. Fundamina, 25(1):131–69.
National Prosecuting Authority. Prosecution Policy (2013).
Outeur onbekend. 1955. Private Prosecution: A Remedy for District Attorneys’ Unwarranted Inaction. Yale Law Journal, 65(2):209–34.
Theophilopoulos, C. (red.), Z. Hlope, C. Marumoage, K. Naidoo, J. Omar, S. Singh, A. Steynberg, B. Tshehla en A. van der Merwe. 2019. Criminal Procedure in South Africa. Kaapstad: Oxford University Press South Africa.
Tshehla, B. 2025. Private Prosecution in South Africa: Some Lessons from the United Kingdom to Prevent Abuse? Journal for Juridical Science, 50(2):1–21.
Eindnotas
1 Hoofstuk 1 van die Strafproseswet bevat die relevante bepalings wat die prosesse rakende private vervolgings reguleer. Die betrokke bepalings verwys hoofsaaklik na die DOV wanneer daar na die relevante beampte van die NVG verwys word. Die Prosecution Policy verwys egter hoofsaaklik na “prosecutors”, dus aanklaers. Die relevante terminologie sal gebruik word namate dit in die betrokke wetstekste verskyn.
2 ’n Prima facie-saak is ’n saak waar die onderhawige bewerings deur verklarings en (beide reële en dokumentêre) bewyse ondersteun word en waar ’n hof die beskuldigde redelikerwys skuldig sal bevind (sien Nundalal par. 24).
3 Private vervolgings ingevolge artikel 8 van die Strafproseswet, naamlik private vervolgings deur sekere statutêre liggame, val buite die bestek van hierdie bydrae en sal dus nie bespreek word nie (sien Joubert 2020:101–103, Theophilopoulos 2020:192; Kruger 2026:1–16(1)–1–16(2); Mujuzi 2015(a):580–96; NSPCA parr. 31–53 en Nundalal par. 24 vir oorsigte van hierdie meganisme).
4 Dus, onderskeidelik artt. 9, 10 en 12 (en 33) van die Grondwet.
5 Dit is ook wat in Hendricks gebeur het, waar die oorledene se ma ’n (suksesvolle) private vervolging vir haar dogter se moord ingestel het (sien parr. 3; 124).
6 Die HHA verwys na “[a]ny person”, maar die eintlike teks lees “[a]ny private person” (’n private persoon).
7 Daar is ook aangevoer dat die tweede respondent eers aansoek moes doen om die dossier te bekom, alvorens hul aansoek kon doen om die sertifikaat te bekom. Die HHA verwerp ook hierdie argument en beslis dat daar geen sodanige vereiste prosedure is nie (Polovin par. 38).
- Hierdie artikel se fokusprent is geskep deur Pavel Danilyuk en is verkry op Pexels.
| LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |

