
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Volmaan in Baviaanskloof
Skrywer: Jeanette Stals
ISBN: 9780798185066
E-pub ISBN: 9780798185073
Uitgewer: Human & Rousseau
Volmaan in Baviaanskloof begin met die oomblik wanneer Fransien Theron in die Baviaanskloof aankom, twee jaar na die dood van haar babaseun en net nadat haar man besluit om van haar te skei.
Ons lees reeds op die agterblad dat Fransien se reis na die Baviaanskloof een is waar sy van plan is om ’n einde aan haar lewe te maak, en dus is die leser daarop voorbereid wanneer Fransien met geen toerusting of voorraad nie die berg inslaan vir haar laaste staptog.
Terselfdertyd word daar vertel van die luiperdwyfie wat in die berg skuil, erg vermink deur ’n slagyster waar haar welpie vasgeval het en wat later geskiet is.
Deur ’n sameloop van omstandighede kruis Fransien en die luiperd se paaie en wat volg, is albei se stories van ’n stryd vir oorlewing, verlies en die pad met die dood.
Deur die verloop van die boek kruis daar ook ander karakters Fransien se pad – Tobie, die swerwer wat basiese kunswerke maak en wat die “feries” in die woud soek; Dolf, wat die luiperds se bewegings monitor en navorsing oor hul gedragspatrone doen; en dan die huiseienaars by wie sy bly. Ons kry ook in terugflitse meer inligting oor haar man, haar ouers en die omstandighede wat gelei het tot haar seuntjie se dood.
Die roman verken die temas van die proses van rou, trauma, die mens se verhouding met die natuur, die belangrikheid van laat gaan van dinge wat verby is en die natuurlike prosesse wat ewewig terugbring aan die aarde.
Dit is oënskynlik ’n maklike leesboek, maar dit raak diep kwessies aan wat onder die oppervlakte lê. Daar word besin oor die mens se verhouding met die natuur, hoe ons as mense die aarde uitput en hoe nou verwant ons aan die diere in ons omgewing is. Tobie is na hierdie leser se mening ook een van die belangrikste karakters in die boek, wat ’n lewe lei wat op die rand van die skeiding tussen die mens en die natuur is.
Stals wys met hierdie boek haar vernuf om die menslike verhaal met die ekologie te vermeng. Fransien se storie is belangrik, maar die luiperd se verhaal lê net so naby aan die oppervlakte regdeur die vertelling. Die leser vergeet nooit van die verbintenis tussen mens en dier nie.
Dit is een van daardie boeke wat die leser na die lees daarvan steeds laat aanhou dink en wonder oor die einde – ons is nie regtig seker wat gebeur het nie. En dit is dalk die boodskap – niks in hierdie wêreld is seker nie, maar ons moet die beste doen met die inligting wat ons het en ons moet ophou baas speel oor die natuur en die ander wesens met wie ons hierdie aarde deel.


