Is die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) die antwoord op Suid-Afrika se ekonomiese en maatskaplike uitdagings?
Ná ‘n studie en ontleding van hierdie dokument is die AHi van mening dat dit nie net ‘n duidelike toekomsroete vir ons land uitstippel nie, maar dat dit volhoubare ekonomiese groei deur middel van die sakesektor as ‘n uiters belangrike drywer uitlig.
Vir die AHi en sy lede is dit musiek op die ore, want dit is slegs deur ekonomiese ontwikkeling en groei wat die volgende NOP-doelwitte bereik kan word: sektorspesifieke projekte, werkskepping, behuising, water, elektrisiteit en sanitasie, veilige en bekostigbare openbare vervoer, onderwys en opleiding, gesondheidsorg van ’n hoë gehalte, maatskaplike beskerming en kohesie, toegang tot sport en ontspanning, ‘n skoon omgewing en genoegsame voedsel vir almal.
Lustelose ekonomiese groei, ’n swak sakesektor en ‘n vyandige en militante omgewing, daarenteen, ondermyn ontwikkeling. Ons sien en ervaar die negatiewe impak daarvan daagliks. Byna 4,5 miljoen Suid-Afrikaners is tans werkloos, en dit raak veral die jeug.
Daarom stel die NOP dit ten doel om jongmense tot die arbeidsmark te laat toetree. Terselfdertyd lê dit klem op die privaat sektor se betrokkenheid. Dit is tans nie net verantwoordelik vir 77% van formele indiensneming nie, maar beskik ook oor die nodige kundigheid en kapitaal om ekonomiese aktiwiteite volhoubaar te bedryf en werkskepping teweeg te bring.
Swak ekonomiese groei in Suid-Afrika is egter jaar na jaar ‘n struikelblok. Dit word geraam op 2,7% in 2013, 3,5% in 2014 en 3,8% in 2015. Die situasie word ook vererger deur faktore waaroor Suid-Afrika weinig beheer het, soos die voortslepende Eurosone-krisis en ‘n afname in aanvraag na ons kommoditeite in China en ander lande. Dalende vervaardigingsuitsette en gewelddadige arbeidsuitdagings, veral in die mynwese, het ook ’n aansienlike afname in korporatiewe belasting en werksgeleenthede tot gevolg.
Wat kan die privaat sektor, spesifiek die AHi, doen om hierdie uitdagings te oorkom en ‘n aansienlike bydrae te lewer om die doelwitte soos in die NOP uiteengesit is, te verwesenlik?
Die AHi is ‘n nasionale, multisektorale sake-organisasie. Dit bestaan uit korporatiewe, mediumgrootte en klein sakeondernemings, sowel as meer as 100 geaffilieerde sakekamers. Sy kernbesigheid is om die ekonomiese en sakebelange van sy lede te bevorder, onderling netwerke tussen sakeondernemings te bewerkstellig, met die regering op NEDLAC-vlak oor beleidsake te onderhandel en ‘n reeks dienste aan sy lede te lewer.
Wat die NOP betref, is ’n multidissiplinêre strategie binne die AHi ontwikkel om die NOP se doelwit om Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) teen 2030 tot ‘n jaarlikse groeikoers van 5,4% te verhoog en die huidige per kapita-inkomste van R50 000 tot R110 000 per persoon te verhoog, te ondersteun.
Op grondvlak vind hierdie strategie neerslag in aksies deur plaaslike sakekamers om die plaaslike ekonomie te laat groei. Verder bied sakekamers sowat 500 netwerkgeleenthede en speel dit ook ‘n uiters belangrike rol in opleiding en die oordrag van besigheidsvaardighede aan opkomende sakelui, sowel as entrepreneursontwikkeling. Dit dien ook as platform om die NOP te populariseer en plaaslike sakelui betrokke te kry by infrastruktuurontwikkeling en ander projekte.
Hierdie projekte stel egter bepaalde uitdagings aan opkomende en ook gevestigde sakeondernemings. In dié verband beskik die AHi oor spesialiste op die terrein van kleinsakeontwikkeling, vervaardiging, plaaslike regering, toerisme en nywerheidsontwikkeling, wat sakeondernemings kan help om hierdie uitdagings te oorkom. Hierdie intervensies hang ook saam met die NOP se klem op verhoogde belegging en verbeterde samewerking tussen openbare instellings van wetenskap en tegnologie en die privaat sektor.
Die AHi is daarom deel van BUSA en in samewerking met ander sakebelangegroepe word daar hard gepoog om Suid-Afrika as ‘n gerekende globale speler op ekonomiese, wetenskaplike en tegnologiese gebied te posisioneer. Die NOP wys egter op die hoë binnelandse koste van breëband-internetverbinding as ’n belangrike struikelblok. Dit moet verlaag word om alle Suid-Afrikaners in staat te stel om tegnologie te bekom en dit effektief te gebruik om kennis te ontsluit en welvaart te kan skep.
Die realisering van die doelwitte van die NOP is egter gesetel in die hande en die intellektuele kapasiteit van alle Suid-Afrikaners. Wat dít betref, kan die sakesektor allermins bekostig om met die hande gevou te staan en die NOP se oproep om aktiewe betrokkenheid te ignoreer. Want wát is die alternatief?
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

