
Foto van Franci Swanepoel: https://www.litnet.co.za/elders-gesien-rus-in-vrede-franci-swanepoel/; foto van Frazer Barry: https://www.litnet.co.za/author/frazer-barry/
Soms, net soms, ontmoet jy mense wat jou hart, siel en gees oombliklik verryk wanneer hulle in jou lewe instap. Franci was so ’n mens. Onpretensieus, vol lus vir die lewe en gereed om haar werk met oorgawe aan te pak.
Ek onthou toe ons hele Fiësta-span uiteindelik saamgewerk het vir ’n opname ’n paar jaar gelede in Johannesburg: Franci het daardie dag die mikrofoon die meeste vasgehou, maar dit was iets besonders om haar in aksie te sien. Sy het presies geweet hoe om die kamera te werk en hoe om dit op die gemaklikste manier ooit te doen. Ek het met groot bewondering geweet dat elke keer wanneer sy ’n program aanbied, dit basies ’n masterclass was. Dit was dan ook seker logies vir haar om een van die mense te wees wat gesien het dat daar potensiaal is om die feeste af te neem en dit sodoende na die land se sitkamers bring. Franci was die personifikasie van Fiësta.
Met ons verfilming in Johannesburg het ons Soweto gaan platloop, en ons het vet pret gehad. Tussen al die besienswaardighede en geselsies deur was dit Franci wat vir seker vir die meeste pret gesorg het met haar kwinkslae en lus vir die lewe. Uiteindelik het ons vier Fiësta-aanbieders die geleentheid gekry om van die Soweto-torings af te spring. Slegs Vilje Maritz het kans gesien, maar ek het na ’n rukkie besluit dat ek dit sal doen nadat An Snyman my gesê het sy wil ook graag spring. Ek en An het probeer om vir Franci en Lundi Khoisan te oorreed om saam met ons te gaan spring, maar ons poging was onsuksesvol! Dit was Franci se gesig van afgryse en uiteindelike skater van die lag wat my vir altyd sal bybly. Sy was gelukkig, volgens haar, met haar voete plat op die grond. Nadat ons die dag se program klaar geskiet het, was dit Franci wat eerste met die voorstel gekom het vir nog ’n samekoms van die Fiësta-span.
Dit sou egter nooit gebeur nie. Op ons WhatsApp-groep het ons begin gesels oor daardie samekoms vir die jaar 2022. Haar woorde was dat sy nie kan wag om weer die land plat te kuier nie, liefde, liefde! Verder het sy haar wens uitgespreek om weer nog ’n slag as ’n span saam te kuier. Ek het die voorstel gemaak dat ons volgende keer uit ’n vliegtuig moet spring en ek het spesifiek vir Franci gevra om saam te spring. Sy het gesê ja sy gaan uit die vliegtuig spring. Haar laaste woorde aan my nadat ek die Tequila Mexican en Food Festival aangebied het, was: “Adios Frazer!”
Franci het toe nie uit die vliegtuig gespring nie, maar sy het gespring, en haar sprong was groter as wat sy ooit kon gedink het. Sy het gespring tot in die diepste plekke in ons harte en haar nalatenskap sal ons altyd koester.
Vlieg hoog, geliefde kollega. Adios!
Lees ook:

