Visuele uitbeeldings van ’n miskraam in die kunswerk Loss: ’n Kritiese toepassing van Freud se teorieë van verlies en trauma

  • 0

Visuele uitbeeldings van ’n miskraam in die kunswerk Loss: ’n Kritiese toepassing van Freud se teorieë van verlies en trauma

Nathani Lüneburg, Departement Kuns en Musiek, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 16(2)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Die artikel ondersoek Sigmund Freud se traumateorieë en die begrip verlies aan die hand van video-animasies. Die sentrale navorsingsvraag is die eiesoortigheid waarmee die kunswerk Loss trauma en verlies deur ’n miskraam uitbeeld in die lig van Freud se teorieë oor rou en melankolie. Ek bevind dat sommige van Freud se sienings oor vroue en moederskap nie met al sy teorieë versoen kan word nie.

Loss bestaan uit ’n reeks skerms, dioramas en klank in ’n verduisterde ruimte. Dit sluit in sewe video-animasies wat in grootformaat (15 x 6 m) op wit kunsmatige mure geprojekteer word; sewe video-animasies wat as dioramas vertoon word en miniatuurkeramiekmeubels en -huisies insluit; en drie video-animasies wat op miniatuurskerms vertoon word op ’n afgesonderde wit muur.

Ek ondersoek traumateorieë oor verlies en argumenteer in die lig hiervan dat rou ’n natuurlike, terapeutiese manier is om op verlies te reageer. Rou omvat kennis van die omvang van verlies. Rou is ook in Freudiaanse terme die begin van die losmaking van die verlore liefdesobjek. Melankolie, daarenteen, vind plaas wanneer rou nie die verlies ten volle verstaan nie en die subjek nie kan loskom van die liefdesobjek nie. In hierdie geval is die persoon wat rou in limbo, waar die rouproses stop en die ego en liefdesobjek verstrengel raak. Dit lei dan tot egoverlies. Dié gedagte word verduidelik aan die hand van die geselekteerde videokunswerke in Loss. Die jong vrou wat onlangs ’n miskraam gehad het, word in melankolie gedompel en in die proses verloor sy haar selfrespek en ego.

Trefwoorde: egoverlies; emosionele welstand; melankolie; miskraam; rou; Sigmund Freud; trauma; verlies; vroulikheid

 

Abstract

Visual portrayals of miscarriage in the artwork Loss: A critical application of Freud’s theories of loss and trauma

This article investigates Sigmund Freud’s trauma theories and the presentation of loss, using video animations. The central research question is how peculiar to itself the artwork Loss portrays trauma and loss through miscarriage within the framework of Freudian theories regarding mourning and melancholia. I find that certain Freudian views regarding females and motherhood are inherently offensive and removed from contemporary ways of observing women.

Loss comprises a series of screens, dioramas and audio tracks exhibited in a darkened space. It includes seven video animations projected on large screens (15 x 6 m) and white artificial walls. Seven video animations form part of dioramas exhibited with miniature ceramic furniture and houses. Three video animations are displayed on small screens on a separate white wall.

I investigate trauma theories of loss and argue that mourning is a natural therapeutic way of dealing with and reacting to loss. Mourning encompasses knowledge of loss. It is also, in Freudian terms, the foundation of releasing one from the love object. In contrast, melancholia develops when mourning does not comprehend loss entirely and when the subject cannot detach herself from the love object. In this case, the mourner is in limbo, which indicates that the mourning process is delayed and the ego and love object become intertwined. This leads to loss of ego. This concept is explained through selected video artworks in Loss. The young woman who has experienced miscarriage is rooted in melancholia and in the process loses her self-respect and ego.

Keywords: emotional wellbeing; femaleness; loss; loss of ego; melancholia; miscarriage; mourning; Sigmund Freud

 

1. Inleiding

Die artikel bied ’n kritiese ondersoek na Freud se traumateorieë en begrippe wat daaruit voortvloei, naamlik verlies, rou en melankolie, en die gevolge daarvan. Die analitiese raamwerk vir hierdie ondersoek steun op die argument dat geselekteerde video-animasies in my solokunsuitstalling die verwerking van Freudiaanse traumateorieë fasiliteer en problematiseer.

Die sentrale navorsingsvraag is hoe my kunswerke op ’n unieke manier die trauma en verlies wat uit ’n miskraam voortvloei, uitbeeld en problematiseer aan die hand van Freud se teorieë oor rou en melankolie. Die doel is om Freud en ander teoretici se begrip van rou en melankolie te ondersoek aan die hand van ’n kritiese ontleding van my eie kunswerke en om aan te dui dat sy beskouings ontoereikend is om die volle implikasies van die verwerking van ’n miskraam te ondervang.

Ten einde hierdie teorieë op my kunswerke toe te pas, word eerstens ’n kort verduideliking gegee van die uitstalling Loss. Tweedens word Freudiaanse en eietydse teorieë oor traumatiese verlies (wat in die video-animasies uitgebeeld word) ondersoek. Afgesien van die temas van rou en melankolie, ondersoek hierdie artikel ook temas van egoverlies, die verlies van vroulikheid en die verlies van emosionele en sielkundige welsyn.

Loss is ’n video-installasie wat as solo-uitstalling vir die eerste keer by die Unisa-kunsgalery (Pretoria) vertoon is as die praktiese komponent van die graad DPhil in beeldende kunste. Die installasie is later ook in Oudtshoorn by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees uitgestal, asook in Mbombela by die Innibos Nasionale Kunstefees. Die installasie is ’n deurlopende kunswerk wat enige tyd in die toekoms weer uitgestal kan word.

Loss sluit in ’n reeks skerms, kykbokse en klank in ’n verduisterde ruimte. Dit bestaan uit sewe video-animasies wat in grootformaat (15 x 6 m) op wit kunsmatige mure geprojekteer word, sewe video-animasies wat in bokse vertoon word en miniatuurkeramiekmeubels en -huisies insluit; en drie video-animasies wat op miniatuurskerms op ’n afgesonderde wit muur vertoon word. (Ek verwys voortaan merendeels na die video-animasies bloot as “animasies”.)

Die sewe geprojekteerde animasies het afsonderlike titels, naamlik Dream from afar, Yrotsih & Yromem's galaxy of impossibilities, Desolate slumber. An attempt to trace the tainted bride, Wither, Dreaming of home, Dreaming of peculiar creatures, en Dreaming of those things I fear. Die sewe animasies wat in die kykbokse vertoon word, het afsonderlike titels, naamlik Contrap(c)tion, The moon and the tree, Goodbye Little Miss Perfume, Departure, Janey flew away, In a little box en If I did(n’t). Die drie klein animasies is Voyage, Lovers en Earth. Die meeste van die animasies het ook klankbane.

Die dioramas is groot reghoekige wit kabinette met kykgleuwe. Wanneer ’n mens deur die kykgleuf kyk, sien jy ’n miniatuurstel waarop klein keramiekmeubels gerangskik en geposisioneer is. ’n Mens sien ook ’n badkamer, ’n gesinskamer, ’n slaapkamer vir meisies in ’n weeshuis, tuine en huise. Klein reghoekige skerms is agter in houtrame gemonteer om die animasies te vertoon. Die videokunswerke en miniatuurkeramiekbeelde word dus in die dioramas gekombineer.

Die volgende beelde bied aan lesers wat nie die uitstallings gesien het nie, ’n oorsig van Loss as video-installasie. Figuur 1 tot 8 bied ’n oorsig van die uitstalruimte, asook ’n idee van die grootte van die groot projeksies en die bokse.


Figuur 1. Loss,
2014.
Foto deur Elmarie Naudé.


Figuur 2. Loss, 2014.
Foto deur Carla Crafford.


Figuur 3. Loss, 2014.
Foto deur Nicolene Olckers.


Figuur 4. Loss, 2014.
Foto deur Catherine Terblanche.


Figuur 5: Loss, 2014.
Die kykbokse ontketen die kyker se liggaamsbeweging.
Foto deur Nicolene Olckers.


Figuur 6. Loss, 2014.
Die kykbokse ontketen die kyker se liggaamsbeweging.
Foto deur Nicolene Olckers.


Figuur 7. Loss, 2014.
Die kykbokse ontketen die kyker se liggaamsbeweging.
Foto deur Nicolene Olckers.


Figuur 8. Loss, 2014
.
Die kykbokse ontketen die kyker se liggaamsbeweging.
Foto deur Nicolene Olckers.

Die animasies in Loss het ’n outobiografiese element, omdat ek my eie gesig en liggaam gebruik om die twee hoofkarakters wat in die 17 animasies verskyn, uit te beeld. Die eerste karakter is die jong vrou en die tweede is die jong vrou as kind. Hierdie karakters word gebruik om trauma en verlies wat met ’n miskraam en die gevolge daarvan verband hou, uit te beeld. Die verhale van verlies en trauma wat in elke animasie ontvou, skep ’n spontane begeerte om hierdie traumas te heroorweeg. Daar kan aangevoer word dat my eie traumatiese ervarings en die gevolge daarvan my geïnspireer het om trauma uit te beeld. Persoonlike traumatiese ervarings het dus my kunswerk gevorm.

Die doel van Loss is om my persoonlike herinneringe van traumatiese gebeure en ervarings te ondersoek en om vorm te gee aan verhale in die hede en verlede. Hierdie verhale behels vroue se traumatiese ervarings en die gevolge daarvan. Loss wys hoe bewegende beelde in geprojekteerde animasies en bokse (wat uit hout gemaak is) uiting gee aan die persoonlike traumatiese ervarings wat my beïnvloed het. Die vorm en aard van die projeksies skep ’n uitgestrekte ruimte van waar die traumatiese en ontstellende gebeure hersien word.

Een van hierdie traumatiese en ontstellende gebeure is ’n miskraam. Die idee van verlies deur ’n miskraam word visueel aangebied in die geselekteerde animasies. Die jong vrou se liggaam verander in ’n swanger liggaam, en simbole soos sonarbeelde, vloeiende naelstringe en fragmentariese vroulike voortplantingsorgane kan waargeneem word. Hierdie simbole word brutaal uitmekaar geskeur deur kragtige bewegings om die verlies van ’n baba deur middel van dilatasie en operasieprosedures uit te beeld. Verlies as gevolg van ’n miskraam word uitgebeeld in die volgende vier geselekteerde animasies in Loss: Dreaming of home, The moon and the tree, If I did(n’t), en Dreaming of peculiar creatures.

Freud maak nie spesifiek melding van ’n miskraam nie, maar verskeie van sy teorieë word organies in my animasies uitgebeeld aangesien die hooftemas wat in hierdie kunswerke voorkom, rou en melankolie (as die gevolge van verlies) is. Soos in hierdie artikel duidelik word, is Freud se siening oor vrouwees ontoereikend en selfs sosiaal onaanvaarbaar in moderne diskoers, genderstudies en feministiese sielkunde. Om hierdie rede ondersoek en problematiseer die artikel Freud se teorieë noukeurig. Ek meen dat sommige van sy teorieë baanbrekerswerk is en inderdaad toegepas kan word op ’n miskraam en getraumatiseerde vroue se reaksie op verlies, maar dat dit nietemin ontoereikend is.

Pines (2010) bespreek ’n miskraam as ’n rede vir trauma. Met verwysing na Pines en Freud ondersoek ek in hierdie artikel hoe ’n miskraam kan lei tot egoverlies, soos dit in Dreaming of home uitgebeeld word. Die melankoliese vrae verteenwoordig dus my eie ego, selfvertroue en selfkritiek. In The moon and the tree ondersoek ek die stille hartseer en die wanopvatting dat vroue as’t ware verlore raak na afloop van ’n miskraam. Ander skrywers, soos Layne (1997) en Petchesky (1981), bespreek Freud se teorieë, maar neem sy argumente ’n stap verder: Hulle fokus nie net op die verlies van die liefdesobjek nie, maar ook op die verlies van moederskap ná ’n miskraam. In If I did(n’t) ervaar die jong vrou ernstige gevoelens van verlies van die liefdesobjek ná die miskraam en dit raak gevolglik haar ego. Deur die jong vrou se ervaring te evalueer, ondersoek ek die mate waartoe rou en melankolie wel ’n vrou se emosionele en sielkundige gesondheid kan beïnvloed.

Wat ’n miskraam betref, moet kennis geneem word dat nie alle vroue eenders reageer nie. Vir sommige is dit ’n pynlike, traumatiese ervaring, terwyl dit vir ander moontlik minder pynlik kan wees. Dit hang af van baie faktore, insluitende (maar nie beperk nie tot) of die swangerskap beplan was of nie, of die vrou bewus was van haar swangerskap, en die vrou se emosionele en sielkundige toestand. My persoonlike ervaring van ’n miskraam is dat dit erg emosioneel en traumaties was. Soos geïllustreer word, is hierdie ervaring in my kunswerke sigbaar. Die artikel beklemtoon wel dat ervarings verskil. Die leser moet onthou dat die beskrywings en ontleding van my kunswerke hoofsaaklik op my eie ervarings gebaseer is.

 

2. Traumatiese verlies, soos uitgebeeld in geselekteerde videokunswerke

Klass, Silverman en Nickman (1996:3–16) voer aan dat rou die begin is van die proses waartydens die vrou by die werklikheid van haar verlies moet aanpas. Dit is nodig sodat sy haarself van die traumatiese voorval kan losmaak, sodat sy in nuwe verhoudings en menslike interaksie kan herbelê. Rou kan egter later in melankolie verander, wat ’n ongesonde toestand is. Melankolie word (anders as rou) deur Freud beskryf as ’n emosie “waar niks van die verlies onbewustelik is nie” (Freud 1917:245, my vertaling). Met ander woorde, die verlies van ’n liefdesobjek word sowel in die bewuste as in die onbewuste ervaar. Rou en melankolie is gebaseer op Freud (1917:243) se siening dat hartseer ’n reaksie is op die verlies van ’n geliefde persoon of van ’n abstraksie soos vryheid, ’n ideale lewe en dies meer. Melankolie hou dus ook verband met die verlies van ’n liefdesobjek. Benewens die verskil tussen rou en melankolie, is dit ook belangrik om aan te dui dat rou en smart verskillend is. Hierdie begrippe word in baie gevalle verkeerdelik as sinonieme gebruik.

Hartseer kan gedefinieer word as ’n pynlike, komplekse emosionele toestand wat met verloop van tyd verander. Dit is terselfdertyd ook ’n proses om verlies te konfronteer (bv. deur verlange herhaaldelik te herbeleef) deur die losmaking van die verlore persoon of voorwerp (Beutel, Deckardt, Von Rad en Weiner 1995:518). Rou, daarenteen, word gekenmerk deur verskeie simptome (sielkundig en fisiek) wat ’n impak het op die traumatiese gebeurtenis en hoe dit begryp word. Ná ’n geruime tyd, en afhangende van die omstandighede, kan hierdie gevoelens van verdriet in intensiteit verminder en die bedroefde vrou kan geleidelik terugkeer na haar belangstelling in en entoesiasme vir die lewe (Beutel e.a. 1995:518). Ek het, nadat ek ’n miskraam gehad het, ’n moeilike rouproses deurloop. Die proses is gekenmerk deur indringende visualisering, betekenisloosheid as gevolg van die verlies van die self en ’n algehele onvermoë om daaglikse aktiwiteite te hanteer. Ek was letterlik bedroef oor die dood van my baba, wat ek reeds as gebore en lewend gevisualiseer het voordat die miskraam plaasgevind het.

Die eerste tema wat uitgebeeld word in Dreaming of home, The moon and the tree en If I did(n’t) sluit in eienaardige wesens, die verlies van ’n ongebore kind deur ’n miskraam en die rouproses wat tot melankolie lei. Hierdie kunswerke ondersoek die bewuste en onbewuste omvang van moederlike fantasieë wat die jong vrou ervaar in haar verhouding met haar ongebore kind. Ná die miskraam moet sy in haar kinderlose staat hierdie verlies (die verlies van moederskapfantasieë) hanteer. Freud se hipoteses oor trauma en verlies lyk op die oog af of hulle van toepassing is op vroue wat hierdie verlies as gevolg van ’n miskraam ly.

Freud (1917:244–5) postuleer dat rou die erkenning van die verlies van ’n liefdesobjek behels. Erkenning lei tot loslating, wat uiteindelik lei tot die vryheid wat nodig is om die rouproses af te sluit en ’n nuwe liefdesobjek te erken. Indien die rouproses en hunkering na die geliefde verleng word, lei dit tot ’n onvermoë om los te kom van die verlore liefdesobjek, en dan tree melankolie in (Freud 1917:244–5). Deur die rouproses word verlies in ’n terapeutiese sin gekonfronteer. Hierdie proses is uitdagend en onseker, en neem tyd en emosionele en geestelike energie in beslag. ’n Spreekwoordelike ontwrigting van die bande wat die ervaring van verlies bind, is sentraal in hierdie rouproses. Freud noem hierdie proses hiperkateksis (hypercathexis), bedoelende ’n emosionele teenwerking van elke herinnering en gevoelens van hoop (Rosenblatt 1983:53). Wanneer die persoon wat rou, verby dekateksis beweeg, wat onttrekking van energie en gehegtheid aan die liefdesobjek impliseer, word herinneringe aan die verlore liefdesobjek en ’n hopelose gevoel dat die rou nooit sal eindig nie, ervaar. Gevolglik voer ek aan dat rou in sommige gevalle ’n leeftyd kan voortduur.

Om Freud se teorieë oor verlies en trauma met ’n miskraam te verbind, bestudeer ek nie net my eie ervaring nie, maar ook die teorieë van ander eietydse skrywers. Ek het bevind dat verlies deur ’n miskraam emosionele onstabiliteit en ’n doodse gevoel van verlies meebring. Hierdie bevinding is nie net van toepassing op eie ervaring nie, maar dit blyk universeel te wees by vroue wat verlies gely het as gevolg van ’n miskraam. Dit word beaam deur Pines (2010:127–8), wat bevind het dat ’n miskraam ernstige sielkundige gevolge kan inhou. Mantel (2003:228) verklaar dat wanneer ’n kind deur ’n miskraam verloor word, só ’n kind ’n “gees” in die moeder se lewe word. Hierdie idee sluit aan by Pollock (1961:353) se waarneming dat die verlies van ’n kind nooit heeltemal geïntegreer en volledig deur die moeder aanvaar kan word nie. Volgens die American Pregnancy Association (2017, s.bl.) vind die meeste miskrame plaas tydens die eerste 13 weke van swangerskap. Vir die bewuste moeder is dit ’n belangrike tyd waarin die ontwikkeling van die fetus intens ervaar word. Volgens Pines (2010:127) kan ’n toekomstige moeder se drome aspekte insluit van onbewuste en bewuste fantasieë en angs oor die fetus. Die vrou fantaseer bewustelik oor haar ongebore kind deur dagdrome en ervaar onbewustelik (deur drome) fantasieë wanneer ’n beeld van ’n werklike kind gevisualiseer word. Hoewel ’n miskraam vroue verskillend raak as gevolg van hul spesifieke lewenservarings en die lewenstadium waarin hulle hul bevind, bly dit vir menige vrou baie pynlik en traumaties (Pines 2010:128).

Ter versterking van my argument dat ’n miskraam traumaties kan wees en ernstige gevolge kan hê, verwys ek na die hipotese van Keefe-Cooperman (2005:281) dat perinatale verlies duidelik verontrustend is, ten spyte daarvan dat die kind nooit konkreet en lewend was nie en daar gevolglik geen herinneringe aan gesamentlike lewenservarings bestaan nie. Die dood is onverwags en word dikwels daardeur gekenmerk dat gesinne en vriende nie besef hoe belangrik die verlies was of hoe broodnodig ondersteuning is nie. Die individuele verhale van baie vroue wat ’n miskraam gehad het, vertel van emosies van verlies, verwoesting en skuldgevoelens. Hierdie skuldgevoelens versterk die vrou se rouproses. Keefe-Cooperman (2005:281–2) stel dit dat elke trimester van ’n swangerskap emosies behels wat deel uitmaak van die vormingsproses van die fetus. Die eerste trimester sluit in onsekerheid, ’n behoefte aan bevestiging, primêre gevoelens van twyfel, die aanvaarding van die swangerskap, die hersiening van die kinderjare en die verandering van emosies oor liggaamsbeeld en seksualiteit. Gedurende die tweede trimester begin ’n vrou die fetus sien as ’n individu uit eie reg. Hierdie siening word gevorm en versterk deur die fetus se vinnige ontwikkeling en die waarneming van die fetus deur middel van ultraklankskandering. Die moeder begin om haar perfekte kind te visualiseer. In die derde trimester neem sy reeds die rol van versorger aan en maak sy gereed om die pasgeborene te verwelkom. In die geval van ’n perinatale dood begin die moeder die betekenis van verlies verwerk deur intense hartseer (Keefe-Cooperman 2005:281–2).

Bowlby (1980:7, 8) verduidelik die verlies van ’n geliefde as ’n pynlike ervaring wat almal die een of ander tyd ervaar. Hy noem die lang tydperk van verdriet wat daarop volg en die komplekse herstelproses. Fraley en Shaver (1999:740) haal Bowlby wat sê dat individue ’n gesonde óf problematiese roupatroon kan volg nadat hulle van die liefdesobjek geskei is. Die erns van die trauma sluit aan by die krag en aard van die beslaglegging op die verlore liefdesobjek en die rou. Parkes (1993:241–7) beklemtoon die betekenis van die psigososiale veranderinge wat die verlies en gevolglike rou veroorsaak. Weer eens is hierdie veranderinge afhanklik van die aard en omvang van die impak wat rou op ’n persoon se lewe het.

Kübler-Ross (1969) onderskei in On death and dying tussen vyf stadiums van rou, naamlik: ontkenning, woede, bedinging, depressie en aanvaarding. Volgens Madison (s.j., s.bl.) kan die persoon wat rou, gedurende hierdie fases op verlies reageer. Ideaal gesproke moet ’n persoon wat rou, hierdie fases deurlopend ervaar. Teoretici stel hipotetiese insigte voor wat tydens die rouproses as normale gedrag beskou word. Melanie Klein (aangehaal deur Henderson 2012:233) postuleer dat rou hartseer en depressie mag insluit. Sy vergelyk hartseer met gevoelens van verlies en beskryf depressie as ’n verdedigingsmeganisme wat die persoon wat rou, beskerm teen hartseer as gevolg van die verlies. Alhoewel die persoon wat rou, met die verlore liefdesobjek identifiseer, fokus sy op die self as gevolg van depressie. Ek stem saam met Klein (aangehaal deur Henderson 2012:233) dat dit nie noodwendig ’n goeie ding is nie, aangesien dit diep gevoelens van skuld, onderdrukking, straf en afkeer kan veroorsaak. Terselfdertyd kan die persoon wat rou, egter ’n begeerte ervaar om die verlore en gebroke band met die verlore liefdesobjek te herstel of te aanvaar. Deur die herstelproses kan die persoon wat rou, dít wat verlore is, intern herbou.

In die volgende gedeelte ondersoek ek rou en melankolie verder deur die genoemde kunswerke te ontleed.

2.1.1 Egoverlies in Dreaming of home

Dreaming of home beeld egoverlies uit. Egoverlies kom voor as gevolg van die ontwikkeling van melankolie ná ’n miskraam. Die titel dui daarop dat die jong vrou haar tuiste beskou as die plek waar sy en haar verlore baba mekaar kan ontmoet en saam kan wees. In die kunswerk verwerk die slapende jong vrou wat onlangs ’n miskraam gehad het, onbewustelik ’n droom. Die kunswerk beeld die jong vrou se onbewuste gedagtes oor die miskraam uit. Beelde van rou en melankolie word voorgestel. Figuur 9 tot 12 toon hoe verskillende kreature op die skerm verskyn en weer verdwyn namate die jong vrou se drome ontvou. Terwyl sy aan die slaap is, is sy altyd teenwoordig as ’n karakter in die drome. Namate die droom vorder, verander haar liggaam in dié van ’n swanger vrou. Die swanger liggaam verander weer en los dan op in klein fragmente wat soos dele van ’n naelstring lyk (Figuur 13). Ek meen dat die kunswerk se voortgesette betrokkenheid by die verlies van ’n fetus nie net die verlies van die liefdesobjek (fetus) weerspieël nie, maar ook die verlies van die ego of self. My bedoeling met hierdie kunswerk is dus dat die bestaan van die kind wat gebore moes gewees het en geliefd moes gewees het, in die droom gesuggereer word, en die verlore swangerskap word fisies hervergestalt. My uitbeeldings verwys na die sielkundige impak van die miskraam wat uitgebeeld word deur die droom. Die gevoel van verlies word opnuut ervaar en is steeds intens wanneer die vrou wakker word.


Figuur 9. Dreaming of home, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.1


Figuur 10. Dreaming of home, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 11. Dreaming of home, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 12. Dreaming of home, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 13. Dreaming of home, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.

In Mourning and melancholia (Freud 1917:252) maak Freud die stelling dat egoverlies en die persoon wat rou, in hierdie geval die jong vrou, gekenmerk word deur intense pyn, ’n gebrek aan belangstelling in die buitewêreld, ’n onvermoë om lief te hê en geïnhibeerde aktiwiteite. Hy voer voorts aan dat melankolie ’n ongewone afname in die subjek se selfrespek meebring en tot egoverlies lei. In die geval van melankolie is dit die ego self wat verlore gaan. Die melankoliese persoon beskou haar ego as onbeduidend (Freud 1917:247). Dit staaf my argument dat melankolie voorkom as gevolg van angs, onsekerheid en verandering, verlies aan selfvertroue, gevoelens van waardeloosheid en ’n obsessie met die verlede. Volgens Sanchez-Pardo en Hirschman (2003: 63) versuim die melankoliese persoon om die positiewe eienskappe van haar ego te erken. Volgens Freud ([1917] 2001:249) is die melankoliese persoon steeds onnatuurlik geheg aan die verlore liefdesobjek en internaliseer die persoon die verlore objek. Dit lei tot ernstige gevoelens van verlies sonder dat die persoon ten volle besef wat presies verlore gegaan het. Freud ([1917] 2001:249) argumenteer dat die verlies van die liefdesobjek in egoverlies oorgaan. Hy verduidelik verder dat die konflik tussen die ego en die geliefde lei tot ’n verwydering tussen die kritiese aktiwiteit van die ego en die ego soos omvorm deur trauma. Die melankoliese persoon (in hierdie studie die vrou wat ’n miskraam gehad het) bestraf haarself en word kwesbaar vir verwerping en tugtiging (Freud 2001 [1917]:254). Freud (2001 [1917]:257–8) beskryf hoe die verlies van selfrespek behels dat die persoon haar ego eerder as die verlore liefdesobjek blameer. Die dood het die verhouding tussen die liefdesobjek en die melankoliese persoon beëindig. Dit lei tot ’n samesmelting van die libido (as deel van die identiteit) en die ego, wat die ego in staat stel om met die verlore liefdesobjek te identifiseer. Gevolglik verloor die ego haarself wanneer dit in die liefdesobjek verander. Freud ([1917] 2001:257–8) argumenteer verder dat die verlies van die liefdesobjek en die verlies van ego die gevolg is van die samesmelting van libido en ego.

Om Freud se teorie van melankolie verder te verduidelik, is dit nuttig om na Butler (1997:246) se waarneming te verwys. Butler postuleer dat die ideale eindresultaat van rou bereik word as die beslaglegging op die liefdesobjek verbreek word en aan ’n nuwe liefdesobjek gekoppel word. Volgens Butler suggereer Freud se verklaring van die ego en identiteit dat die melankoliese persoon se identifisering met die liefdesobjek noodsaaklik is ten einde die liefdesobjek te oorkom. Hierdie proses is noodsaaklik ten einde die ego te herontdek (Butler 1997:246, 252). Dit is nodig om te verstaan wat melankolie is om die volgende stelling van Freud (1917:252) te begryp: Egoverlies en skuldgevoelens ná verlies dui op die irrasionele aard van melankolie. Skuld en selfverwyt as gevolg van egoverlies dui daarop dat verlies lei tot ’n individu se verlies van ’n realistiese begrip en opvatting van die self.

In Dreaming of home ervaar die vrou skuld en selfkritiek as gevolg van die verlies van haar swangerskap en potensiële moederskap. Deur die skepping van hierdie animasie weerspieël ek die pyn deur haar gesig, en verwys dus na lyding en hartseer wat sy ná die miskraam ervaar het (Figuur 14). Ek illustreer die vrou se verskillende gesigsuitdrukkings, wat in Figuur 15 en 16 gesien kan word, om die verlies van die liefdesobjek en daarna die ego te illustreer. My interpretasie is dat die rou van die jong vrou verander in melankolie aangesien sy nie met ’n gesonde ego kan identifiseer nie. Dus meen ek dat haar selfvertroue en selfverwerping voortspruit uit hierdie egoverlies wat veroorsaak word deur ’n kombinasie van ’n sterk moederinstink en die samelewing se konstruksie dat die ideale vrou ook ’n ma moet wees.

Figuur 14. Dreaming of home, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.

Figuur 15. Dreaming of home, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.

Figuur 16. Dreaming of home, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.

Rich (1976:34) voer aan dat die vroulike liggaam vanuit ’n manlike oogpunt besmet en immoreel is as gevolg van menstruele bloeding, en manwees daarom bedreig. Die vroulike liggaam word selfs beskryf as “die duiwel se poort”. Met die keuse van visuele materiaal is my interpretasie dat die sogenaamde duiwel se poort lewend word wanneer duiwelse wesens bokant die slapende jong vrou beweeg, in afwagting dat haar swangerskap moet begin wys (Figuur 17). My verdere bedoeling met die beelde wat ek as duiwelse wesens identifiseer, is dat haar swanger liggaam deur die nagmerrie-oorblyfsels van hierdie wesens aangetas word. Vir my verteenwoordig die wesens besmetting deur hibriede vorme. Hierdie wesens vernietig nie net haar swangerskap nie, maar ook haar toekoms, vreugde en troos.


Figuur 17. Dreaming of home, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.

In teenstelling met die manlike perspektief waarna Rich verwys, meen Kristeva (1989:161) dat die samelewing moederskap as iets heiligs beskou. Volgens my as die kunstenaar word die jong vrou in Dreaming of home as filantropies, heilig, onbesmet, nieseksueel en gesond uitgebeeld; tekenend hiervan is die hemelse engel wat op haar slapende liggaam neerdaal (Figuur 18). Hierdie heilige wese red haar van die duiwels, en reinig haar liggaam en die skerm word bedek met skoon, wit kleure.


Figuur 18. Dreaming of home, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.

Hierdie videokunswerk beeld sowel die positiewe as die negatiewe uit. Dit illustreer Rich (1976:34) se argument dat ’n vrou se liggaam tegelyk vol deug én onsedelik kan wees, asook tegelyk vrugbaar én onvrugbaar, onbesmet én besmet. Om die vroulike liggaam op hierdie manier waar te neem, genereer “ideale identifiserings” (Yannakis 2006:8) wat vroue se identiteit bedreig omdat dit die sosiaal-gekonstrueerde ideale beeld van ’n vrou voorhou. Wanneer ’n vrou ná ’n miskraam voel dat sy nie die ideale vrou is nie, word haar vroulikheid deur haar (en soms ook deur die samelewing) betwyfel. Donna Yannakis (2006:8–9) argumenteer dat ’n vrou dan ’n egoverlies ervaar wat wesenlik verstrengel is met die fetusverlies.

Net soos die beelde in Dreaming of home aaneen en opvolgend neerdaal, verander en ontwikkel die prosesse van rou en melankolie wat die vrou ervaar, ook. Sy ervaar die verskillende fases van rou, maar verloor langs die pad kontak met die werklikheid en gee haarself vir ’n tyd lank aan melankolie oor. Later kom sy egter weer met die werklikheid in aanraking en betree sy die pad na genesing. Haar ontwaking uit die droom is simbolies, omdat sy later ook uit die rouproses wakker word, haar gesonde ego herwin en nuwe betekenis in die lewe vind. Daar bestaan selfs ’n moontlikheid dat sy ’n nuwe liefdesobjek kan vind.

2.1.2 Stille hartseer en die verlies van vrouwees in The moon and the tree: ’n kritiese ondersoek na Freud

The moon and the tree beeld verlies as multidimensioneel uit; dit simboliseer afwesigheid en teenwoordigheid. Hierdie animasie wys hoe ’n vrou wat ’n miskraam gehad het, erge hartseer en verlies ervaar.

Figuur 19 toon ’n beeld van die boom wat op ’n klein digitale skerm in ’n kykboks vertoon word. Dit is belangrik om daarop te let dat ek doelbewus besluit het om nie ’n klankbaan in hierdie animasie te gebruik nie (die redes hiervoor word later verduidelik). Die miniatuurinstallasie beeld die binnekant van die jong vrou se kamer uit. Daar is wit keramiekmeubels in die kamer, en die jong vrou lê onder ’n kombers op die wit bed. ’n hobbelperd en ’n besonder klein, leë wiegie word ook in die kamer gesien.


Figuur 19. The moon and the tree, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.

Die bedoeling met The moon and the tree is om die jong vrou se herinnering aan die miskraam uit te beeld, asook die feit dat haar hartseer “stil” is. Die kunswerk begin met ’n vae beeld van ’n vrou wat haar hand beskermend oor haar baarmoeder hou (Figuur 20). In die volgende toneel (Figuur 21) word ’n swart-en-wit sonartipe-beeld voorgestel. Binne sekondes styg klein tentakels uit die sametrekkende baarmoeder en vorm dit ’n boom. Die bedoeling met die groeiende boom is dat dit die groei van ’n fetus simboliseer. Figuur 22 wys hoe die boom ontwortel word deur ’n groeiende maanvormige beeld. Die gesonde boom word deur die maanvormige beeld verswelg om te simboliseer dat die swangerskap bedreig word. So kan gesien word dat die swangerskap dan in ’n miskraam eindig. Die grys massa wat in hierdie stadium die aborsievlees van die fetus verteenwoordig, verander daarna in die gesig van ’n baba (Figuur 23). Die gesig verander daarna weer vinnig van dié van ’n baba na dié van ’n vrou. Die vrou verteenwoordig mondelinge woorde wat onhoorbaar is. Die vrou se gesig verander in ’n hartvorm en swart lyne verskyn oor haar oë (Figuur 24). Die hartvormige gesig verdamp stadig totdat net witheid in die laaste toneel sigbaar is. Dié witheid kan in alle waarskynlikheid die egoverlies simboliseer, en hierdie egoverlies kan derhalwe toegeskryf word aan die miskraam en selfverwyt.


Figuur 20. The moon and the tree, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 21. The moon and the tree, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 22. The moon and the tree, 2014.
Stil videobeelde van animasie.


Figuur 23. The moon and the tree, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 24. The moon and the tree, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.

Die insluiting van die klein keramiekmeubels in die miniatuurinstallasie is simbolies van die verlies van ’n swangerskap, asook die tydelike verlies van vrouwees. Dit weerspieël die multidimensionele verlies wat in afwesigheid en teenwoordigheid aangetref word: die afwesigheid van ’n baba in die bed, in teenstelling met die teenwoordigheid van die vrou wat onder ’n kombers slaap. Die meubels, tesame met die veranderende beelde in die animasie, beklemtoon die vrou se traumatiese ervaring van verlies. Dit word voorgestel as ’n wêreld van oorblyfsels van wat kon gewees het, maar nooit sal wees nie. Die tasbare stilte en oënskynlike gebrek aan lewe in die kamer lewer kommentaar op die samelewing se ontkenning van die gevoelens van verlies wat ná ’n miskraam ervaar word. Dit simboliseer ook die vrees of selfverwyt wat ’n miskraam veroorsaak, en soos Pollock (1997:14) te kenne gee, dui dit op meer diepgaande moederskuld.

The moon and the tree vergestalt wat Kristeva (1989:163) die breër sosiale beperking van die “moeder” noem. Hierdie sosiale beperking behels dat ’n vrou wat ’n miskraam gehad het, nie die rol en posisie van ’n moeder kan inneem nie. Sy kan dus nie voldoen aan die samelewing se ideale beeld van die band tussen vroulikheid en moederskap nie. Volgens Zucker (1999:768) het die Westerse geskiedenis en samelewing moederskap verpligtend gemaak, aangemoedig en afgedwing: ’n moeder word as die beeld van ’n ware vrou voorgehou. Petchesky (1981:233) beweer verder dat die Westerse samelewing se pro-lewe-uitkyk (sedert die laat 18de eeu) meebring dat moederskap bestempel word as ’n vrou se ware doel en roeping. Kinderlose vroue word dus beskou as swak en hulle word van mag ontneem op grond van hul sogenaamde liggaamlike en emosionele “afwykings”.

Freud het regdeur sy loopbaan aangevoer dat voortplanting die hoofdoel van ’n vrou se lewe is. Dit is bekend dat hy een van die invloedrykste psigoanaliste en skrywers van sy tyd was. Hy het ’n kultusfiguur geword en het talle toegewyde volgelinge gehad. Sy siening van vroue en vroulike lyding kan egter beskryf word as omstrede – selfs skandelik. Die inhoud van die animasie beklemtoon my kritiek op Freud se argument dat moederskap die enigste manier is om “ware vrouwees” te verwesenlik (Freud 1932:162). Volgens Freud is ’n vrou se ware identiteit gebaseer op haar lewenslange begeerte om ’n moeder te word. Meer as ’n eeu later beskou baie feministe hierdie beskouings as argaïes en aanstootlik. Chodorow (1978:142) byvoorbeeld postuleer dat Freud in sommige gevalle beskryf het hoe vroue in ’n patriargale samelewing moes ontwikkel. In ander gevalle weer het hy ongegronde aannames gemaak. Hierdie aannames moet bloot beskou word as synde stellings oor hoe vroue (en mans) moet optree.

Ek stem saam met die sienings van Kristeva (1989), Zucker (1999), Petchesky (1981) en Chodorow (1978) hier bo. Deesdae oefen baie vroue beheer uit oor hul seksualiteit en liggame deur byvoorbeeld voorbehoedmiddels te gebruik of ’n swangerskap te beëindig. Vanweë finansiële faktore kies sommige vroue, veral vroue tussen die ouderdomme van 40 en 45, om nie kinders te hê nie (Stobert en Kemeny 2003:1–4). Hierdie vroue sluit opgevoede beroepsvroue in. Vir baie vroue is kinderloosheid ’n keuse wat hulle vroeg in die lewe maak, ongeag die rede. Hulle kies om onafhanklik te leef en word nie aan bande gelê deur die samelewing se idees oor vroulikheid en moederskap nie (Stobert en Kemeny 2003:1–4).

Namate psigoanalise meer bekend en gewild geword het, het Freud sy ontledings, behandeling en teorieë meer en meer toegespits op mans se reaksies op traumatiese ervarings en ander sielkundige toestande. De Beauvoir (1949:70) voer aan dat Freud basies sy teorie oor manlike sielkunde vir vroue aangepas het sonder om die verskille tussen die twee geslagte te oorweeg. Firestone (1979:56) voer verder aan dat Freud die vrou bloot as ’n “negatiewe man” ondersoek het. Volgens hierdie manlike perspektief is vroue nie ontvanklik vir verandering nie. Omdat hulle nie reaktief is nie, is hulle passiewe lede van die samelewing en kan hulle nie ’n konstruktiewe of kundige bydrae lewer nie (Freud 1925:137). Pervin (1989:165) wys daarop dat vroue volgens Freud geneig is tot selfbelang, deernis, gehoorsaamheid en afhanklikheid. Volgens Freud moet vroue gehoorsaam en onderdanig wees. Hy meen selfs dat hierdie eienskappe deel is van vroulike patologie en dat vroue daarvan hou om ondergeskik en swak te wees (Pervin 1989:165).

Vroulike psigoanaliste soos Karen Horney, Nancy Chodorow en Simone de Beauvoir (en ander feministiese teoretici) beskryf Freud se beskouings as eensydig en diskriminerend. Horney (1939:108) wys op Freud se siening dat vroue deur hul fisiologie beperk word. Vanweë hierdie siening het Freud gefokus op wat hy bestempel het as vroue se “aangebore beperkinge”. Hy het vroue se seksuele ontwikkeling as onvoldoende beskou omdat hul gebrek aan manlike geslagsdele hulle as’t ware geestesongesteld maak. Kaplan (2005:27), asook Freud en Breuer ([1893–1895] 1995:154), voer aan dat trauma en histerie slegs in vroulike pasiënte manifesteer. McMahon (2012:39) wys daarop dat heelwat van Freud se werke (insluitend sy invloedryke publikasies) vroulike seksualiteit beklemtoon, terwyl dit psigoanalise as behandeling vir vroue wat aan sielkundige toestande ly, verontagsaam. Met inagneming van Freud se siening oor vroulikheid, en feministiese skrywers se kritiek daarop, het ek geen ander keuse as om af te lei dat Freud min simpatie gehad het vir vroue wat ’n miskraam gehad het. Dit is duidelik dat hy sulke vroue as “histeries” sou beskryf het. Sy siening het heel waarskynlik verder bygedra tot die stille lyding van baie vroue wat ’n miskraam gehad het.

Die gebrek aan klank in die animasie is van kardinale belang. Dit simboliseer dat ’n miskraam soms beskou word as ’n minder ernstige trauma – iets wat nie so intens is as die verlies wat ervaar word ná die dood van ’n persoon nie. Nietemin ervaar die vrou wat ’n miskraam gehad het, haar verlies as erg traumaties. Sy voel geïsoleerd en raak “stil”. Sy probeer om so normaal as moontlik voort te gaan met haar lewe, asof die kind nooit bestaan het nie, omdat dit is wat van haar verwag word. Oakley, McPherson en Roberts (1990:5) beweer dat die Westerse samelewing skynbaar met hierdie stilte saamsweer om die impak van die miskraam te verminder. Volgens Reinharz (1987:235) en Layne (1997:290) is vroue wat ’n miskraam gehad het, soms onbewus van ander vroue in hul direkte omgewing wat dieselfde traumatiese ervaring beleef het. Dus voel hulle meer geïsoleerd in hul lyding. Die afwesigheid van ’n begrafnis of rouplegtigheid versterk ook hierdie “stille sameswering”. Layne (1997:292) beskryf die afwesigheid van ’n seremonie ná ’n miskraam as ’n “kulturele nie-eksistensie”, wat eintlik beklemtoon dat die kind vir alle doeleindes nooit bestaan het nie.

2.1.3 Verlies van emosionele en psigologiese welsyn in If I did(n’t)

Die animasie If I did(n’t) hou verband met die maan en die boom omdat albei traumatiese verlies as gevolg van ’n miskraam uitbeeld. Albei word in grysskaal aangebied. Die eerste animasie het sy eie klankbaan, terwyl The moon and the tree stil is. Die animasie word vertoon op ’n klein videoskerm in ’n kykboks. Die omgewing is ’n miniatuurbadkamer met ’n bad, wasbak en toilet. Figuur 25 toon dat spieëlmure die kante van die stel vorm. Die driedubbele weerspieëling van die animasie en die aanhoudende weerspieëling van die meubels skep ’n dramatiese visuele effek. Die animasie wys die buik van die jong vrou wat die doek vir die stopraam-animasie verskaf (Figuur 26). Hierna verskyn ’n swart-en-wit sonartipe-beeld. Vervolgens word ’n fetus wat in die baarmoeder groei, sigbaar. Namate die fetus ontwikkel, neem die grootte daarvan vinnig toe en word dit ’n byna volgroeide baba. Figuur 27 wys hoe die fetus in twee swart-en-wit spookagtige figure verdeel. Die twee figure vorm daarna ’n fetusgesig wat oomblikke later lyk of dit gewelddadig uit die baarmoeder geskeur word (Figuur 28). Hierdie volgorde in die video verwys direk na die geweld van die beëindiging van ’n swangerskap deur ’n miskraam. Ná die verdwyning van die fetus verskyn die jong vrou se hand en slaan sy gewelddadig op haar maag, soos voorgestel in Figuur 29. Die naelstringarea trek saam en vergroot om ’n donker sirkelvormige leegte te vorm. Hierdeur verduidelik ek die leegheid nadat die fetus die baarmoeder op gewelddadige wyse verlaat het (Figuur 30). Die animasie skep ’n beeld van uiterste verlies en hartseer soos dit deur die jong vrou ervaar word. By die formulering van die titel verwys ek na selfverwyt, wat ook ’n sielkundige reaksie op ’n miskraam en ’n kenmerk van melankolie is.


Figuur 25. If I did(n’t), 2014.
Foto deur Carla Crafford.


Figuur 26. If I did(n’t), 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 27. If I did(n’t), 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 28. If I did(n’t), 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 29. If I did(n’t), 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 30. If I did(n’t), 2014.
Stil videobeelde van die animasie.

Om ’n miskraam en die gepaardgaande lyding te verstaan, is dit belangrik om ten volle te besef wat die vrou verloor. Volgens Jesudason (2011:39–45) is ’n miskraam die spontane, onbeplande beëindiging van ’n swangerskap, normaalweg in die eerste helfte van die swangerskap. As spontane beëindiging gedurende die volgende stadium of tweede helfte van die swangerskap plaasvind, word dit “stilgeboorte” genoem. ’n Mens moet in gedagte hou dat die fetus reeds vroeg in die swangerskap tot ’n mens ontwikkel. Teen die derde week begin die hart klop (The Endowment for Human Development s.j.:1), die senuweestelsel en spysverteringstelsel ontwikkel, en die oë en ore verskyn. Die fetus is op hierdie stadium net 2,5 cm lank. Gedurende die volgende vier weke ontwikkel die brein en gelaatstrekke, en verskyn die vingers en tone (American College of Obstetricians and Gynecologists 2015:2). Daar kan aanvaar word dat die toekomstige moeder deur die loop van haar swangerskap ’n belangstelling ontwikkel in die fetus en dat sy ten volle bewus raak van die ontwikkeling van die fetus sodra sy besef dat sy swanger is. Sy dink moontlik al aan die baba as ’n lewende mens. Hierdie inligting verskerp die sielkundige en fisieke trauma wat in die geval van ’n miskraam ervaar word.

Die hartseer en trauma wat die jong vrou in haar liggaam en psige ervaar, belemmer haar sielkundige, emosionele en fisieke gesondheid. Sy bevind haar in ’n rouproses en beleef moontlik melankolie wat veroorsaak word deur die traumatiese verlies van haar baba. Die sielkundige reaksies op ’n miskraam volg kort ná die gebeurtenis. Navorsing dui daarop dat baie vroue wat ’n miskraam het, aan hartseer, skuld, depressie en angs ly (Bennett, Litz en Maguen 2005:180–7; Brier 2008:451–64; Klier, Geller en Ritsher 2002:129). Ek voer dit verder en beweer dat sielkundige reaksies selfs vóór die werklike miskraam kan intree. Dit gebeur op daardie oomblik wanneer die moeder besef dat die fetus nie meer lewe nie. Die rouproses begin wanneer die liefdesobjek verval. Hierdie sielkundige reaksie is redelik natuurlik indien die verlies van die fetus verstaan en beskou word as ’n ontstellende ervaring wat die vrou se lewe omverwerp en haar vir ’n tyd lank lamlê (Bowles, James, Solursh, Yancey, Epperly, Folen en Masone 2000:1689–96). Engelhard, Van den Hout en Arntz (2001:67–78) verklaar dat ’n studie van vroue wat ’n miskraam gehad het, daarop dui dat 25% tot 39% van sulke vroue ’n maand ná die miskraam voldoen het aan die diagnostiese kriteria vir posttraumatiese stresversteuring (PTSV). Hierdie syfer het ná vier maande verminder tot 7%.

Volgens Engelhard e.a. (2001:57–67) is een van die simptome van PTSV die herbelewing van die traumatiese gebeurtenis deur emosionele refleksie en nagmerries. Psigologiese reaksies kan die vermyding van swanger vroue, oormatige woede en slaapversteurings insluit. Negatiewe gemoedsveranderinge en buie word ook opgemerk (Engelhard e.a. 2001:57–67; Lee en Slade 1996:54–62). Ek kan ook gevoelens van teleurstelling, blaam en verleentheid by die lys voeg, aangesien ek al hierdie gevoelens ervaar het. In If I did(n’t) gee ek uitdrukking aan woede deur die metaforiese visualisering van ’n vrou wat selfmoord wil pleeg deur haarself op die baarmoeder te slaan.

Deur nie die traumatiese aspek van ’n miskraam uit te beeld nie, beklemtoon ek die emosionele impak van ’n traumatiese ervaring wat nie altyd deur die samelewing erken word nie. Die liggaamlike en emosionele skade wat deur ’n miskraam veroorsaak word, word dikwels net so intens ervaar as die dood van ’n kind wat lewend gebore is en vir ’n tyd lank geleef het (Zucker 1999:767–86). Die vrou wat ’n miskraam gehad het se lewe is dikwels ook in gevaar. Sy beleef ongemak, bloeding, swakheid en angs. Volgens Kendall-Tackett (2005:11) beskou die meeste vroue wat aan haar navorsing deelgeneem het ’n miskraam as een van die mees traumatiese ervarings wat hulle nog ooit gehad het. Haar studie het ook getoon dat vroue wat na ’n lewelose ultraklankskerm kyk, hul trauma makliker te bowe kom. Dit word uitgebeeld in If I did(n’t), waar die volgorde van die fetus se groei en dood in die baarmoeder met ultraklank op die skerm uitgebeeld word. Die gewelddadige verwydering van die fetus uit die baarmoeder simboliseer die indringende mediese prosedures wat soms in die geval van ’n miskraam uitgevoer word.

In Figuur 31 is dit my bedoeling om te wys dat daar ’n stryd tussen die lewende (wit) fetus en die dooie (swart) fetus is. Deur die skepping van die beeldmateriaal stel ek voor dat die dood seëvier en die fetus gewelddadig en spontaan afgebreek word. Die jong vrou ervaar dan ’n toestand van rou en is in ’n stryd om haar geestelike of sielkundige gesondheid in stand te hou. Met die vordering van die animasie blyk dit duidelik dat hierdie proses moeiliker gemaak word deur die vrou se egoverlies en haar begeerte om die dooie baba met ’n ander liefdesobjek te vervang. Ek beeld dit dus duidelik uit dat sy egter nie iets toepasliks kan vind waarmee die baba vervang kan word nie, en dus kan sy nie aanvaar dat die liefdesobjek verlore gegaan het nie. Ek identifiseer wel met Freud (1917:14) se stelling dat die ego letterlik onttrek en dat die skaduwee van die verlore liefdesobjek daarop val.


Figuur 31. If I did(n’t), 2014.
Stil videobeelde van die animasie.

Pines (2010:127) het vroulike pasiënte wat meer as een miskraam gehad het, ondersoek en bevind dat hierdie vroue voortdurend gevoelens van verlies en rou ervaar. Dit lei tot langdurige wanhoop, ’n verlies aan selfwaarde en ’n afkeer van hul vroulike liggame wat nie lewende kinders kan dra soos hul moeders nie. Hul selfrepresentasie is dus aangetas (Pines 2010:127). My bedoeling is om hierdie wanhoop metafories uit te beeld in aansluiting by Pines se ontleding. Dit is sigbaar in die manier waarop die jong vrou in If I did(n’t) op haar baarmoeder slaan (Figuur 32).


Figuur 32. If I did(n’t), 2014.
Stil videobeelde van die animasie.

Die jong vrou in If I did(n’t) gee haarself die skuld vir die miskraam. Sy verwag om deur die samelewing getugtig te word omdat sy nie aan die verwagtinge van moederskap voldoen het nie. Sy kan beskryf word as ’n melankoliese figuur, aangesien haar gewelddadige handelinge op iets anders as rou dui. Haar handelinge toon dat sy min selfrespek en ’n gewonde ego het. Op hierdie manier word die jong vrou se ego eintlik skrikwekkend. Haar ego ervaar onsekerheid. Soos Carhart-Harris, Mayberg, Malizia en Nutt (2008:7–9) argumenteer, manifesteer haar onsekerheid in skuld, wat lei tot griewe en die idee dat sy self verantwoordelik was vir die verlies van haar liefdesobjek.

Die keuse van ’n badkamer as deel van die miniatuurinstallasie is betekenisvol. Die badkamer is ’n toevlugsoord vir die jong vrou en dit bied ’n privaat ruimte waarin sy vir ’n paar minute kan treur en haar kalmte kan probeer herwin. Die badkamerspieëls weerspieël die jong vrou se miskraam soos uitgebeeld deur die animasie. Die beelde weerspieël oneindigheid en simboliseer die deurlopende rouproses en melankolie.

Nog ’n belangrike kenmerk van If I did(n’t) en The moon and the tree is dat beide animasies in grysskaal geskep is. Die rede hiervoor is dat dit simbolies is van die vrou se stryd met die sielkundige en emosionele gevolge van haar verlies. Vir my simboliseer grys depressie en hartseer, met ander woorde ’n lewe sonder kleur en vreugde. Grys is ook ’n kleur wat verband hou met dood en vernietiging. Dit beklemtoon die emosionele pyn en lyding wat ’n vrou ervaar ná die verlies van ’n liefdesobjek. As ’n mens in gedagte hou dat albei kunswerke die ontstellende dag- asook nagdrome van die vrou uitbeeld, hou die grysskaalkwaliteit spesiale betekenis in. Michael Balint (soos aangehaal deur Simon 1997:36), ’n Hongaarse psigoanalis, was geïnteresseerd in persoonlike verhoudings tussen liefdesobjekte, veral dié tussen ’n moeder en haar kind. Sonder om sy psigoanalitiese tegnieke in besonderhede te bespreek, ondersoek ek sy standpunt dat die onbewuste beelde, kleure en klank gebruik om betekenis uit te druk; die onbewuste gebruik nie taal nie. Balint beskryf beelde en kreatiwiteit as noodsaaklik vir psigoanalise en die proses van terapie en genesing. Hy beskryf ook hoe beelde, kleure en klank die terapeut dwing om sy of haar eie kreatiewe verbeelding te gebruik om die pasiënt se sielkundige toestand te vertolk:

Die taak om die betekenis van waargenome verskynsels om te sit in volwasse taal – hetsy om wetenskaplike of terapeutiese redes – word gegrond op die beskikbaarheid van ’n volwasse woordeskat en ’n volwasse grammatika wat net op Oedipale vlak bestaan. Sover ons kennis strek, beskik die onderbewussyn nie oor woordeskat nie ... dit beskik hoofsaaklik oor prente, beelde en klanke wat sonder probleme van betekenis kan verander en met mekaar kan versmelt, soos inderdaad in drome gebeur. Dit blyk dat woorde in die onbewuste dieselfde vae kontoere en kleur het as die beelde in ’n droom. Dit is ’n soort grysheid, alhoewel dit gelaai is met baie vlietende emosie en affek. (Balint, soos aangehaal in Simon 1997:36, my vertaling)

Die vrou se hartseer en verlies word ervaar in ’n droomagtige omgewing van grys skakerings en die afwesigheid van vreugde en betekenis. Daar kan aanvaar word dat haar lewe vol lewendige kleur was wat gedui het op vreugde en verwagtinge – totdat sy besef het dat verlies op hande was. Met die dood van haar liefdesobjek is sy in ’n achromatiese poel van donkerte gedompel. ’n Mens kan aanvoer dat herstel van hierdie sielkundig traumatiese verlies die herstel van ’n kleurvolle lewe behels.

2.1.4 Rou en melankolie, soos uitgebeeld in Dreaming of peculiar creatures

In Dreaming of peculiar creatures neem die vrou se melankolie toe. Die miskraam en die herinneringe daaraan word in ’n droom uitgebeeld. Dreaming of peculiar creatures dui op vreemde wesens wat op die skerm verskyn en dan weer op verskillende geleenthede van die skerm verdwyn. Hierdie wesens is nie bedreigend nie; hulle is tekenend van die vrou se uiterste gevoelens van liefde en haar behoefte aan troos en ondersteuning. Aangesien sy melankolies is, kan dit ook aangevoer word dat sy op soek is na ’n nuwe liefdesobjek om die verlore een te vervang en om die pyn van die verlies te stuit. Die wesens wat die jong vrou se droom betree, bied belangrike simbole van rou en melankolie.

Hierdie grootskaalse geprojekteerde animasie begin met ’n toneel van die jong vrou wat slaap (Figuur 33). Wanneer die droom ontvou, word haar naakte liggaam geopenbaar. Haar swanger toestand is duidelik sigbaar. Kort daarna skei haar bene, en haar gesig vertrek van pyn (Figuur 34). Figuur 35 wys hoe haar buikarea krimp omdat die kind afgebreek word. Die fetus materialiseer in ’n pienk vloeistofagtige vorm (Figuur 36). Die naelstring is nog steeds aan die moeder se liggaam vas en is sigbaar in die vaginale area. Die naelstring skeur die skerm in twee (Figuur 37). Die volgende toneel (Figuur 38) toon die oorblyfsels van die geboorte as ’n vleesagtige pienk blom wat vinnig groei. Soos die blom groei, kom ’n tipe kameelperd-sebra op die toneel en soen die blom, wat verander het in ’n roosstruik (Figuur 39). Ná die soen groei die blom in die liggaam van die vrou as ’n jong kind wat in pienk geklee is (Figuur 40). In Figuur 40 blyk die kind vas te wees aan verskeie naelstringe. Die kind breek dan los van die naelstringe en bevind haar skielik in water (Figure 41 en 42). Die water kan geïnterpreteer word as simbolies van die kind in die baarmoeder, veilig omring deur vrugwater. Verskillende diere verskyn en verdwyn in die vrugwater. Hierdie diere sluit in ’n blou vis, ’n harige soogdier, ’n kameelperd-sebra en ’n kangaroe, soos gesien in Figure 43 tot 45.


Figuur 33. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 34. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 35. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 36. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 37. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 38. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 39. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 40. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 41. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 42. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 43. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 44. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.


Figuur 45. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeelde van die animasie.

Die kreature in Figure 43 tot 45 word deur my gebruik as metafore van die jong vrou se rouproses. Volgens King (2013:64) word sekere soogdierspesies ernstig geraak deur die dood van hul kleintjies. Die animasie eindig waar dit begin het: die slapende jong vrou maak haar oë oop. In Figuur 46 raak sy bewus van die kameelperd-sebra langs haar. Metafories kan dit moontlik verwys na die jong vrou se stryd met haar hartseer oor haar ongebore kind. Die dierlike wese bring vir haar ’n gevoel van troosvolle vrede en die moontlikheid dat sy haar verlore liefdesobjek kan vervang. Wanneer sy haar oë knip, verdwyn die dier. Duisternis daal neer en die animasie draai en begin weer by die toneel waar dit geëindig het. My bedoeling met die skepping van hierdie animasie was dat die deurlopende herhaling daarvan op die vrou se voortgesette ervaring van melankolie dui. Die jong vrou kan haarself nie losmaak van haar verlore liefdesobjek nie.


Figuur 46. Dreaming of peculiar creatures, 2014.
Stil videobeeld van die animasie.

Murlikiewicz en Sieroszewski (2012:158) skryf dat ’n miskraam as ’n traumatiese gebeurtenis intens herbeleef word in herhalende beelde, gevoelens, drome, waansin en terugflitse. Deur haar drome van eienaardige wesens herbeleef die vrou die trauma van die miskraam en die gepaardgaande herinneringe. Die kunswerk weerspieël die nimmereindigende nagmerrie van melankolie en emosionele lyding wat die jong vrou ervaar as gevolg van die traumatiese verlies van haar liefdesobjek. Vir haar staan die tyd stil en word haar lyding ná die miskraam steeds herhaal. Sy vind dit moeilik om wakker te word of om uit die herhalende droom te ontsnap. Slobodin (2014:163) beskryf die deurlopende ervaring van ’n traumatiese gebeurtenis as ’n oomblik wat in tyd gevries word. Sy beskryf hoe vroue wat ’n miskraam gehad het, voel asof tyd gestuit word. Hulle besef met ’n skok dat die lewe steeds voortgaan. Freud (1939:7–137) meen dat die vries van tyd ná ’n traumatiese gebeurtenis ’n beskermende rol het: die tyd stop, maar melankolie, herinneringe en gevoelens wat verband hou met die traumatiese ervaring, word bewaar. Aan die ander kant wys Slobodin (2014:163) daarop dat trauma dinamies gehou word deur die bevriesing van tyd, omdat herinneringe en emosies herhaaldelik ervaar word. Hierdie weergawe verklaar hoe vroue, insluitende myself, voel oor ’n miskraam wat hulle gehad het. Sommige vroue ervaar emosies van verlange, liefde en hartseer en soek voortdurend na die fetus as die verlore liefdesobjek (Swanson 1999:288–9). As hierdie trauma nie sielkundig verwerk word nie, word traumatiese herinneringe voortdurend fragmentaries ervaar. Tensy die werklikheid van verlies deur die vrou self erken word, kan die trauma nie opgelos word nie (Bourne en Lewis 1991:1167–8), en as die trauma nie opgelos word nie, kan die genesingsproses nie begin nie. Hierdie proses word uitgebeeld in Dreaming of peculiar creatures in die herhalende droomvolgorde. Die toekoms sonder haar kind word die onderbewuste basis van die vrou se angs. Die animasie wys hoe ’n miskraam die sielkundige en fisies progressiewe stadiums van swangerskap skielik en gewelddadig beëindig. Die vrou se lewe verander radikaal en slaan ’n chaotiese rigting in.

By die ontleding van Dreaming of peculiar creatures is dit waardevol om die verskil tussen rou en melankolie (wat reeds bespreek is) in gedagte te hou. Rou behels dat die persoon wat rou, met die lewe voortgaan en die herinnering van die traumatiese ervaring aanvaar. In teenstelling hiermee verhoed melankolie dat genesing plaasvind. Die jong vrou besef onbewustelik dat sy vrede moet maak met die traumatiese gebeurtenis ten einde die rouproses af te sluit. Sy moet haarself van die fetus skei. Hierdie proses word uitgebeeld in haar onbewuste droom. Die herhaling van die droom deur die digitale stopraam-animasie beklemtoon dat rou ’n droom is en dat die vrou steeds bewustelik in melankolie verdwyn. Freud (1917:143–51) postuleer dat die ego ’n nuwe liefdesobjek kan ontdek sodra die rouproses voltooi is. Die jong vrou het nog nie hierdie punt in haar rouproses bereik nie, aangesien sy steeds melankolies is en nie gereed is om haar band met die verlore liefdesobjek te verbreek nie.

Dit is algemeen bekend dat verskeie psigoanaliste waarde heg aan drome en simbole en die rol wat dit in terapie vervul. Drome word gevul met ’n legio simbole en betekenisse wat onbewustelik kommentaar lewer op sowel persoonlike as kollektiewe ervarings. Ek het nie bepaalde simbole gekies voordat ek die kunswerk geskep het nie, en was dus nogal verbaas toe die betekenisse duidelik gemanifesteer het. By nadere ondersoek word die eienaardige wesens selfs meer eienaardig. Ek het die kunswerk geskep deur outomatisme (assosiasie). Volgens Freud het droomsimbole nie altyd universele betekenis het nie, en moet elke geval op grond van meriete, agtergrond en persoonlike betekenis geëvalueer word (Freud, soos aangehaal deur Jonte-Pace 2003:248). Soos reeds verduidelik, het Freud ook vrye assosiasie tydens terapie gebruik. Tydens die skeppingsproses het ek die eerste beeld gevorm, naamlik dié van die jong vrou wat slaap. Hierdie beeld het gelei tot daaropvolgende beelde wat ’n reeks gebeurtenisse vorm waarin wesens verskyn en dan weer verdwyn. Terugskouend is dit interessant om daarop te let dat ek wesens gebruik het wat vir my spesiale betekenis inhou. Hierdie wesens wil sekere waarhede en werklikhede aan die jong vrou oordra en verskyn weer en weer totdat sy haar staat van melankolie verlaat en haar rouproses voltooi. Sonder om al die simbole te noem, verwys ek hier na die kameelperd-sebra, die jellievis en die kangaroe om die betekenis van simbole te illustreer.

Die eerste kreatuur wat verskyn, is die kameelperd-sebra. Die hibridisering van ’n dier met strepe en ’n dier met kolle kan beteken dat die jong vrou (hoewel sy in ’n put van melankolie en wanhoop gedompel is) besef dat dit tyd is om vorentoe te beweeg. Sy het ’n verandering in haar lewe nodig. Hierdie verandering is soos ’n sprong van melankolie na rou en daarna na genesing.

Later in die kunswerk verander die geboortefetus in ’n jellievis. Jare gelede het ek ’n artikel gelees oor ’n seldsame jellievissoort, Turritopsis dohrnii, wat algemeen bekend staan as ’n onsterflike jellievis omdat sy selle voortdurend regenereer (Bavestrello, Sommer en Sarà 1992:137–40). Die simbool van ’n lang lewe word in die kunswerk aangewend as ’n simbool van oënskynlik ewige melankolie, aangesien die jong vrou sukkel om haar rouproses te voltooi. Die jellievis weerspieël ook die onsterflike verlange na en die onvergeetlikheid van die verlore liefdesobjek. Volgens Crisp (2010, s.bl.) kan dit verwys na onbewuste pynlike emosies (die tentakels van ’n jellievis word nageboots). Dit kan ook dui op gevoelens van hulpeloosheid en sinloosheid.

’n Kangaroe verskyn in die jong vrou se droom. Die kangaroewyfie is bekend daarvoor dat sy haar kleintjie in ’n beskermende buidelsak dra. Volgens Crisp (2010, s.bl.) is hierdie ruimte simbolies van veiligheid en beskerming in die moederskoot. Hy verklaar verder dat kangaroes ook vinnig rondbeweeg en dus geassosieer word met iets wat ’n mens nie kan hanteer nie of iets wat te vinnig verander (Crisp 2010, s.bl.). Die jong vrou kon nie die fetus teen die dood beskerm nie en beskou dus haar eie baarmoeder as gebrekkig en onveilig. Later in die kunswerk bevind sy haar terug in haar eie moederskoot, waar sy veilig voel. Sy verlang daarna om veilig te voel en weer lief te hê. Die verlore liefdesobjek is nou net ’n droom en sy verlang daarna. Sy verlang ook na ’n moontlik fisieke verband daarmee. Tog ontwyk die verlore liefdesobjek haar vergeefse pogings.

 

3. Samevatting

Die vier geselekteerde kunswerke wys hoe rou en melankolie veroorsaak word deur ’n miskraam as ’n traumatiese ervaring. Die verlies van ’n liefdesobjek word voorgestel.

Ek stem nie saam met Freud se standpunte oor vroulikheid en vroue se sielkundige reaksie op trauma en verlies nie. Sy wanopvattings van vrouwees en moederskap kan nie met al sy teorieë versoen word nie. Freud noem byvoorbeeld nie spesifiek dat ’n miskraam rou en melankolie kan meebring nie. Ek bespreek onder andere Pines se werke om te toon dat ’n miskraam inderdaad tot sielkundige trauma kan lei.

Deur traumateorieë oor verlies te ondersoek, argumenteer ek dat rou ’n natuurlike, terapeutiese manier is om op verlies te reageer. Rou omvat kennis van die omvang van verlies. Rou is ook die begin van die losmaking van die verlore liefdesobjek. Daarteenoor kom melankolie voor wanneer die persoon wat rou, nie die verlies ten volle verstaan nie en die subjek nie kan loskom van die liefdesobjek nie. In hierdie geval is die persoon wat rou, in ’n tipe doodloopstraat, waar die rouproses stop en die ego en die liefdesobjek verstrengel raak. Dit lei dan tot egoverlies. Die egoverlies word verduidelik aan die hand van die videokunswerk Dreaming of home. Die jong vrou wat onlangs ’n miskraam gehad het, word in melankolie gedompel en in die proses verloor sy haar selfrespek en ego. Dit word vererger deur die samelewing se ontoereikende beskouings. Dit word ook wel deur Freud se argumente geïllustreer, soos dat vroue slegs deur moederskap en voortplanting gedefinieer kan word. Die vernietigende kringloop van melankolie word ook uitgebeeld in Dreaming of peculiar creatures. Deur die eienaardige kreature as simbole in die kunswerk te gebruik, illustreer ek dat die jong vrou bewus is van die noodsaaklikheid om die proses van genesing te hervat en af te sluit sodat sy weer ’n aktiewe rol in die samelewing kan speel.

Die sielkundige pyn en rou wat deur ’n miskraam veroorsaak word, word in baie gevalle stilweg verduur. Die vrou wat rou, voel asof sy as vrou en ma misluk het en haar vroulikheid vir ’n tyd lank verloor het. Hierdie stille lyding word uitgebeeld in The moon and the tree (stil animasie). Met inagneming van Freud se siening oor vroulikheid en kritiek daarop deur feministiese skrywers, lei ek af dat Freud weinig simpatie gehad het vir vroue wat ’n miskraam gehad het en dat hy hulle waarskynlik as histeries beskryf het. Desondanks stel ek voor dat sommige van sy teorieë oor verlies, rou en melankolie wel sekere aspekte van vroue se lyding as gevolg van verlies deur ’n miskraam kan verduidelik.

Die jong vrou se sielkundige en emosionele gesondheid word onverwags weggeneem deur die miskraam in If I did(n’t). Die impak van die trauma is verreikend. Soos Kendall-Tackett (2005) toon, is ’n miskraam vir baie vroue die mees traumatiese ervaring wat hulle ooit gehad het. Die mediese prosedure waardeur die aborsie van die dooie fetus plaasvind, is nie net indringend nie, maar dit rig ook liggaamlike en sielkundige skade aan.

Ek voer aan dat sielkundige skade vererger word omdat die toekomstige moeder waarskynlik die ontwikkeling van die fetus met verwagting en in afwagting gevolg het en reeds begin het om ’n toekoms saam met haar baba te idealiseer. Hierdie skade kan herstel word slegs wanneer die rouproses afgehandel is.

Dit is sinvol om te beklemtoon dat video-animasies unieke eienskappe bevat wat dit toepaslik maak vir die uitbeelding van rou en melankolie na afloop van die traumatiese verlies van ’n verlore liefdesobjek. In my animasies beklemtoon ek (deur herhalende en afwisselende rame) dat die toestand van melankolie nimmereindigend kan wees.

 

Bibliografie

American College of Obstetricians and Gynecologists. 2015. http://www.acog.org/Patients/FAQs/Prenatal-Development-How-Your-Baby-Grows-During-Pregnancy (22 Junie 2016 geraadpleeg).

American Pregnancy Association. 2017. http://americanpregnancy.org/pregnancy-complications/miscarriage (12 Januarie 2017 geraadpleeg).

Bavestrello, G., C. Sommer en M. Sarà. 1992. Bi-directional conversion in Turritopsis Nutricula (Hydrozoa). Scientia Marina, 56(2–3):137–40.

Benediktsdóttir, H. 2014.The impact of fairy tales. An exploration of the relationships of parents and children in selected fairy tales. BA-skripsie, University of Iceland, Haskoli Islands.

Bennett, S.M., B.T. Litz, B.S. Lee en S. Maguen. 2005. The scope and impact of perinatal loss: current status and future directions. Professional Psychology: Research and Practice, 36(2):180–7.

Beutel, M., R. Deckardt, M. von Rad en H. Weiner. 1995. Grief and depression after miscarriage: their separation, antecedents, and course. Psychosomatic medicine, 57(6):517–26.

Bourne, S. en E. Lewis. 1991. Perinatal bereavement: a milestone and some new dangers. British Medical Journal, 302:1167–68.

Bowlby, J. 1980. Attachment and loss, volume 3. Loss, sadness and depression. New York: Basic Books.

Bowles, S.V., L.C. James, D.S. Solursh, M.K. Yancey, T.D. Epperly, R.A. Folen en M. Masone. 2000. Acute and post-traumatic stress disorder after spontaneous abortion. American Family Physician, 61(6):1689–96.

Brier, N. 2008. Grief following miscarriage: a comprehensive review of the literature. Journal of Women’s Health, 17(3):451–64.

Brody, J.E. 2015. When grief won’t relent. https://well.blogs.nytimes.com/2015/02/16/when-grief-wont-relent/?_r=0 (3 Junie 2016 geraadpleeg).

Butler, J. 1997. Excitable speech. A politics of the performative. New York: Routledge.

Carhart-Harris, R.L., H.S. Mayberg, A.L. Malizia en D. Nutt. 2008. Mourning and melancholia revisited: correspondences between principles of Freudian metapsychology and empirical findings in neuropsychiatry. Analysis of General Psychiatry, 7(9). https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC2515304 (30 Junie 2015 geraadpleeg).

Cassidy, J. en P.R. Shaver (reds.). 1999. Handbook of attachment: theory, research, and clinical applications. New York: Guilford.

Cherry, K. 2016. Fixation meaning. https://www.verywell.com/what-is-a-fixation-2795188 (24 Januarie 2016 geraadpleeg).

Chodorow, N. 1978. The reproduction of mothering: psychoanalysis and the sociology of gender. Berkeley: University of California Press.

Crisp, T. 2010. Dream dictionary. http://dreamhawk.com (3 Februarie 2016 geraadpleeg).

De Beauvoir, S. 1949. The second sex. Londen: Vintage.

Deegan, M.J. en M.R. Hill (reds.). Women and symbolic interaction. Winchester: Allen & Unwin.

Derrida, J. 1997. The politics of friendship. Vertaal deur G. Collins. Londen en New York: Verso.

—. 2001. The working of mourning. Onder redakteurskap van P.A. Brault en M. Naas. Chicago en Londen: Chicago University Press.

DerSarkissian, C. 2016. What is normal grieving, and what are the stages of grief? http://www.webmd.com/balance/normal-grieving-and-stages-of-grief#2 (30 Julie 2016 geraadpleeg).

Dickenson, D. en M. Johnson (reds.). 1993. Death, dying, and bereavement. Londen: Open U Press, Sage.

Engelhard, I.M., M.A. van den Hout en A. Arntz. 2001. Posttraumatic stress disorder after pregnancy loss. Analysis of General Psychiatry, 23(2):62–6.

Firestone, S. 1979. The dialectic of sex: the case for feminist revolution. Londen: The Women’s Press Ltd.

Fraley, R.C. en P.R. Shaver. 1999. Loss and bereavement: attachment theory and recent controversies concerning “grief work” and the nature of detachment. In Cassidy en Shaver (reds.) 1999.

Freud, S. en J. Breuer. [1893–1895] 1995. Studies on hysteria. New York: Basic Books.

—. 1917. The standard edition of the complete psychological works of Sigmund Freud, volume 14. Londen: Hogarth Press.

—. [1917] 2001. The standard edition of the complete psychological works of Sigmund Freud, volume 17. Londen: Hogarth Press.

—. 1921. The standard edition of the complete psychological works of Sigmund Freud, volume 18. Londen: Hogarth Press.

—. 1925. The standard edition of the complete psychological works of Sigmund Freud, volume 19. New York: Vintage.

—. 1932. New introductory lectures on psychoanalysis. Vertaal deur W.J.H. Sprott. New York: WW Norton.

—. 1939. The standard edition of the complete psychological works of Sigmund Freud, volume 22. Londen: Vintage and Hogarth Press.

Henderson, D. 2012. Apophatic elements in the theory and practice of psychoanalysis. Pseudo-Dionysius and C.G. Jung. Londen en New York: Routledge.

Horney, K. 1939. New ways in psychoanalysis. New York: W.W. Norton.

Jesudason, E.C. 2011. The epidemiology of birth defects. In Puri (red.) 2011.

Jonte-Pace, D. 2003. Teaching Freud. Oxford: Oxford University Press.

Kaplan, E.A. 2005. Trauma culture, the politics of terror and loss in media and literature. New Brunswick, New Jersey, Londen: Rutgers University Press.

Keefe-Cooperman, K.A. 2005. A comparison of grief as related to miscarriage and termination for fetal abnormality. The Journal of Death and Dying, 50(4):281–300.

Kendall-Tackett, K.A. 2005. Handbook of women, stress and trauma. New York, Hove: Brunner-Routledge.

King, B.J. 2013. When animals mourn. Scientific American. https://www.scientificamerican.com/article/when-animals-mourn/ (3 Mei 2016 geraadpleeg).

Klass, D., P.R. Silverman en S.L. Nickman (reds.). 1996. Continuing bonds: new understandings of grief. Washington, D.C.: Taylor en Franci.

Klier, C.M, P.A. Geller en J.B. Ritsher. 2002. Affective disorders in the aftermath of miscarriage: a comprehensive review. Archives of Women’s Mental Health, 5:129–49.

Koutsompou, V.I. en A. Koutsompou.2015. The concept of death as depicted in fairy tales. International Journal of Languages, Literature and Linguistics, 1(2):154–57.

Kristeva, J. 1989. Black sun: depression and melancholia. Vertaal deur L.S. Roudiez. New York: Columbia University Press.

Kübler-Ross, E. 1969. On death and dying. New York: The Macmillan Company.

Layne, L.L. 1997. Breaking the silence: an agenda for a feminist discourse of pregnancy loss. Feminist Studies, 23(2):289–317.

Lee, C. en P. Slade. 1996. Miscarriage as a traumatic event: a review of the literature and new implications for intervention. The Journal of Psychosomatic Research, 40(3):235–44.

Loewald, H. 1989. Papers on psychoanalysis. New Haven, CT: Yale University Press.

Madison, G. s.j. Bereavement and loss. http://gregmadison.net/documents/Bereavement
%20and%20Loss%20book%20excerpt.pdf
(23 July 2016 geraadpleeg).

Mantel, H. 2003. Giving up the ghost. A memoir. Londen: Fourth Estate.

McMahon, J. 2012. “Freud you’re hysterical!” Connecting the female and the mother into psychoanalysis. Socheolas Limerick Student Journal of Sociology, 4(1):37–51.

Murlikiewicz, M. en P. Sieroszewski. 2012. Acute stress disorder and posttraumatic stress disorder following miscarriage. Archives of Perinatal Medicine, 18(3):157–62.

Nikolakouli, A. 2012. The influence of Sigmund Freud’s theory of dreams on the movement of Surrealism. http://manoeuvresto.blogspot.co.za/2012/03/influence-of-sigmund-freuds-theory-of.html (12 January 2017 geraadpleeg).

Oakley, A., A. McPherson en H. Roberts. 1990. Miscarriage. Londen: Penguin.

Parkes, C.M. 1993. Bereavement as a psychosocial transition: processes of adaptation to change. In Dickenson en Johnson (reds.) 1993.

Penguin Random House. Tony Crisp. http://www.penguinrandomhouse.com/authors/
6023/tony-crisp
(20 Januarie 2017 geraadpleeg).

Pervin, L.A. 1989. Personality: theory and research. Hoboken: John Wiley.

Petchesky, R.P. 1981. Anti-abortion, anti-feminism and the rise of the new right. Feminist Studies, 7:206–46.

Pines, D. 2010. A woman’s unconscious use of her body: a psychoanalytical perspective. Londen: Routledge. Pollock, D. 1997. Origins in absence: performing birth stories. The Drama Review, 41(1):11–42.

Pollock, G.H. 1961. Mourning and adaptation. International of Psychoanalysis, 42:341–61.

Porter, L. 2015. Miscarriage and person-denying. Journal of Social Philosophy, 46(1):597–9.

Puri, P. (red.). 2011. Newborn surgery. Derde uitgawe. Londen: Hodder Arnould.

Reinharz, S. 1987. The social psychology of miscarriage: an application of symbolic interaction and method. In Deegan en Hill (reds.) 1987.

Rich, A. 1976. Of woman born: motherhood as experience and institution. Londen: Vigaro.

Rosenblatt, L.M. 1983. Literature as exploration. New York: Modern Language Association.

Sanchez-Pardo, H. en J.A. Hirschman. 1977. Father-daughter incest. Signs: Journal of Women in Culture and Society, 2(3):735–56.

Simon, R.M. 1997. Symbolic images in art as therapy. Londen en New York: Routledge.

Slobodin, O. 2014. The aborted time: a temporal view on the trauma of pregnancy loss. Depress Anxiety, 3:163.

Stobert, S. en A. Kemeny. 2003. Childfree by choice. Canadian Social Trends, 69:7–10.

Swanson, K.M. 1999. Effects of caring, measurement, and time on miscarriage impact and women's well-being. Nursing Research, 48(6):288–98.

Taylor, M. en M.C. Mottweiler. 2008. Imaginary companions. Pretending they are real but knowing they are not. American Journal of Play, 1:47–54.

The Endowment for Human Development. s.j. Prenatal form and function – the making of an earth suit. https://www.ehd.org/dev_article_unit4.php#fb1 (5 June 2019 geraadpleeg).

Yannakis, D. 2006. Misconceptions: loss and melancholia in poetry of miscarriage, stillbirth and abortion. BA Honneurs-skripsie, Edith Cowan University, Australia.

Zucker, A.N. 1999. The psychological impact of reproductive difficulties on women’s lives. Sex roles: A Journal of Research, 40(9):767–86.

 

Eindnota

1 Stil videobeelde is deur navorser/kunstenaar verskaf. 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top