Tydens ’n glansgeleentheid in Bloemfontein op Saterdagaand 1 Augustus is klarinetspeler, Junnan Sun aangewys as die algehele wenner van die nasionale instrumentale klassiekemusiekkompetisie, ATKV-Muziq.
ATKV-Muziq, Suid-Afrika se grootste en mees toonaangewende klassiekemusiekkompetisie wat onder andere internasionale pianis, Ben Schoeman as algehele wenner opgelewer het, is die ATKV se jaarlikse bydrae tot instrumentale klassiekemusiek in Suid-Afrika. Dit is ’n nasionale klassiekemusiekkompetisie vir jong volwasse musici in die ouderdomsgroep 15-27 jaar. ’n Totale prysgeld van R155 000 word uitgeloof.
Junnan Sun (25) is tans die eerste klarinet(hoofklarinetspeler) in die KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes.
Junnan het die algehele eersteprys van R50 000 ontvang, sowel as die Houtblaaskategorieprys van R10 000,asook het Junnan die prys vir die Beste Vertolking van 'n Barok of Klassieke werk tydens die Finale Ronde ontvang. Laasgenoemde prys ter waarde van R7 500 is aan hom toegeken vir sy vertolking van Mozart se Concerto vir Klarinet in A majeur KV622 - III Rondo.
Vanjaar is vir die eerste keer in die geskiedenis van ATKV-Muziq ’n tweede en derde plek aangewys. Pianis, Megan-Geoffrey Prins het die tweede plek verower en het R20 000 ontvang. Dylan Tabisher(marimba) het R10 000 ontvang as algehele derde plek in Muziq 2015.
Jong volwasse musici vanoor die hele Suider-Afrika is in Mei vanjaar genooi om tydens die eerste ronde teen mekaar mee te ding in verskeie kategorieë, naamlik orrel, klavier, strykinstrumente, blaasinstrumente (hout en koperblaas), en ander instrumente.
Uit hierdie groep deelnemers is die beste een en twintig musici gekies wat aan die tweede en derde (finale) rondes in Bloemfontein die afgelope paar dae deelgeneem het. Na afloop van die tweede ronde is die top ses kandidate aangewys as finaliste. Naas Junnan Sun, Megan-Geoffrey Prins en Dylan Tabisher, was David Bester (viool), Maja van Dyk (altviool) en Amy Stessl (fluit) ook finaliste.
Daar is ook kategoriewenners aan die einde van die tweede ronde aangewys wat nie noodwendig tydens die finale ronde opgetree het nie. Hulle was:
Klavier: Megan-Geoffrey Prins
Orrel: Marnus Greyling
Strykers: David Bester (viool)
Koperblasers: Ryan Kierman (tromboon)
Houtblasers: Junnan Sun (klarinet)
Ander instrumente: Dylan Tabisher (marimba)
Elke kategoriewenner het R10 000 ontvang.
’n Bonusprys van R7 500 word jaarlik toegeken vir die beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede ronde van hierdie kompetisie.
Megan Geoffrey-Prins het vir sy vertolking van P Klatzow se Night Sky, Distant Waters vanjaar hierdie prys ontvang.
Die nasionale Afrikaanse radiostasie, RSG, was vanjaar die mediavennoot van hierdie kompetisie.



