
Foto: Devanath, https://pixabay.com/photos/family-anno-anno-family-19-year-1326418/
Die eerste sin in Leo Tolstoi se roman, Anna Karenina, lui: “Happy families are all alike; every unhappy family is unhappy in its own way.”
..........
Gesinne en hulle uitgebreide families is inderdaad almal gelukkig op dieselfde wyse. ’n Beeld wat my bybly, is dié van ’n ouerige man en vrou wat ná ’n kuiertjie bly waai na ’n motor wat vertrek. Die vrou hou ’n hondjie onder haar een arm en die egpaar waai en waai lank nadat die kar (kinders, kleinkinders?) reeds om die draai verdwyn het. Suburban bliss. Om die een of ander rede stem dié herinnering my droewig.
............
Gesinne en hulle uitgebreide families is inderdaad almal gelukkig op dieselfde wyse. ’n Beeld wat my bybly, is dié van ’n ouerige man en vrou wat ná ’n kuiertjie bly waai na ’n motor wat vertrek. Die vrou hou ’n hondjie onder haar een arm en die egpaar waai en waai lank nadat die kar (kinders, kleinkinders?) reeds om die draai verdwyn het. Suburban bliss. Om die een of ander rede stem dié herinnering my droewig. Gesins- en familiegeluk word ook op die sosiale media geprojekteer. “Vandag is Ouma Lena 95.” ’n Bejaarde vrou in ’n rolstoel glimlag stram; agter haar spog ’n opgetooide tafel met die verjaardagkoek en southappies en ’n personeellid van Huis Silwerblaar glimlag ontfermend in die foto. Kapenaars ken die volgende scenario goed – en dit is wanneer Gautengers see toe kom vir die Desembervakansie. Die opskrif by die talle fotoalbums op Facebook weerklink dieselfde: “Dis lekker by die see.” (Intussen grom die Kapenaars oor die bleddie vakansiegangers wat die paaie blokkeer en die strande bemors.)
Die sosiale media is ’n magtige medium om verlore familielede op te spoor of te versoen – verhale wat die leser ’n traan laat wegpink omdat mense, wat as gevolg van tragiese gebeure en gebroke families vervreemd geraak het mekaar wonderbaarlik gevind het. Afrikaanses hou van gesonde gesinswaardes, die behoud van die nukleusgesin en die groter familiekonteks. Maar dan is daar dié wat in die skadu’s bly en alles op ’n verlangende afstand betrag: die lede van disfunksionele gesinne, die weerloses en kwesbares; die voyeurs van ánder se gesinsgeluk. Hulle kontak hulle familie op Facebook, maar dit eindig nie in gelukkige familie-reünies nie. Hulle roofkyk hulle bloedverwante se foto’s en laai dit in die geheim af. Want dit is hulle virtuele nasate; dit is al wat hulle het. Die boeiende verhale lê egter by hiérdie groep: Dink byvoorbeeld aan groot romans of films – of die aanlyn reekse wat deesdae so mildelik gestroom word. “Disfunksioneel” binne ’n Suid-Afrikaanse konteks moet egter nie verwar word met kommin nie. Daar bestaan ’n legio redes waarom ’n kerngesin of familie kan skade ly of disintegreer. Met COVID-19, die groot gelykmaker, is baie van hierdie (eens gelukkige) kuddes arm, wees of gebroke gelaat. Maar was disfunksionele families nie maar altyd met ons nie?
..........
Maar was disfunksionele families nie maar altyd met ons nie?
...........
*
’n Ope brief aan A
Hy was die adres in die telefoongids. Die reuk van stof en bruinpapier in die grys gange van ’n poskantoor. Ek kon die datumstempels ruik, ek was skaars veertien. Boekpakkies en leeslyste en vroeër die ewig ontwykende poste restante – hy het nie onderhoud betaal nie. Hulle het hom genoem “Meestertjie”, “die profeet” en in ’n meer formele hoedanigheid was hy “doktor X”.
Hy was my oupa.
Maar eintlik wou ek hierdie skrywe ánders begin, gerig aan jou, my niggie A. Jy stuur vir my ’n vriendversoek op Facebook en ek weet dadelik wie jy is. Sou jy van my bestaan bewus wees? Wat is die kans, volgens die wet van waarskynlikheid en tussen 2,3 miljard Facebook-gebruikers, dat jy by my sou uitkom? Of is ons die noodlottige toeval van ambient intelligence – people you may know? Jy is my niggie, al het ons nog nooit ontmoet nie. Jy is ’n naby bloedverwant, so verskriklik naby, en A very close conspiracy flits deur my gedagtes.
Suinig en kosbaar versamel ek my virtuele bloedfamilie: twee ooms, ’n neef en nou jy. Miskien weet jy meer van die familie af as ek. Inteendeel, dit kan nie anders nie. Maar ek dra kennis van die donker voortyd, daardie onstuimige veertiger- en vyftigerjare met sy kraaines van intriges. Want ons voorsate het liederlik drooggemaak. Daar was Meestertjie met sy berugte affair – wat weet jy daarvan? En regte outydse PI’s: “Dr. X is nie weer in die geselskap van dames opgemerk nie. Sy bewegings is beperk tot die lesinglokale en die biblioteek.” Daar was vernietigende hofsake oor die beheer en toesig van die twee kinders, ’n lewenslange nyd wat van kleins af ingegrein is by die tweede en derde geslag. Dit is my hálfbroer en/of -suster. Daar is inherent ’n beletsel op die woorde halfbroer/-suster – niemand verwys tog onder sogenaamde normale omstandighede na ’n “volle” broer of suster nie.
Jy mors nie met JC se dogter nie. Nee, nie met ’n man van sy statuur nie. Hy het gekap na Meestertjie; gedreig om hom, die armgat van Bloemfontein, te verwoes – en Meestertjie het teruggehap na sy magtige skoonfamilie en hulle ’n “spul dom boere” genoem.
Dit is ’n tragedie as jou pa se naweekbeurte doelbewus gesaboteer word tot hy sy kinders, spelend op die gras, gryp, in die Fordjie dwing en terugjaag van Graaff-Reinet af na sy huis in Bloemfontein. Elke pa-naweek was ’n propperse ontvoering. En toe, een Vrydagaand, was die ligte in die gewelhuis in Cradockstraat dood. Die vrou en kinders binne die huis se boodskap was duidelik: rý, jy is nie welkom nie. Nadat die Fordjie lank voor die donker huis gewag het, het dit uiteindelik omgedraai, terug Bloemfontein toe.
Daardie dae was daar nie wetgewing wat geskeide vaders beskerm het as hulle kinders van hulle vervreem word nie – en daar was ook nie wetgewing wat moeders beskerm het in die nie-nakoming van onderhoudspligte nie.
Dit is ’n dilemma as jy skielik op 20 pa word in dieselfde jaar wat jou eie pa weer pa word met die derde kind by sy tweede vrou. En dis ’n ramp as jou seuntjie van drie verdrink, en jy, skaars 23, met ’n wit kissie en donkerbril by die graf staan en vir maande aaneen op jou knieë brul omdat jy weet hoe ’n mens kranksinnig kan raak van pyn. My ma het die epitaaf geskryf: ’n Blommetjie het in die winter geval. Toe raak sy swanger met my. Ek het só hard geskop in haar buik, almal was oortuig dis ’n seun en toe ek gebore is, was my kamer blou geverf.
Meestertjie is in 1950 weg. “Van nou af is dit net ons drietjies,” het my ouma vir my ma en oom gesê. En my oom, toe 9, het geantwoord: “Van nou af is ek die man in die huis. Ék sal die water lei.”
’n Fragment uit ’n gedig, lank gelede:
Waarom is plekke van afskeid so koud? Sy onthou die stasie,
sy rug kwesbaar maar verbete
met die wegstap, sy jaspunte slaan hoeke,
die koue rek ruimte en klanke
en duiwe vlieg klingelend op
sy hardloop deur die strate, eet ontsteld
deur stof en spinnerakke in haar oupa se wingerd
kristaldruiwe, doppertjies, pere soos goue klokke, adamsvye
maar alles doof geleidelik uit,
die stoomtrein se dowwe galop,
die posbus skemer en ongesê,
sy buitelyne rokerig en amorf
tot eindelik net die heimwee in sagte pedaal
diminuendo bly: “Pappa, stuur die onderhoud.
Asseblief, Pappa, onthou.”
Maar terug na Meestertjie se briewe.
.........
Een somersdag in 1986 het ek sonder enige twyfel geweet dat my oupa nog leef, al het almal my probeer oortuig dat hy lank gelede oorlede is aan ’n hartaanval. Mense se siele voel, herken mekaar.
.........
Een somersdag in 1986 het ek sonder enige twyfel geweet dat my oupa nog leef, al het almal my probeer oortuig dat hy lank gelede oorlede is aan ’n hartaanval. Mense se siele voel, herken mekaar. Ek het doodeenvoudig die telefoongids oopgeslaan, sy adres in Pretoria neergeskryf en in die geheim met hom begin korrespondeer. Dit is aardig om ’n brief aan ’n man te skryf en te begin: “Beste dr sus-en-so, ek is jou kleindogter en-en-en.”
Meestertjie was oorstelp van vreugde. In ’n aparte koevertjie het hy R30 ingesluit – “Vir lekkers”. Ek het hom nooit ontmoet nie, maar hom leer ken; ek het hom ontrafel soos ’n diepsinnige en komplekse gedig, soos die dramatiese punte aan die einde van sy sinne. Hy het nooit met my gepraat asof ek ’n kind is nie, maar ’n volwassene, sy gelyke. Die eerste woord in sy briewe wat ek moes naslaan was “stoïsyns”. Ek kon my enigiets verbeel. Hy het my vertel dat hy ’n glaskas in die middel van sy sitkamer het waarin hy al my briewe, foto’s, skryfwerk, spotprente, asook die briefies van sy eerste twee ontheemde kinders bewaar. Sy vrou en ander kinders mog dit nié gelees het nie – net hy het toegang tot die kas se sleutel gehad. Dit was wonderlike nuus. Maar natuurlik het ek hom nie geglo nie, met die dunvellige ou korrelkop het ek nooit geweet waar die werklikheid geëindig en fiksie begin het nie.
Dit was alles waar. Met sy afsterwe in 1991 kon sy kinders nie vinnig genoeg op die glaskas toesak en die briewe onderskep nie. Tog dink ek aan die familieverhaal as die een of ander apokriewe geskrif met ánder mense se verledes; ’n gesiglose skrywer het dit geskryf terwyl die noodlotsregisseur die groter draaiboek bly dikteer. Meestertjie het nooit weer kontak met my ma en oom gehad nie. Die stamboom het seergekry; die wortels verwond en die bas geskaad in kwaste en littekens en die verknotting van sytakke.
Waarom vertel ek jou al hierdie dinge, A? Dalk om iets te verduidelik van hierdie weird & wonderful & disfunksionele kudde van ons. Jy is ’n Facebook-fantoom, deels ’n figment van my verbeelding, dalk fiksie, maar jy is méér eg of waar as iemand wat ek in lewende lywe sou ontmoet. Nuuskierig volg ek wat julle familie doen: Het jy my gedig, skildery, song gesien? Kyk hoe speel ek kerkorrel, sax, trompet. Kyk. Ons beloer mekaar op ’n virtuele afstand. Julle talentvolle donners. Genetika is baie spesifiek; daar is dieselfde sterk kneukellyn in ons hande, gebore om te boks of klavier te speel. Ons broei met dieselfde horingbekke en versamel foto’s van sneeu. Ja, winter is ’n gemoedstoestand, véél meer as bloot ’n seisoen.
...........
Kyk. Ons beloer mekaar op ’n virtuele afstand. Julle talentvolle donners. Genetika is baie spesifiek; daar is dieselfde sterk kneukellyn in ons hande, gebore om te boks of klavier te speel. Ons broei met dieselfde horingbekke en versamel foto’s van sneeu. Ja, winter is ’n gemoedstoestand, véél meer as bloot ’n seisoen.
............
Toe my familie uitvind ek korrespondeer met Meestertjie, was die hel los. En om alles te kroon, het ek, soos die jare begin aanstap, al meer soos hy begin lyk. Ek het sy maniertjies geërf. As ek vinnig ’n vertrek binnegekom het, het hulle hulle asem ingetrek. Ja, ek het met die sondebok se gesig rondgeloop en is dikwels uitgetrap omdat ek kwansuis soos “hy” is. Moenie jou oë toemaak as jy praat nie. Moenie. Aanvanklik het dit seergemaak; later het ek begin lag, alles sardonies bejeën en soos ’n hofnar die troefkaart gehou. Hulle wou Meestertjie dood verklaar, maar sy spook het hulle bly volg. Elke familie het sy sondebok, ’n individu wat die skuld namens die kollektief moet dra. Uiteindelik het dit vir my duidelik geword: (1) Die sondebok is gewoonlik onskuldig en moenie met die begrip swartskaap verwar word nie. (2) Want as die sondebok skuldig is, is daar geen katarsis in die boetedoening vir die kollektief nie. (3) Die sondebok beskik oor ’n sekere kwesbaarheid. (4) Die sondebok is meer empaties as die res van die familie. (5) Die sondebok is ’n sterk spesimen (dit is antropologies ook waar), daarom word hy letterlik of figuurlik die woestyn of wildernis ingedryf om die blaam namens die ander te dra.
Ek het die briewe geseël met ’n lint – die ouwêreldse manier. Dit was my volle erfenis; nie veel nie, maar dit was my alles. Een foto van Meestertjie wat hy spesiaal by ’n professionele fotograaf in ’n ateljee laat neem het, kompleet in ’n donkerblou driestukpak om by die kleur van sy oë te pas. Die nota agterop: “Dis hoe ek lyk, nes my bulhond, Rex. Vergewe maar die geswelde ou gesig. Dis van die chemoterapie.”
Een dag het ek die onsigbare grens tussen ons oorskry. Ek het na sy huistelefoon gebel. Sy vrou het geantwoord en ek het hom ontsteld hoor skree in die agtergrond; die foon blitsvinnig doodgedruk. Vir weke was daar geen pos van hom nie. En ek het soos die dogtertjie in 1950 tevergeefs in die posbus bly kyk, gewag ... Toe, uiteindelik, arriveer daar ’n kort briefie van sy vrou. Meestertjie het stokdoof geword, het sy geskryf. Hulle sou my graag wou ontmoet, maar met die doofheid sou dit ’n verleentheid vir hom wees. Ja, die ou man was my dowe klankbord, die een wat die fynste geluister het na wat ek probeer sê.
Sy briefie het eers in Augustus gekom, teatraal aangewarrel soos blare of sade en asof niks gebeur het nie. Hoe vorder jy met jou leeslys? (As deel van my “opvoeding” het hy een maal ’n maand vir my ’n rits boektitels gestuur wat ek moes lees en met hom moes bespreek.)
’n Vader, of ’n grootvader, is ’n biologiese konstruk. ’n Oupa of pa is die man met wie jy herinneringe maak. En voordat jy sê ... Meestertjie was my religie. Ek moes hom maak bestaan. Ek was bereid om hom met my bloed te verdedig. Die oggend van sy begrafnis het die voëls nie gesing nie. Ek het bly dink aan sy afgetakelde lyf wat in die koue, klam aarde slaap, asof hy bloot wag om sy oë oop te maak. Waarvan sou hy droom? Dat hy weer jonk is en herenig word met sy twee blondekopkindertjies? Die vader weet hy het baklei vir hulle. Later in ’n kamer geëindig, brandarm: Met ’n akademikus se salaris kon hy nie staande bly teen sy skoonpa se geld en mag nie en verál nie sy wraak nie. Deel van die strategie met die sloerende hofsake was om hom flou te speel en finansieel te ruïneer. Hy het ontvlug in sy studies, vir bloujare bly studeer en later nooit meer uit sy studeerkamer gekom nie en erg aan Weltschmerz begin ly.
...........
Ek was toe 19. Na die diens het ek op my bed gaan lê en gehuil. Eers met my wang sywaarts op die kussing. Jy kan met een oog huil, soos ’n sikloop. Huil in reliëf, soos ’n sfinks. Huil met jou kop tussen jou hande terwyl die trane bidsnoere maak om jou polse.
............
By sy begrafnis het my ma vir die eerste keer haar halfsibbe ontmoet. Ek was toe 19. Na die diens het ek op my bed gaan lê en gehuil. Eers met my wang sywaarts op die kussing. Jy kan met een oog huil, soos ’n sikloop. Huil in reliëf, soos ’n sfinks. Huil met jou kop tussen jou hande terwyl die trane bidsnoere maak om jou polse. Ek het my verbeel dat ek ’n fynproewer van verdriet en trane is, soos fyn kristal, en iets begin snap van die genot in pyn à la Freud.
Oupa is die sagste woord in Afrikaans. En terwyl ek treur oor die man wat ek nooit geken het nie, weier sy twee oudstes om hulle ID’s vir die afhandeling van die boedel te gee. Die leedvermaak. Die wraak het nie opgehou nie. Nee, aan die konflik en pyn was daar nie ’n einde nie.
En hier is ons nou, A, meer as 70 jaar later, die virtuele nasate. Jy weet, as bome groei raak hulle krone nie aan mekaar nie. Die fototrope verdring mekaar nie, maar kronkel diskreet opwaarts. Die stamme leef naas mekaar, nie ten koste van mekaar nie. Ek het al so dikwels vir jou geskryf, soos hiérdie brief ook, maar nooit die send-knoppie gedruk nie. Die intiemste verhoudings bly tussen vreemdelinge.
Want die vrede is te broos.


Kommentaar
Hoe totaal en al verruklik is hierdie skreiende, skone ode. Dankie, by herhaling.
Ongelooflik roerend, Nini, briljant!
Dit is ’n verskriklike en hartroerende mooi storie. Ek sien en ruik die ou briewe en sien vir Meestertjie, want daar is baie .....
Dankie vir hierdie wonderbaarlike helende skrywe.
Ek kan my daarmee vereenselwig – op vele vlakke.
Wonderlik en so aangrypend Nini! Baie dankie hiervoor. Dit het my diep geraak.