
Alan Committie en Sharon Spiegel-Wagner in Same time, next year. Foto: Claude Bernardo
Same time, next year
Met: Alan Committie en Sharon Spiegel-Wagner
Deur: Bernard Slade
Regie: Christopher Weare
Stel-ontwerp: Niall Griffin
Twee uur, met 20 minute pouse
Ek weet nie wat my oog eerste gevang het nie: die feit dat Alan Committie weer die hoofrol speel en sy vorige ernstige teaterrolle my voete onder my uitgeslaan het, of die feit dat die toneelstuk ’n Tony-toekenning agter sy titel kan skryf en boonop deur Bernard Slade geskryf is en ’n lang speelvak op Broadway gehad het nie.
Hoe dit ook al sy, ek was omtrent voor in die koor toe kaartjies beskikbaar gestel word vir Same time, next year by Theatre on the Bay.
Dit word deur Pieter Toerien en Gloucester Productions aangebied.
Die storielyn lyk op die oog af eenvoudig: ’n Reisende getroude man, George (Alan Committie) en getroude vrou, Doris (Sharon Spiegel-Wagner), wat van haar skoonmakuier ontsnap (nie met mekaar getroud nie) ontmoet mekaar een aand in ’n restaurant, beland saam in die bed en besef die volgende oggend dat hulle eintlik baie gemaklik in mekaar se geselskap is. Hul eggenote en kinders is ver weg en vir ’n paar gesteelde ure kan hulle net gesels, lag en van al hul kwellinge vergeet.
’n Naweek saam in dieselfde hotelkamer word ’n jaarlikse instelling. Tussen die jare, wat op ’n reusekalender afgetel word, is daar klein video’s waar dié twee in die mode van die era, op die musiek van daardie era, dans en perkaatse maak.
.....
Onskuldige pret deur twee verantwoordelike volwassenes – of dis hoe dit lyk. Niemand kry mos regtig seer deur hul affair nie en niemand gaan ooit uitvind nie.
.....
Onskuldige pret deur twee verantwoordelike volwassenes – of dis hoe dit lyk. Niemand kry mos regtig seer deur hul affair nie en niemand gaan ooit uitvind nie.
Deur George en Doris se vertellinge oor hul lewens tuis kry jy ’n goeie indruk van hoe hul huwelike en ouerskap verloop. George is in die eerste helfte van die toneelstuk lomp en baie snaaks en Doris geniet sy naïwiteit. Hy blyk die teenoorgestelde van haar wederhelf te wees. Jy kry die idee dat die sorgeloosheid van hul saamwees vir haar ’n welkome blaaskans bied van die skynbaar saai voorstedelike bestaan wat sy in die tagtigs en negentigs saam met haar man voer.
George is ’n toegewyde pa en wil selfs by een geleentheid huis toe gaan omdat sy dogter ’n tand wissel en hom bel om te vra of die tandemuis sal verstaan hoe dié dinge nou eintlik werk.
Aanvanklik praat hulle oor hul skuldgevoelens – dalk is dit omdat Doris dink George is dalk Joods, dalk omdat sy Rooms-Katoliek is – maar skuld is daar oorgenoeg van.
Elke jaar vertel hulle mekaar iets negatief en iets positief van hul eggenote, en soos die jare aanstap, kom die besef dat hulle albei eintlik baie verknog aan hul lewensmaats is en selfs die negatiefste negatiewe nie waarlik ’n krapperigheid veroorsaak in hul huwelike nie, maar eerder met ’n mate van vertedering van vertel word.
Pouse breek aan en die lighartige vermaak sit jou bors vol. Die klets met ou vriende in die foyer en die lekker glas rooiwyn maak jou dankbaar dat jy die sitkamerbank en Netflix verruil het vir ’n aandjie uit. Buite die teater hang ’n volmaan oor die berg en die seelug kom tiekiedraai in die foyer.
Die ligte doof vir die tweede helfte. Die atmosfeer is anders toe George inkom, nou in die sakkerige streeppak van die laat negentigs, sy hare effens dunner en gryser. Doris het intussen as volwassene begin studeer; haar belangstelling in politiek is vurig en sy staan op haar sieninge en standpunte.
.....
Een ding op die ander bring ’n dieper dimensie na die aanvanklike onskuldige pret in ’n hotelkamer, en die besef dat hierdie twee mense mekaar eintlik innig liefhet en baie goed ken, bring ’n klankie van huweliksverraad teweeg.
.....
Albei is ouer en wyser. Albei se drome effens gewysig van hul twintigerjare.
Een ding op die ander bring ’n dieper dimensie na die aanvanklike onskuldige pret in ’n hotelkamer, en die besef dat hierdie twee mense mekaar eintlik innig liefhet en baie goed ken, bring ’n klankie van huweliksverraad teweeg. Die prentjie is nie meer so rooskleurig nie; hulle weet dat wat hulle doen, verkeerd is en dat dit gevolge het.
Ek dink dis die program se beloofde “skreeusnaakse romantiese komedie”-bewoording wat my effe van balans gegooi het in die tweede helfte. As ek dit nie raakgelees het nie, sou ek dalk anders oor die toneelstuk gevoel het.
Alan Committie se toneelspel is nog net so in die kol soos waarvoor ek hom in ander stukke bewonder het, en Sharon Spiegel-Wagner is sy gelyke op elke vlak. Maar die toneelstuk is nie meer romanties, ’n komedie of skreeusnaaks nie. Dis verbysterend eerlik en eg. Dit grawe in jou binneste en rafel ’n garedraadjie los wat jou tot introspeksie dwing. Die boodskap van mense wat in hul middeljarigheid by mekaar verbygroei, is net te naby aan jou eie vriendekring se seer, en skielik is die ligtheid van die eerste helfte met ’n somberheid vervang. Selfs die paar keer wat daar komiese oomblikke is en mense lag, is die warm gevoel in jou bors nou deur benoudheid vervang.
.....
Maar die toneelstuk is nie meer romanties, ’n komedie of skreeusnaaks nie. Dis verbysterend eerlik en eg. Dit grawe in jou binneste en rafel ’n garedraadjie los wat jou tot introspeksie dwing.
.....
Die stuk bied egter steeds – soos die program belowe het – ’n genotvolle aand in die teater. Dis net ongemaklik as teater te naby loop aan die middeljarige werklikheid waarvan ons elke dag probeer ontsnap.
As jy egter jou eie sorge buite die teaterdeure kan laat, sal dié stuk vermaak, verbyster en verbaas. Goeie akteursvernuf, goeie regie en ’n oorbekende, gemaklike dekor maak dit realisties en geloofwaardig.
- Same time, next year is van 30 Augustus tot 16 September 2023 by Theatre on the Bay die planke.
Vertonings is om 20:00; Saterdagmiddagvertonings om 15:00. - Kaartjies deur Webtickets by www.webtickets.co.za (https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1531650809) of Theatre on the Bay, (021) 438-3300/1.
- Geen onder 16’s.

