Vir God is daar geen sonde nie – deel 2

  • 9

Geliefde Broers en Susters in Jesus Christus

Ek skryf hierdie brief net namens myself. Koos se boerdery hou hom te besig, maar ons kommunikeer nog steeds, en stem nog steeds saam.

Ek wil almal wat terugvoer gegee het oor ons eerste brief, van harte bedank. Ek waardeer elke kommentaar en elke stukkie kritiek. Dit het my laat groei, beter laat verstaan wat vryspraak beteken. Dit verbaas ons nie dat die aard van die terugvoer omvattend is en grootliks varieer nie. Ek is verlig om te rapporteer dat niks wat ek gelees het, my noop om enigiets wat ons in die eerste stuk gesê het, terug te trek nie. Ek wil inteendeel uitbrei daarop en alles bevestig.

..........
Ek is verlig om te rapporteer dat niks wat ek gelees het, my noop om enigiets wat ons in die eerste stuk gesê het, terug te trek nie.
..........

Eerstens net kortliks: Met die skryf van hierdie stuk het die Protea-vroue, met Marizanne Kapp in die span, deurgedring na die T20 Wêreldbeker-finaal teen Australië. Dis die eerste keer dat die Protea-vroue dit regkry. Dit wat God laat gebeur, en hoe Hy hulle seën, is meer en groter as wat ’n mens jou in jou grootste drome kan voorstel.

Iemand skryf vir Koos: “Koos, ek het nie woorde nie – meesterlik, waarheid, voedsel vir die gees. Jannie skryf baie goed ek dink daar is ook mense wat kan kwaad word maar dit was van die begin af so.” Ek laat weet toe vir Koos: “Prys die Here-Here-Gees, Koos, ons het gedink en geskryf soos Hy ons lei. Laat ons dus bemoedigend voortgaan om Jesus se wonderlike vryspraak en vryheid te verkondig.”

Op Maandag 12 Februarie stuur ek die stuk in LitNet toe, en intussen is dit gepubliseer.

Ek het ook, om die teologie van ons argumente te laat ondersoek, ons stuk vir ’n ander kosbare weermagvriend gestuur: ’n predikantsvriend wat vir baie jare ’n sendeling in Soedan en Mosambiek was. Koos, terloops, laat weet my dat Herman per geleentheid in ’n tronk in Mosambiek was vir sy geloof.

Ons wag toe in spanning op sý terugvoer.

Hoe heerlik toe sy stemboodskap deurkom: Hy het die stuk gelees en dink dis goed dat gelowiges diep nadink oor die Woord en die Here, en hy’t ons stuk geniet. Kritiek: Ons eerste paragraaf is te konfronterend. Wil ek nie die gedeelte van Jesus se vryspraak van die ontugtige vrou bysit nie?

Ek maak so.

Ek stuur sy láng stemboodskappe vir Koos.

“Jo, Jannie, is dit nie wonderlik nie! Loof die Here Jesus ons Here! Seën vir Herman.”

Ons gaan bemoedigend voort.

Koos stuur ’n boodskap: “Môre, Jannie. Ons beroep ons op die ‘vryspraak’ van Jesus. Soos baie temas in die Bybel is ons s’n ook aanvegbaar. Ek voel net, die ‘waarheid’ is in ons siening.”

Ek laat weet terug: “Net so, Koos. En hoe meer mense van ons verskil, hoe dieper moet ons delf in die belofte van vryspraak, en hoe groter word die wonder, en hoe kragtiger die belofte en die effek daarvan in ons lewens. En ons het maar nog net begín om daaroor te praat, te dink en te skryf. Ons gaan nooit weer ophou nie! Hoe seën God ons nie, Koos Becker!”

Om die een of ander rede lees ek Romeine 3–5 en laat weet vir Koos: “Koos, gaan lees bietjie Romeine 3:9–5:11. Ons stuk sê in essensie presies dieselfde dinge as wat Paulus daar sê.”

Ek wil lesers vra om dit te gaan lees. Dit kom op die volgende neer:

  1. Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Dít sê ons ook in ons eerste stuk. Ons beskou onssélf tog duidelik ook as sondaars, en melaats.
  2. Romeine 3:21 begin met twee wonderlike woorde: “Maar nou …” Nie môre nie, nie tydelik nie, nie eers as Jesus weer kom nie, nóú. “Maar nou”, sê my Verklarende Bybel, dui die groot keerpunt aan: “Waar die mens se paaie doodloop en hy niks meer oor het as skuld en wanhoop nie, gryp God in en skenk Hy vryspraak, dit wil sê spreek Hy die mens vry, verklaar hom regverdig.”
  3. Romeine 4:5 lyk vir my na dié vers wat ’n mens vryspreek van die werke: “Maar die mens wat nie op wetsonderhoudings staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur die geloof.” Vers 14 gaan verder: “As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die gelofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor en die belofte sy krag.” Toe ek dít lees, vervul ’n groot dankbaarheid my. Hoe meer ’n mens glo, en hoe minder jy dóén, hoe sterker raak die belofte, en hoe kragtiger.
  4. Romeine 5:1 bevestig wat ons sê: “God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” Dan vers 2: “Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry vir hierdie genade waarin ons nou vasstaan.”

Ek stuur ook vir Koos weer ’n gedig van SJ Pretorius en laat weet vir hom: “Koos, hierdie gedig, waarin jy vir my die beeld van die aandblom as Heilige Gees wonderbaarlik ontsluit het, kry vir my nog dieper betekenis:

Aandblomme by Postmasburg

Teen die aand het ons uitgegaan
diep in die jonasrante om die dorp
tussen die swart haak-en-steek,
in ’n gebied
so hard soos die onmenslikheid van die wêreld se verdriet,
so onherbergsaam soos die geluk wat die hart steeds ontloop,
so arm soos ons menslike tekort (die grond van ons tragedie),
so dor soos die dors van ons hopelose hoop,
so wyd soos die onpeilbaarheid van ons pyn,
so troosteloos soos die vooruitsig op ons aller dood,
so raaiselagtig soos al die vrae waarin ons denke verdwaal,
so afwysend soos die groot bestek van dinge waar ons harte
vergeefs na liefde en vervulling smag,
so vervalle soos die brokkelige ruïnes van die verlede,
gebroke klipgesigte, haasbekke, spoke van drome,
so onseker soos die toekomsgrond
wat fel verbeeldingskimme kweek
wat in die werklikheid verbleek ...

Uit hiérdie land het ons hul sag en héél gehaal
en in die holte van ons hande
gehou en teen ons bors gedruk
en in ons huise in gedra, om te straal
en te geur, ’n onbegryplike, ongelooflike geluk.

Is hierdie gedig nie onbeskryflik mooi nie? “… en teen ons bors gedruk en in ons huise in gedra, om te straal en te geur, ’n onbegryplike, ongelooflike geluk.”

Koos stuur nóg een, en sê hy stoor dit onder “Foto van die Heilige Gees”:

Die Heilige Gees, soos die ragfyne dwergklokkie-plantjie, breek klippe in stilte. Hoe kragtig, hoe elegant, hoe wondermooi! Dit laat my dink aan Esegiël 36:26: “En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee.”

Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

Op Vrydagoggend 17 Februarie lees ek Romeine 1–5 in die Ou Afrikaanse vertaling, en vind die gedagtes en vryspraak nóg meer gespierd en kragtig.

Toe ek by die werk kom, wag daar vir my ’n e-pos van twee van my dierbare vriende – ’n afgetrede egpaar. Ek het jare gelede saam met hulle skoolgehou en is vir hulle baie lief. Ek het vir hulle ook ons eerste brief gestuur. Ek weet nie hoekom nie. In hierdie verband deel ek graag met julle ’n skakel waarin ek beskryf hoe ek God se leiding van oomblik tot oomblik ervaar en volg:

Louter handeling vir alle Christene: dans, plavei en Van Gogh se Die sterrenag

Onthou ook dat ons in ons eerste brief gesê het ons kan, soos die melaatses by die poort, nie swyg oor die verlossing van die beleg van die wet nie.

Ek sal hulle Barry en Sanet noem.

Ek dink dis die moeite werd, selfs belangrik, om die hele brief hier in te sluit:

Jannie en Koos,

Ons het julle briewe gelees en wil graag antwoord met ’n paar gedagtes.

Soos ek reeds gesê het: Ons glo onwrikbaar in die Woord soos dit geskrywe staan. Ons kan nie ons siening aanpas by teologiese sienings, wêreldgebeure, die grondwetlike regte van mense of die media nie, want ons is wel in die wêreld maar nie van die wêreld nie. Julle beskou ons as medegelowiges en volgelinge/dissipels van Jesus Christus en uiteraard dan ook die evangelie soos deur Hom, Paulus en die ander apostels oorgedra word.

Ons wil dus graag julle interpretasie van die volgende skrifgedeeltes hoor:

1. 1:18–32
2. 5:16–26
3. 21:6–8
4. 22:10–21

As julle dit lees neem in ag dat ons glo dat die 66 boeke van die Bybel elkeen ’n unieke boodskap het wat as geheel gelees moet word en elke leser moet deur die Gees van waarheid (1 Joh. 4:6) gelei word om die volgende te bepaal:

1. Wie het dit geskryf,
2. vir wie is dit geskryf,
3. onder watter omstandighede was die hoorder en die skrywer,
4. en, heel belangrik: wat is die boodskap wat ek daaruit moet leer.

Baie groete.

Ons sien uit om van julle te hoor.

Barry en Sanet

Omdat ek juis die oggend Romeine 1 gelees het, weet ek wat daar staan, en skrik ’n bietjie. Ek voel geoordeel. Onder die opskrif “Die sonde en straf” beskryf Paulus ’n orgie van sonde en oordeel. Gaan lees gerus die hele hoofstuk. Ek sal net verse 31–32 aanhaal:

“[…] hulle is onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig. Hulle is mense wat die hele verordening van God ken dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.”

Ek stuur ’n e-pos terug:

Liewe Barry

Baie dankie – ons kyk graag daarna.

Voorlopig wil ek vra hoekom ons by Rom. 1:32 moet stop – hoekom nie Rom. 2–5 insluit nie?

Met vriendelike groete,

Jannie

Want ek weet – en julle weet, liewe broers en susters in Jesus Christus – dat hierdie hoofstukke grootliks oor vryspraak handel. En Romeine 2:1 lui boonop: “Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat ’n ander oordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor ’n ander ’n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge.”

Ek gaan lees ook Galasiërs 5:16–25, soos hulle gevra het. Die praktyke van die sondige natuur: “[...] onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap […] Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis kry nie.” Toe Openbaring 21:8: “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.” Toe Openbaring 22:14–15: “Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en almal wat valsheid liefhet en doen.”

Twee dinge is onmiddellik vir my duidelik. Die eerste is dat Barry en Sanet daarop aandring dat die Bybelboeke as geheel gelees moet word, maar self vra hulle ons om net gedeeltes daaruit te lees. Hulle reaksie op ons brief is grootliks bloot die aanstuur van dreigende, veroordelende gedeeltes uit die Bybel.

Die tweede is onvermydelik dat hulle ons brief gelees het, en nou besluit het dat ek en Koos onsedelikheid, onreinheid, ensovoorts predik. En dat ons met vuur en swael gaan brand as ons nie ons klere gaan was nie. Dit maak my diep dankbaar vir dié sinnetjie in ons eerste stuk: “[…] en ons wil niemand aanstoot gee of tot sonde verlei nie […]” Dalk is dit die belangrikste sin daarin.

Waarvoor ek hulle ewig dankbaar sal wees, is hulle aandrang dat Bybelboeke in die geheel gelees moet word. Nou gaan lees ek, soos hulle aanbeveel het, die hele Romeine. Dit adem vryspraak.

Koos stuur weer ’n vers, 1 Johannes 1:8–9: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

“Môre Jannie. Seker van ons sterkste teenspraak.”

Koos stuur ook ’n boodskap van een van sy vriende: “Weet nie wie jou vriend is nie, maar klink of hy met ’n wetenskaplike se ontledende brein na sonde probeer kyk (het)! Dan loop jy jou gou vas! So wie is God sónder ons sonde? Het Hy dan nog bestaansreg? […]”

Ek verwonder my dat Koos se vriend vra wie God sonder ons sonde sou wees. So asof God afhanklik van ons is om sonde te doen. God voed, teer en floreer op ons sonde? Dat God sou ophou bestaan as ons sou ophou sonde doen? Kan dit regtig wees dat hy dit bedoel het?

Ek het nog nooit van groter snert gehoor nie.

Ek laat weet vir Koos:

Goeiemôre, Koos.

Dis altyd vir my lekker om vir Koos te groet. Ek het al by hom gaan kuier en op daai Kalahari-duine geloop. Ek dink altyd aan hom daar op sy plaas, en wens ek kon by hom wees. Ek wil ook altyd weet of hy reën gehad het. As dit by Koos-hulle gereën het, vervul ’n groot dankbaarheid my en dank ek die Here.

Ja, die teenargumente is wonderlik en sterk, en dwing ons terug Skrif toe. […] Om te sê my argumente is wetenskaplik, hou nie water nie. Is God nie juis die grootste wetenskaplike, wat die wette van die natuur geskep het, én toe daarvolgens die heelal geskep het nie?

Romeine het al die antwoorde en verse, Koos. Ek gaan ’n tweede brief begin en aanstuur. Intussen net kortliks ’n dodelike (wetenskaplike) stuk logika in drie klinkklare verse, wat finaal afreken met die sonde.

Ons weet net wat sonde is omdat daar ’n wet was, soos daar in Romeine 3:20 staan: ‘Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is.’

Sonder die wet sou die konsep van sonde nooit bestaan het nie, sou ons nie eers daarvan geweet het nie. In dieselfde vers ook dat geen mens op grond van wetsonderhouding vrygespreek word nie. Rom. 4:15: ‘Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ’n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie.’

Dan Romeine 10:3: ‘Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry.’ Vers 4 is vir my as deurtrapte, magtelose sondaar, wat soos ’n drenkeling aan Jesus vasklou, die mees fantastiese vers in die héle Bybel: ‘Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek word.’ Ou vertaling: ‘Want Christus is die einde van die wet tot regverdigheid van elkeen wat glo.’ NLT: ‘For Christ has already accomplished the purpose for which the law was given.’ Ou Hollandse Bijbel: ‘Want het einde der wet is Christus, tot rechtvaardigheid een iegelijk die gelooft.’

Koos, die belofte raak almaardeur kragtiger vir my, en laat my uitjubel teenoor ons Here Jesus Christus: Die wet en sonde bestáán nie meer nie, Koos Becker!!!

Later laat weet Koos: “Jannie, die ergste vir my is: Almal verdedig die sonde, ons klem val eintlik op ‘die vryspraak in Jesus ons Here’. Dié mense wat ons nie aanvat nie sien, het die ‘vryspraak’ ervaar.”

Ja, Koos Becker. Mense probeer ons terugdwing onder die wet.

Dis die één ding wat ons nie kan toelaat nie.

Al dreig Barry en Sanet ons met die helse vuur. Ek voel ’n diep dankbaarheid teenoor hulle omdat hulle hierdie verse vir ons gestuur het, want ook dáárdeur kon ek werk en weereens by Jesus se vryspraak uitkom.

In Romeine 6:23 staan dit immers duidelik: “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”

Ons is ook op pad hemel toe – uit genade, nie uit verdienste nie.

Ek het ook die een en ander op die hart oor die belydenis van sonde. Soos wat Koos opgemerk het, kan die reaksies op ons vorige brief in twee groepe verdeel word: dié wat saamstem en dié wat (radikaal) verskil. Ons hoor gereeld van een spesifieke vers: 1 Johannes 1:8–9, wat ek vroeër aangehaal het.

Broer Francois, vir wie ek ook baie lief is, is baie heftig hieroor: Die Christen moet “repent”, sê hy, en dáágliks.

Ek wil puntsgewys hierop antwoord, want ek is oortuig daarvan dat die antwoord hierop redelik eenvoudig is – solank ’n mens skrifgetrou bly. Ek wil natuurlik nie aanspraak maak dat ek 100% daarin slaag nie.

In die proses, om nie langdradig te raak nie, sal ek net enkele verse benut, maar ek moedig lesers aan om die hele Romeine te lees en dan by te dra tot die gesprek.

  1. Soos wat ons broer en suster Barry en Sanet aanbeveel het, is dit my standpunt dat ’n mens nie op enkele Bybelverse moet staatmaak wanneer jy die Bybel bestudeer nie. Dan gaan die konteks verlore. Byvoorbeeld: As ’n mens die boodskap van die Ou Testament moes opsom, sou ’n mens die woorde “Ou verbond”, met al sy konneksies met die wet en werke, kon gebruik. Die Nuwe Testament, natuurlik weer, met “Nuwe verbond”, met gepaardgaande vryspraak deur geloof en vergifnis.
  2. 1 Johannes 1:8–9 moet dus wel sáám met Romeine 3:12 gelees word omdat vryspraak net ten volle begryp kan word na die mate waartoe sonde verstaan word: “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.” As ’n mens na dié twee verse in isolasie kyk, lyk dit of daaglikse belydenis van sonde wel gedoen moet word.
  3. Romeine 3:19 beklemtoon dit skynbaar: “Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God.”
  4. In Romeine 3:20 maak Paulus ’n belangrike stelling, wat ek kursiveer: “Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is.
  5. Romeine 3:21 kondig, soos ek voorheen geargumenteer het, ’n keerpunt aan, iets anders: “Maar nou (my beklemtoning) het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.” (Ook vir dié wat aanvoer dat sonde nie meer vir God bestaan nie …)
  6. Ons weet nou dat ons vrygespreek is omdat ons glo. Wat nou? “Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van geloof.”
  7. ’n Gelowige sou kon aanvoer dat daar vόόr die bekendstelling van die Tien Gebooie όόk vryspraak op grond van geloof was, want Paulus verwys in Romeine 4:3 na Genesis 15:6: “Abraham het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abraham so volgens die wil van die Here gehandel het.”
  8. Nou beweeg ek oor fantastiese verse verby na Romeine 4:14–15: “As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die gelofte kon word, sou die geloof sy betekenis verloor en die belofte sy krag. Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ’n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie (my beklemtoning).”
  9. Sou daar dus nie ’n wet wees nie, is daar geen oortreding van die wet nie, en daarom regstegnies geen sonde nie. ’n Mens kan tog nie voor die hof gebring word vir ’n handeling as daar nie ’n wet is wat dit verbied nie.
  10. Soos ek voorheen geargumenteer het, sê Romeine 10:4 myns insiens dan duidelik wat die situasie is: “Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek word.”
  11. Christus is die einde van die wet. Romeine 7:8 verklaar die sonde dood.
  12. Die argumente kry egter ’n kinkel in die kabel, want Paulus begin in vers 15 skielik erken dat hy steeds sondig: “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.” Vers 24–25: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van die doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit dan met my gesteld: met my gees dien ek die wil van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.”
  13. Paulus, wat sopas met groot stelligheid verklaar het dat die wet deur Christus beëindig is, erken verstommend genoeg dat hy steeds sonde doen.
  14. Dan doen hy ’n belangrike ding: Hy verklaar dat, as hy wel doen wat hy nie wil doen nie (sonde), dan is dit nie meer hý wat dit doen nie, maar die sonde wat in hom woon (vers 20).
  15. Die wedergebore mens sondig nie meer nie. Dié nuwe mens aanvaar ook nie verantwoordelikheid vir die sonde van die ou mens nie. Die ou mens is steeds gebonde aan die wet en die dood, maar die nuwe mens kan nie namens die ou mens belydenis van sonde doen nie en die ou mens hoef in elk geval nie meer sondebelydenis te doen nie, want daar is nie meer ’n wet nie omdat Christus die wet beëindig het.
  16. Paulus is vasgevang in ’n paradoks. Sy doen en late is gedeeltelik ongehoorsaam aan ’n wet wat nie meer bestaan nie. Moet hy (ons) dan iets bely?!
  17. Ek sê nee, en wel op grond van die duidelike skeiding wat Paulus maak tussen die ou en die nuwe mens, en ook op die feit dat Christus die einde van die wet is.
  18. Ek voer aan dat, sou die wedergeborene aanhoudend sondebelydenis doen, aanvaar hy verantwoordelikheid vir ’n deel van hom of haar wat in elk geval nie vryspraak deur die wet kan verdien nie. Dit grens duidelik aan die belaglike.
  19. Die fokus op die wet maak boonop dood en die fokus op die gees/Gees maak lewend.
  20. Nou wil ek dit as ’n algemene beginsel stel dat dít waarop ons fokus, groter raak. Spiere, byvoorbeeld: Hoe meer ons fokus op hulle en hoe meer ons in die gimnasium oefen, hoe groter raak ons spiere. Of ten minste die jong mense s’n. Voorbeeld uit die huwelik: Jou eggenoot het ’n hinderlike gebrek, soos om sy of haar (jou!) motor herhaaldelik te stamp. Hoe meer jy daaroor kerm, hoe erger word dit, hoe senuagtiger die eggenoot, hoe meer stamp hy of sy die motor.
  21. Dink in hierdie verband aan enige sonde waarteen jy al geveg het: Hoe meer jy daarop fokus, hoe meer doen jy dit.
  22. Ek wil aanvoer, en dit op grond van praktiese ervaring, dat die ou mens en die sondige aard daarvan maar gerus geïgnoreer kan word. Na die mate waartoe dié ou mens geïgnoreer word, na dieselfde mate kan die Gees, wat lewend maak, fokus daarop om ons tot dankbaarheid, vryheid en vreugde te lei. Om ons ’n hart van vlees te gee.
  23. Die dankbaarheid raak al hoe groter en daarom verminder die behoefte om “sonde” te doen dienooreenkomstig.
  24. Ek wil graag poog om dit uiters prakties voor te stel. Deur ’n apie.
  25. In 1974 stel William Oncken en Donald Wass die nimlike en bekende “bestuursapie” aan die wêreld bekend.

Jannie en sy apie(s)

  1. Hulle beskryf ’n baie tipiese situasie:

Kom ons verbeel ons dat ’n bestuurder (Bertus) in die gang afloop en dat hy een van sy ondergeskiktes, Gustaf, sien wat na hom toe kom. Toe hulle ontmoet, groet Gustaf vir Bertus met: “Goeiemôre, Bertus. Terloops, ek het ’n probleem. Jy sien …” Soos wat Gustaf voortgaan, herken Bertus in hierdie probleem die twee kenmerke van alle probleme wat sy ondergeskiktes onnodig na hom toe bring. Dié is naamlik: Hy weet (a) genoeg om betrokke te raak, maar (b) nie genoeg om op die plek ’n besluit te neem, soos wat van hom verwag word, nie. Uiteindelik sê Bertus: “So bly jy het dit onder my aandag gebring. Ek is bietjie haastig op die oomblik. Intussen sal ek daaraan dink en jou laat weet.” Dan gaan elkeen in sy eie rigting.

Kom ons ontleed wat sopas gebeur het. Op wie se rug was die “apie” voordat hulle twee ontmoet het? Gustaf, die ondergeskikte s’n. Toe hulle uitmekaar gaan, op wie se rug was dit? Bertus, die bestuurder s’n. Ondergeskikte-opgelegde tyd begin die oomblik dat die apie suksesvol oorspring van die rug van die ondergeskikte na die rug van die bestuurder en stop nie voordat die apie aan sy oorspronklike eienaar teruggegee word om hom te voed en te versorg nie. Deur die apie te aanvaar, het Bertus vrywilliglik ’n posisie ondergeskik aan Gustaf ingeneem. Dit is naamlik dat hy Gustaf toegelaat het om van hom (Bertus) ’n ondergeskikte te maak deur twee dinge te doen wat ’n ondergeskikte in die algemeen vir sy of haar bestuurder moet doen: Hy het ’n verantwoordelikheid teenoor sy ondergeskikte aanvaar, en hy het vir hom ’n verslag belowe.

  1. Ek wil argumenteer dat die ou natuur ’n apie het of ís. Ons sal hom die sonde-apie noem. Om die saak verder binne konteks te plaas, sal ek beweer dat die sondige natuur deur Satan besit of beset word. Hy is immers die vader van die sonde, die oorspronklike Hoogmoedige. Satan (ons ondergeskikte) wil dié apie graag vir ons gee, en hy probeer dit elke dag – die hele dag lank. Sou hy ons kon oortuig dat ons sondig – want dit is definitief nie God wat ons aankla nie – kry hy dit reg om ons op die sonde te laat fokus. Hy het dan reggekry om ons aandag af te lei van ons vryspraak.
  2. Paulus vra dan ook in Romeine 8:33: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.”
  3. Deur op die sonde te fokus, begin ons twyfel aan ons vryspraak en verlossing – en ons is terug op die pad wat na die geestelike dood lei. Ek verwys weereens na Romeine 10:3: “Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry.”
  4. Kyk mooi na die apie om my nek: Sy’t ’n klein apie op haar rug. As ons op die stryd teen sonde fokus, word dit groter in ons gedagtewêreld, en teel aan.
  5. Ons MOENIE elke dag ons sonde bely nie. Ons moet WEIER om Satan se apie te aanvaar. Kom ons draai om, loop weg, fokus op ons VRYSPRAAK. Ons MOENIE skuldig pleit aan iets wat nie meer bestaan in God se oë nie.
  6. Sondebelydenis: Ek het eers geredeneer dit word net één keer gedoen, net nadat die wedergeboorte plaasvind. Talle Christene sal kan getuig hoe die besef van hulle sonde hulle totaal oorweldig het, en van die onuitspreeklike verligting wat volle oorgawe en skuldbelydenis meebring.

Nee, laat weet Koos, hy dink nie die klem val op sondebelydenis nie. Hy dink dit moet liewers ’n oomblik wees van ’n wonderlike openbaring van Jesus se vryspraak. Dan vra jy nie, sê Koos, want hoe vra jy iets wat reeds gebeur het, nee, dan val jy op jou knieë en sê:

Natanael vra Hom toe: ‘Waarvandaan ken U my?’

‘Voordat Filippus jou geroep het,’ antwoord Jesus hom, ‘toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.’

Toe roep Natanael uit: ‘Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!’

Amen, Koos, ek stem saam.

  1. Wat volgende gaan gebeur, en baie kort daarna, is dat Satan met sy apie na jou toe sal kom. Lees weer die gedeelte hierbo. Satan is jou ondergeskikte, ’n minderwaardige skepsel. MOENIE dat hy vir jou voorskryf wat jy moet doen, of waaraan jy moet dink nie.
  2. Het Christus se vryspraak ’n vervaldatum, of duur dit net tot die volgende Nagmaal, of – nog erger – net tot jy die volgende “sonde” pleeg?
  3. Nee, duisendmaal nee. Dit het ’n lewenslange, opgestane Waarborg.

Op 21 Februarie word die stuk op LitNet geplaas en mense begin reageer. Ek begin antwoord. Party mense ondersteun ons, party verskil (heftig) van ons. Gaan kyk maar wat alles gesê is.

Toe, op 22 Februarie, skryf Judy Ludwick-Erwee vir my ’n wonderlike, bepalende brief op LitNet:

Beste Jannie en Koos,

As ek julle skrywe reg verstaan, onderstreep dit die Woord wat sê: daar is dan nou geen veroordeling meer vir die wat in Christus glo nie. Die wat in Christus glo, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar hét oorgegaan uit die dood in die lewe. ‘Dit verseker Ek julle: wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan’ (Johannes 5:24 AFR83).

Die enigste voorwaarde is geloof in Christus. In Christus is daar net een wet – die liefde. God kyk na ons deur Jesus – en so bestaan ons aangebore menslikheid (ons toestand van sonde) nie meer vir Hom nie.

Dit is so vir almal wat in die mensdom gebore is.

Maar daar is steeds ’n oordeel, as ek na dié teks, o.a., kyk. Dis dan waar ons vrye keuse inkom. Om te kies om te glo in God se plan, nl. Jesus, of om dit/Hom te verwerp.

Uiteindelik moet sonde, d.i. alles wat nié van God is nie, nié liefde is nie, uitgewis word deur die dood van elke siel wat teen die liefde van God gekies het. Trouens, God is die bron van lewe. Om teen Hom te kies, is om te sterf. Buite Hom is daar nie lewe moontlik nie. Veral die vleesgebore aardse toestand vergaan. Niemand oorleef dit nie.

Dit is nié sy wil nie. Sý wil is dat almal gered word, maar die keuse lê by ons. Wat ’n wonderlike, onverstaanbare voorreg om oortuig te kan wees deur sy Heilige Gees.

Ek reageer dadelik:

Dankie, dankie, Judy Ludwick-Erwee, jy sluit vir my nuwe insigte en vryheid oop.

Ek en Koos is nog daagliks aan’t kommunikeer, en ons leer nog elke dag iets nuuts. Ons is dus op ’n geestelike reis met ryke beloning. Vanoggend het hy vir my Matt. 5:17–20 gestuur: ‘Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. Ek sê vir julle: as julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.’

Dit het my eers laat skrik, maar ek onthou toe dadelik Romeine 10:4: ‘Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.’ Paulus sou tog nie vir Jesus weerspreek nie? Die ‘volle betekenis van die wet’ is liefde. Jy bevestig dit: ‘In Christus is daar net een wet – die liefde.’ Dankie daarvoor!

Al wat oorbly, is die liefde. Jesus som dit dan ook mooi op in die vorm van die eerste en tweede gebod, wat Hy aan mekaar gelykstel (Matt. 22:38–39 ). Dit is my ervaring dat, hoe meer ek vryspraak omhels, hoe groter raak my dankbaarheid en liefde: ek kon reeds as gevolg daarvan van ’n ondeug of twee ontslae raak ... My liefde groei, en dis nie as gevolg van my werke of eie pogings nie. As sulks kies ek hiermee onvoorwaardelik VIR God se liefdesgebod, en ek wil deur Sy Gees daaraan gehoorsaam wees. Daarmee sal God my help, doen Hy dit reeds vir jare: dat my gehoorsaamheid aan die liefdesgebod meer inhou as blote wettisisme, wat net tot geestelike dood kan lei.

Ek gryp jou woorde aan, en jubel dit uit: ‘Wat ’n wonderlike, onverstaanbare voorreg om oortuig te kan wees deur sy Heilige Gees.’ Die grootste is die liefde.

Dankie ook, Angus, vir wat jy op Sondag 25 Januarie skryf: “Ai, tog! Julle klomp Christene. Wat sukkel julle so met die sonde? As julle enige van julle god se wette oortree, dan pleeg julle sonde, finish en klaar, punt.”

As Christen het ek inderdaad skaamgekry oor ek op 59-jarige ouderdom nog aangaan oor die sonde, Angus. Ek moes reageer op wat my medegelowiges aan my en ander doen. Maar dit ís belaglik, ja.

Ek is nou by die liefde. Soos jy sê, Angus (en ons stem saam dáároor): “Die liefde, ja, die liefde. Ek stem saam. Waar is my jongdae tog! Ek kon nooit dans nie, maar ek kon lekker vry.”

Ek is kláár gedink aan en geskryf oor die sonde.

Die apie kom nóóit weer terug om mý nek nie.

Met durende liefde in Jesus Christus,

Jannie Pretorius

NS: God het heel waarskynlik vόόr die sondeval gereeld saans in die Tuin van Eden gewandel en met Adam en Eva gesels. Dit mag ’n mite wees, maar die Bybel gebruik beeldspraak vryelik. Jesus het byvoorbeeld gereeld hiperbole gebruik. Dink maar net aan die splinter in jou eie oog en die balk in jou broer s’n (Barry en Sanet …).

Toe Adam en Eva bewus raak van hulle sonde, skuil hulle van God. God moes natuurlik geweet het wat gebeur het, maar Hy kom soek steeds na hulle. Uiteindelik stuur Hy sy Seun om die verhouding en gemeenskap te herstel.

Maar wat doen die sondebewuste mens? Hy skuil steeds van God, vlug van Hom af weg.

Koos stuur vir my Jeremia 32:36–40:

Daarom, so spreek dan nou die Here, die God van Israel, aangaande hierdie stad waarvan julle sê: Dit is in die hand van die koning van Babel oorgegee deur die swaard en die hongersnood en die pes —kyk, Ek laat hulle bymekaarkom uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het in my toorn en in my grimmigheid en in groot gramskap; en Ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle veilig laat woon. En hulle sal vir My ’n volk wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees. En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle. En Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie. En Ek sal My oor hulle verheug om aan hulle goed te doen; en Ek sal hulle duursaam in hierdie land plant, met my hele hart en met my hele siel. Want so sê die Here: soos Ek oor hierdie volk gebring het al hierdie groot onheile, so bring Ek oor hulle al die goeie wat Ek oor hulle spreek. En daar sal grond gekoop word in hierdie land waarvan julle sê: dit is ’n wildernis, sonder mens of dier; dit is in die hand van die Chaldeërs oorgegee. Gronde sal hulle vir geld koop en die briewe onderteken en verseël en getuies neem, in die land Benjamin en in die omstreke van Jerusalem en in die stede van Juda en in die stede van die Gebergte en in die stede van die Laeveld en in die stede van die Suidland; want Ek sal hulle lot verander, spreek die Here.

Hy het dit voorspel, en Hý hét dit gedoen.

The entombment of Christ deur Caravaggio (openbare domein, verkry vanaf Wikimedia Commons)

Lees ook:

Vir God is daar geen sonde nie

  • 9

Kommentaar

  • Dink jy regtig god is betrokke op die krieketveld? Met respek gesê, jou redenasies doen nie die saak van jou godsdiens enige guns nie. Maar nou ja, god het nog altyd sy gunstelinge gehad, die Israeliete, Abel bo Kaïn, en skynbaar Australië bo die Proteas.

  • Jannie Pretorius

    Hallo Snotjan

    Baie dankie vir jou bydrae. Jy help my om al hoe wyer te dink. Jy het my laat dink aan die ou Boerekryger wat voor 'n geveg teen die Engelse in die 1899–1902-oorlog gebid het: "Here, ek weet ons vra U om ons te help om die Engelse te verslaan. Ek weet die Engelse vra U ook om hulle te help om ons te verslaan. Here, ek dink dis beter dat U Uself uithou uit hierdie geveg ..."

    Maar ja, ek dink inderdaad God is betrokke op die krieketveld, en by alle sportsoorte – dis wat Hom so 'n opwindende God maak. Daarmee sê ek nie Hy kies kant, soos wat jy verkeerdelik aflei ek doen nie. Maar dat Hy deelnemers seën en dit geniet as hulle presteer, daaraan het ek geen twyfel nie. Al het die Protea-vroue nie die eindstryd gewen nie, kan ek my net indink watter groot seëning dit vir hulle was om vir die eerste keer ooit deur te dring. Die seëning lê dus nie noodwendig in die wen nie, maar in die prestasie om deur te dring, en in die blote deelname. Wat dan van die Christene onder die Engelse spelers wat teen die Proteas in die semifinaal verloor het, sou mens kon vra. Dit bly 'n voorreg en seëning om krieket op daardie vlak te speel, dink ek.

    Dis 'n kwessie van perspektief. Ek sou wat wou gee om 'n Protea-hemp oor my kop te kon trek, al sou ons vyf wedstryde agtermekaar verloor! Ek was gek oor rugby, maar ek het nooit in 'n provinsiale span gespeel nie. Is ek dan nie geseën nie? Ek is inderdaad uit my sokkies geseën, want ek onthou my speeldae in gemiddelde spanne met groot dankbaarheid en vreugde – al het ons ook dikwels verloor. Ek bedank die Here tot vandag toe vir daardie wonderlike herinneringe. In Filippense 4:7 staan daar mos: "Wees altyd bly in die Here!" Dawid het gedans van blydskap.

    Het jy al Chariots of Fire gesien? Liddell sê mos: “I believe God made me for a purpose, but He also made me fast. And when I run, I feel His pleasure.”
    Opwindend, né? As ek vanmiddag gaan fietsry saam met God, gaan ek aan Liddell se woorde dink, en dan gaan my hart en die speke sing tot eer van die Here-Here!
    Lekker dag en seën vir jou, Snotjan!

  • Hoe sou God krieketspelers seën? Die kolwer mooi in lyn met die bal laat kom, dan die kolwer in 'n nanosekonde laat besluit dis 'n dryfhou van die voorvoet na die middebaan waar die bal klap teen die grens? Wat van die arme bouler wat nou reeds 12 beurte geboul het, geen paaltjies geneem het nie en reeds 60 lopies afgestaan het? Is hy/sy nie vandag op God se seënlysie nie?
    Nog 'n ding: Het Dawid gedans van blydskap nadat hy Batseba verkrag het en haar man toe in die voorlinie oorlog toe gestuur het om hom uit die pad te kry?
    Deurmekaar wêreld, die bybel-wêreld ...

  • Dis 'n gespeel met woorde Dirk - 'n deurslaggewende kenmerk van Predikantaans en Teologieaans. Dié twee tale is baie dieselfde. As 'n woord nie vaag genoeg is nie, dan gebruik jy eerder 'n ander woord wat bietjie meer troebel is, soos "seën" in die geval. Dit hou vir god misterieus.

    Ek wou nog sê, as jy al dié woorde vat en jy skrywe dit in 'n proefskrif, dan gaan jy more oormôre dalk geseën word en professor doktor word.

    As jy nie reeds is nie.

  • Al daardie geskrywery hierbo en dan nog aanmoediging om bybelstudie te doen? Nee dankie, nie vir my nie. Ek het die Bybel al van hoek tot kant deurgelees en gesweer, nie weer nie. Ek lees liewer Shakespeare-dramas en gaan gal af oor die hubris in Hamlet. Dis vir my meer werd. Al die Predikantaans en Teologiaans (pragtig, Snotjan!) is sommer net tydmors. Ons land het ingenieurs en mediese dokters en goeie onderwysers nodig. Waarom sewe jaar op universiteit mors met die studie van tentbewoners se geskriffies van meer as 2000 jaar oud? Ons sukkel met beurtkrag, en ons land is in 'n finansiële nood gedompel. Wat gee ons om wat Jesus 2000 jaar gelede onder 'n bleddie vyeboom gesien het?
    "Aai tog, die sonne!" soos my vriend, Piet se oupa, altyd gesug het.

  • Annora Eksteen

    -- ek het my silfe en nimfe --
    -- baie het hulle diere en dinge --
    -- ander het hulle denkbeeldige gode --
    -- my verbeelding, dieretale, ander verhale --
    -- ons het so behoefte aan binnegesprekke --
    -- dit vul ons longe vol asem vol lug vol vry swaels in hul vlug --

  • Annora Eksteen

    Ek stem saam, Angus.
    En om al die lesers nou aan te spreek as Geliefde Broers en Susters in Jesus Christus, wat beslis nie almal meer is nie, genugtig tog, is aanmatigend, vernederend en toon geen respek vir andersdenkendes nie.
    Die laaste tyd het ek ook baie aan Hamlet gedink. Al die meerderwaardigheid van sekeres. En so aan.

  • Annora, jy het my nou op die regte spoor gebring. Vir God is daar geen sonde nie, maw hy is 'n ateïs. Die hubris by God veroorsaak dat hy ander gode misken. Hulle bestaan nie vir hom nie. Wie is hulle nou weer? Daar was Ra, die songod, Zeus, Poseidon, Apollo, Hades, Artemis, Hermes, Hephaetus, Aphrodite, Ares, en 'n hele spul ander wat ek nou nie kan onthou nie.
    Nou eers verstaan ek wat Jannie hier so omslagtig probeer sê: die God van die Bybel is 'n ateïs. Dit skep natuurlik 'n groot dilemma: sonde is die hoeksteen van die Christendom. Sonder sonde kan die Christendom nie bestaan nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top