Vir God is daar geen sonde nie

  • 26

Geliefde Broers en Susters in Jesus Christus

Ons het die een en ander op die hart omtrent sonde, vryspraak en verlossing.

Ons wil begin deur na ’n voorval in die Bybel te verwys, naamlik Johannes 8:1–11. Dit is die bekende gedeelte van die owerspelige vrou. Jesus was besig om mense in die tempel te leer toe die skrifgeleerdes en Fariseërs ’n vrou wat in owerspel betrap is, na Hom toe bring. In Moses se wet, sê hulle, staan die bevel dat sy gestenig moet word, maar U, wat sê U?

Jesus buk en skryf met sy vinger op die grond.

Toe Hy stilbly, dring hulle aan op ’n antwoord.

“Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste klip op haar gooi.”

Hulle stap een vir een weg, al die kenners van die wet.

Jesus begin met haar praat.

“Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”

“Niemand nie, Here,” sê sy.

Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Na aanleiding van hierdie geskiedenis wil ons eerstens opmerk dat Jesus die toepassing van die wet en die oordeel deur mense opgehef het. Tweedens wil ons opmerk dat Jesus haar vryspreek, maar – dis baie belangrik – nie haar sonde goedkeur nie.

..........
Hierdie gebeure het natuurlik afgespeel vóórdat Hy gesterf en opgestaan het. Ons sal almal saamstem dat alles daarna verander het.
..........

Hierdie gebeure het natuurlik afgespeel vóórdat Hy gesterf en opgestaan het. Ons sal almal saamstem dat alles daarna verander het. Dit wat verander het tydens die geskiedenis van die owerspelige vrou, het nog méér verander.

Ons wil argumenteer dat sonde nie meer vir God bestaan nie. Hoewel ons weet dat ons argumente sterk teengestaan mag en sal word, voel ons genoodsaak om hulle wel aan te bied. Die boodskap van vryspraak in Jesus Christus moet in die Protestante tradisie noodwendig van eeu tot eeu verdedig, vernuwe en met vrymoedigheid versprei word. Ons wil glo dat dit die Heilige Gees, die begeleier van gelowiges oor die eeue heen, is wat ons dit uit innerlike aandrang laat dink en skryf. Ons skryf inderdaad eintlik in die eerste plek vir onsself, om onsself te oortuig.

Die vryspraak in Jesus moet toenemend, en van dag tot dag, herontdek, omarm en verkondig word.

Laat ek “ons” eers bekend stel. My naam is Jannie Pretorius en ek is ’n dosent by Kovsies. Ek het ’n dierbare vriend wat in die Kalahari boer. Sy naam is Koos Becker. Ek is liewer vir hom as wat ek ooit in woorde kan uitsê. Ek hoop hy voel dieselfde oor my. Ons was saam in die weermag in 1986 en 1987. My vroegste herinnering aan Koos is waar hy uitgestrek op sy weermagbed lê, besig om Bybel te lees. Die afgelope 35 jaar het ons kontak behou en eindelose gesprekke oor die lewe, die dood, die politiek en godsdiens gehad.

Ek het êrens gelees ’n boesemvriend is ’n ander jy. Ek voel so oor Koos.

Ons is nie spesiaal opgelei of gekwalifiseerd om oor die teologie te praat nie, maar ons matig ons aan, en laat mekaar toe, om enigiets vir mekaar te sê. Koos het ’n vrye sê oor wat ek dink en sê. Dié denke is natuurlik gevoed deur Bybelstudie, en dan wel oneindig meer in Koos se geval as in myne, deur geestelike boeke en duisende kerkdienste wat ons bygewoon het sedert ons kinders was.

Dis ook gevorm deur dit wat ons deurleef het. ’n Paar jaar gelede is prostaatkanker by Koos gediagnoseer en hy moes ’n operasie ondergaan. Wat vreemd was, was dat ek vir Koos gebel het op die dag dat hy van die diagnose gehoor het. Ek sê toe vir hom: “Koos, onthou dat as een van ons ooit kanker sou kry, die ander een nie die heeltyd sal kerm daaroor nie.”

Koos het niks geantwoord nie, maar my ná ’n rukkie teruggeskakel. “Jannie,” sê hy toe, “ek het wel kanker.” Hy is daardeur, en vandag is hy gesond. Hy het wel nou die dag vir my gesê dat kanker jou permanent swakker maak – jy’s nooit weer so sterk soos voorheen nie.

Twee jaar gelede is ek vir 10 dae in Bloemcare opgeneem met ernstige depressie, as gevolg waarvan ek my lewe en geloof deeglik moes ondersoek. Die Here het besluit om vir my ’n doring in die vlees te gee, en ek moet nou daarmee saamleef. Op my donkerste dag wou ek selfmoord pleeg, maar ek het besef my geloof is te klein: Ek was nie seker of ek by God in die hemel sou beland nie. Dit was ’n kosbare insig.

Iemand sê nou die dag vir my dis nie waaroor geloof gaan nie. Dit mag so wees, maar ek wil nietemin bitter graag vir ewig by God wees.

..........
Ek klou deesdae noodgedwonge desperaat soos ’n drenkeling aan Jesus vas.
..........

Ek klou deesdae noodgedwonge desperaat soos ’n drenkeling aan Jesus vas.

As jong onderwyser het ek meedoënloos lyfstraf toegedien. ’n Matriekseun herinner my nou die dag op Facebook daaraan dat ek hom ses van die bestes gegee het omdat hy, terwyl ek aan’t skryf was op die bord, ’n uitveër teen die bord langs my vasgegooi het. Ek kon gelukkig jammer sê, al wás dit op Facebook.

Ek en Koos is dus beide besmet en broos, maar veral ék. Oor Koos se sondes kan ek nie uitwei nie, maar ek glo tog hy het ’n paar.

Tydens ons mees onlangse gesprek het ons, soos dikwels in die verlede, oor sonde gepraat. Dit laat my dink aan die ou afgesaagde grappie van die seuntjie wat op ’n dag alleen moes kerk toe gaan en ná die tyd deur sy moeder ondervra is.

“Waaroor het die dominee gepreek?”

“Oor sonde.”

“Wat het hy daaroor gesê?”

“Hy’s daarteen.”

..........
Die kerk is teen sonde en ’n mens hoor heel dikwels preke daaroor. Byna elke Sondag, om die waarheid te sê.
..........

Die kerk is teen sonde en ’n mens hoor heel dikwels preke daaroor. Byna elke Sondag, om die waarheid te sê.

As ’n seuntjie het ek die geveg rondom die dra van hoedens deur vroue in die kerk beleef. Predikante en mense was verdeeld daaroor, want daar was ’n Bybelvers daaroor. Om sónder ’n hoed in die kerk te verskyn, was sonde.

Vandag hoor ek niemand meer daaroor praat nie. Is dit dus nie meer sonde nie?

Indien dit wél nie meer sonde is nie, wil ek ook weet: Wat is nóg nie meer sonde nie?

Is daar êrens ’n volledige lys sondes wat gereeld bygewerk word?

Indien wel: Wie hou dit op datum? Die hedendaagse Fariseërs?

Daar is Bybelverse oor bykans enige onderwerp en sonde onder die son. Die gesprekke en verskille oor Bybelverse kom en gaan. Die nuutstes waaroor nou al vir jare geveg word, is dié oor gay mense. Ek was nou die dag teenwoordig waar ’n jare lange vriendin in ’n geselskap openlik haar afkeer van gaywees uitspreek, want die Bybel is duidelik daarteen.

“Ek verstaan dit, want my seun is gay,” antwoord ’n ander vriendin.

My hart wou breek, veral toe die eerste vriendin voortgaan met haar tirade.

Dít ten spyte daarvan dat sy en haar oudste dogter en man hulle duidelik nie steur aan die Bybelvers wat ons waarsku om nie ’n afgod van die maag te maak nie. Vraatsug is immers een van die sewe doodsondes.

Ek sukkel ook met vraatsug, en het ’n boepie, en Koos sal my vergeef as ek sê hý is ook nie meer so skraal soos daardie dag wat hy op sy bed lê en Bybel lees het nie.

Tydens gister se gesprek vertel Koos my van die een ou Kalahari-boer wat erg gesukkel het om op te hou rook. Tydens ’n biduur staan dié toe op en belowe plegtig voor die Here en die teenwoordiges dat hy sou ophou rook.

Die volgende oggend gaan die ou oom saam met ’n vriend op ’n rooikatjag. Sy vriend haal sy pyp uit, wat die brose nie-roker noop om te vertel van sy belofte van die vorige aand.

“Nou het jy ’n lat vir jou gat gepluk,” sê die roker.

My rokersvriende moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek het niks teen julle nie. Inteendeel, ek het ontsettend baie simpatie met julle. Ek het self gerook in my jong dae. Toe ek in die weermag was, het my troepe begin pyp rook, toe koop ek ook vir my een. Daardie gevoel van welbehae wat oor jou neerdaal as die nikotien deur jou brein gaan, is fantasties. Ek het ook soms sigarette gerook wat insgelyks heerlik is – en jy hoef nie te sukkel om hulle aan die gang te hou nie. Maar dit irriteer my oë, dan kry ek nie geslaap nie.

Ek kry egter tot vandag toe lus vir rook as die studente voor my klas staan en rook. As daai wit walms by my neusgate insluip. Het al per geleentheid vir hulle ’n pull gevra …

Tony Benn het die volgende op 21 Januarie 1979 in sy dagboek geskryf: “Had my first pipe for about five or six days. Somehow the pressure of not smoking has made me think of nothing but my pipe.”

..........
Die tafel is nou gedek vir my en Koos se betoog, want ons het onsself pertinent onder die sondaars geplaas.
..........

Die tafel is nou gedek vir my en Koos se betoog, want ons het onsself pertinent onder die sondaars geplaas. Ék is immers ’n mannetjie wat die Here op 14-jarige ouderdom beloof het dat ek nooit weer sou sjokolade eet nie.

Dis ook hoekom ek weet die Here straf jou nie noodwendig vir ’n verbreekte belofte nie.

Ons – ek en Koos – is dus spreekwoordelik melaats; bevlek deur sonde.

In 2 Konings 6–7 is daar mos hoeka die geskiedenis van die vier melaatses wat by die ingang van die stadspoort in Samaria gesit het.

Ben-Hadad, die koning van Aram, het met sy leër die stad beleër. Dit het gelei tot ongekende hongersnood, tot op die punt waar ’n donkiekop byna ’n hele kilogram silwer gekos het en twee vrouens besluit het om hulle kinders te kook en te eet. Ná die eerste kind gekook en geëet is, trek die tweede vrou toe kop uit en steek haar kind weg.

Die koning besluit toe om die profeet Elisa verantwoordelik te hou en te onthoof. Hy besoek vir Elisa, en dié kondig toe aan dat vyf kilogram meel of nege kilogram gars binne 24 uur net elf gram silwer gaan kos. Die koning se adjudant meen dis onmoontlik en Elisa sê vir hom: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie.”

Terug na die vier melaatses, wat natuurlik ook tot sterwens toe honger was. Húlle besluit hulle het niks om te verloor nie en gaan in elk geval sterf. Hoekom dan nie oorloop na die Arameërs toe en vra vir kos nie?

Skemeraand stap hulle oor en maak ’n verstommende ontdekking: Daar is niemand in die Arameërs se kamp nie.

“Die Here,” staan in 2 Konings 7:6, “het die Arameërs in die kamp die geluid laat hoor van strydwaens, perde en ’n groot leër. Hulle het vir mekaar gesê: ‘Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om ons aan te val.’”

Hulle laat dus spaander en laat alles net so.

Die melaatses begin eet en drink, vat goud en klere en begrawe dit.

Toe besluit hulle dat dit nie reg is nie: Hier eet en drink hulle hulself knuppeldik, en in die stad sterf mense steeds van die honger. Hulle besluit om die koning daarvan te gaan vertel.

Dié is eers wantrouig, want hy vermoed die Arameërs wil hulle in ’n lokval lei, maar ná verkenners gestuur is, daal die stadsmense op die verlate kamp neer en vier fees. Die beleg en swaarkry is verby – kos is byna gratis en vryelik beskikbaar.

Vyf kilogram meel kos toe inderdaad elf gram silwer, maar die adjudant kon dit nie beleef nie, want hy word in die stadspoort vertrap.

..........
Ons voer aan dat die sonde-konsep deur Jesus se koms, sterwe en opstanding oorbodig gemaak is.
..........

Na aanleiding van hierdie gedeelte wil ek en Koos graag aanvoer dat sonde nie meer voor God bestaan nie. Die beleg is verby. Ons voer aan dat die sonde-konsep deur Jesus se koms, sterwe en opstanding oorbodig gemaak is. Ons dink dat die impak van hierdie gebeure baie groter is as wat ons kan begryp, maar ons wil probeer om daaroor te dink.

Ons besef dat dit ’n baie aanvegbare stelling is, en ons wil niemand aanstoot gee of tot sonde verlei nie, maar ons is nie die eerste gelowiges wat so redeneer nie en ons sal ook nie die laastes wees nie. Ons is self broos, en die impak van die vryspraak wat ons ervaar, is sό bevrydend dat ons dink dis nie reg dat die konsep van sonde deur beide welmenende en moedswillige gelowiges in stand gehou word nie.

Ons wil natuurlik nie aanvoer dat gelowige mense nie meer slegte en gevaarlike dinge doen nie. Rook kan tot jou dood lei, of moord kan jou in die tronk laat beland.

Soos vroeër gestel, wil ons bloot argumenteer dat sonde nie meer vir God bestaan nie, en dat dit daarom onnodig is om langer daaroor aan te karring. Dit geld natuurlik vir gelowiges. Ongeloof blý ’n sonde – wat tot die ewige dood lei.

In Jesaja 43:25 staan ’n wonderlike ding: “Tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek dink nie meer aan jou sondes nie.” Dit was natuurlik voor Jesus se koms net waar na die mate waartoe om vergifnis gepleit is, en berou getoon is. Nou, ná Jesus se koms, dink God nie meer aan ons sondes nie.

Nooit nie.

In Miga 7:19 staan nog iets wonderliks: “Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.”

Hierdie gedeelte is natuurlik ’n heenwysing na wat in die Nuwe Testament sou gebeur. In die diepsee gooi, waar dit wegsink in die vergetelheid in. Iemand het eendag by ’n Bybelstudie gesê God het ons sondes in die diepsee gegooi en ’n bordjie daar opgesit: NO FISHING!!

..........
Kom ons verbied dus die woord sonde in die kerk en kyk wat gebeur met preke en gesprekke.
..........

Kom ons verbied dus die woord sonde in die kerk en kyk wat gebeur met preke en gesprekke.

In die Sweedse fliek As it is in heaven (Wie im himmel) word dié temas ondersoek. Sonder om die hele plot te bespreek, wil ons verwys na die benepe predikant (Stig) op ’n klein Sweedse dorpie en sy vrou (Inge).

Ons wil ons medegelowiges aanmoedig om die fliek te gaan kyk.

’n Beroemde dirigent (Daniel) kom op die klein, sneeubedekte dorpie aan en neem die kerkkoor se leiding oor. Hulle gaan van krag tot krag en die samesang verskaf groot vreugde onder gemeentelede. By een geleentheid dans Inge uitbundig met redelik lospassende klere.

Stig hoor daarvan en val haar aan daaroor. Hy skree vir haar dat sy gesondig het – nogal in ’n kerkgebou.

Dan besluit Inge om iets te sê wat sy al vir 20 jaar wou sê. Sonde bestaan nie, sê sy. Dit bestaan slegs in Stig se kop. Die kerk hou dit in stand, want met een hand word sonde verkondig en met die ander hand vryspraak. Dis alles leuens om die mense te onderdruk. God vergeef nie, sê sy, want Hy veroordeel nie meer nie.

Dan haal sy Stig se pornografiese tydskrifte, wat hy vir jare weggesteek het in die boekrak, uit.

Wat sal gebeur, wonder ek, as alle predikante en pastore skielik gelyktydig op een Sondagoggend sou aankondig dat sonde nie meer in God se oë bestaan nie? Dat gelowiges vry is om te gaan en met vreugde in God se teenwoordigheid te gaan leef? Dat hulle slegs hoef kerk toe te kom om mekaar se gemeenskap te geniet en hulle vryspraak te vier? Dat rook, ooreet, gaywees, hoedeloosheid en seksuele losbandigheid nie meer sonde in God se oë is nie?

Sondigheid was ’n toestand waarin mense in die Ou Testament verkeer het. Koos herinner my aan die geskiedenis van Kain en Abel. ’n Mens moet daarop let dat die aanleiding tot hierdie gebeure die feit is dat die Here vir Abel en sy offer aangeneem het, “maar nie vir Kain en sy offer nie”. Die Here moedig hom egter aan en beur hom op: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.”

Kain kry dit egter nie reg om oor die sonde te heers nie. Om die lyn van ons betoog vol te hou, sal ons aanvoer dat daar in hierdie opsig min verskil is tussen Kain en hedendaagse christene, soos ek en Koos. Ons kry dit nie reg om volledig oor die sonde te heers nie. Ten spyte van ons beste voornemens. Hierdie magteloosheid van die mens teenoor die sonde begin reeds by Adam en Eva en strek reg deur die Ou Testament – dink maar net aan God se liefling Dawid. Hoeveel keer dwaal die Israeliete af en vergeet van God?

Lord Byron skryf op 5 Januarie 1821 die volgende in sy dagboek: “Forgot that there was a plum-pudding. (I have added, lately, eating to my ‘family of vices,’) and had dined before I knew it.”

’n Familie van ondeugde. Dis wat ons almal het.

Terug na die gesprek tussen God en Kain ná dié vir Abel uit jaloesie doodgemaak het. Die Here vra hom toe: “Waar is jou broer Abel?” Kain antwoord sarkasties: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?” Die Here sê toe: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My. Vervloek is jy dan nou, verban van die grond af wat gretig die bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het.”

Dis interessant dat Kain aanhou om met die Here te kommunikeer – op persoonlike vlak, soos wat ons vandag maar net kon hoop om te doen – maar daarna tog van Hom af weggaan. Kain is as gevolg van ’n moord uit die teenwoordigheid van die Here verban. Hy kon sekerlik as gevolg van ander sondes ook verban geraak het: Hy kon dalk gay wees, of begin het om te rook, of te veel begin eet het. Ons weet regtig nie wat sou gebeur het as sy vrou sonder hoofbedekking voor die Here verskyn het nie, maar ons weet wel dat die Here oor klein goedjies boosaardig kwaad geword het.

Ons het in Bybelkunde op skool geleer – ek onthou dit tot vandag toe – dat God uiteindelik geen ander keuse gehad het as om vir Jesus te stuur nie. Die groepie “regverdiges” was aan die einde van die Ou Testament só min dat God omtrent geen aanbidders meer oorgehad het nie. Dié wat wel oorgebly het, was tot die dood toe bang vir Hom.

..........
Hoe kan vréés die basis van enige verhouding vorm? Veral van ’n verhouding met ’n liefdevolle God?
..........

Hoe kan vréés die basis van enige verhouding vorm? Veral van ’n verhouding met ’n liefdevolle God?

Die ou verbond van sonde, belydenis en vryspraak het doodeenvoudig misluk. Laat ons dit maar prontuit sê.

Toe kom Jesus, en ná sy opstanding en hemelvaart is daar ’n nuwe toestand waarin gelowiges verkeer: ’n nuwe verbond van sondeloosheid voor God. ’n Mens sou dit kombers-amnestie kon noem. Toe die Israeliete uit Egipte vlug, is die bloed van ’n offerdier aan die deurkosyne van huise gesmeer. Die eersgeborenes binne die huis, ongeag of hulle sonde van watter aard ook al gedoen het, selfs in die nag voor die uittog, is deur die Doodsengel gespaar. Die bloed het hulle gered – of hulle nou hulle sonde bely het of nie. Dít is vir ons ’n flou afskaduwing van en heenwysing na die bestel waaronder ons vandag is.

Ons het ’n nuwe posisie of status voor God: dié van vrygespreekte koningskinders. Ons is prinse en prinsesse. Om enigiets minder te glo, dink ons, is om ’n beperking te plaas op die krag van Sy koms, kruisdood en opstanding. Ons wil vra: Is Jesus se bloed en liefde nie voldoende om alles te bedek nie? Is Sy vryspraak afhanklik van futiele pogings van alle gelowiges om minder te sondig?

Koos stuur vir my Hebreërs 12:22–24: “Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek is en wat nou volmaak is, by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.”

Dis tog iets beters as wat met Kain gebeur het. Vryspraak – tot volmaaktheid in God se oë.

Dwelmmisbruik word tans deur omtrent almal as sonde gesien. Dit het uiteraard ’n verwoestende effek op almal wat daarby betrokke is. Maar watter effek het dit op dwelmverslaafdes se verhouding met God? Sien God dit nog as sonde? Wat doen God daaraan? Uit Sy gesprek met Kain kan ons agterkom dat God self destyds iets aan die situasie gedoen het.

Ek het ’n aantal jare gelede in die koerant gelees van ’n dwelmverslaafde meisie wat aan’t sterf was. Haar ma kon haar die spesifieke dag waarop sy sou sterf, opspoor, en sy het in haar ma se arms gesterf. Haar ma is deur onbeskryflike lyding as gevolg van haar dwelmmisbruik, en sy self sou as gevolg daarvan sterf. Voordat sy egter gesterf het, het sy vir haar ma vertel dat die Here vir haar gesê het haar ma sou by haar wees as sy sterf, en dit was ook so.

Dit bly my by, en vertroos my, dat God tot op die bitter einde ’n werklikheid in haar lewe was en haar nie verlaat het nie.

Nou is dit noodsaaklik dat ons terugkeer na die owerspelige vrou.

Wat sou met haar gebeur het as sy aangehou het met haar owerspel?

Wel, ons dink dat sy uit dankbaarheid oor wat met haar gebeur het, nie sou volgehou het daarmee nie. Ons hoop so. ’n Mens moet wel onthou dat sy die een oomblik oortuig was dat sy ’n aaklige, wrede dood sou sterf, en die volgende oomblik vry kon gaan. Die eerste vrou in die geskiedenis van Israel.

Ons weet natuurlik nie, maar ’n mens sou verwag dat sy uit dankbaarheid ’n getroue en entoesiastiese volgeling en dissipel van Jesus geword het. Dat sy in Hom sou glo.

Wat ons wel wil aanvoer, en met groot sekerheid, is dat God Drie-enig haar onder geen omstandighede sou verlaat het nie. Selfs al sóú sy aanhou owerspel pleeg het.

Dat Hy haar sou liefhê tot haar man haar verlaat het, haar kinders haar verwerp het, die kerk haar verban het en haar minnaars haar verag het.

Hoe verander dít ons verhoudings, ons siening van en liefde vir mekaar?

In Rapport van 5 Februarie 2023 is daar ’n artikel deur Fanie Heyns oor die omstrede weglating van die vroue-krieketspeler Dané van Niekerk uit die Suid-Afrikaanse T20-Wêreldbeker-groep vir vroue. Ek dink dis die moeite werd om die eerste vyf paragrawe van hierdie artikel woordeliks weer te gee:

Mense besef nie hoe uitmergelend dit vir haar was dat haar vrou, Dané van Niekerk, weens fiksheidsredes uit die Protea-vrou se T20-Wêreldbeker-groep weggelaat is nie, sê Marizanne Kapp [wat self wel in die span opgeneem is].

“Dit is ’n massiewe terugslag vir my, Dané en die span dat sy nie in die Wêreldbeker-groep is nie,” sê Kapp aan Rapport.

“Ons sou haar graag wou hê met haar ervaring as speler, en die manjifieke leier wat sy is. Dis baie taai vir my persoonlik, en vir haar. Dit was altyd haar droom om die span aan te voer in ’n Wêreldbeker-toernooi tuis.

“Mense wat my gekritiseer het omdat ek die Protea-kamp verlaat het in die middel van die afgelope driehoekige reeks, besef nie wat die groter prentjie is nie. Dit was emosioneel uiters uitmergelend. Dit was beter vir my om net huis toe te gaan, Dané as my eggenoot te ondersteun en weer perdfris te raak.

“Ek is ’n gelowige, en hoewel hierdie baie uitdagend is, weet ek Jesus Christus het ons nooit in die steek gelaat nie. Iets groters is op pad.”

Het die Here aan Marizanne verskyn en met haar ’n gesprek gevoer oor haar “sonde”, haar en Dané as straf die wye wêreld ingestuur? Skynbaar nie. Wat het dan verander sedert Kain se dae? Nie Gód nie, want Hy is onveranderlik. Al wat gebeur het, is dat Jesus nou ons Middelaar is, die volkome Verlosser. Daar is inderdaad iets beters in plek as in daardie dae.

Vryspraak.

Al wat nou nog met Marizanne en Dané kan gebeur, is dat ’n mens ’n brief skryf oor hulle “sonde”, of iets op Facebook daaroor sal plaas, of dat die kerk sal probeer om hulle te tug. Mag die Here verhoed dat hulle in so ’n kerk is!

In Volksblad van 14 Februarie verskyn ’n berig oor Dané wat een van slegs vier Suid-Afrikaners is wat in Mumbai op die Indiese Premierliga (IPL) se veiling gekoop is. Sy is deur die Royal Challengers Bangalore vir R648 000 opgeraap. Marizanne is vir ’n koele R3,2 miljoen deur die Delhi Capital gekoop.

Iets groters wás toe vir hulle op pad.

Is daar dus ’n mens wat steeds kans sien om die eerste klip te gooi? Ék, drenkeling, klou aan Marizanne se getuienis vas. Ek geniet dit ook dat geliefdes in Jesus, soos Marizanne-hulle, al hoe meer die vrymoedigheid neem, en vry voel, om met vryheid en vrymoedigheid voor en vir God te leef.

Is dít nie wat rokers nog altyd doen nie? Ek het tallose kere gesien hoe ouderlinge ná ’n diens nie kan wag om ’n dampie te maak nie. Rook ingetrek in ’n liggaam wat, sê die Bybel, ’n tempel van God is. Wat beskadig word.

Het ek al ’n predikant oor rook as sonde hoor preek? Of oor vetsug?

Nog nooit. Ek dink ook nie dis nodig nie, want die gevolge is daar vir almal om te sien. Dit staan tot op die pakkies. Álle christene doen tog goed wat uiteindelik ons dood gaan veroorsaak. Ja, jy hoef selfs maar net lui te wees om te gaan oefen om dít reg te kry.

Al wat vir óns wat self van soveel vrygespreek is, oorbly, is om lief te wees vir almal. Ook vir dié predikante op die sinode van die gereformeerde kerke wat ander gemeentes wil tug oor hulle vroue as ouderlinge en leraars aangestel het. In die jaar 2023.

Die skrywer Hennie Aucamp vertel die verhaal van die heilige man wat ’n stralekrans ontvang het van God. Dié het deurlopend bo sy kop gegloei. Dit irriteer sy vrou en hulle besluit dat as hy sou sondig, die stralekrans sou verdwyn. Hy ploeg deur die eerste ses doodsondes, maar die stralekrans bly gloei. Wellus is die laaste doodsonde. Die man word ’n koppelaar, maar selfs in die stegies waar hy sy beroep bedryf, volg die stralekrans hom.

Ek en Koos, twee melaatses, kom huiwerig met die nuus. Ons wil egter glo die Heilige Gees lei ons.

..........
Die kamp waarin die sonde ons beleër het, is leeg. Die vryspraak is vir almal, en daar is genoeg vir almal.
..........

Die kamp waarin die sonde ons beleër het, is leeg. Die vryspraak is vir almal, en daar is genoeg vir almal. Laat ons almal glo dat God se vryspraak volkome is en dat ons na hartelus kan eet, drink en dans voor Sy oë. Jesus se sterwe en opstanding het ’n skatkis van vryheid vir ons oopgesluit – groter as wat ons ooit met ons klein menslike verstande kan deurdink of begryp.

Koos stuur twee weergawes van Johannes 3:16. Die Afrikaanse 1983-vertaling is baie bekend: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.”

Die AMPC, vry vertaal, vat dit verder: Want God se liefde vir die wêreld was so groot, en hy het liefderyk so ’n hoë prys daarop gestel, dat hy (selfs) sy eniggebore (unieke) Seun gegee het, sodat wie ook al glo in (vertrou in, klou aan, vertrou op) Hom nie sal vergaan (verwoes word, verlore raak) nie, maar die ewige (ewigdurende) lewe sal hê. Want God het nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel (te verwerp, te verdoem, om uitspraak te lewer daaroor) nie, maar sodat die wêreld verlossing sal vind, en veilig deur Hom gemaak sal word.

Koos sê vir hóm beteken “klou aan” niks minder nie as “almal wat nie anders kan as om Jesus lief te hê, met sy of haar hele hart, siel en hele verstand nie”.

In hierdie opsig het my studentevriend Jako Viviers my jare gelede vertel van die man wat ’n bekeringsdiens bygewoon het. Ná die tyd gaan sien hy die prediker.

“Dominee, ek wil my hart vir die Here gee, maar ek is nie bereid om daarvan te getuig nie.”

“Wie het gesê jy’s verplig om te getuig, broer? Jy hoef dit glad nie te doen nie.”

Hy neem die Here met blydskap aan en jaag huis toe, waar sy vrou op hom wag.

“Ester, ek het my hart vir die Here gegee en ek hoef vir niemand daarvan te vertel nie!” jubel hy dit uit, en bel sy vriende een na die ander met die blye nuus.

Ons wil argumenteer dat ons as gelowiges dinge soms ’n bietjie agterstevoor het. Ons wil verdienste en dankbaarheid bysleep vóór vryspraak. Almal wil vir almal vertel wat almal móét doen om God te behaag.

In 1603 lê koningin Elizabeth I op haar sterfbed. Of eintlik langs die bed op die vloer. Ene Robert Cecil waag dit om by haar te pleit: “U Hoogheid, u móét nou terugklim in die bed.”

“Little man, little man – the word must is not to be used to princes,” kom haar beroemde woorde.

Alle christene is prinse en prinsesse. Jesus is ons broer. Ons moet niks doen nie. Ons sal as ons wil, of beter: Ons sal as God ons láát, of in staat stel, om te wil.

Ons begin afsluit. In dieselfde Rapport van 5 Februarie is daar ’n berig deur Johan Eybers oor aanlyn kerk. Die algemene sinode van die gereformeerde kerke debatteer of lidmate werklik die seën van die Here ontvang as hulle na ’n video-opname van ’n diens kyk. Een van die leraars vertel dat hy en sy vrou tydens die Covid-pandemie rustig en veilig kerk by die huis geluister het, maar ná ’n jaar het die werklikheid tot hulle deurgedring dat jy nie regtig voor die aangesig van die Here is nie.

Dít, terwyl dienste van gereformeerde kerke al vir jare weekliks landswyd na tehuise vir bejaardes gestroom of uitgesaai word, en die ou mensies heerlik snoesig met kniekombersies na die diens luister. As diaken het ek dikwels nagmaal aan hulle bedien.

Is húlle nie in die teenwoordigheid van die Here nie, dominee?

Kom en gaan die Here dan nog steeds soos in die Ou Testament? Het Jesus se versoeningsdood dan níks verander nie, dominee? Waar kom God met ons dan vandaan?

Ek en Koos dink volkome vryspraak is die begin en einde van alles. Ons gaan verbete daaraan vasklou, want ons het geen ander keuse nie. Ons kry dit doodeenvoudig nie reg om met 100% sukses oor die sonde te heers nie.

Laat ons almal tog maar ophou klippe gooi.

Laat ons tog maar ophou om mekaar se kinders te kook en te eet.

Dis tog presies soos wat die hemel lyk, as jy vir Adam Tas sou vra. Dít omdat liewe Jesus en sy pa heerlik op ’n riempiesbank sit en koffie drink en gesels. Die verhouding is permanent herstel. Dis die kern van die boodskap van verlossing. Almal voel weer veilig.

Laat ons dit glo en verkondig en uitleef. Nie een van ons wil immers in die poort vertrap word nie.

The entombment of Christ deur Caravaggio (openbare domein, verkry vanaf Wikimedia Commons)

Met durende agting, waardering en liefde

Jannie Pretorius en Koos Becker

  • 26

Kommentaar

  • Jannie van Niekerk

    Beste Jannie en Koos,

    Sonde bestaan wel nog. Alle ongehoorsaamheid is sonde. Deur ’n oorwinning oor sonde te behaal, kry God die geleentheid om jou vry te spreek. Daarom is sonde die kruis wat ons dra op ons lewenspad. As ek dus voortgaan om te sondig, is daar nie vir my vryspraak nie.

  • Een van die groot probleme vir die Christendom (en ek beskou nie regtig meer die Protestantse godsdiens as Christelik nie), is dat die heilige boek van die Christendom, naamlik die bybel, is gladnie deur Christene geskryf nie. Elke kerkfaaight wat ek al aanskou het, en ek het letterlik grootgeword tussen die kerkbanke en by die kerkbazaar van die NG kerk, maar elke kerkoorloggie, of dit nou op die sinodesittings, die koerante se briewekolomme of sosiale media was, amper alles kan terugherlei word na die feit dat die bybel nie deur Christene geskryf is nie.

    Die bybel bevat nie die woord triniteit nie.
    Wetenskaplike navorsing bewys vandag dat Jesus se tydgenote hom nie as goddelik beskou het nie.
    Jesus was 'n messias. Die woord messias beteken letterlik uitverkore of gesalfde. Soos wat die konings van Israel gesalf was. Hoekom sou God homself salf? Of uitverkies?
    Die messias is nie self God nie, maar 'n gesalfde van God.
    Jesus was nie 'n Christen nie. Hy het sy eie kultuur se God aanbid. Hy was besny en het wette nagekom.
    Vra enige Joodse rabbi hoe verstaan hy Genesis 1 en 2. So terloops, ek verneem betroubaar by die helfte van die "Christendom", dat Genesis 1 tot 11 is mities, en by die ander helfte is die stories die heilige historiese waarheid.

    En omdat die bybel nie deur Christene geskryf was nie, akkordeer dit wat in die bybel staan nie lekker met Christene nie. Want dis nie geskryf VIR CHRISTENE nie. Dis geskryf vir 'n kultuur wat hulle eie reëls en norme gehad het. En omdat Christene die verwarrende boodskap uitstuur dat sonde oorwin is, maar dat sonde steeds 'n "probleem" is, is daar uiteindelik 'n groot grys area waar elkeen wat die Christelik godsdiens aanneem, hulle eie reëls kan maak. Elkeen maak hulle eie reels en dit verklaar die duisende sektes van die Christendom.

    So terloops, jy noem dat jy nog nooit iemand hoor preek het teen rook nie. Soek gerus vir pastoor Rooies Strauss op op die internet. Hy "preek" gereeld teen rook. En ek is doodseker daar is nog baie ander pastore.

    Die Protestante het natuurlik hulle eie belydenisse opgestel. Interpretasies van die Bybel waarmee hulle meer gemaklik is. Daarom "doop" hulle babas. En doop nie eens altyd nie. Word soms net besprinkel. Alles is cool met die Here. Soos jy noem.

    Verskillende soorte persoonlikhede word deur verkillende dinge aangetrek en gelok. Vir die gelowige wat die sonde-bekering-verlossing model aanhang, is daar meer as genoeg vir 'n leeftyd. Vir die gelowige wat soek na die God van liefde, is daar eweeens genoeg om sy of haar smaak te bevredig. Maar ek is nie meer oortuig dat grootdopers en kleindopers dieselfde God aanbid nie. Selfs al gee hulle hom dieselfde naam.

    Hierdie toutrek tussen geloof en dade is so oud soos die berge. Die kerkamptenaar Marcion van Sinope het 'n sterk diskrepansie gesien tussen die sogenaamde "ou" en die "nuwe" testament se God gesien. Baie jare later sou Martin Luther ook 'n weersin ontwikkel in die boek Jakobus. Omdat Jakobus te "wetties" is. En so het die toutrekkery voortgeduur.

    Die feit dat die bybel oorloop van die begrip sonde, vertel vir 'n mens des te meer dat dit geskryf was vir 'n ander geloof se mense. Nie vir die Christen nie.

  • Jannie en Koos, is dit nie wonderlik om in vryheid te lewe nie? ‘n Mens voel soveel ligter en so geliefd. Gaan luister gerus na Don Keathly se potgooie, hy het ook ‘n Facebook-groep met baie van ons wat soos julle dink, daar is ook ‘n hele klompie Suid-Afrikaners.

  • Hans Richardt

    La Dolce Vita-tipe-Jesus, altyd as standbeeld in beweging onder iemand se helikopter?
    Altyd een of ander menslike idee oor God en Jesus? Dan gebeur iets traumaties in mens se lewe wat nie pas by die beeld oor God of Jesus in die menslike geestesoog nie en daardie mens is teleurgesteld in God se nie-aksie volgens die mens se wens?
    As die mens sekere universele menseregte toe-eien, plaas hy God en Sy aksies in 'n boksie sonder enige regte of vryhede? God is ongebonde aan menslike voorskrifte en eise.

  • Jannie Pretorius

    Hallo Jannie. Baie dankie vir jou opmerking en dat jy saam help dink. Ek dink in Romeine 10:4 bevestig Paulus die einde van die wet: "Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek word." Nét geloof, dus. Dan Romeine 4:15: “Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ‘n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie.” Omdat daar dus nie meer 'n wet is nie, volg logies dat daar ook nie meer sonde kan wees nie. Ek vind dit wonderlik, want ek is vrygepreek! Daar moet tog 'n wet wees voor daar 'n oortreding daarvan (sonde) kan wees?

  • Jannie Pretorius

    Dankie, Johanna, dat jy waarde toevoeg tot ons stuk. Ja, mens voel inderdaad (oneindig meer) geliefd en vry, wat weer spontane dankbaarheid afvuur, wat weer heiligend inwerk, wat weer bevryding teweeg bring - ensovoort. Die hele Bybel kom inderdaad as splinternuut voor, want die vryheid en die Verlosser word reg deur die Ou Testament belowe en raak in die Nuwe Testament 'n heerlike werklikheid. Mens lees dit oral raak met nuwe oë.

  • Jannie Pretorius

    Hans Richardt, ek interpreteer jou stellings as baie vaag, en sonder enige behoorlik gefundeerde Skrif wat dit ondersteun. Wil jy nie meer spesifiek wees nie?

  • Jannie Pretorius

    Snotjan dankie vir 'n klomp interessante opmerkings. Jy is gedeeltelik reg oor die gebruik van die woord "christen" - in Handelinge 11:26 staan daar "In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem" - en noodwendig later op ander plekke. Hoewel dit dan nie toe noodwendig aan Christene gerig is nie, aanvaar ek dit wel nou dat dit aan my gerig is - as kind van Abraham deur Jesus.

  • Judy Ludwick-Erwee

    Beste Jannie en Koos,
    As ek julle skrywe reg verstaan, onderstreep dit die Woord wat sê: Daar is dan nou geen veroordeling meer vir die wat in Christus glo nie. Die wat in Christus glo het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar hét oorgegaan uit die dood in die lewe. “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.
    JOHANNES 5:24 AFR83
    Die enigste voorwaarde is geloof in Christus. In Christus is daar net een wet – die liefde. God kyk na ons deur Jesus – en so bestaan ons aangebore menslikheid (ons toestand van sonde) nie meer vir Hom nie.
    Dit is so vir almal wat in die mensdom gebore is.
    Maar daar is steeds 'n oordeel, as ek na dié teks, o.a., kyk. Dit dan waar ons vrye keuse inkom. Om te kies om te glo in God se plan, nl. Jesus, of om dit/Hom te verwerp.
    Uiteindelik moet sonde, d.i. alles wat nié van God is nie, nié liefde is nie, uitgewis word deur die dood van elke siel wat teen die liefde van God gekies het. Trouens, God is die bron van lewe. Om teen Hom te kies is om te sterf. Buite Hom is daar nie lewe moontlik nie. Veral die vleesgebore aardse toestand vergaan. Niemand oorleef dit nie.
    Dit is nié sy wil nie. Sý wil is dat almal gered word, maar die keuse lê by ons. Wat 'n wonderlike, onverstaanbare voorreg om oortuig te kan wees deur sy Heilige Gees.

  • Die Christelike denke, filosofie, berus op hierdie een woord: SONDE. Verdwyn die sonde, en dit is ikabod met die Christendom. Volgens die Bybel is die heel eerste wet wat God gemaak het, dat die mens, Adam en Eva, nie van die boom van Lewe en die boom van Kennis mag eet nie. Tog was die mens ongehoorsaam en eet van die boom van Kennis: die eerste sonde, die erfsonde. Adam en Eva is uit die tuin verban om te verhoed dat hulle ook van die boom van Lewe eet, en so onsterflik word soos al die ander gode. Daarna het God ook ander wette gemaak wat, indien dit oortree word, met die dood gestraf word. Hier eindig het storie nog niet. Om die mens te red van hierdie erfsonde, vermenslik God hom in die vorm van Jesus Christus, en deur gekruisig te word, word die mens vrygespreek van al sy sonde. (Hier moet ek darem vra: hoekom al die palawer? Waarom al die bloederigheid aan ’n boom vasgespyker? Waarom nie sê: “Haai, julle sondes is julle vergewe” nie?)
    Feit bly staan: neem die sonde weg, en poef! weg is die Christendom.
    Vir die nie-gelowige, die ateïs, is hierdie storie van nul en gener waarde. Die bonatuurlike bestaan nie vir hom nie, hy glo nie dat daar ’n alwetende, liefdevolle en almagtige god bestaan nie. Vir hom is die woord ‘sonde’ slegs ’n teologiese begrip. Indien hy iets verkeerd doen, is dit nie vir hom sonde nie, maar skry dit teen sy etiese beginsels en kan dit ’n oortreding van die landswette wees.
    Sonde is slegs vir die gelowige.

  • Jannie, ja, natuurlik staan die woord Christen in die bybel. Maar wat het dit beteken in daardie konteks? Ek waag 'n berekende raaiskoot - beslis nie trinitaristiese Christenskap nie. Die Christene van die eerste eeu was eenvoudig die volgelinge van hulle messias, Jesus. Die Christelike teologie is eers later behoorlik ontwikkel.

  • Ai tog, die vreeslike gewroeg oor "sonde", dag in en dag uit. En dit nou met die wete dat daar geen "sondeval" was nie. Die Genesis-verhaal bly maar net 'n mite.

    Staan liewer elke oggend op, geniet die natuurskoon van die Kalahari, trek vars lug in jou longe in en wees dankbaar vir die lewe.

  • Jannie Pretorius

    Dankie, dankie, Judy Ludwick-Erwee, jy sluit vir my nuwe insigte en vryheid oop.
    Ek en Koos is nog daagliks aan't kommunikeer, en ons leer nog elke dag iets nuuts. Ons is dus op 'n geestelike reis met ryke beloning. Vanoggend het hy vir my Matt. 5:17-20 gestuur: "Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.
    “Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
    Dit het my eers laat skrik, maar ek onthou toe dadelik Romeine 10:4: "Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo." Paulus sou tog nie vir Jesus weerspreek nie? Die "volle betekenis van die wet" is liefde. Jy bevestig dit: "In Christus is daar net een wet – die liefde". Dankie daarvoor!
    Ons het alreeds twee nuwe stukke gereed, en die vierde sal die laaste een wees: oor die liefde. Jesus som dit dan ook mooi op in die vorm van die eerste en tweede gebod, wat Hy aan mekaar gelykstel (Matt. 22:38–39 ). Dit is my ervaring dat, hoe meer ek vryspraak omhels, hoe groter raak my dankbaarheid en liefde: ek kon reeds as gevolg daarvan van 'n ondeug of twee ontslae raak ... My liefde groei, en dis nie as gevolg van my werke of eie pogings nie. As sulks kies ek hiermee onvoorwaardelik VIR God se liefdesgebod, en ek wil deur Sy Gees daaraan gehoorsaam wees. Daarmee sal God my help, doen Hy dit reeds vir jare: dat my gehoorsaamheid aan die liefdesgebod meer inhou as blote wettisisme, wat net tot geestelike dood kan lei.
    Ek gryp jou woorde aan, en jubel dit uit: "Wat 'n wonderlike, onverstaanbare voorreg om oortuig te kan wees deur sy Heilige Gees." Die grootste is die liefde.

  • Jannie, jy skryf: "Paulus sou tog nie vir Jesus weerspreek nie?"
    Paulus het nie vir Jesus geken nie. Hy het sy eie idees gehad wat verskil het van dié van Jesus, en dit is tog so duidelik soos daglig dat hy vir Jesus weerspreek.
    Wat gee jou die idee dat dit onmoontlik is dat Paulus vir Jesus weerspreek?
    Is dit omdat dit in dieselfde bybel geskryf staan dat jy dink alles binne die bybel moet versoenbaar wees met mekaar? Die eenheid van die bybelse boeke was nog altyd bevraagteken, want die eenheid is kunsmatig. Dit is mense wat besluit het watter boeke word in die bybel ingesit en watter word uitgelaat. Daarvan getuig veral die feit dat verskillende kerke se bybels verskillend lyk. My en jou bybel het toevallig die minste hoeveelheid boeke. En daarby geld ook die bekende ou uitdrukking – die oorwinnaars skryf die geskiedenis. En die oorwinnaars was juis Paulus en sy gevolg, wat die wette afgeskaf het. Ek stel voor jy lees Handelinge 15 deeglik en ook Galasiërs hoofstuk 2, veral vanaf vers 11, maar sommer die hele hoofstuk. Ek is seker jy ken die tekste. maar net om die geheue te verfris: So kry mens 'n geur van die 'kerktwiste' van die antieke eerste volgelinge van Jesus. (Asof ons nie al genoeg gehad het van kerktwiste na 2000 jaar nie!)
    Die teenstrydighede in die bybel word vandag algemeen aanvaar. Daar is boeke en nogmaals boeke daaroor geskryf. Sonder die afskaffing van daardie wette sou die volgelinge van Jesus maar relatief min en 'Joods' gebly het. Die kerk sou nie ontwikkel het nie. Die Christelike teologie sou nie ontwikkel het nie. Dit was 'n lang proses, maar dit het duidelik nie begin by 'n Jesus wat 'n Christen was of 'n nuwe godsdiens wou begin nie.

  • Die liefde, ja, die liefde. Ek stem saam. Waar is my jongdae tog! Ek kon nooit dans nie, maar ek kon lekker vry.

  • Hans Richardt

    Destyds was mense met klippe doodgegooi buite stadspoorte vir oortredings van Levitikus-wette; deur die Romeine gekruisig. Deur die Rooms-Katolieke Kerk gebrand op brandstapels en in stukke getrek op pynbanke. Alles vir sonde, nooit met vergifnis nie ...

  • 1 Johannes 1:10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is Sy woord nie in ons nie.

    As ons sê daar is nie sonde nie, dan het ons nie 'n Verlosser nodig nie. Sonde maak jou afhanklik van Jesus Christus se verlossing en uit dankbaarheid vir Jesus se verlossing stry ons daagliks, in God se krag teen sonde, maar dit vat nie die feit weg dat ons steeds sondig en sonde doen nie. Eers eendag in die hemel sal ons volmaak en sonder sonde wees.

  • Ai, tog! Julle klomp Chrisrene. Wat sukkel julle so met die sonde? As julle enige van julle god se wette oortree, dan pleeg julle sonde, finish en klaar, punt. Julle het 'n boek, sy naam is Die Bybel. Maak hom oop en lees Genesis en Eksodus. Daarin is daar 205 wette van God: vanaf die eerste wat julle verbied om van die boom van Kennis te eet, tot die laaste wat sê jy mag nie 'n lam in sy eie ma se melk kook nie. Dan is daar ook die boek, wat die levitikus aan jou voorlees, met 'n klomp wette wat jy moet nakom. Indien jy enige van hierdie wette oortree, sal God jou met die dood straf.
    Ek kan nou al vir julle sê, dis onmoontlik om in die moderne wêreld, streng volgens hierdie wette te lewe, want, indien jy dit doen, sal jy beslis in die tronk beland. Gelukkig het julle Christene 'n antwoord hierop: jy glo net kwaai aan die gekruisigde Jesus, en poef! Jou sondes is jou vergewe.
    Ek het nog beter raad. Gebruik jou Bybel as deurstopper, en lewe die lewe van 'n ateïs. Laat jou gewete jou sê wat reg en verkeerd is. Jy sal ook dan volgens die wette van die land lewe. Staan dan elke oggend sesuur op jou stoep met 'n stomende beker Boeretroos in die een hand en ‘n boerbeskuit in die ander. Asem die koel lug in, en dink aan wat jy die dag gaan aanvang.
    Lekkerrrr lewe!

  • Stem saam met jou Angus. Daar is mos die tradisie om te "getuienis" te lewer. En my getuienis is dat die lewe veel beter is sonder hierdie alewige sirkelredenasietjies oor god, die bybel, die wette, en dies meer en so aan. Die eintlike ding waaroor al hierdie kerkfaaights maar gaan, is mag en geld. As daar ooit 'n liefdevolle god was, dan het die god tog nou al meer as genoeg geleenthede gehad om dinge te kom uitsorteer hier 'onder' op die aarde. Om orde uit die chaos te skep. Maar hier sit ons, 2000 jaar na Jesus en die kerk kan steeds nie 'n duidelike definisie bied van sonde nie. Wat dit is en wat dit nie is nie. Wie die slegste sondaar is en wie heilig is nie. Nee wat, en dan sit jy boonop nog met hierdie kerke wat rem teen enige iets wat nie klop met hulle eie redenasietjies nie. Dit is gevaarlik. Soos die geval van die akademikus wat pak gekry het omdat hy dit durf waag om te beweer dat Jesus se dissipels nie aan Jesus as 'n god gedink het nie. Dit is mos 'n vreeslike ding om te wil beweer! Of dit nou waar is of onwaar, mens mag nie oor so iets praat nie. Dis taboe!

    Ten minste, lyk dit my, is die homoseksuele broers en susters darem toenemend welkom in sekere kerke. Seems like god is tog having a change of heart deesdae after all.

  • Jannie Pretorius

    Die liefde, Snotjan (skerp: "Seems like god is tog having a change of heart deesdae after all.") en Angus (soos jy sê), die liefde is waarby ons almal kan uitkom. Danksy julle gewaardeerde insette kon ek - baie dankie! My tweede stuk is op pad - ek sien uit na julle kommentaar!

  • Daar gaat dit alweer. Die skrywer, Jannie, het dit goed gedink om die ervarings met sy vriend Koos Becker (nie die Bekker van M-Net-faam nie) te deel. Jannie, dit is werklik lekker om 'n met sielsgenoot en boesemvriend die aanslae, uitdagings en ander vraagstukke te deel. Niemand is uniek nie. Ek lees almal se kommentare, maar gaan beslis nie daaroor iets uitlaat nie. Om 'n Christen/Gelowige, of wat ook die naam is wat jou toegesnou word, te wees, is 'n wonderlike ervaring. Ek kan net uit my eie ervaring praat. Jy is in die wêreld en nie van die wêreld nie. Dit is een van die maklikste en ingrypendste keuses wat ek in my lewe gemaak het. Ek is bevry, ek leef nie in vrees nie, ek doen wat ek doen. Ek is 'n mens en 'n gewoontemisdadiger van sonde. As jy nie weet wat sonde is nie, gaaf vir jou. Gaan aan met jou lewe, maar weerhou jou asseblief om oor iets te praat waarvan jy duidelik nie iets van weet nie. Jannie en Koos, sterkte vir julle. Verlustig julself in die oop Hand van Ons Hemelse Vader wat Sy genade, liefde en barmhartigheid onvoorwaardelik oor julle uitstort.

  • Jannie Pretorius

    Hallo Reusedwerg. Dankie vir jou bydrae. Hoekom skryf jy onder ’n skuilnaam? Ja, ons verlustig onsself inderdaad, en al hoe meer, in die oop hand van ons Hemelse Vader wat Sy genade, liefde en barmhartigheid onvoorwaardelik oor ons uitstort. Hy seën ons uit ons sokkies uit. Juis daarom is daar nog ’n stuk op pad – oor sonde en die liefde ... aan Hom AL die eer!

  • Sonja De Klerk

    Ek dank die Here dat Hy vir ons die Heilige Gees gestuur het. Ek glo jy sal in jou hart weet as jy iets verkeerd (sonde) doen. Dit kan dalk in iemand anderste se oë verkeerd wees, maar nie vir jou nie. Rede ’n persoon moet nie oordeel nie. Ons moet leer om deur die Heilige Gees gelei te word. Ons "sondes" te bely elke dag... Jesus ons vergewe vir "al" ons "sondes" wetend of onwetend... Ons skoon te was in Sy Bloed, te reinig sodat ons witter as sneeu kan wees...

    Nie nodig om te kibbel oor wat sonde is of nie.

  • Liewe Jannie Pretorius. Hoe kan jy die stelling maak dat voor God geen sonde is nie. So hartseer om te dink dat mens kan doen net wat jy wil oor en oor en God moet net heeltyd vergewe. Die woord van God stel dit duidelik dat daar steeds sonde is.

    Mattheus 5:9 (Lees die hele hoofstuk): "17 MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul."

    Let veral op vers 19: "Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele."

    Ja genade is daar beslis as jy in die Gees lewe en nie die dinge van die vlees doen nie.

    1 Johannes 5 (lees die hele hoofstuk) praat dan juis met die gelowiges en se daar is sonde tot die dood toe: Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is 'n sonde wat nie tot die dood is nie.

    As jy dan in Christus is sal jy nie sondig nie. Die wat nie in Christus is nie is steeds in die vlees en doen die sondes van die vlees.

    Galasiërs 5 vanaf vers 16 leer ons juis dat mens nie kan doen wat hy wil en sê deur genade is ek gered nie. Stop om die woord van God te verdraai en valshede te versprei. Ja jy val nie onder die wet van Sonde as jy deur die Gees gelei word nie, wat dan beteken dat jy nie die sondes van die vlees sal doen nie. Vers 21 stel dit baie duidelik dat die wat sulke dinge doen nie die Koningkryk sal beërwe nie.

    1 Johannes 3 druk dit ook uit dat elkeen wat sonde doen is uit die duiwel en het Jesus nie gesien nie.

    Gaan lees gerus ook Kolossense 3 en hersien dan jou denke rondom sonde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top