Vir Athol (2022)

  • 0

 Vir Athol (2022)

almal is hier om die skryftafel
lena     sizwe  morris zachariah
sam     willie  hester
boesman         johnie roelf
paula fourie    winston          booitjie
reverend byleveld      marthinus zoeloe
miss helen bedees en blind
in die deur met ’n grypsel glas
wat sy opgooi na die daklamp
bloupers groen rooi
soos kolibrievlerke

miss helen:
ja jou ou monoloogmaker
sal ons nader staan
g’n vleis word warm by net een lamp
die koue slaan op uit die karoo
kom speel vir oulaas jy’s polineisis
uiloogmeester agter jou bril

die dramaturg:
vriende skepsels miss helen
ek is ’n baster wit suid-afrikaner
laat ek my geheim met julle deel
julle my papierpoppe
my hoopgewers

sonder julle was ek ook op die spoor
saam met haar en haar drie kinders

julle is my soeterigheid by die sout

gee my julle hande
vir die laaste staptog deur ’n donker woud
of so nie groet maar kamerade
want ek het nog myle om af te lê
duime en duime se papier
om op koning te speel
ek kry julle voor die lion’s den

 

Hierdie gedig is deel van ’n reeks verse met “teater” as tema, en dit word aangebied om die dramaturg Athol Fugard se 90ste verjaardag in Junie 2022 te vier. Lees al die gedigte hier:

Athol Fugard 90: Teatergedigte

Die bydraes in hierdie reeks word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die LW Hiemstra Trust.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top