Europa, Noordelike Halfrond, Genève, Donderdagoggend 15 Oktober, so kwart voor nege.
My studente kom sit en raak stil voor hul vraestelle. Dis daai tyd van die jaar: toetse en spanning; huiwerings en ontleding; oordeel sonder vooroordeel.
My foon trek my aandag. Ek moet die lui afsit. ’n WhatsApp-boodskap van John, my pa:
Ampie oorlede, vog op die longe en hartversaking. Groot afskeid. 8:49.
Ek probeer my studente op hul gemak stel, soveel as moontlik … onder omstandighede:“Onthou asseblief om jul name op die eerste bladsy te skryf.”
Liewe Pa, dis ’n skok: Ampie is deel van kindertyd, volwassenes se opstand, wyndrink en lag. 8:51.
“Ek gee julle vyf minute ekstra tyd om die toets deur te lees voordat julle inspring. Sommige vrae is diskwalifiserend indien julle dit nie beantwoord nie. So, lees mooi. Hou kop. Julle het twee uur. Sterkte!”
“Fok!” hoor ek Ampie sê. En dan, sy lag. Wanneer Ampie “fok!” sê, hoor ek hom lag.
Ampie is die enigste persoon met ’n fok-lag; ’n uitroepteken wat spreek beide van verbystering en van verwondering. Ampie kan ’n gesprek skandeer met één magiese woord.
Dit is Ampie se antwoord op nuus wat enigsins van belang is, of dit nou die onverwagte opwindende uitkoms van ’n rugbywedstryd betref of ’n diep ontstellende beraad van magsbehepte politici.
Volgens Michel Leiris is daar baie streng reëls oor die gebruik van taal by die Dogon-mense in Mali, Afrika, Suidelike Halfrond, altyd. Vloekwoorde is deel van die geheime taal van die Sangha Dogons en mag net deur die towenaars en kruiedokters ingespan en uitgeslaan word, só sterk is die krag van vloek.
“Fok!”
Ampie se antwoord op die nuus van sy dood.
“Fok!”
Ampie se towerwoord om die hart se poort oop te gooi.
In die binnehof van die agtertuin by die eerste huis van Ampie en Stella waar ek as kind altyd met liefde gaan kuier het, staan groot en sterk die moerbeiboom. As jy op ’n moerbei trap, kleur die vlek jou kaal voetsool vir dae. Die moerbei is ’n towervrug waarvan die ink op jou lyf lyk na ’n kneusmerk, maar spreek van sorglose kaalvoet kinderpret en soet sap in die mond.
In vandag se wêreld, Noord en Suid, waar nuus uit verskeie oorde met soveel geweld ons menswees aanvat, bring John se woorde van jou heengaan ’n lafenis. Ampie, net soos die donker vrug op my voetsool, laat jou lewe ’n ewige inkdruk op my hart.
Mooi loop.


Kommentaar
Pragtig en treffend. Ons geliefde Prof. Ampie. Warm mens. Intelligente mens maar plat op die aarde. Rus in vrede liewe Prof. Ampie