Nèlleke de Jager was uitgewer van liefdesverhale en poësie by Tafelberg, en daarna sewe jaar lank hoof van Kwela Boeke. Sy is pas aangestel as digitale uitgewer by NB-Uitgewers. Naomi Meyer het haar gou voorgekeer met 'n paar vrae oor wat die nuwe aanstelling behels.
Hallo Nèlleke, en dankie vir die geleentheid tot gesprek. Heel eerste, baie geluk met die feit dat jy van April 2012 af aangestel is as digitale uitgewer van NB-Uitgewers. Omskryf asseblief wat jou posisie sal behels.
Die meeste groot internasionale uitgewers het deesdae afsonderlike digitale afdelings wat spesifiek fokus op die vervaardiging van digitale produkte – hetsy e-boeke wat slegs digitaal verskyn of die ontwikkeling van apps (kyk Faber en Faber se fantastiese The Waste Land). Dit is dus ’n goeie skuif van NB (as ek so mag sê) om ook in hierdie rigting te beweeg. My hooftaak sal wees om om te sien na NB se digitale strategie – ons het ’n reuse-fondslys en daar is baie maniere waarop van dié inhoud opnuut aangebied kan word. En tweedens vermoed ek die plaaslike mark is amper gereed vir e-boeke wat slegs digitaal verskyn. Ek hoop dus dat ons oor ’n paar maande ’n paar interessante projekte kan loods. As daar egter een groot les is wat ek die afgelope jaar of wat tov uitgewers se digitale strategieë geleer het, is dit dat ons voortdurend aanpasbaar moet wees. Ek is dus huiwerig om nou al op so ’n openbare platform al ons planne bekend te maak, maar ons het baie (en goeie!) idees, en bowenal sal ons aanpasbaar bly. Soos julle by LitNet seker amper beter as ons weet, word Suid-Afrikaners dikwels as “early adopters” in die tegnologiese veld beskou. Dis dus ’n baie opwindende veld om te betree.
E-boeke en publikasies op die internet is natuurlik vir ons by LitNet van besondere belang en iets waarin ons baie geïnteresseerd is. Wat plaas ’n mens, wat is die kriteria vir publikasie, watter soort geld vra mens vir boeke wat nie in gedrukte vorm beskikbaar is nie ...?
Hoe neem ’n mens énige publikasiebesluit? Sal die boek winste bring vir beide skrywer en uitgewer? Sal die boek ’n wesentlike bydrae lewer tot die huidige politieke debat of dalk verruiming in die plaaslike letterkunde? Die aard van uitgewerswese verander nie, slegs die medium.
In ’n brief waarin jy skrywers inlig van jou nuwe posisie, noem jy dat die digitale landskap ’n uitgewer in staat stel om gehore/lesers te bereik wat andersins dalk nie met tradisionele boeke getrek sal word nie – eie parafrase. Sluit digitale publikasies vir jou ook publikasies op selfone in? Of waar en hoe sal mense digitale publikasies te lese kan kry? (Skielik voel die outydse boekomgewing effens meer eenvoudig.)
Ja, dis ’n besondere uitdaging vir Suid-Afrikaanse uitgewers: om aan die een kant steeds boeke uit te gee wat spreek tot die geskatte 550 000 gereelde boekkopers ter plaatse (en gelukkig nou ook lesers in die buiteland), en om aan die ander kant nuwe lesers te bereik danksy selfoonpenetrasie hier en elders in Afrika. Weer eens, ons is aan die begin van ’n reeks konsepte en ek sou verkies om meer hiervan te vertel sodra ons later in die jaar gereed is om ons planne bekend te maak.
Jy was lank betrokke by Kwela. Sal dit deel van jou visie in die digitale bedryf wees om saam te werk met tradisionele uitgewers soos Kwela en hulle boeke in gedrukte vorm asook digitaal uit te gee?
Die gedagte is om baie nou saam met al die drukname by NB te werk. Op die oomblik word al ons teksgebaseerde boeke reeds tegelykertyd as gedrukte boek en e-boek uitgegee. Gaan kyk gerus na onder meer ons Sapphire-liefdesverhale, nou beskikbaar op Kalahari en selfs ook Kobo. Ons uitdaging is nou om te kyk watter van ons ouer fondslysboeke ook as e-boeke moet verskyn, aangesien dit ’n redelik duur en ook tydsame proses is. Ons het reeds sowat 570 e-boeke (waarvan minstens 80 persent in Afrikaans!) beskikbaar op Kalahari en elders, en ons e-boeke word deurlopend by meer en meer internet-afsetpunte beskikbaar. (Ons onderhandel tans onder meer ook met Amazon.) Ons grootste verantwoordelikheid is egter steeds teenoor ons skrywers, en dis belangrik dat ons geen oorhaastige besluite te neem nie.
Daar is maar altyd kontroversie sodra enigiets verander. Jonathan Franzen word byvoorbeeld hier aangehaal as hy hom uitspreek teen digitale boeke. (The Daily Telegraph, weliswaar ’n poniekoerant, toegegee. Maar daar moet ’n halwe waarheid tussen die sensasie versteek wees.) En hier is ’n sterk stuk sosiale kommentaar oor die mens en almal se versugting na onmiddellike behoeftebevrediging, of die soeke na onsterflikheid, die weggooikultuur, ens. Wat dink jy van die (on-)permanensie van e-publikasies en die impak daarvan, ten diepste, op die samelewing?
Ja, hier moet ek bieg dat ek die hele debat oor p vs e (print vs electronic) redelik saai vind. (Jammer!) Dink ’n bietjie terug aan die groot debat destyds toe Penguin met hul toeganklike sagtebandformaat-strategie vorendag gekom het. Die beskikbaarheid van e-boeke op enige plek, te eniger tyd laat my dink aan die eerste keer wat ’n mens in ’n reusebiblioteek instap – waar ’n mens se keuses oneindig is. Om te sê e-boeke gaan verarming in die letterkunde veroorsaak is eenvoudig ’n oorveralgemening. Veral vir Suid-Afrikaners, wat so dikwels worstel om ’n boek in die hande te kry ... Ek het gedurende die vakansie naarstiglik gesoek na Qiu Xiaolong se Death of a Red Heroine, en ná ek moes wegdraai by vier Kaapse boekwinkels,* het ek ’n digitale eksemplaar aangekoop op my Kindle app op my iPad. Is dit verarming? Inteendeel. Vir die lesendes onder ons wat dikwels so geweldig geïsoleer voel, is dit ’n drastiese omwenteling. En uiteindelik ’n verruiming van ons persoonlike biblioteke. Wanneer nuwe media op die horison verskyn, sterf ou media nie af nie – dit pas net aan.
* Tussen hakies: ek het onlangs ’n konferensie oor digitale boeke in New York bygewoon (digitalbookworld.com), en een van die groot tendense in die Noord-Amerikaanse boekebedryf tans is die hernude oplewing van onafhanklike boekhandelaars. Hoekom? Vanweë die boekhandelaars se diepgaande boekkennis, en hul rol as kurators. Om die waarheid te sê, statistiek bewys die een kan nie sonder die ander nie. Boekkopers doen dikwels steeds hul snuffelwerk in baksteenboekwinkels en koop toenemend skrywers wie se werk hulle ken by e-handelaars. Die bedryf funksioneer dus as ekosisteem en deelnemers steun op mekaar om te oorleef.

