Vincent Willem van Gogh is dood, lank lewe die groen

  • 0

Op die dag, 29 Julie 1890, klap ’n skoot in die veld by Auvers-sur Oise. Vincent Willem van Gogh is dood. Selfdood? Moord? Daar is teenstrydige stories: diegene wat praat van twee jong drinkebroers waarmee Vincent graag in die dorpskroeg gekuier het en die relaas van die dertienjarige Adeline Ravoux. Sy is die dogter van die losieshuiseienaar waar Vincent woon. Hulle was vriende. Sy hou vol dat hy homself geskiet het

Hoe dit ook al sy, Vincent van Gogh sterf, slegs sewe en dertig jaar oud.

’n Paar jaar gelede, met die heropening van ’n nuutgemaakte Van Gogh Museum in Amsterdam, word sy verfkissie saam met sketsboeke uitgestal. Daar is, onder andere, ’n paar buisies groen olieverf. Hulle hou my aandag, omdat groen ’n moeilike kunstenaarspigment is. Veral in daardie dae.

Daar bestaan opwindende stories en navorsing oor die vroegste groen pigmente en kleurstowwe deur die eeue. Van prehistoriese groen kleurstof gemaak uit berkeboombas tot die helder glasure op Mesopotamiese keramiek.

Volgens Vincent se inkopielyste by Lefranc, Talens en Touset et Lhote gebruik hy meestal Verte Emerude, Vert Véronése, Permanet Groen, en Sinnobergün. Die name van die groen pigmente verander ook amper daagliks wat groot verwarring skep. Nietemin, groen kunstenaarsverf is ook giftig, omdat baie van die kopermengsels wit arseen bevat.

So mooi soos groen in die natuur is, so onverhoeds is dit as kunstenaarspigment. Gelyktydig verraderlik, én verruklik.

’n Renaissance-kunstenaar, Poalo Véronèse, is ook bekend vir sy gebruik van groen. Daar bestaan vandag nog ’n groen pigment wat sy naam dra. Om ’n soortgelyke effek te kry, kom nie sommer uit ’n ready-made-buisie nie. Dis eerder ’n tegniek deurdat die kunstenaar verskeie lae opbou.

Vincent is by uitstek ’n bobaas alla prima skilder en is onder meer ook bekend dat hy die groenste skildery ter wêreld maak –’n stillewe met rose. Sy waagmoed met groen is verstommend. Hy kikker sy groene dikwels op deurdat hy chroomgeel daarmee saam meng. ’n Groen, wat as dit langs roes en rooi geplaas word, soos ’n eskader poue skreeu.

Salute Vincent!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top