Vincent Wants to Sea: Hoog aan te beveel vir die ernstige kyker

  • 0


Vincent Wants to Sea

Regisseur: Ralf Huettner

Rolverdeling: Florian David Fitz, Karoline Herfurth, Johannes Allmayer, Heino Ferch, Katharina Müller-Elmau


Drie jong mense in ’n psigiatriese inrigting, met onderskeidelik Tourette-sindroom, obsessief-kompulsiewe versteuring en anoreksie. Klink dit na ’n resep vir ’n swaarmoedige fliekuur? Slegs as die regisseur in die slaggat trap van die formulefliek oor hopelose gevalle – en hierdie regisseur vermy dit telkens met gemak. Daar word net genoeg afwykende gedrag gewys om oortuigend te wees, maar nooit soveel dat die karakters in fratse verander nie. Dis moontlik verder te danke aan die draaiboek deur Florian David Fitz, wat ook die hoofrol vertolk.

Vincent se ma is pas oorlede. Van nog voor sy tienerjare was dit net hulle twee in ’n afgesonderde bestaan, en sy onvermoë om haar dood te verwerk, laat sy Tourette-sindroom vererger. Sy onsimpatieke pa (Heino Ferch), al dekades lank geskei van sy ma, het ’n loopbaan as politikus om na te jaag en gaan laai Vincent eenvoudig by ’n psigiatriese inrigting af. Sy kamermaat is Alexander (Johannes Allmayer), die OCD wat allesbehalwe verwelkomend is. Marié-met-anoreksie (Karoline Herfurth) voltooi die trio toe hulle een nag op ’n enigsins onbeplande reis na San Vincente in Italië vertrek – in die inwonende psigiater, dokter Rose (Katharina Müller-Elmau), se ou motortjie.

Die waarmerk van ’n goeie karaktergedrewe verhaal is of die oplossings vanuit die karakters self kom, en hierdie fliek met sy bittersoet einde kry dit in elke opsig reg. Tussendeur is daar heerlike onderbeklemtoonde humor, veral wat die Duitsers en hul motors betref. 

Hoog aan te beveel vir die ernstige kyker!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top