Video en foto's: Bekendstelling van Ingrid Jonker – ’n biografie deur Petrovna Metelerkamp

  • 9

Petrovna Metelerkamp se omvattende biografie van Ingrid Jonker is by die Suidoosterfees bekendgestel. Suzette Kotzé-Myburgh het met haar gesels oor die nuwe onthullings wat in die boek na vore kom.

Petrovna Metelerkamp en Suzette Kotzé-Myburgh

Petrovna Metelerkamp

Ingrid se dogter, Simone, het vir Petrovna bedank vir die werk wat sy gedoen het.

 

Ingrid Jonker – ’n biografie

Uitgewer: Penguin

Oor die boek op www.penguinrandomhouse.co.za:

Ingrid Jonker, begaafde jong digter, loop op 19 Julie 1965 die see in by Drieankerbaai en verdrink. Sy laat haar familie en vriende agter met meer vrae as antwoorde. Gedurende die afgelope 50 jaar het sy ’n ikoon van die Afrikaanse en Suid- Afrikaanse letterkunde geword. In so ’n mate, dat haar lewe en veral haar dood soms haar werk en die belangrike bydrae wat sy tot die literêre beweging van die Sestigers gemaak het, oorskadu.

 
Haar politieke sieninge, soos uitgedruk in haar poësie en haar passie en die droefheid van haar onstuimige liefdesverhoudings met onder andere Jack Cope en André P Brink het al tot baie besprekings gelei. Sy het weer onder die publieke oog gekom toe oudpresident Nelson Mandela in sy inhuldigingsrede in 1994 in die Parlement een van haar gedigte aangehaal het. Hy het haar gedig: “Die kind” voorgelees en gesê: “Sy was beide ’n digter en ’n Suid-Afrikaner.” Sedert haar dood is daar vele bespiegelings oor haar lewe en tragiese einde. Van dié vrae word beantwoord in hierdie eerste omvattende biografie. Petrovna Metelerkamp doen al jare navorsing oor Jonker. Sy neem die leser saam deur Ingrid se grootwordjare, digterslewe, liefdesverhoudings en die laaste paar jaar van haar lewe.
 
Metelerkamp bring nuwe inligting aan die lig wat sy neem uit onbekende nuwe briewe en dagboekinskrywings, onder meer uit die dagboeke van Jack Cope. Talle nuwe onderhoude met mense wat Jonker geken het, word in die biografie opgeneem. Sy weerlê ook die beeld van Jonker as ’n ongebalanseerde kunstenaar wat haar houvas op die werklikheid verloor het in hierdie toeganklike biografie oor een van Suid-Afrika se aangrypendste kunstenaars.
  • 9

Kommentaar

  • Petrovna, weet jy van die keer toe Ingrid uit die see by Drieankerbaai gered was deur 'n polisieman van Seepunt-polisiestasie? Sy naam was Patric (Pat) Pietersen. Pat het ongelukkig op die grens gesterf.

    • Hallo Ronel, Ek het by die polisiestasie iets hiervan gehoor, baie lank gelede. Sal die inligting moet soek, maar ek dink amper daar is iets oor Pietersen se heldedaad geskryf in die polisie se tydskrif. Weet jy daarvan? Hoe ken jy hom?

      • More, Petrovna. Ek het Januarie 1977 by die nuwe polisiestasie as klerk begin werk. Ek het vir Pat geken, hy was toe 'n sersant. Hy het my self daarvan vertel. Soos ek genoem het, hy is - ek dink 1978 - op die Grens dood. Sy vrou was 'n haarkapster as ek nou uit my brein se argiewe moet grawe.
        Die "ou" polisiestasie was op die perseel waar die ouetehuis staan en dit was sover ek weet toe dit nog in gebruik was. Ek kan probeer om iemand op te spoor wat dalk meer daarvan weet, anders behoort die polisie-argiewe seker nog 'n Servamus te hê waarin die artikel verskyn.
        Pat was na die insident 'n groot aanhanger van haar. Hy het vertel hoe hy by haar gesit het met sy tuniekbaadjie om haar en met haar gepraat het.

  • Neville Botha

    Petrovna of Suzette, Ek en Sers. Petersen was die twee polisiebeamptes aan diens die tragiese nag, kontak my asb ek het baie inligting vir u.
    Neville Botha

  • Neville, dis regtig baie interessant om te weet en ek sal self meer wou weet. Ek kan nie dink dat ek jou op Seepunt-stasie ontmoet het nie. Dis wonderlik dat jy die res van die verhaal kan volmaak.

  • Neville Botha

    Ronel, nee Pat het haar nie uit die see gered nie, dit was n ander insident. Sy vrou Bettie het in die bank gewerk. Ek glo Ingrid se laaste ete was saam met ons, toebroodjies en koffie uit Pat se koffiebottel. Daardie oggenduur toe sy by die polisiestasie instap was haar woorde aan my: "Ek gaan selfmoord pleeg." Ek onthou dit soos gister.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top