Die musikant Riku Lätti het ’n gedaanteverwisseling ondergaan en is “verorber” deur sy nuwe persona, Victor S Wolf. Hy beantwoord enkele vrae oor dié verandering.
Goeiedag, Victor. Hoe’s dinge?
Awesome bra, never better. En dasô?
Heelwat mense het nogal ’n groot skok beleef toe jy op Facebook geplaas het “RIP Riku Lätti”. Wat het gelei tot die “sterfte” van Riku en die geboorte van Victor S?
Riku se sterfte was ’n lang storie, bra, soos jy self weet. Daar was so baie goete wat spykers in die doodskis geslaan het langs die pad dat, die dag toe die dood kom, het die nuus hierdie deeltjie van die heelal soos ’n handskoen gepas. Alle lewe lei tot die dood, sy tyd is verby. Daar is eintlik nie veel meer vir my om oor Riku te sê nie; hy is soos ’n goeie vriend wat nie meer gaan kom kuier nie.
Het Riku darem heelwat rouboodskappe en/of huldeblyke ontvang? Wat was aanhangers se reaksie op hierdie sterfte en hergeboorte?
’n Paar ouens was bietjie kwaad, party ouens verlig by die geboorte van Victor S. Hier en daar kom mense nog met e-posse na my familie toe met betuiginge van deernis en boodskappies van “Hy was ’n oulike ou, jammer ons het nooit meer tyd saam gespandeer nie.” Maar oor die algemeen het die meeste van my mense goed verstaan wat gebeur het en in ’n kort tydjie het hul liefde en aanvaarding van Victor S hul rou en hartseer oor Riku Lätti ver oortref.
Riku Lätti het, hoewel hy baie divers was met sy inslae met die talle albums wat hy opgeneem het, ’n kenmerkende styl gehad. Hoe verskil Victor Wolf se styl van Riku s’n?
Riku het ’n paar goeie idees gehad, maar musiek was vir hom ’n groot tsoenami, ’n warboel van moontlikhede wat hom op die ou end omsingel en verstrengel het. Victor S se benadering is eenvoudig: “If it doesn't make musical sense immediately it is wrong, try something else. The clever is stupid. The academic is lame. The art is a waste of time. The art is not to waste your time. The trick is to make the biggest amount of fun that your genre can bear to be. Simplify. Cut out the kak. Even though it takes a lot of hard work and a couple of good choices, simplicity can be achieved.” As die song nie eenvoudig is nie, het jy nog nie hard genoeg daaraan gewerk nie – gaan terug en werk nog daaraan, sodat jy dit in min note kan oorvertel dat almal kan verstaan.
Dit wil voorkom of Victor Wolf bykans maandeliks ’n nuwe snit op Soundcloud vrystel. Is dit deel van die plan – om nuwe snitte op die web vry te stel soos hul afgerond word, pleks van tradisionele albumvrystellings, of is daar ’n album op pad? Gegewe die feit dat jy al talle albums vrygestel het, wat dink jy is die toekoms van die albumformaat in Suid-Afrika en elders?
Dis nie soseer ’n plan nie, maar ek is nie seker dat plate maak in ’n tyd waar niemand dit koop nie, ’n goeie idee is nie. Ek sal weer ’n album vrystel wanneer ek weet dat daar mense is wat dit sal koop. Op hierdie stadium gooi ek liedjies op die internet, want ek wil graag hê mense moet dit hoor. Dis vir my belangrik dat iemand toegang tot die liedjie het en dit enige tyd kan gaan luister, daarom hou ek van die internet as ’n medium. Ek het nou al meer as tien CD’s by drie verskillende platemaatskappye en ek kan nog steeds nie een CD in ’n winkel in die land kry nie. CD’s aan die land verkoop in winkels werk net vir die vier of vyf grootste sterre, nie vir musikante oor die algemeen nie. Geld is ook nie alles nie, so dis ook nie vir my ’n hartseer gedagte dat ek ’n stuk musiek maak waarvoor ek nie ’n sent verdien nie. Solank daar ’n paar mense die musiek kan hoor as hulle wil, is ek happy.
Die oorgrote meerderheid van die snitte op Victor Wolf se speellys op Soundcloud is in Engels. Riku het wel ook verskeie Engelse snitte vrygestel, maar hy het steeds meestal in Afrikaans gewerk. Vervaardig Victor slegs Engelse musiek, of hoe sien hy sy toekoms in hierdie opsig?
Victor S is nie oor die algemeen lief vir Afrikaanse musiek nie. Riku het musiek in Afrikaans gemaak. Dit is een van die redes hoekom hy vandag dood is. Daar is genoeg Afrikaanse musiek wat Riku geskryf het wat niemand nog gehoor het nie, nou beskikbaar van www.riku.co.za (volgens sy boedel is al sy musiek aan almal bemaak wat dit wil hê en sal dus alles gratis op die oorle Lätti se site downloadbaar wees). Victor S sal musiek maak; die taal daarvan sal deur die lied bepaal word.
Gepraat van die vervaardiging – ondanks die reëlmaat waarmee die snitte vrygestel word, is die produksiewaarde van baie hoë gehalte. Waar en hoe neem jy die snitte op en hoe verloop die proses?
Hierso by my ou huisie in St Rand. Ek het Riku se studiogereedskap geërf. Mens het nie baie nodig om mooi musiek te maak en op te neem nie. Goeie instrumente, of selfs so-so instrumente in goeie hande, maak goeie klanke. Mens het eintlik net ’n goeie mikrofoon voor ’n goeie musikant nodig, dan kry mens in ’n japtrap ’n knapsak vol goeie liedjies. Dis eintlik hoe maklik dit is. Die eenvoudigheid het egter lank gevat om by my tuis te kom. Snaaks dat die waarheid so ’n ompad vat, maar as jy eers twee en twee bymekaar het, dan's daar vuur.
Victor span graag ’n verskeidenheid kunstenaars in om saam met hom te werk aan die snitte – onder meer het Lady Lillith Debauchery, Lanimybru, Marius Hartzenberg, Ruben Swart en Willim Welsyn al bygedra tot die snitte wat opgelaai is. Hoe ondervind jy die samewerking met hierdie kunstenaars en waarom betrek jy hulle graag telkens? Bestaan die moontlikheid dat daar as ’n voltallige band opgetree en getoer sal word?
Ek geniet dit om met hierdie kunstenaars te werk – hulle is immers my vrinne. As jy lank genoeg hier op my voorstoep rondhang, sal jy mettertyd op een of ander opname ingespan word. Dis hoe dit werk hier by Victor Wolf. O ja, daar is ’n band: Kingston and the Rasta! Dit sluit bogenoemde musici in, maar ook Jackie M en Churchill Naudé. Gaan loer ’n bietjie op meneer Naudé se profiel – daar sal so ’n paar liedjies wees wat van hier af kom.
Gepraat daarvan – hoe lyk Victor se toerskedule en hoe wil hy graag hê dit moet lyk in die toekoms? Wat is sy gunsteling-plekke om te besoek?
Daar is geen toerskedule nie. Sal graag ’n toerskedule met datums, lande, plekke, name, tye en al sulke goed op wil hê, mooi op ’n kalender met foto'tjies en noodnommers en sulke goed, maar ek is nie so fussy nie – dit kan op enige kleur papier in enige font wees. Victor is tuis omtrent oral. Dis deels hoekom hy so baie by die huis bly. Om op te neem. Maar Victor sien veral uit na ’n Griekse toer. Kingston and the Rasta sal baie in die sonskynlande naby die mooi strande wil optree. Sien, Victor is ’n Viking. Die Wolf wat Riku verorber het, is ’n Viking Rasta, dus: plekke naby die see geniet voorkeur. Maar ons sal enige plek speel waar die mense cool is. Ons leuse op ons plakkaat is, after all: "GEEN KAK MENSE, ASSEBLIEF!"
Riku was bekend daarvoor dat hy nie huiwerig was om mond uit te spoel oor aktuele gebeure in Suid-Afrika en elders nie, veral wat die politiek betref. Kan ons meer daarvan verwag met Victor Wolf? Wat pla hom spesifiek oor alles wat deesdae aangaan, en waaroor sal sy volgende lied met ’n politieke ondertoon (of botoon) handel?
Man, bra, ek gaan jou antwoord met ’n quote: "You're asking me will my love grow. I don't know, I don't know. You stick around now, it may show. I don't know, I don't know." (Mense wat kan raai waar daai vandaan kom kry ’n gratis link na die dropbox folder met Kingston and the Rasta se debuutalbum: Under a walnut tree. Pos na Victorwolf@outlook.com.)
Victor sien sake so: Ons bevind ons in ’n era waarin die individu kan sien wat skeefloop tussen mense en die aarde, maar in sy individuele hoedanigheid nie werklik in staat is om enigiets daaraan te doen nie. Dit beteken nie dat alles hopeloos is nie. Inteendeel, alles is volmaak soos dit is. Die realiteit is dat die mensdom nie die belangrikste ding vir die hele heelal is nie. Nog minder Suid-Afrika en sy politiek, en nog minder Afrikaans en sy musiek.
Elke mens wat vandag kompos met ons is, soos byvoorbeeld mense wat skrywes soos hierdie lees, het ’n onwaarskynlike geluk in die skoot geval om ’n bewuste wese in hierdie werklikheid te wees. Sjoe, daar is soos in onpeilbaar baie moontlikhede vir alles en almal. Ons praat van groot geleenthede om op te kyk en te sien hoe beweeg die son oor ons koppe verby; hoe mooi maak die wolke oor die berge; hoe fantasties pas die wêreld wetenskaplik inmekaar; hoeveel vlakke van spirituele ontdekkings is vir ons moontlik; soveel plekke om nog te sien; soveel great mense om nog te ontmoet; hoeveel mooi songs om te maak; hoeveel belangrike (futale) projekte om mee betrokke te raak. Life is a gift, we might as well suck the marrow from the bones. Natuurlik sal ’n mens net volkome mens wees as hy homself toelaat om mens te wees wanneer menswees vereis word. As ek de moer in raak, gaan ek daaroor praat. As iets my roer, sal ek liries raak. As ek iets voel, sal ek daarop reageer soos dit vir my sin maak. Maar vra jy my gaan ek meer so en so wees – bra, ek weet nie – kom ons kyk wat gebeur, dit sal reg wees soos dit is.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
Kommentaar
Sjoe, het aanvanklik geskrik, maar dis hoekom mens dinge in konteks moet lees! En ook alles en nie afleidings maak nie!
Wie dink hierdie Vicki ou wat in ST Rand woon is hy nou regtig???? Klink vir my soos 'n regte aandagsoeker ...
Jammer, Stefan, miskien moet jy bietjie gaan luister op SoundCloud. Ek dink Victor S Wolf is absoluut coool! Baie beter as die Riku Latti van ouds.
Dankie, Victor, dat jy jou musiek op hierdie manier aan ons beskikbaar stel!
Duidelik verstaan jy nie, Stefan.