Verskoon my Frans

  • 2

Taalwaarskuwing: Nie vir sensitiewe lesers nie

Vuil, kru of gekruide taal. Afrikaanses maak ruimskoots gebruik van swetsery, verwensinge en kragwoorde. Vloekwoorde, as ’n versamelnaam, dui op taboewoorde en is ’n aktiewe deel van enige taal se leksikon. En Afrikaanses pruim in ’n ruim woordeskat, al is hulle ook hóé ingat of vroom. Kinders slaan ondeund hierdie skeldwoorde, aangedui as “[plat]” in die HAT, na en giggel oor die formele definisies. Die moderne soektog na vloekwoorde is waarskynlik om vir Siri, Alexa of Google Assistant te vra wat tongknopers beteken. Ja, die lockdown het ons almal se psigologiese sagteware ’n bietjie opgefoeter. As jy nou regtig lonely is, kan jy altyd vra: “Alexa, what is the meaning of the word fuck?”

En sy sal antwoord: “I’d rather not say anything rude.” Óf jy kry hoflik en bot ’n akademiese verwysing na die kragwoord. Sela. Nee, artificial intelligence vloek (nog) nie.

Interessant: Baie vloekwoorde is ontleen uit die weer, byvoorbeeld donder, wetter of bliksem. Maar waarom juis so ’n veilige of vervelige onderwerp – die weer? Want dit dui op godskenmerke uit die Germaanse godedom en met die kerstening van Germane het hierdie gode, soos Thonar, skielik duiwelse konnotasies gekry en het die taboewaarde van dié woorde verhoog. Verwysings na laer liggaamsdele, funksies en dade asook genitalieë, daardie dinge waaroor die mens skaam voel en wat maklik as onwelvoeglik beskou kan word, is volgende aan die beurt: “Hy’s ’n simpel ou kont.” Onder Suid-Afrikaners is blasfemie en die ydellike gebruik van die Here se naam steeds hoog op die swartlys van swets.

My belangstelling in vloek het in die 80’s begin met Keith en Lorna Stevens se strip, Ben, Babsie en familie. Die kru woorde in die woordborrel was doelbewus gedoof as $#%&!!* of iets in dier voege. Ek het gewonder of daar ’n formule vir vloek bestaan en of dit bloot willekeurig is; of mens die aantal letters van die oorspronklike vloekwoord moet byreken in die dooftekens. Nog meer absurd is die gebruik van een doofletter soos ’n asterisk in ’n vloekwoord: sh*t. Nee man, almal weet wat dit is! Eufemisme help niks, dis skynheilig. Die bliepsensor se “pieeeep” in mediaproduksies vestig júís die aandag op die kru woord en die luisteraar probeer uitfigure wátter woord nou gesensor is. Die kinderlike “dubbeltjie ‘k’, middeltjie ‘a’” verdoesel nou ook nie juis die basisvloekwoord nie. Ander versagtende verwysings verflou na “die drie- en vierletterwoorde”, of die “f- en p-woorde” wat mens laat kopkrap, want daar is meer as een so ’n woord.

Wie het besluit vloek is vloek? Dat party woorde “lelik” is? Daar’s ’n rits filosowe wat mens kan byhaal wat reken dat taal nie onskuldig is nie. Maar dis nie waaroor hierdie skrywe gaan nie. Ek het soort van compassion met die stiefkinders van ’n taal. Verbale geweld, whoa! As ek my vinger met ’n tientonhamer raakslaan, is dit beslis nie ’n “O alla aarde!” nie, dis “Foooook!” En gepraat hiervan: “Die unieke Afrikaanse fok”, ’n semi-akademiese linguistiese studie van dié gewraakte woord, het soos ’n veldbrand op die sosiale media versprei. Vir jou binnevet, liewe leser: Indien jy nog nie hierdie skreeusnaakse artikel onder oë gehad het nie, klik gerus hier om dit te lees: https://ekisafrikaans.co.za/unieke-afrikaanse-woord-fok/.

Wetenskaplike navorsing oor vloekwoorde is skaars. In 1981 het Ilse Feinauer ’n MA-verhandeling getitel “Die taalkundige gedrag van vloekwoorde in Afrikaans” ingedien. Ek moet bieg, nog nooit het ek ’n M só geniet nie. Hoede af vir ’n dapper student wat self erken het dat die taboewaarde verbonde aan so ’n studie haar kon kelder. Dit blyk uit haar verhandeling dat Afrikaanses die matroostaal looi en dat vloekwoorde in hulle onderskeie leksikale kategorieë dui op ’n unieke sintaktiese optrede in die Taal. Sy wys byvoorbeeld op vloekwoorde wat ingevoeg word in sinne as “schizophrasia” (skisofrasie), soos “dis kwart oor fokken vier”, wat op sy beurt assosiasies van skisofrene se woordeslaai voor die oog roep.

Nou ja, dit is seker beter om ’n kragwoord te uiter as om iemand aan die strot te gryp. Vloek is nie onwettig nie. En die sosiale en psigologiese voordele verbonde aan knoop is legio. Om sosiaal te swets, verhoog ’n gevoel van samehorigheid en dit gee daardie ekstra spice aan ’n gesprek deur middel van die dramatisering van ’n vertelling. Kragwoorde verlig ook psigiese of fisieke pyn – dit is bewys – en ek vermoed mense het tydens die lockdown radeloos begin vloek, al was die mure en ’n verdwaalde huiskat waarskynlik die enigste getuies. Suid-Afrika se godfather, Mike Bolhuis, het tydens ’n onderhoud op Nuuspod kru taal verdedig en beweer dat dit van onskatbare waarde is tydens ’n misdaadondersoek. As jy ’n skelm ondervra en stilmaak, gaan “Bly stil” nie die gewenste uitwerking hê nie – “Shut the fuck up!” wél. Skuins taal is meer intimiderend, soos die gebruik van groep- en geheimtaal in die onderskeie gangster-subkulture ook getuig. Snowflake-geswets is suutjiespoep en het geen krag of impak nie.

Maar, ek stem saam: dis zef om sonder konteks of bloot doelloos heeldag te loop en knoop. Ons Afrikaanse skrywers het laat waai – in die tagtiger-, negentigerjare het die frekwensie van kru taal toegeneem soos die apartheidsdrukpot al harder begin stoom afblaas het. Wanneer ’n gemeenskap maatskaplike of sosiale spanning ervaar of rewolusionêr raak, dien gekruide taal as uiting van frustrasie. Dink as voorbeeld aan Casper de Vries wat al berug is vir sy vuil taal en hom kinderlik verkneukel in elke ghwar wat hy los. Ai tog …

......

In 2003 het die rockgroep Fokofpolisiekar ontstaan, maar die ordentlikes het verkies om na hulle te verwys as “FPK” of “Polisiekar”. Ná al die jare spel die vromes die musiekgroep se naam steeds met twee asteriske in stede van die o’s, maar dít verblind die leser soos kopligte in die nag.

......

In 2003 het die rockgroep Fokofpolisiekar ontstaan, maar die ordentlikes het verkies om na hulle te verwys as “FPK” of “Polisiekar”. Ná al die jare spel die vromes die musiekgroep se naam steeds met twee asteriske in stede van die o’s, maar dít verblind die leser soos kopligte in die nag.

Ewenwel; terug na die struggle en die vooruitsig van bevryding, ook vir liberale Afrikaanses. Die emansipasie van diverse groeperinge – vroue en gays – het ’n gees van anargie laat posvat. In ’n sekere sin herinner hierdie periode in ons geskiedenis aan die kulturele menseregte-, anti-Vietnam-rewolusie tydens die sestigerjare in die VSA. John Lennon het vreesloos geswets en joernaliste beledig, terwyl sy onderhoude self gepekel was met sterk taal. Vuilbek Ozzy Osbourne, die Prins van Duisternis, se misnoeë met katte het legendaries geword: “Fook the fooking côt.” Osbourne kon nie daarin slaag om vir 24 uur nié te vloek nie; ook nie ten behoewe van ’n fondsinsameling vir behoeftige kinders nie. Nee; hy het die swart maskeerband van sy mond afgepluk en wéér losgetrek. En of jy hierdie matroosbekke goedpraat of nie, dis duidelik dat die verbode belhamels van ’n taal bevrydend op sy gebruikers inwerk, bewustelik of onbewustelik. Vloek maak vry. Skrywers soos Jeanne Goosen se sosiale verset in boeke soos Louoond (1987) of Plante kan praat (2010) is inderdaad ’n masterclass in vloek. Die homoërotiese bundel Wisselstroom (1990), saamgestel deur Hennie Aucamp, of die kortverhaalkoning Koos Prinsloo se Slagplaas (1992) pronk as uitstalkas vir die gekruide stem van gay-verset.

’n Hedendaagse voorbeeld van ’n Afrikaanse frustrasie-ontlader is die “My fok Marelize”-video wat in 2019 vir ’n gegons op die sosiale media gesorg het. Afrikaanses het die meme smaaklik oor die palet gerol en uitgespuug – dit het mense laat skater en die knypie rooipeper het darem nie té erg gebrand nie. Covid-19 het ongelukkig die groeiende subkultuur rondom Marelize – koffiebekers en T-hemde met dié meme; buitelandse belangstelling – in die kiem gesmoor. O, en laat ek darem nie die vloekpolisie vergeet nie. Sekere Afrikaanses is so verkreupel deur hulle moralisme dat hulle met ’n zero sin vir humor deur die lewe gaan. Die mentaliteit is een van “Ek mag nie lag nie, want dit is leeelik.” Oi! Dit eggo Bertolt Brecht se uitspraak wat sê “The righteous has no sense of humor.” Ja, daar is mense wat nie eens onder ’n skuilnaam sal vloek nie. Dan, aan die ander kant is daar die antisosiale waslappe wat die hele dag loop en ghwar om doelbewus sosiale konvensies te oortree, bloot om te skok. Onder hierdie gewoontemisdadigers is daar egter die arme siele wat aan OKV ly en nie juis beheer oor hulle dwanggedrag het nie. Jare gelede, toe Murray Janson, Huisgenoot se bekendste berader, afgetree het, het hy ’n lys van die lesers se toptienprobleme saamgestel. ’n Kompulsiewe gevloek onder Afrikaners was ’n algemene klag en ek het nog gewonder of hierdie repressie, geassosieer met ons Calvinistiese agtergrond, dalk ’n rol in hierdie angstige vuilbekke se dwanggevloek kon gespeel het. Gelukkig het Oom Murray hierdie mense almal na ’n psigiater verwys vir chill-pille.

Dieselfde logika is teenwoordig in die gebruik van sommige vloekwoorde in die vertel van vuil grappe. Mense lag vir obsene woorde wat na geslagsdele verwys omdat dit dui op die ekshibisionisme van die teenoorgestelde geslag: “Hy’s ’n regte ou doos.” Humor en vloek word met ander woorde ’n uiting vir gemaskerde seksisme of rassisme, in welke mate daar vanuit ’n superieure posisie verwys word na ’n persoon wat ontbloot en verneder word. Die mees aggressiewe gebruik van vloektaal is wanneer dit as aanvalswoorde ingespan word, byvoorbeeld “Fok jou! Jou moer!” Ensovoort.

Sterk taal is, soos sy hoofstroomeweknie, onderhewig aan die gebruik van sosiolekte, geolekte en dialekte. In die Kaap is die taboewaarde van die woord pram byvoorbeeld laer as in Gauteng. “Jou ma se poes” as aanvalsvloek, weer, is ’n besliste uitnodiging vir ’n lem in jou hart of rug.

In die Engelse taal, op sy beurt, moet daar onderskei word tussen die gebruik van Britse, Australiese en Amerikaanse Engels. Kru taal soos “fuck” dateer terug tot 1568; “dick” tot 1891 en “cunt”, interessant genoeg, so ver terug as 1325. Skuins woorde in Australië is onder meer “bloody” oath wanneer die spreker met groot geesdrif na iets verwys. Die Britse stywelip “bloody hell” het egter ’n groot taboewaarde. Dit laat die vraag ontstaan: Watter vloekwoord gee die meeste aanstoot? Watter swets is met ander woorde die ergste? “Motherfucker” beklee die eerste plek in die groot arsenaal van kru taal, ’n woord wat in Afrikaans bekendstaan as maaifoedie. Hmm, dit laat mens nogal wonder wat Freud daarvan sou gesê het …

......

Die sosiale en kulturele vooroordele van taboetaal verskil ook van taal tot taal en verander met verloop van tyd. Vloekwoorde ewoleer.

......

Die sosiale en kulturele vooroordele van taboetaal verskil ook van taal tot taal en verander met verloop van tyd. Vloekwoorde ewoleer. Stront was nie voorheen ’n swets nie – die woord strontvoël het lank terug verwys na ’n meeuagtige voël wat van aas lewe. Taboewoorde het op ’n kol vrylik in plant- en diername voorgekom. ’n Ánder interessante verskynsel is die ewolusie van vloekwoorde op die internet en sosiale media. Ons almal het seker al van die volgende afkortings en akronieme teëgekom:

WTF (what/who/when the fuck)

FFS (for fuck’s sake)

STFU (shut the fuck up)

GTFO (get the fuck out)

FYFI (for your fucking information)

FIFO (fit in or fuck off)

Die gebruik van afkortings of blitsspelling versag die inpak van vloekwoorde en het dieselfde eufemistiese waarde as die asterisk of bliepsensor. Maar kru internettaal het nie vasgesteek by spookletters nie – daar het ’n hele nuwe aanlyn leksikon ontwikkel. Gewilde matroostaal is byvoorbeeld “douchenozzle” in stede van “douchebag”; lg is sedert die 1930’s gebruik en gepopulariseer deur James Jones se 1951-roman From here to eternity. Ander gewilde voorbeelde is “twatwaffle” en “fucktrumpet”. In 2013 het Jon Stewart Donald Trump oneervol herdoop as “Fuckface von Clownstick”. Aanlyn vloeke dui op die skep van neologismes op skeppende en inklusiewe wyse. Die spelwyse van Afrikaanse vloekwoorde het, soos gebruik in e-kommunikasie, ook begin verander: Foktog, einafok en agfoktog word toenemend as een woord gespel.

En laat ons nie nieverbale vloek vergeet nie. Daardie middelvinger wat soos ’n springmes opskiet as jy iemand “zap” – algemene gedrag onder dié wat aan padwoede ly. Ons almal is bekend met vuilbekgraffiti – genugtig, dit slaan my dronk dat daar wraggies mense is wat snags met spuitkanne rondsluip en hulle frustrasie op passief-aggressiewe wyse teen mure uitflerts. Dan; laat ons liewer swyg oor die obsene woorde wat ten hemele skreeu teen die toiletdeure van openbare kleedkamers …

Die 2021- munisipale verkiesing het gekom en gegaan. Ek het nie gaan stem nie, nié omdat ek ’n lakse landsburger is nie, maar omdat ek nie die vaagste benul het by watter party my lojaliteit lê nie. Géén. Die wysie van Koos Kombuis se “Die fokkol song” het in my kop begin draai: die opskrif vir vanjaar se verkiesing. Alhoewel Koos die song aanvanklik vir die 2010-sokkerwêreldbeker geskryf het, is dit nou méér profeties as ooit. Kan ons ons wanhoop sterker uitbasuin?

Fokkol petrol, fokkol diesel, fokkol gas en fokkol krag
Fokkol water vir jou whiskey
Fokkol jokes om voor te lag
Fokkol pille by die kliniek
Fokkol dokters as jy vra

[…]

Fokkol treine, fokkol taxi’s, fokkol geld en fokkol jobs
Fokkol robots wat nog werk
En fokkol traffic cops
Fokkol huise in die townships
Dit help nie om te kla

Daar’s so baie fokken fokkol in Suid-Afrika

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top