
’n Historiese byeenkoms het op Vrydag 19 Junie 2015 plaasgevind by die Slanghoek Konferensiesentrum wat binne ATKV-Goudini geleë is.
Reg deur die land is ’n groot aantal kultuursentrums en museums wat onder druk verkeer. Dié byeenkoms was ’n poging om te soek na kreatiewe maniere om hierdie instansies ’n hupstoot te gee.
Verskeie rolspelers in die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap het idees uitgeruil. Hoewel Afrikaans en terreine verbonde aan Afrikaans die wegspringplek was, was meertaligheid en die belang van alle Suid-Afrikaanse kulture die fokus van die vergadering.
Die geleentheid is deur die Langenhoven Gedenkfonds (LGF) en Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), by name Nita Cronjé, geïnisieer met die oog op beter samewerking en die soeke na raakpunte tussen Afrikaanse Kultuurgroepe. Jan Odendaal, die voorsitter van die (LGF) by Arbeidsgenot op Oudtshoorn, het as voorsitter opgetree.
Die ATKV het as fasiliteerder opgetree. Gerrie Lemmer, hoofbestuurder: Projekte by die ATKV, het die agtergrond tot die geleentheid só verduidelik: “Die gesamentlike kennis, ervaring en kundigheid bestaan reeds, ons moet dit net benut, met mekaar deel en aanwend.”
Teenwoordig was die LGF, die ATKV, Die Afrikaanse Taalmonument, LAPA Uitgewers, Die Vriende van Afrikaans, die KKNK, die US Woordfees, WOW en SASNEV.
Idees is uitgeruil en die resultate van ’n groot, landswye navorsingstudie is bekend gemaak. Daar is onder andere gekyk na die bywoning van kultuurfeeste tydens hierdie navorsing.
Theo Kemp van die Breytenbach Sentrum in Wellington kon nie in persoon daar wees nie, maar verskeie rolspelers het verwys na die aktiewe rol wat hierdie sentrum in die gemeenskap speel. Dat hulle as ’n rolmodel gesien kan word is nie altemit nie, maar die klakkelose verplanting van hulle werk na ander sentra sal nie werk nie, juis omdat elke gemeenskap eienaarskap moet neem van hulle erfenisterreine.
Die Afrikaanse Taalmonument se kreatiewe maniere om alle dele van die Suid-Afrikaanse gemeenskap - ook die nie-sprekers van Afrikaans - te omarm, is ontleed en geprys.
Kennis is ook geneem van interessante verwikkelinge by die Voortrekkermonument wat onlangs in die pers genoem is.
Hoewel hierdie gesprek verkennend van aard was het ’n hele aantal rolspelers besluit om raakpunte te koester en te probeer uitbou. Die uitdaging is aan almal gestel om oor ’n jaar terug te rapporteer, dié keer met konkrete voorbeelde van samewerking.
Gerrie Lemmer het genoem dat hy baie tevrede was met die uitkoms en dat die ATKV beoog om hierdie gesprek ’n jaarlikse instelling te maak.
Ná die geleentheid het Jan Odendaal gesê dat "Arbeidsgenot as historiese skat en woning van Langenhoven baie baat gevind en geleer het tydens hierdie geleentheid. Die gedeelde kennis van bewese, geslaagde projekte deur van die ander instansies is van onskatbare waarde in ons strewe na kreatiewe jeugbetrokkenheid". Die aktiewe samewerking deur instansies soos LAPA met hul voorleesprojekte deur skrywers en die uitbrei van WOW se projekte na Arbeidsgenot, is moontlikhede wat geopper is.
"Die vriendelike en ontvanklike wyse waarmee met alle ander kultuurgroepe se tale en belange omgegaan word, sal ons sukses en gelukkige naasbestaan, bepaal. Gedeelde kennis is net so kragtig as wat samegestelde rente vir die ekonome is!"

