Vers & kapittel deur Daniel Hugo: ’n lesersindruk

  • 2

Vers & kapittel
Daniel Hugo

Uitgewer: Kraal uitgewers
ISBN: 9780994715944

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die einste Cecile Cilliers wat onlangs oorlede is, het iewers geskryf dat ons ’n volk van poësieskrywers is. Maar, het sy gevra, is ons ’n volk van poësielesers? ’n Vraag wat my dikwels treiter omdat ek so skugter vir die poësie is. My kennis oor dié genre skiet eenvoudig tekort.

Met ’n skeut waagmoed dus het ek Daniel Hugo se Vers & kapittel aangeskaf. Dié bundel is ’n versameling van Hugo se artikels, rubrieke en naskrifte oor die poësie wat meesal in dagblaaie verskyn het. Gerusstellend het ek geweet dat Hugo met wyd erkende gesag oor die onderwerp skryf. Vers & kapittel bevestig hom as ’n kenner van dié genre.

Veral drie indrukke staan vir my uit na die lees van die boek: hoe die poësie funksioneer, allerlei interessante wetenswaardighede en Hugo se persoonlike bemoeienis met poësie.

’n Goeie voorbeeld van hoe poësie funksioneer, en daarmee saam die vertaling van klassieke werke in Afrikaans, is die behandeling van Omar Khajjam se Die Roebaijat. Die kwatryn as versvorm word wydlopig behandel. Hiermee saam word die uitdagings rondom die vertaling van gedigte uiters onderhoudend onder die loep geneem. In hierdie verband stel Hugo dit so: “Die graad van kulturele sofistikasie wat ’n taal bereik het, word dikwels gemeet aan die vertalings van klassieke tekste uit die wêreldletterkunde.” (95). Die stuk oor Goethe in Afrikaans onder die opskrif "Die Vermetelde Vertaler" is aangrypend mooi. Wat ’n mens bybly met die vele invalshoeke van die digkuns is die wonder van die woord.

Wat wetenswaardighede betref, is daar net te veel om in ’n enkele resensie te noem en ek volstaan met een voorbeeld. Dit is insiggewend om te dink dat die Afrikaanse digkuns, teoreties gesproke, alreeds 900 jaar oud is! Dit het inderdaad alles by ’n monnik in ’n klooster begin (96).

Daniel Hugo koester die digkuns van kindsbeen af en leef dit elke dag uit. Dít lei ’n mens deeglik af met vele outobiografiese mededelinge. So kan die verbintenis tussen hom, sy pa en Elisabeth Eybers as astraal aandoenlik beskryf word.

Wat ’n diep indruk op my gemaak het, is die respek waarmee Hugo as ongelowige die werk van gelowige digters behandel.

Vers & kapittel is ’n besondere stuk werk wat ’n poësie-groentjie soos ek daartoe kan beweeg om met toenemende waagmoed na digterlike tekste te kyk.

  • 2

Kommentaar

    • Hallo Braam, hier is dit:
      Kraal Uitgewers
      AfriForum-gebou, hv DF Malan- en Unionlaan, Kloofsig, Centurion, Suid-Afrika
      Maandae tot Donderdae van 08:00 tot 16:30 Vrydae van 08:00 tot 15:00.
      (012) 880 1953
      kraal@kraaluitgewers.co.za

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top