Verkiesing 2019: Ideologiese debatte is besig om te kwyn

  • 0

Met die oog op die verkiesing Woensdag is dit noodsaaklik om te onthou dat politiek, politieke gedrag en deelname nie in ʼn vakuum plaasvind nie.

Dit vind plaas binne ʼn sekere omgewing – hetsy intern of ekstern. Die politiek is dus ʼn fenomeen wat deur beide faktore – intern en ekstern – beïnvloed word.

Die eksterne omgewing is vir dié skrywe nie van belang nie, maar die interne wel.

‘n Menigte faktore kan die interne politieke omgewing beïnvloed, maar ideologie en ʼn waardesisteem is van die belangrikste.

Die aantreklikheid en selfs die noodsaaklikheid van ideologiese debatte is besig om te kwyn.

Die debat oor ideologieë se inherente tekortkominge en toekoms het reeds in die 1950’s onder akademici ʼn spekulasie teweeggebring. Tot so ʼn mate dat die Amerikaanse sosioloog, skrywer en joernalis Daniel Bell aangevoer het dat die ekonomie oor die politiek geseëvier het. Of daar nog iets soos ideologieë bestaan, is egter ʼn debat vir ʼn ander dag.

Waardes is ʼn stel beginsels wat die handeling en denke van ons as politieke akteurs (dit is nou jy en ek as individue, politieke partye, drukgroepe ens) rig as vasgestelde standaarde.

Die “verlore nege jare” leer ons dat die handeling van menige politikus benede ons vasgestelde waardesisteemstandaard is.

Die samestelling van die ANC se kandidatelyste vir die parlement en provinsiale wetgewers met die name van sekere mense daarop wat deur skades en skandes agtervolg word, is ʼn senutergende bewys.

Wanneer ons gaan stem, moet die waardesisteemhandeling van politici of politieke partye as riglyn dien vir watter party om voor te stem of nie te stem nie.

Belangriker egter moet dit ons as individuele politieke akteurs aanmoedig om waardevrae te vra voordat ons gaan stem wat vraagstukke aanroer aangaande moraliteit, estetika en sosiale en politieke kwessies.

Ons moet ook die belangrikheid van verkiesings binne ʼn grondwetlike demokrasie besef, want dit gee ons ʼn geleentheid om deel te neem aan die politiek deur te stem om die regering te verkies of uit te stem.

Verkiesings stel ons ook in staat om ons politieke leiers, soos parlementslede, te verkies.

As kiesers gee dit ons ook ʼn beurt om op ʼn indirekte manier deel te neem aan openbarebeleidsformulering. As kiesers het ons die keuse om vir ʼn politieke party te stem met ʼn beleid wat ons dink ons gaan bevoordeel.

Om indringend na die beleid van die politieke partye te kyk voordat ʼn keuse by die stembus uitgeoefen word, gee Suid-Afrikaners ʼn kans om verby ras of etnisiteit te beweeg. Suid-Afrikaners is alte geneig om volgens die ou raspatrone van die verlede te stem.

Die openbare beleid – veral makro-ekonomiese beleid – van politieke partye word uiteengesit in hul manifeste. Na verkiesings dien manifeste gewoonlik as die mees fundamentele bron in die formulering van die meerderheidsparty se openbare beleid.

Publieke deelname aan openbarebeleidsformulering is dus belangrik, omdat openbare beleid die doelwitte en oogmerke van die regering definieer.

Verkiesings is egter nie alles nie.

Mense moet as politieke akteurs (as individue of in gemeenskappe) tussen verkiesings aktief deelneem aan politieke handeling. Met gemeenskappe bedoel ek nie ʼn bepaalde ras of etniese groep nie. Ek bedoel geografiese gemeenskappe, want gemeenskappe het oor ʼn tydperk ʼn bepaalde karakter en aanvoeling vir gemeenskapsdiens ontwikkel.

Gemeenskapsdiens is die mees edele manier van diens aan die mens. Dit staan los van die bevordering van enige politieke ideologie – of so behoort dit te wees. Dit is ʼn welkome maatskaplike oriëntasie, veral in Suid-Afrika, ʼn land van uitspattige kroniese armoede.

Om nie te stem nie, of om nie tussen verkiesings aan die politiek deel te neem nie, is ʼn poging om jou buite die politiek te definieer. Dit is ʼn resep om jouself tot volslae politieke irrelevansie te verdoem.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top