Verkeerd-om reg

  • 1

Foto van die vlag van die VSA: Pixabay

Die oumense het altyd gepraat van goed wat verkeerd-om reggemaak word. Ek het nog altyd verstaan dit beteken die regte doel is op die verkeerde manier behaal, iets wat moreel bevraagteken word.

In ’n bespreking oor morele filosofie ’n klompie jare gelede het die vraag opgekom of dit aanvaarbaar is om die resultate van die mediese eksperimente wat deur Hitler se wetenskaplikes op Joodse gevangenes gedoen is, te gebruik om medisyne te vervaardig. Dit was ’n hete bespreking.

Vir ons klas was dit natuurlik ’n suiwer akademiese  bespreking. Die Sjoa is ver genoeg in die verlede dat dit ons nie direk geraak het nie, en daar was nie een enkele Jood in die klas nie. Maar in hierdie eerste week van November 2020 is daar heelparty relevante hedendaagse morele vrae wat gevra kan word. Ons politieke landskap is skynbaar aanmekaargeflans van  besluite wat verkeerd-om reg is.

Die Amerikaanse verkiesing word hierdie week beslis. Maak nie saak wie wen nie, die afgelope aantal jare het die foutlyne in die Amerikaanse samelewing duideliker as ooit uitgewys. En dit maak saak vir ons, want dieselfde foutlyne bestaan ook by ons. Wanneer video’s vrygestel word waarin kiesers geïntimideer word, kan ons maar net die spieël ophou na wat hier by ons gebeur. Volgende jaar is daar tussenverkiesings by ons. Wanneer laas het ons verkiesing gehou sonder dat iemand probeer om kiesers te intimideer?

Natuurlik dink almal hulle party moet wen, maar is wen ten alle koste regtig die enigste keuse wat ons kan maak?

Die afgelope naweek het die DA, ons land se amptelike opposisie, hul kongres gehou. As die besluite en uitlatings wat daar gemaak is, ’n ware weerspieëling is van die siel van die opposisie, dan kan die regerende party maar met ’n geruste hart gaan slaap. Soos Patricia de Lille op een stadium gesê het, “The DA is busy destroying themselves. Let’s leave them in peace to do it.” Natuurlik is dit die opposisie se goeie reg om die leiers te kies wat hulle wil, maar wanneer hulle keuses die weg baan vir meer radikale partye om hulle te vervang, is dit nie verkeerd-om reg nie?

Wanneer die Minister van Finansies in sy mediumtermynbegroting verkies om instansies wat alreeds in ’n koma is, kunsmatig aan die lewe te hou, maak dit sin? Die redenasie dat dit goedkoper is om vir SAL ’n reddingsboei te gooi eerder as om die lyk te begrawe, maak nie meer sin nie. R18 miljard om skuldeisers te betaal teenoor R10 miljard om ’n reddingsboei te gooi, klink dalk billik. Maar elke jaar se reddingsboeie kos uiteindelik aansienlik meer as wat die eenmalige begrafniskoste sou wees.

Boonop is daar die keuse om nie die sorgtoelaag wat gedurende die eerste klompie maande van die grendeltydperk betaal was, voort te sit nie. Dit terwyl ’n tydelike toelaag aan ’n klomp werkloses voortgesit word. Maar hier is die probleem: ’n Organisasie soos Black Sash doen ’n dringende aansoek om te vra dat die sorgtoelaag nie opgeskort moet word nie. Die regering verkies om die saak ten duurste in die hof te verdedig op die basis dat die aansoek nie dringend is nie, eerder as om met die organisasie in gesprek te gaan. Dis goedkoper om hof toe te gaan as om die toelaag te betaal, maar dis vir seker nie reg nie. Veral wanneer gekyk word na die wyse waarop die tydelike Covid-toelaag administreer word. In my tuisdorp is die meeste mense wat die toelaag kry, persone wat voor die grendeltyd ook nie gewerk het nie en nie wou werk nie. Mense wat hul werk verloor het tydens die grendeltyd, word met allerhande administratiewe rompslomp gekniehalter sodat hulle uiteindelik moed verloor en ophou aansoek doen. Bejaardes wat hul lewe lank gewerk het om ons ekonomie te help bou, se ekstra toelaag is ook weggeneem. Persone wat nog nooit ’n bydrae gemaak het nie, trek nou voordeel ten koste van werkers en ten koste van weerloses. Dalk lyk die prentjie anders in ander dorpe, maar ek twyfel.

Hierdie week begin die matrieks met hul finale eksamen. ’n Eksterne eksamen, waar alle leerders dwarsdeur die land aan dieselfde standaard gemeet word. Sommige leerders, dié met toegang tot die internet wat aanlyn kon werk, sal waarskynlik met minimum stres voorberei vir die eksamen. Die oorgrote meerderheid, dié wat skaars water en elektrisiteit kan bekostig, laat staan nog internet en rekenaars, gaan waarskynlik in die hek duik. Die argument dat leerders sover moontlik ’n normale skoolervaring moet hê en daarom eksamen moet skryf, kan nie steekhou nie. Niks omtrent hierdie jaar was normaal nie. Niemand, nie kind of volwassene, het hierdie jaar die geringste greintjie normaliteit ervaar nie. Dit maak geen sin om jongmense dan aan ’n uiters stresvolle situasie te onderwerp en hulle wys te maak dis nodig om normaliteit te vestig nie. Dit was nou die ideale geleentheid hierdie om die sinvolheid van die manier waarop ons kennis toets, te bevraagteken en te verander.

Vir baie mense is 2020 die grootste ramp wat hulle kon getref het. Al hoe meer dink ek dis ’n geleentheid om te herbesin oor die dinge wat ons as normaal aanvaar het tot nou toe. Die grendeltyd is ’n geleentheid om nuut te begin, om as’t ware ons default settings te verstel.

Maar ons kan dit nie doen as ons dinge steeds verkeerd-om reg wil maak nie.

  • 1

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Inderdaad Bettina, niks aan 2020 was/is normaal nie. Die Amerikaners se probleme gaan bly en selfs erger word. Die land is in die helfde deur verdeeld wat niks goeds voorspel nie. Covid 19, die media en Trump self (belaglike uitsprake en optredes) het sy ondergang bewerkstellig. Dit, ten spyte van die feit dat hy goed en selfs uitstekend gedoen het op 'n verskeidenheid ander terreine. Sy narsistiese persoonlikheid het hom egter duur te staan gekom.

    Die verkiesing het vir alle praktiese doeleindes nooit oor Biden as 'n alternatief gegaan nie. Hy was geheel en al in absentia en boonop toon hy erge kognitiewe afwykings. Of hy sy termyn sal deursien is 'n ope vraag. Biden sal as nuut verkose President baie meer versoenend optree en poog om Amerika te verenig maar hy sal nie slaag nie. Skeidslyne is te diep getrek. Ernstige gerugte van korrupsie deur hom en sy seun gaan ook nou na die oppervlak kom. Hy is deurgaans deur die media beskerm wat heel waarskynlik nou gaan verander. Die Pro Biden gesindheid van magtige instellings deur instellings soos Facebook, Twitter en Google sal ook fyn dop gehou word.

    Die verkiesing was basies 'n referendum oor die persoon Trump. Hy het dit verloor maar die aanduidings is reeds daar dat hy nie sal verdwyn nie. Inteendeel, hy het 'n geweldige magsbasis en beweging gebou. Boonop het hy 5 miljoen stemme meer gekry as in 2016. Donald Trump aanvaar nie 2de beste nie en die volgende 4 jaar gaan 'n bewys hiervan wees. Alles in ag genome bly mens verstom om te dink dat Trump en Biden die beste kandidate is wat Amerika in 'n verkiesing kan bied. Tussen die twee het ek geen twyfel dat Trump die meer bevoegde een is. Hy het inderdaad meer in 4 jaar reggekry as Biden in 47 jaar.

    Hiet te lande het die DA se interne verkiesing het slegs een Afrikaan opgelewer wat die oë laat rek het. Dit laat die rooiligte aangaan wat die steunbasis van Swartmense betref. Hierdie wending was 'n poging om verlore wit steun wat na die Vryheidsfront gegaan het, terug te wen. Die slegte nuus is dat dit nie gaan gebeur nie omdat daar 'n slegte reuk van opportunisme in die lug hang. Swart lede in die party is reeds en gaan toenemend ongemaklik wees met hierdie verwikkeling. Die gevolg is dat Swart steun verloor gaan word en die Munisipale verkiesing in 2021 sal wys tot watter mate dit gebeur het. Dit gaan 'n geweldige moeilike taak wees vir die DA om as Party te stabiliseer en dit lyk al hoe meer dat hulle vir eers 'n Wes Kaapse party gaan word.

    Aan die tuisfront strompel ons voort en val oor ons eie voete. Dinge bly ineen stort en vooruitsigte lyk droewig. Nie eers 'n 'reboot' hier (en internasionaal) lyk of dit veel van 'n verskil kan maak nie. Vir nou in elk geval. Tog het die mens die vermoë om terugslae te oorkom. Dis die tydsaspek wat belangrik is. Hoe gou of lank dit gaan vat om weer op koers te kom.

    Intussen moet mens steeds poog om in hoop leef. Dit noop jou om dinge te doen en wanneer jy doén gebeur daar iets. Die alternatief is om niks te doen nie, te kla alles en almal te verwyt. Dis noodlottig. Hopelik steek daar meer in ons. Tyd sal leer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top