Verhoudings onder druk: ’n onderhoud met Ronel du Toit

  • 2

Naomi Meyer gesels met Ronel du Toit oor Verhoudings onder druk: 13 beginsels wat maak dat verhoudings slaag of misluk.

Ronel, vertel asseblief meer van jouself en jou agtergrond, en hoe dit gekom het dat jy oor hierdie onderwerp skryf.

Ek het groot geword op ’n plaas in die Oos-Vrystaat en was vir lank die enigste kind. Saam met my Sotho-maatjies het ons die dae op die plaas op allerhande kreatiewe maniere aangedurf. So was my beste maat se ouma ’n sangoma en is ons toegelaat om haar te sien “werk”. Ek was diep betower en ingetrek in daardie magiese sirkel van interaksie, dieper kyk, voorspelling en genesing, soos net daardie “dokters” kan doen. In retrospek sal mens kon sê dat my belangstelling in die sielkunde alreeds daar vlam gevat het. Maar op die klein dorpie (Senekal) waar ek gematrikuleer het, was iets soos beroepstoetsing ’n vreemde konsep – en so ook die beroep, sielkunde. Ek bekwaam my na matriek as verpleegkundige aan die Universiteit van die Vrystaat en werk daarna in kardio-torakale eenhede vir ongeveer 10 jaar. In dié taakgerigte en tegnologiese omgewing het ek meer en meer verlang na ’n beroep met groter mensgerigtheid en interaksie. Ek luister toe na daardie binnestem en studeer verder nagraads in sielkunde en behaal my MA Voorligtingsielkundegraad aan die Universiteit van Pretoria. Daarna begin ek by die universiteit se afdeling, Studente-ondersteuning, as sielkundige.

In my eie aanloop tot die skryf van die boek was die skryf ook vir my ’n persoonlike reis en soektog om menslike gedrag en die breë spektrum van verhoudings waarin ons betrokke is, beter te begryp, sodat ek begrippe waarna mense streef ten einde effektiewe verhoudings te kan beleef, beter aan hulle kan verduidelik. Ek is bekendgestel aan die Internasionale Kommunikasiemodel van wyle prof Charl Vorster en het ook verskeie werkswinkels van hom bygewoon. Kyk mens na die ontwikkeling binne die vakgebied van die sielkunde vanaf Freud se tyd, waar die fokus hoofsaaklik intra-psigies was (wat binne jou kop aangaan – om die onbewuste tot bewussyn te bring), het daar oor die jare ’n paradigmaskuif plaasgevind en word daar nou ook gekyk na wat interpsigies, of wat tussen mense gebeur. Dit wil sê dat die oorsprong van psigologiese probleme baie dikwels van interpersoonlike aard is. Dit bring my by die kern van my boek dat die kwaliteit van mens se verhoudings afhang van die kwaliteit van jou kommunikasie en dat dit soos ’n naelstring aan jou gemoedstoestand gekoppel is. So gesien kan mens geesteswelsyn bevorder deur effektiewer verhoudings te hê. Vier jaar gelede, toe ek met navorsing vir dié boek begin het, het twee van my seuns ook tegelykertyd besluit om te trou. Dit is toe dat ek myself afvra: “Is hulle toegerus vir dié groot stap? Die ouerhuis is immers ’n soort ‘laboratorium in die kleine’ vir die volwasse lewe.”

Met die boek, Verhoudings onder druk - 13 Beginsels wat maak dat verhoudings slaag of misluk, kyk ek na wat tussen mense gebeur wanneer hulle kommunikeer en na die impak van die interpersoonlike maneuvers waarvan mense gebruik maak. Hierdie “impakte” hou psigologiese konsekwensies in wat tot gevolg kan hê dat mense by sielkundiges kan aanklop met aanmeldingsklagtes soos ’n gevoel van leegheid, betekenisloosheid, teneergedruktheid, ongelukkigheid en angs; ja, selfs in liggaamskwale. Jou vermoë om effektiewe verhoudings te skep is nie aangebore nie. Boonop moet jy daagliks jou verhoudings onderhou en by nuwe situasies aanpas. Dit kos vaardighede waarmee mens nie altyd ewe effektief toegerus word nie. As sielkundige is my werk nie net om ongemak en simptome te verlig nie, soms is dit nodig om kliënte toe te rus met die nodige lewensvaardighede wat hulle mag kortkom om hul lewens en verhoudings beter te bestuur en te leef. Dit is hier waar ek die leemte in die leesstof geïdentifiseer het en vir my werk psigo-opvoedkundige nota’s saamgestel het. Dit het spontaan gelei tot die skryf van die boek.

Daar is bepaalde beginsels, veranderlikes of rigtingwysers wat vir alle verhoudings geld. Elkeen van hierdie 13 beginsels word in die boek verduidelik en in daaglikse situasies toegepas. Deur van die volgende beginsels bewus te raak kan jy meer voorbereid op die reis na volhoubare verhoudings wees. Ek kry dikwels die vraag: “Hoe sal mens weet wanneer een van hierdie 13 beginsel ’n probleem raak in ’n verhouding?” Die kort antwoord daarop is dat jy die impak op ’n emosionele vlak sal voel. Dit kan verskeie emosionele reaksies ontlok soos byvoorbeeld: woede, frustrasie, angstigheid, terneergedruktheid, vernedering of selfs opstandigheid en rebelse reaksies.

Wat is die 13 beginsels waaraan jy in die boek aandag gee?

·          Die kuns van logiese, duidelike en verstaanbare kommunikasie dra daartoe by dat boodskappe optimaal en effektief oorgedra word. Dink net aan al die baie redes waarom ons met mekaar kommunikeer soos onder meer om: ons emosies en bekommernisse of probleme met mekaar te deel; inligting oor te dra; menings uit te ruil oor hoe ons dinge sien en beleef; standpunte te stel; ons behoeftes te verwoord of versoeke te rig en die vreugde van gesprekvoering te ervaar. Oneffektiewe kommunikasie kelder al bogenoemde uitkomste van gesprekvoering.

·          ’n Empatiese ingesteldheid, of gewone medemenslikheid behels ’n opregte begeerte om mekaar se wêrelde te verstaan en sensitief te wees vir die ervarings van ander en na hulle te kan uitreik. Dit verwys na die behoefte wat ons as mense ervaar om na geluister en verstaan en aanvaar te word. Jy wil hoor dat jy verstaan word. So ’n luisterende houding bewerkstellig ’n spesiale konneksie van begrip en gevoel van tevredenheid tussen verhoudingsmaats.

·          Inherent aan alle verhoudings is die bepaling van die rol wat ons in die verhouding inneem, met ander woorde jou plek in ’n verhouding. Is jy die leier of moet jy volg; is jy in ’n gelyke verhouding of gaan die verhouding met ’n magstryd gepaard. Is jy gemaklik met hoe die verhouding daar uitsien. Dikwels ontstaan ’n magstryd tussen verhoudingsgenote. So ’n “magstryd” kan inherent deel van ’n verhouding vorm indien daar mededinging om leierskap in die verhouding is. Daar is voortdurend ’n dinamiese maneuvrering tussen verhoudingsgenote om te bepaal of die een of die ander persoon die leiding sal neem. (Maneuvrering verwys na die manier waarop ’n mens sake hanteer om iets te kan bereik, dikwels deur taktiese of manipulerende gedrag te gebruik.) Verhoudingsgenote kan in ’n magstryd gewikkel bly oor wie die leiding moet neem, of hulle kan tot ’n vergelyk kom om die mag te deel en in ’n gelyke verhouding te funksioneer. Wanneer verhoudingsgenote met mekaar saamstem oor die “plek” wat hulle in definisie van die verhouding inneem, bring dit stabiliteit in die verhouding. ’n Praktiese voorbeeld: Die onderwyseres praat met haar man en beheer hom soos wat sy met haar leerders doen. Hy kom in verset teen haar pogings tot beheer en remediëring – hy het genoeg gehad! - en ’n magstryd tussen hulle volg.  

·          ’n Mens se kommunikasiestyl het ’n invloed op ander mense. (Kweek ’n bewustheid en aanvoeling vir die impak wat jou kommunikasiestyl op jou verhoudingsgenote het. Jy kan mense na jou toe aantrek met ’n empatiese en toeganklike styl, of jy kan hulle van jou wegstoot deur ’n aggressiewe, beherende en kritiese styl.) Jou unieke kommunikasiestyl kan aanvaarding of verwerping van verhoudingsgenote of die omgewing ontlok. Indien ’n mens ’n bewustheid aankweek dat jou kommunikasie, bepaalde styl en gedrag ’n effek of impak op ander mense het, kan dit jou bemagtig om meer effektief te kommunikeer, wat die rigting van die kommunikasie kan beïnvloed. Dink daaroor, verhoudings en die gesprekke wat jy voer kan jou: goed laat voel oor jouself of minderwaardig laat voel; inspireer of frustreer; bemoedig of bangmaak; opbou of verneder en afbreek; veilig laat voel of onveilig en angstig maak; hoop gee of tot wanhoop dryf. Jy mag dalk dink dat jy iemand beïndruk, terwyl jou pogings net die teenoorgestelde effek mag hê.

·          Kommunikasie vind binne konteks plaas en nooit in ’n vakuum nie. Konteks dra by tot betekenisvorming wanneer boodskappe oorgedra word. Deur tyd en geduld daaraan te bestee om eers konteks (of agtergrond) te skep voordat boodskappe geformuleer en oorgedra word, word misverstande voorkom en kan individue mekaar beter verstaan. Die konteks word so ’n medebepaler vir die betekenis van die boodskappe wat tussen verhoudingsgenote uitgeruil word. Ons is dikwels lui om genoegsaam konteks te skep. Veral met die persone wat die naaste aan ons is.

·          Die emosionele afstand, dit wil sê hoe naby of hoe ver verhoudingsgenote van mekaar funksioneer, kan ’n impak op die kwaliteit van die verhouding hê. Waar die een verhoudingsgenoot meer nabyheid verlang kan die ander een weer groter afstand of vryheid verlang. Konflik kan hieroor ontwikkel. Hier gaan dit oor intimiteit en nabyheid in die verhouding. Wanneer die distansie in ’n verhouding baie groot is, is dit vir individue moeilik om mekaar te leer ken en te ondersteun en verloor dit sy interafhanklike karakter. Verhoudingsmaats kan daarom ervaar dat hulle alleen en geïsoleerd is of deur niemand verstaan word nie.

·          Elke verhoudingsgenoot moet sy of haar aandeel in en bydrae tot die instandhouding van die verhouding raaksien en erken. (Dit verwys na die sirkulêre of wedersydse aard van kommunikasie en die proses waartydens beide verhoudingsgenote hul aandeel in die verhouding erken en nie die ander blameer en kritiseer vir alles wat verkeerd loop nie.)

·          Verhoudingsmaats kan aanleer om hulle behoeftes duidelik aan mekaar oor te dra sonder om voorskrywend of veeleisend te wees. (Die besef moet duidelik deurkom dat geen mens gedagtes kan lees nie.) Behoeftes wat op ’n effektiewe wyse aan mekaar gestel word, kan tot betekenisvolle onderhandeling tussen twee verhoudingsgenote lei. As ’n mens nie leer om jou eie behoeftes te identifiseer en aan verhoudingsmaats te kommunikeer nie, gaan jou eie behoeftes verlore en maak dit jou weerloos in die verhouding. Pasop vir verwagtings en idees van hoe dinge “behoort” te wees. Stel jou verwagtings altyd as ’n behoefte aan jou maat.

·          Die rol van erkenning in menslike gedrag is mobiliserend, motiverend en geweldig belangrik vir die verhouding en mens se selfbeeld. Deur erkenning aan mekaar te gee, byvoorbeeld in die vorm van ’n dankie, ’n kompliment of ’n opbouende aanmerking, help verhoudingsgenote mekaar om te begryp dat hulle “goed genoeg” is.

·          Elke individu kan daarby baat (en behoort daarna te streef) om self verantwoordelikheid vir sy of haar lewe en die interaksie met die omgewing en verhoudingsgenote te aanvaar – selfbestuur. Jy kan óf in beheer van jou omgewing en verhoudings wees óf kies om ’n slagoffer daarvan te word. ’n Mens moet gevolglik leer om jou hulpeloosheid te verwoord en te verhoed dat jy in ’n negatiewe spiraal van passiewe magteloosheid verval. Jy kry maar een lewe: neem beheer daarvan!

·          Aanpasbaarheid of buigsaamheid is die kapasiteit waaroor ’n mens beskik om nuwe inligting te oorweeg en jou eie begripsraamwerk te kan uitbrei. Dit behels verder die aanpasbaarheid om gedragstoepaslik by veranderde kontekste aan te pas. ’n Rigiede styl kan ’n geweldige groot struikelblok word wanneer konflik opgelos moet word of ’n verhouding by nuwe eise moet aanpas. Mens kan voel asof jy eenvoudig nie tot jou gespreksgenoot kan deurdring nie. Dit kan jou magteloos en gefrustreerd laat voel.

·          Emosionele, pynlike ervarings en trauma word deur die brein gememoriseer en kan ’n invloed op toekomstige gedrag uitoefen. Dikwels kortwiek verhoudingsmaats se emosionele bagasie hul kommunikasie. Opgekropte emosies kom in ongetemperde outomatiese reaksies tot uiting, wat die basis skep vir misverstande, konflik en interpersoonlike afstand. Uiteindelik kan dit tot die verbrokkeling van ’n verhouding lei. Mens moet leer om emosioneel intelligent te raak. Die Griekse wysgeer en wetenskaplike Aristoteles het emosionele intelligensie bykans 380 jaar vC raak beskryf toe hy gesê het: “Anyone can become angry – that is easy, but to be angry with the right person, to the right degree, at the right time, for the right purpose, and the right way – that is not easy.”

·          Aangeleerde probleemoplossingsvaardighede help ons om konflik te kan hanteer en op te los. Die vaardigheid van meta-kommunikasie (om oor die kommunikasie self te kan praat) is onontbeerlik vir ’n harmonieuse verhouding. “Unfinished business” is een van die groot sondebokke wat mettertyd soveel afstand in die verhouding veroorsaak dat die verhouding kan sneuwel. Ons moet leer om so van mekaar te verskil dat ons mekaar nie bedreig, beheer, verneder of vernietig nie. Ons moet leer om te onderhandel, toegewings te maak en saam na maniere te soek om die konflik op te los. Ons benader nog te dikwels verskille soos in ’n hofsaak met litigasie waar ons mekaar aankla en met die nodige argumente en bewyse verpletter. Jy kan die hofsaak wen, maar die verhouding verloor.

Waarom is beginsels in enige verhouding belangrik, dink jy?

Beginsels help ondermeer om –      

 ’n bewustheid te kweek van die kommunikasie-detail en die impak daarvan (nie net wat gesê word nie, maar ook hoe dit gesê word), byvoorbeeld stemtoon of liggaamshouding (vingerwysing of gevoude arms), sowel as die manier waarop die gespreks‑ of verhoudingsgenoot hierdie boodskap ontvang;

·              jou effektiewer en meer suksesvol in ’n gesprek te laat kommunikeer, aangesien dit jou bewus maak van die aspekte waarvoor jy op die uitkyk moet wees, waarvoor jy versigtig moet wees en waaraan jy aandag moet gee – wanneer jy jou manier van praat (kommunikasiestyl) verander, word ’n nuwe subjektiewe ervaring by jou verhoudingsgenoot ontlok;

·              ’n  bewustheid  kweek vir hoe verhoudingsgenote hulself in jou teenwoordigheid beleef en te leer om interafhanklik te beleef – byvoorbeeld: “Dit is hoe ek dit sien. Vertel my hoe jy dit sien.” Jy besef dat dit nie jou bedoeling is wat ’n impak op jou gespreksgenoot het nie, maar wel die impak van “wat” jy sê en “hoe” jy dit sê;

·              die oorsaak te vind vir problematiese ervarings, haakplekke of belewenisse in verhoudings, byvoorbeeld eensaamheid, verwerping, angs, irritasie of aanhoudende gevegte en vetes. Byvoorbeeld: mense vermy in reaksie op jou negatiewe, kritiese en veroordelende styl;

·              gespreksgenote met groter respek met mekaar te laat kommunikeer in die wete dat alle mense broos en breekbaar in verhoudings kan voel;

·              die basis vir probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel om daaglikse probleme, argumente of konflik effektief te kan hanteer;

·              insig te bekom in die voorspelbaarheid van verhoudings wat met aangeleerde kommunikasiepatrone of ‑gewoontes te make het en wanneer die nodige insig bekom is, afgeleer kan word, maar nie maklik afgeleer kan word nie; en

·              verhoudingsmaats bewus te maak daarvan dat namate ’n mens meer aan alledaagse gesprekke deelneem, jy deel van mense en hulle gesprekke sal voel, wat vereensaming, isolasie en stagnasie sal teëwerk. (Daarby is dit ’n basiese menslike behoefte om sekuriteit binne betekenisvolle verhoudings te kan ervaar.)

Kan jy 'n voorbeeld gee van die toepassing van een van die beginsels wat jy in die boek bespreek?

  • Die beginsel van nabyheid en afstand

Jy en jou verhoudingsmaat moet kan ooreenstem oor hoe ver of naby julle van mekaar wil funksioneer. Terwyl die een verhoudingsgenoot ’n groter behoefte aan nabyheid (interafhanklikheid) het, kan die ander een dalk meer afstand (onafhanklikheid) of vryheid verlang. Konflik kan so ontwikkel. Indien die distansie in ’n verhouding baie groot is soos waar min intieme persoonlike detail eerlik en kwesbaar met mekaar gedeel word, kan ’n nabye emosionele verhouding moeilik verkry word. Die partner kan geïsoleerd, eensaam, misverstaan en ongeondersteund voel. Aan die ander kant kan te veel nabyheid as “versmorend” ervaar word. Dis ironies dat hoe meer mens dan maneuvreer vir nabyheid, hoe meer die partner kan wegskram. Ekstreme isolasie kan tot ’n psigologiese ineenstorting lei. Mens het mense nodig vir terugvoer en dit het belangrike konsekwensies vir jou realiteitstoetsing. 

Wat dink jy kan probleme in 'n verhouding veroorsaak?

Wanneer partners nie kan ooreenstem nie oor die mate van nabyheid of afstand wat hulle in ’n verhouding verlang, kan dit tot ’n verhoudingstryd lei. Hierdie “stryd” lê op ’n spektrum van onafhanklikheid aan die een kant en interafhanklikheid en afhanklikheid aan die ander kant. Jy is ’n drukkie-mens wat graag alles saam met jou maat wil doen. Jy wil weet wat in sy lewe aangaan en hom ondersteun. Jy hou van gereelde kontak en blyke van liefde. As hy jou nie ten minste drie keer per dag SMS nie, wonder jy of hy nog lief is vir jou. Hy weer voel versmoor en oorweldig. Die persoon wat meer nabyheid verlang kan allerhande pogings aanwend om meer nabyheid te skep, wat die teenoorgesteld effek op die partner kan hê. Hoe closer sy wil dans hoe meer los (onafhanklik) wil hy dans.

Wanneer wéét mens iets is ’n probleem?

Kyk na jou emosionele belewenisse. Alle kommunikasie of interaksie  lei tot ’n bepaalde ervaring.

Jy het ’n behoefte aan meer nabyheid. Hy wil meer onafhanklik funksioneer. Dit ontlok angstigheid en onsekerheid by jou. Jy wonder of hy werklik lief is vir jou en omgee. Waarom wil hy nie meer dinge saam met jou doen nie? Hoekom laat hoor hy nie meer van hom nie? Doen meer moeite met die verhouding nie? Jy word bang dat jy die mens waarvoor jy so lief is, kan verloor. Jaloesie mag selfs ontwikkel as jy sien hy is close met byvoorbeeld ’n vriend, sy ma of skoolvriendin (jaloesie is dikwels ’n behoefte aan nabyheid).

Jou verhoudingsgenoot (partner) kan die situasie as emosioneel versmorend ervaar. Wil net wegkom en sy eie ding doen. Hy voel: Te veel betrokkenheid, ondersteuning, versorging en inmenging. Voel asof hy individualiteit en vryheid verloor.

Hoe manifesteer 'n probleem prakties in 'n verhouding, dink jy?

Sy beleef haar partner se afstand as volg:

Hy doen sy eie ding. Verkies om onafhanklik te funksioneer. Hou nie van inmenging en ander se betrokkenheid nie.

Hy maak min kontak. Praat min oor sy emosies en deel nie maklik baie persoonlike issues nie.

Hy is baie doel- en taakgerig. Nie plek vir emosies nie.

Baie onafhanklik – kom voor asof hy niks van niemand nodig het nie.

Baie min betrokkenheid en ondersteuning – nie baie teenwoordig in haar lewe nie. Verhoudingsgenote weet nie wat in mekaar se lewens aangaan nie.

Hoe kan dit opgelos word?

Spreek jou behoefte aan meer interafhanklikheid uit. Spreek jou behoefte aan meer betrokkenheid, versorging en ondersteuning van hom uit. Luister ook na sy behoeftes en probeer ’n goue middeweg vind. Dit kan oor iets wees soos hoeveel SMS’e geliefdes mekaar in die dag sal stuur, hoeveel bevestigings van liefde, aanraking, ens ...

Gee vir hom terugvoer oor die impak van sy onbetrokkenheid in julle verhouding. Doen dit so dat hy empatie en insig ontwikkel. Moet nie verwyt en blameer  nie. Jy kan sê: “Wanneer jy so sterk en onafhanklik jou eie ding doen, voel dit vir my asof ek nie meer vir jou saak maak nie. Ek begin selfs te dink dat jy my nie meer lief het nie. Dit sal my baie gelukkig maak as ons meer tyd maak vir mekaar. Jy maak vir my saak en ek wil graag op hoogte bly met jou lewe. Dit sal my ingesluit en nader aan jou laat voel.”

Luister baie mooi na mekaar sodat julle bewus kan word van mekaar se behoeftes. Jy kan dalk in jou verhouding na meer nabyheid soek deur gesprekvoering, terwyl hy na meer nabyheid soek deur seks. Beide is geldig.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Estelle Neethling

    Hierdie boek bevat myns insiens butengewoon insiggewende baanbrekerswerk. Dankie LitNet vir die uitstekende resensies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top