Verhale van hoop deur Pieter van Zyl: ’n resensie

  • 1

  • ’n Feiteregstelling is in hierdie resensie aangebring.

Titel: Verhale van hoop, só help jy jou geliefde en jouself
Skrywer: Pieter van Zyl
ISBN: 9780639606002
Uitgewer: LAPA

Die toestand van geestesgesondheid in Suid-Afrika lyk tans, om dit sagkens te stel, uiters benard. Omtrent ’n derde van alle Suid-Afrikaners ly aan een of ander sielkundige toestand, en dit word aanvaar dat meer as 15 miljoen mense in Suid-Afrika tans in die greep van een van die "top-vyf" psigiatriese diagnoses (depressie, skisofrenie, substans-afhanklikheid, algemene angs en bipolêre versteuring) vasgevang is. Die onvermydelike massiewe finansiële en persoonlike impak op soveel individue in Suid-Afrika beïnvloed noodwendig die hele ekosisteem en veroorsaak dat die hoë voorkoms van psigiatriese toestande in alle lae van die samelewing eenvoudig te groot is om te ignoreer. Ten spyte daarvan dat so baie mense direk of indirek beïnvloed word deur hoe daar oor die wêreld sielkundig gesukkel word, is daar oor die algemeen verstommend min basiese begrip van hoe geestestoestande presenteer, en van mekaar verskil, asook hoe van die mees algemene toestande ten minste geïdentifiseer kan word. Hiervoor kan die publiek beswaarlik verkwalik word. Mense verwag nie oor die algemeen van hulself of ander om ingewikkelde ortopediese of onkologiese diagnoses te kan verstaan of te kan raaksien nie. Dieselfde behoort gesê te word van komplekse diagnoses en vakterminologie soos bipolêre versteuring, grenslynpersoonlikheidversteuring, narsisme en outismespektrum. Alhoewel hierdie geestestoestande, asook vele ander, uit noodsaak al hoe meer die fokus van besprekings in die populêre media word, is die terminologie rondom hierdie besprekings steeds ’n bron van verwarring en misverstand vir Jan Publiek – te begrype.

Plaaslike publikasies wat poog om lig te werp op van die meer algemene geestestoestande en -diagnoses is dus altyd welkom. Pieter van Zyl se Verhale van hoop poog juis om hoofsaaklik vir die leser ’n verstaan-ervaring te bied. Hierdie werk verskyn  in 2021 by Lapa, en die subtitel lui: Só help jy jou geliefde en jouself. Die titel en subtitel dui die tweeledige aard van die boek aan: Dit val volledig in die selfhelp-genre, maar wy ’n groot gedeelte van die publikasie aan gesprekke en navorsing met kundiges. Van Zyl lê die klem op hoe individue en geliefdes om hulle sekere geestestoestande ervaar, eerder as om die leser met oormatige inhoud en teorieë te probeer peper.

Die dualistiese verdeling in Van Zyl se hoofstukke probeer om op twee vlakke met die leser in interaksie te tree. Eerstens word ’n ervaringsblik gebied in die binnewêreld van iemand wat met ’n spesifieke sielkundige toestand of diagnose worstel, meestal vanuit die perspektief van iemand wat met so ’n persoon moet saamleef. Tweedens word praktiese raad gegee deur kenners vanuit die gedragswetenskappe – menings en advies oor hierdie spesifieke toestande.

Die hoofstukke word verdeel op grond van 14 spesifieke sielkundige toestande en/of diagnoses, sowel as ’n ekstra verhaal wat met serebrale gestremdheid verband hou. ’n Verdere (laaste) hoofstuk word gewy aan algemene inligting oor persoonlikheidversteurings. Die onderwerpe wat aangespreek word, word ook as titels van die hoofstukke aangebied, byvoorbeeld "Verslawing", "Eetsteurnis", "Skisofrenie", "Posttraumatiese stresversteuring" en "Tourette-sindroom". Behalwe die laaste twee hoofstukke volg elke hoofstuk ’n spesifieke formaat. Daar word deur middel van ’n beskrywing in die vorm van ’n kortverhaal, of eerder ’n kort verhaal (in sommige hoofstukke selfs twee) weggeval, wat gewoonlik vanuit die perspektief van ’n eerstepersoonverteller aangebied word.  Die vertellings word vanuit die perspektiewe van diverse individue aangebied, en bied derhalwe die geleentheid vir meer lesers om met die stemme van die vertellers te kan identifiseer. ’n Verhoudingsmaat, ’n ma van ’n kind, ’n vriend van iemand wat obsessief opgaar, die ouer suster van iemand met skisofrenie, vorm almal karakters in die verhale. Van Zyl skroom nie om in die binnewêreld van man of vrou, oud of jonk, of verskeie individue vanuit verskillende sosiale lae van die samelewing in te klim en hulle stemme weer te gee nie. Hy bied ook sy eie negatiewe ervaring met angsversteuring deursigtig aan in die eerste hoofstuk van die boek.

Van Zyl se ervaring as joernalis kom ter sprake deurdat hy op ’n realistiese manier weergee hoe die alledaagse persoon wat sielkundig onder druk verkeer, oor die algemeen optree, dink en voel. In die hoofstuk "Verslawing" word daar byvoorbeeld beskryf hoe die werklikheid van substansafhanklikheid kan lyk: "Jong meisietjies sit in die middel van die kamer en snuif dik wit lyne van koerant af op. ’n Wrede Playstation-speletjie op ’n grootskerm-TV gooi vreemde kleure teen die vertrek se mure." In die hoofstuk "Opgaar-versteuring" beskryf die verteller akkuraat: "Hy glo nie daarin om goed op rakke te pak nie. Hy pak alles tot reg voor die deur en werk van daar af dieper in. Hy het die mooiste en duurste modeltreintjies. Dis weggesteek." Die skrywes word meestal aangebied vanuit die perspektief van ’n geliefde, lewensmaat, kind of familielid, en laat val dus eintlik die kollig op die persoon wat moet saamleef met iemand anders se sielkundige toestand. Die perspektief van die vertellers raak egter soms onduidelik, deurdat die leser nie altyd seker is of dit die geliefde, of persoon self se ervaring is wat met die leser gedeel word nie. ’n Kort agtergrond as biografiese konteks in die vorm van ’n “gevallestudie” sou dalk rigting vir die leser kon gee en verwarring in sekere gevalle uitskakel, byvoorbeeld: “Jerome, 39, werktuigkundige, in ’n verhouding met Theo (41) vir sewe jaar. Theo is ses jaar gelede met bipolêre versteuring gediagnoseer.”

Die tweede gedeelte van elke hoofstuk word grootliks aangebied onder die opskrif “Raad”. Van Zyl het hiermee moeite gedoen, deurdat hy verskeie plaaslike kenners op die gebiede van sielkunde, psigiatrie en aanverwante dissiplines geraadpleeg het.  Praktiese raad, veral “wat om vir ’n geliefde te sê en nie te sê nie”, sowel as hoe om hulp te benader, word deurgaans aan die einde van elke hoofstuk met die leser gedeel. Dit is egter gereeld onduidelik of die advies vir die persoon met die toestand self is, of vir geliefdes van die persoon. Dit is verder ook nie altyd duidelik hoe die vertellings van toepassing is op die meer feitelike inhoud wat teen die einde van elke hoofstuk gedeel word nie. Alhoewel die leser dus byvoorbeeld ’n blik kry op hoe dit is om saam met iemand met ’n bipolêre versteuring saam te leef, en goeie advies daaroor ontvang, blyk dit primêr nie duidelik wat presies ’n bipolêre versteuring is, hoe dit tipies manifesteer, of hoe om dit uit te ken of raak te sien nie.

Die verdeling van die hoofstukke vra meer struktuur en logiese ordening. Die boek sou kon baat gevind het by ’n inleiding waarin aangedui word hoe die onderwerpe wat aangespreek word, in die groter prentjie van geestestoestande inpas. Wat verder lol, is dat die hoofstuktitels nie sielkundige prosesse (byvoorbeeld “Verslawing”) onderskei van diagnoses of toestande (byvoorbeeld “Delusionele versteuring”) nie, en derhalwe die indruk skep dat die temas/titels van hoofstukke effe lukraak saamgestel is.

Persoonlikheidversteurings is ’n komplekse konsep wat selfs sielkundiges en psigiaters konstant laat kopkrap, en dit kan verwarrend wees vir lesers om hieroor in dieselfde konteks as ander sielkundige toestande te lees. Die laaste hoofstuk, oor persoonlikheidversteurings, het gevolglik veel meer aandag nodig gehad vanweë die kompleksiteit van die onderwerp, of kon liefs maar uitgelaat gewees het. Ook word histrioniese-persoonlikheid-versteuring foutiewelik aangebied as “Histrioniese versteuring”.

Mens wil egter nie onnodig hare kloof en sodoende die kernboodskap in Verhale van hoop miskyk nie, naamlik die groot eiland van hoop wat bestaan te midde van die onstuimige see van sielkundige ongesteldhede. Pieter van Zyl lewer ’n welkome bydrae tot die beter verstaan van ingewikkelde psigiatriese konsepte, en beklemtoon boonop ’n ekstra tema wat soms te min beklemtoon word: dat daar hoop is.

Lees ook:

Eerste slukkie: Verhale van hoop

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top