Eerste slukkie: Verhale van hoop

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Oor die skrywer

Pieter van Zyl het ’n honneursgraad in sielkunde en ’n graad in joernalistiek van die Universiteit van Stellenbosch. Hy is ’n senior verslaggewer met ’n spesiale belangstelling in psigiese gesondheid by Huisgenoot.

Hy het verskeie akkolades vir sy joernalistieke werk ingepalm. Naas vier ATKV-Mediaveertjies was hy ’n Vodacom Joernalis van die Jaar-kategoriewenner en Joernalis van die Jaar by Media24-tydskrifte. Hy was vroeër ’n genoot by die Rosalynn Carter Fellowship for Mental Health Reporting.

Verhale van hoop is sy tweede boek na Gert & Joey.


Opsomming

Titel: Verhale van hoop, só help jy jou geliefde en jouself
Skrywer: Pieter van Zyl
ISBN: 9780639606002
Uitgewer: LAPA

Kintsugi is die Japannese kunstegniek om ’n gebroke keramiekvoorwerp met goud te herstel. Die tegniek maak ’n voorwerp mooier en kosbaarder as wat dit in ’n ongebroke toestand was. Met die regte ingrepe kan gebrokenheid waarde en skoonheid ontsluit.

Dit is die draad wat deur dié boek loop. In hierdie boek maak tientalle mense van verskillende agtergronde hul harte oop ter bemoediging van ander en om insigte te deel.

In Suid-Afrika ly een uit ses mense aan depressie, angs en middelafhanklikheid, tot sesmiljoen ly aan post-traumatiese stres. Agtduisend mense per jaar staan hul lewens aan selfdood af.

Die Covid-epidemie dryf dit verder op die spits.

Lees hierdie boek vir advies. Daar is hoop.


Uittreksel

Ek’s geen kenner nie, maar ’n ma

“Mevrou Smith, laat ek jou raad gee. Gaan voort met jou lewe, hou op om  jou geld te mors. Sy gaan nooit verander nie en jy gaan jouself vernietig. Draai jou rug op haar en loop weg.”

Dis skokkende woorde om van ’n psigiater te hoor.

Aanvanklik het ek gedink hy was dalk reg. Al die woede, seer en wrokkigheid wat ek in my opgegaar het, het skielik geregverdig gevoel. Maar toe het ek begin dink: Wat sal van my dogter word as ek die psigiater se raad volg? Sy kom uit my moederskoot. Hoe durf ek dit verag?

Judith is in 1981 gebore. Toe sy in my arms geplaas is, het ek na haar gekyk met daardie ongelooflike gevoel wat ’n ma kry wanneer sy haar kind die eerste keer sien. Ek sou toe nooit kon dink hoe anders ek nou, byna veertig jaar later, sou voel nie.

Judith was ’n teksboekbaba. Sy het geëet, geslaap en haar doek vuil- gemaak soos en wanneer sy moes. Sy was ’n goedgemanierde, intelligente, vrolike kind met ’n goeie sin vir humor. Sy was gou skoolgereed, het goed gevaar en was gewild onder haar vriende. Judith was netjies, deeglik en pligsgetrou.

Toe sy in standerd agt (graad tien) kom, was dit asof iemand ’n skakelaar gedruk het. Ek het geweet dis dieselfde kind, want sy het nog dieselfde gelyk, maar haar persoonlikheid was dié van ’n vreemdeling.

Skielik was sy onnet. Haar punte het al hoe swakker geword. Sy het tuis en by die skool in die moeilikheid beland. Haar vriendekring het verander. Ek onthou nog die nag toe ek gesien het sy is nie in die bed nie. Dit was ’n skoolaand. Vreemd!

Toe sien ek sy het die diefwering voor die venster afgeskroef. Later het ek uitgevind sy het ’n buurseun gaan ontmoet.

’n Paar weke daarna was sy in ’n vuisgeveg met ’n ander meisie by die skool betrokke. Sy het ons geld gesteel. Ek het myself getroos en gesê dis nie so ’n groot probleem nie – alle tieners gaan deur ’n rowwe tyd, toets grense, sprei hul vlerke. Min het ons geweet wat ’n dolle mallemeulerit voorlê.

Sy het gematrikuleer en dadelik werk gekry. Sy kon enige werk aanpak en dit goed doen. Sy het ’n warm, lieflike persoonlikheid en kom met almal oor die weg.

Kort voor lank is daar egter die een of ander probleem en kry ek ’n oproep: “Is jy Judith se ma?” Maar sy het altyd gou weer ’n ander werk gekry.

In haar vroeë twintigs is sy getroud en sy het twee pragtige kinders gehad. Vir ’n rukkie was hulle ’n gelukkige gesin. Maar soos ons weet, is rustigheid dikwels kortstondig wanneer geestesongesteldheid ter sprake is. Ongelukkig het Judith se man en skoonfamilie nie geglo psigiatriese siektes bestaan nie. Vir hulle is bipolêre siekte ’n verskoning vir slegte gedrag, en depressie is hoe jy voel wanneer jou kat doodgaan.

Dus het sy baie min ondersteuning gekry. Op ’n keer het sy in haar skoonma se huis ’n uitbarsting gehad en geskree. Toe sy besef wat sy gedoen het, het sy uitgehardloop en begin huil. Binne ’n paar jaar is hulle geskei en Judith het die kinders alleen probeer grootmaak, soos baie enkelma’s deesdae. Die verskil is egter dat spanning een van die grootste oorsake van haar gedrag is.

Sy het vinnig weer ’n verhouding met ’n man aangeknoop – hierdie keer ’n dwelmverslaafde. Die kinders het by hul pa gaan bly en Judith is deur haar afknouerige vriend aan dwelms bekend gestel.

Ek wil nie graag al die nare besonderhede van daardie weghol-vragmotor deel nie. Baie mense is vertroud met die pad van mishandeling, selfdood, steel en slegte verhoudings.

Bipolêr 1. Bipolêr 2.’n Vinnige ommeswaai van die een na die ander gemoedstoestand, grenslynpersoonlikheidversteuring, posttraumatiese stres, medisyne, gemoedstabiliseerders, antidepressante, snellers, rehab, hospitale, staatsdepartemente, psigiaters, sielkundiges, maatskaplike werkers, gedragsterapeute … Ek kan aan- en aan- en aangaan.

Ek is nie ’n kenner van die verskillende psigiatriese siektes nie, maar ek is ’n ma en ek het ’n kenner geword om my dogter te kan verstaan. Sy vertel graag dat ek voor haar weet wanneer sy ’n maniese episode gaan hê. Deur die jare heen het ek kritiek gekry en is ek as ’n slegte ma uitgekryt. Ek is gesê ek is swak omdat ek nie my rug op haar draai en haar op straat uitsit nie – dit deur mense wat graag kritiseer sonder dat hulle in my skoene geloop het.

***

Ek glo vas in die belang van ondersteuningsgroepe wat:

  • daarop fokus om die gesin insig te gee in geestesgesondheid sodat ons begrip kan hê vir dit wat ons geliefdes deurmaak. Dit het tyd geneem om haar te verstaan en, glo my, ek wil nie graag in my dogter se kop wees nie;
  • ons toelaat om goed vir onsself te wees. As gesin raak ons dikwels in die chaos verstrengel en voor ons ons oë kan uitvee, ly ons ook aan depressie en is ons dikwels fisiek siek;
  • help om verhoudings met ’n eggenoot en ander familielede in stand te hou. Daar was ’n tyd toe ek en my man vir agtien maande apart gewoon het, maar nie omdat ons stry gekry het nie. Dit was om die situasie met Judith en al die slegte verhoudings waarby sy betrokke was te probeer beredder deur nie al twee gelyk betrokke te wees nie. Koester jou vriende. Ek het opgehou om my vriende te besoek omdat dit te pynlik was om by hulle en hul kinders en kleinkinders te wees. Hulle kinders en ons kinders was saam op skool;
  • ons help om weer blydskap en vreugde te ervaar. Mettertyd het ek baie dinge ophou doen omdat ek voortdurend veg-of-vluggereed was. Ek het die gewoonte aangekweek om onsinnige gemors op televisie te kyk en Solitaire op my selfoon te speel, net om die aakligheid en hartseer uit te sluit.

***

Die maniere waarop ons as gesin geraak word, is nimmereindigend. Om jou geliefde te ondersteun is nie altyd maklik nie weens die verwoestende warrelwind wat die siekte veroorsaak.

Dis ’n troos om te weet ek is nie alleen nie. Ons verhaal is nie uniek nie. Sommige gesinne se stories is erger en sommige s’n minder erg, maar almal wat ’n familielid of geliefde met ’n geestesongesteldheid het, het ondersteuning en liefde nodig. Die persone met die versteuring en hul familielede wil almal gehoor en verstaan word.

Ek is dankbaar ons kon ’n gesinsondersteuningsgroep in Benoni begin. Ek sien daarna uit om te help en ’n verskil te maak.

My dogter se woorde: “Sonder my gesin se ondersteuning kan ek eerlik sê dat ek al lankal selfdood sou gepleeg het. Ek het my lewe te danke aan hulle ondersteuning.”

Josh Groban se “You are loved” dra ons dikwels deur die moeilike tye: “Don’t give up / it’s just the weight of the world / when your heart’s heavy / I … I will lift it for you …”


Raad

Ons gesels met: Janine Roos, direkteur van die Mediese Navorsingsraad se Geestesgesondheid-inligtingsentrum aan die Universiteit Stellenbosch; Hermann Liebenberg, ’n sielkundige van Centurion; prof. Dap Louw, Buitengewone Professor in Sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat; prof. Christine Lochner van die Departement Psigiatrie aan die Universiteit Stellenbosch.

Ondersteuning en liefde

Dis die belangrikste wat jy kan gee vir ’n geliefde by wie hierdie versteuring gediagnoseer is. Moedig die persoon aan om hulp te kry; hoe gouer, hoe beter. Let op na die simptome en ondersteun die persoon in sy behandeling. Wees op die uitkyk vir terugvalsimptome. Probeer saam met die persoon ’n strategie uitwerk om die versteuring te hanteer. Vestig ’n daaglikse roetine. Onthou dat stres ’n bipolêre versteuring vererger, dus moet maniere gevind word om die pasiënt se spanning te verminder. Kommunikeer oop en eerlik met die pasiënt oor die siekte. Wees geduldig met die persoon.

Hoe kan jy jouself en jou gemoed beskerm as jy saam met ’n geliefde met ’n bipolêre versteuring leef?
  • Bemagtig jou met kennis oor die siekte. Die gemoedskommelinge van iemand met dié siekte beïnvloed almal rondom hom, veral die familie en nabye
  • Moenie opmerkings persoonlik opneem nie.
  • Moenie jou eie behoeftes verwaarloos nie.
  • Vind ’n balans tussen sorg vir die persoon en sorg vir jou eie fisieke en emosionele behoeftes. Indien jy dit nie doen nie, kan jy uitbranding ervaar. Fokus dus op jou eie lewe, gee aandag aan jou vriende en neem deel aan aktiwiteite wat vir jou lekker is.
  • Bou ook vir jouself ’n ondersteuningsnetwerk op.
  • Stel grense vas vir dit wat jy vir die persoon kan en wil doen.
  • Gee aandag aan meganismes om stres te hanteer.
Wat moet jy nooit sê nie?
  • “Jy is ’n laas.”
  • “Wees meer positief.”
  • “Moenie mal wees nie.”
  • “Jy maak dit moeilik vir almal rondom jou.”
Hoe hanteer jy maniese episodes?
  • Onthou, tydens ’n maniese episode kan verskeie uitbarstings, irrasionele besluite en roekeloosheid voorkom.
  • Maak seker dat die pasiënt sy medikasie neem aangesien lyers insig verloor – dit voel asof hulle die wêreld besit en kan versit.
  • Probeer soveel as moontlik te wete kom van die siekte, dan sal jy hierdie episodes beter verstaan.
  • Verseker die persoon van jou bystand en ondersteuning.
  • Moedig rusperiodes aan; probeer dit vermy dat die persoon te veel stimulasie kry.
  • Beantwoord vrae eerlik.
  • Probeer om nie in argumente betrokke te raak nie. Bespreek liewer sake wanneer die episode bedaar het. ’n Persoon kan letterlik ontplof as jy met hom baklei. Gebreekte goed oral in jou omgewing is jou voorland.
Hoe hanteer jy sy depressiewe episodes?
  • Tydens depressiewe episodes sal jy heel moontlik meer verantwoordelikheid moet aanvaar om dinge gedoen te kry, siende dat die lyer nie die energie het om dit te doen nie.
  • Moenie in hierdie fase te veel van die depressiewe persoon verwag nie.
  • Verseker die persoon herhaaldelik van jou volgehoue ondersteuning en liefde.
Watter praktiese dinge kan jy vir jouself doen?
  • Eet gebalanseerd.
  • Vestig ’n goeie slaappatroon. Dis soms moeilik as die persoon manies is en self nie slaap nie. As dit nodig is, gaan na ’n vriend toe of as jy kan, boek oornag by ’n gastehuis in sodat jy ten minste ’n goeie nagrus kan kry.
  • Oefen gereeld: Doen wat vir jou werk, hetsy dit ’n stappie van dertig minute of meer in die buitelug, speel met jou honde of gimnasium toe gaan, is.
  • Beperk alkohol en te veel kafeïen, wat jou kan opwerk.
  • Knyp elke dag ’n tydjie af om iets net vir jouself te Lees ’n boek, sit in die tuin met ’n koppie tee, besoek ’n vriend, neem ’n lang, rustige bad.
  • Wees op die uitkyk vir tekens van chroniese stres, byvoorbeeld hoofpyn, borskaspyn, oormatige moegheid, negatiewe gedagtes, geïrriteerdheid, afname in motivering, insomnia, sosiale onttrekking.
  • Woon ’n ondersteuningsgroep by van mense wat ook saam met geliefdes met ’n bipolêre versteuring leef.
  • Indien jy voel dinge raak te veel, kontak jou dokter, wat jou moontlik verder kan verwys.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top