Dit verbaas my dat die groot profete of sogenaamde teoloë van vergifnis in Suid-Afrika nie na die basiese kontradiksie aangaande vergifnis in hulle eie dogma verwys wanneer hulle in openbare gesprek tree oor hierdie onderwerp nie. Ignoreer hulle hierdie kontradiksie in die Abrahamiese gelowe of weet hulle bloot nie daarvan nie? Hoe dit ook al sy, die kontradiksie bestaan en hou belangrike implikasies in vir die debat in Suid-Afrika rondom vergifnis en versoening (ja, die twee is verskillend).
Die teenstrydigheid in die Abrahamiese gelowe aangaande vergifnis is die volgende: daar is, in hierdie religieuse erfenis, tegelykertyd twee opponerende logikas aangaande die etiek van vergifnis. Die eerste logika noem Derrida (die filosoof wat onapologeties aangedring het op hierdie kontradiksie) suiwer vergifnis.[1] Dit is die vergifnis wat gesimboliseer word in Jesus Christus se woorde: "Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie", of in die Christelike diktaat om die ander wang te draai. Suiwer vergifnis is die enigste vergifnis wat werklik hierdie naam werd is. Dit is onvoorwaardelik, dit kan nie beding word nie en indien dit geskied, geskied dit sonder dat ‘n verskoning aangebied of vereis is. Derrida maak dit duidelik dat geen politiek of reg op hierdie vorm van vergifnis gebaseer kan word nie, aangesien hierdie vergifnis "absoluut" eties is en dus buite die normaliserende ordes van die politiek en reg staan. Om dit duidelik te stel, suiwer vergifnis is radikaal, dit is nie afhanklik van ‘n onvoorwaardelike apologie of voetwassery nie – as dit plaasvind, vind dit plaas ongeag die teenwoordigheid van die apologie. Suiwer vergifnis staan nie in die diens van enige pragmatiese uitkoms (byvoorbeeld nasionale genesing) nie. Wat meer is, sê Derrida, die onvergeeflike (byvoorbeeld die misdaad teen die mensdom, volksmoord, apartheid) kan slegs werklik deur hierdie soort vergifnis vergeef word.
Die tweede vorm van vergifnis is die instrumentele vergifnis. Hierdie vergifnis vind ook en terselfdertyd sy oorsprong in die Abrahamiese tradisie, maar hierdie vergifnis is altyd op die een of ander wyse voorwaardelik en gevolglik nie suiwer nie. Dit word gekontamineer juis deur allerhande voorwaardes en vereistes, byvoorbeeld: "Ek sal jou vergewe op voorwaarde dat jy verskoning vra en belowe om dit nooit weer te doen nie." Dit is die meer algemene vorm van vergifnis wat vandag die rondte doen in die politiek en in diens geplaas word van vasgestelde uitkomste op daardie gebied, byvoorbeeld versoening. Hierdie "vergifnis" mag normaliserend wees, maar dit is nie suiwer vergifnis in die teken van die Abrahamiese tradisie nie. Dit is die vergifnis wat Frits Gaum gelykstel aan versoening, terwyl die suiwer vergifnis waarvan die Abrahamiese tradisie praat, niks te doen het met versoening nie. Dit beteken nie dat hierdie vorm van vergifnis onnodig of onbelangrik of onwenslik is nie – slegs dat dit nie suiwer vergifnis is nie. Die probleem met hierdie vorm van vergifnis is egter dat dit in diens geplaas kan word van die ergste. Dit is wanneer vergifnis verpolitiseer word dat enige hoop op die suiwer vergifnis begin beskaam.
Ek is geen teoloog nie, maar is die begrip van vergifnis as versoening wat Frits Gaum in ‘n onlangse skrywe in Rapport[2] beskryf, nie ‘n wanvoorstelling van die vergifnis-begrip in die geloofstradisie waarop hy so getrou steun en waarin hy so kundig geskoold is nie? Dat Gaum se verstaan van vergifnis wat in bogenoemde skrywe gebesig word, ‘n weergawe is van die instrumentele, beperkte, eng en voorwaardelike vergifnis, skyn uit sy opvattings rondom die apologie en belydenis in die geval Joan Hambidge. Lesers sal onthou dat Gaum ‘n paar jaar gelede in Die Burger se By vir Hambidge om verskoning gevra het oor sekere antigay kerklike uitlatings wat hy gemaak het en waarin hy haar by die naam genoem het. Gaum vra Hambidge om verskoning eers toe dit aan die lig kom dat homoseksualiteit aan’t eige huis is. Gaum vra verskoning in die openbaar, in die oog van die media en die publiek, in ‘n tyd waarin mense wonder "Wat sê Frits Gaum nóú?" (Hoekom die media bysleep as dit werklik om vergifnis gaan? Sou ‘n verskoning in die pos of per e-pos nie gedeug het nie? Het hierdie openbare "apologie" enigiets met Hambidge te doen gehad, of het dit hier om ander belange gegaan?) Gaum vra Hambidge om verskoning op voorwaarde dat sy hierdie verskoning moet aanvaar, op voorwaarde dat hulle daarna lekker (versoen) met mekaar moet wees, op voorwaarde dat hy haar in die openbaar kan groet na dese, op voorwaarde dat sy hom gemoedelik sal teruggroet in die openbaar. Hierdie bepalings kan een en elk verstaan word as pogings om die vergifnis opsy voorwaardes te laat geskied – dit is ‘n poging om die radikale andersheid van die Ander op narsissistiese wyse toe te eien. Met ander woorde, die voorwaardes wat Gaum stel rondom die gewenste effek van sy apologie, spreek van ‘n oortuiging dat vergifnis kontraktueel beding kan word. Dit laat geen ruimte vir die vergifnis wat suiwer is en van die Ander kom as ‘n geskenk waarvoor niks ooit in ruil gegee kan word nie. Hiermee word die apologie – waarom Hambidge, terloops, nie gevra het of nie vereis het nie – niksseggend. Maar wat anders kan mens verwag van ‘n man wat onthoofding as ‘n meer menslike straf as teregstelling op die brandstapel beskou?
Ek probeer weliswaar nie te kenne gee dat die suiwer en die onsuiwer vorme van vergifnis in ons tyd nie gedurig met mekaar meeding nie. Dit is onteenseglik so. As ons egter daarmee gemoeid wil wees om vergifnis te red van ‘n instrumentele, utilistiese, selfsugtige misbruik daarvan, is dit juis ons taak om op hierdie mededinging tussen suiwer en onsuiwer vergifnis te fokus.
Die feit dat Hambidge Gaum se verskoning aanvaar het, beteken geensins dat sy vergifnis in ruil aangebied het nie – vergifnis is nie ‘n ruiltransaksie nie. Dit beteken ook nie dat Hambidge nie op haar eie manier besig is met die proses van vergifnis nie. Want dit is wat vergifnis is – ‘n proses, nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie – veral as dit kom by die dinge waarvoor Gaum vergifnis vra.
En voor mense nou weer sê dat ek net die brakkie is wat om Hambidge se stewels blaf, laat ek maar sê dat ek, as gay Afrikaanse man en voormalige lidmaat van die NG Kerk, wag om te sien of Frits Gaum eendag verskoning gaan vra aan al die gay mans (en vroue) wat deur sy patriargale, hegemonistiese en veroordelende dogma van ouds nie net uit die kerk gedryf is nie, maar ook uit hulle families, gesinne en wonings. Of hy nou verskoning vra of nie, dis óns wat worstel met die wonde van die verlede, dis óns wat worstel met die proses van vergifnis.
Dr Jaco Barnard-Naudé doseer regsfilosofie aan die Universiteit van Kaapstad.
[1] J Derrida, On Forgiveness. In J Derrida, M Dooley en M Hughes (vert), On Cosmopolitanism and Forgiveness (2001), 27-39.
[2] Frits Gaum, Reg op repliek: Om te bely en te vergewe verg meer as net ‘n paar woordjies. Rapport, Weekliks 8 Augustus 2009, beskikbaar by http://jv.news24.com/Rapport/Weekliks/0,,752-2496_2546164,00.html.

