Verdere gedagtes oor vergifnis en versoening – 'n antwoord op Morné Malan

  • 0

Ek wil Morné Malan bedank vir die insigryke supplement ingegee deur my lees van die Hambidge/Gaum-kwessie en die breër kwessies wat ek daaruit aflei vir transformasie, vergifnis en versoening in postapartheid-Suid-Afrika. Hiermee 'n aantal verdere gedagtes op hulle beurt weer ingegee deur Malan se antwoord.

Eerstens, vir my is Malan se antwoord op my teks weer eens 'n bewys van Derrida se stelling dat dekonstruksie dit is wat gebeur.[1] Ek kan dus nie méér saamstem dat, soos Malan dit stel, "'n dekonstruktiewe benadering tot etiese begrippe nooit 'n netjies-voltooide teorie is wat in 'n enkele teks 'vasgevat' of 'opgesom' staan, of onvoorwaardelik en uitsluitlik aan Derrida toegedig kan word nie." In die teken van die gebaar waarmee Malan aanneem dat ek met hom saamstem dat dekonstruksie berus op die immer-onvoltooidheid van 'n diskoers (en ek stem beslis saam), neem ek dus aan dat hy met my saamstem dat ek nie verhoed word om ook te kyk "wat val af" wanneer nog 'n paar stokke in die wiele gewerp word (of 'n aantal vurke in die pad opdoem) nie.

Dit is wel so dat ek eksplisiet versuim om te verwys na, of, anders gestel, nie eksplisiet verwys na, Derrida se tipering van suiwer vergifnis as "onmoontlik" nie. (Uit wat volg, hoop ek dat dit duidelik(er) sal word waarom ek aandring op die aanhalingstekens hier bo.) Volgens Malan stel hierdie weglating my teks oop vir dekonstruksie: uit my teks blyk dit dat ek dink suiwer vergifnis is wel moontlik, terwyl Derrida dit duidelik maak dat suiwer vergifnis onmoontlik is. Malan vra of die "meer algemene", transaksionele vergifnis waarvan ek praat, nie eerder beskryf behoort te word as "die enigste moontlike vergifnis" nie. Dit is egter aangaande juis hierdie aspek dat Malan se teks dekonstrueer. Malan skryf: "dit wil voorkom asof hy [ek] Gaum voor 'n onmoontlike ideaal daag." Tog het Malan so pas aangedui dat ek versuim om suiwer vergifnis as "onmoontlik" aan te merk. Ingevolge die logika van my eie teks sou ek Gaum dus nié voor 'n "onmoontlike ideaal" daag nie, maar juis voor 'n moontlike ideaal. Laasgenoemde formulering in meer "Derrideaanse" taal sou soos volg kon lui: ek daag Gaum voor 'n moontlike onmoontlikheid of voor die moontlikheid van die onmoontlike (dit is tog wat 'n ideaal, per definisie, is – 'n onmoontlikheid.) En dit is beslis wat ek in my teks gepoog het om te doen – om Gaum te daag voor 'n ervaring van die onmoontlike – 'n moontlike onmoontlike wat hy voortdurend misken.

In gesprek met die Franse psigoanalis Elisabeth Roudinesco spreek Derrida hom as volg uit aangaande sy begrip van die onmoontlike in die konteks van vergifnis:

[T]o forgive the unforgivable is to cause human reason to shatter, or at least the principle of reason interpreted as calculability. It makes a sign in the direction of something from which the human us announced without immanence. In the idea of forgiveness, there is that of transcendence. Perhaps one does not need forgiveness, nor to believe in the possible existence of such a thing; but precisely, it is a question here of the possibility of the impossible, and, if we want to speak to this, if we want to use this word in a consistent way, it is necessary to admit that to forgive the unforgivable is to accomplish a gesture that is no longer to be measured by human immanence"[2]

Hieruit kan mens aflei dat die onmoontlike vir Derrida in die teken staan van iets wat buite rede, rasionaliteit en berekening staan, maar nie iets is wat, bloot hierom, per se fisies onmoontlik is nie. Soos John D Caputo aandui: "“The impossible” is not a simple logical contradiction, like x and not-x, but the tension, the paralysis, the aporia, of having to push against and beyond the limits of the horizon, ... The im-possible is undertaken when the unforeseeable take us over, when it “over-takes” us by “surprise” (sur-prise)." Hierdie verstaan van die moontlikheid van die onmoontlike – die skraal kans van die onmoontlike[3] – korrespondeer dan ook met wat Derrida in die essay "On Forgiveness" sê:

These two poles, the unconditional and the conditional, are absolutely heterogeneous, and must remain irreducible to one another. They are nonetheless indissociable: if one wants, and it is necessary, forgiveness to become effective, concrete, historic; if one wants it to arrive, to happen by changing things, it is necessary that this purity engage itself in a series of conditions of all kinds (psychological, sociological, political, etc). It is between these two poles, irreconcilable but indissociable, that decisions and responsibilities are to be taken." [4]

Omdat my begrip van die onmoontlike in Derrida swaar ingegee word deur bogenoemde tekste, verskil ek van Malan dat ons van voorwaardelike vergifnis kan praat as die enigste moontlike vergifnis. My antwoord op die vraag of daar iets soos "absolute" vergifnis is, en op die vermoede dat ek "beweer dat so iets wel moontlik is", is dus ja, daar is so iets en ja, dit is moontlik, maar slegs deur en as die onmoontlike – as dit wat die subjek se soewereine kapasiteit geheel en al oorskry. Ek dink ook nie dat hierdie soort vergifnis eenvoudig "gebeur" nie. Soos ek in my teks aandui, is vergifnis 'n proses wat gedurig in die teken van onmoontlike vergifnis staan.

Wat Malan se verskil van my in terme van die privaat/publiek-onderskeid betref, dink ek dat dit belangrik is om te let op Johan van der Walt se Arendtiaanse argument aangaande die publieke. Van der Walt argumenteer dat die politieke/openbare/publieke oomblik bestaan as 'n oomblik van ware Arendtiaanse pluraliteit – die bymekaarkom van meer as een, van een en 'n Ander, van absolute singulariteite. Natuurlik is die privaat/publiek-skeiding 'n uitgediende manier van dink oor menslike bestaan en ek stem met Van der Walt saam dat ons (à la Nancy) die menslike toestand beter kan bedink as die wedersydse konstituering van die singuliere deur die plurale en andersom. Ware pluraliteit staan die idee van openbare eenheid, wat die kontoere van verskil en individuele integriteit uitwis, ten sterkste teen.[5] In hierdie sin is Gaum se apologie "niksseggend", aangesien dit in die teken staan van patriargale onderwerping van die Ander tot die Self. Gaum wil die vergifnis op sý terme laat plaasvind. Ons het hier te make met 'n poging tot 'n privatisering van die politieke oomblik – 'n poging tot die herinstelling van die hiërargie.

Die minder openbare, minder strategiese (en ek gebruik hierdie woorde doelbewus) vorm van apologie betrek nie naastenby die miriade van voorwaardes, reduksies en onderwerpings wat Gaum se strategiese, openbare, privatiserende apologie betrek het nie. 'n Verskoning, byvoorbeeld een aan al die gay mans en vroue wat onder die juk van die NG Kerk se dogma gebuk gegaan het, kan veelseggend wees en in die openbaar geskied, maar 'n openbare verskoning waaragter allerlei strategiese kunsgrepe skuil, sal altyd in die teken staan van die mees brutale ruiltransaksie.

[1] Sien J Derrida en M Ferraris, A Taste for the Secret (2001) 80: "I ought to have specified that what happens deconstructs itself in the process. It is not I who deconstruct; rather something I called 'deconstruction' happens to the experience of a world, a culture, a philosophic tradition: 'it' deconstructs, ça ne va pas, there is something that budges, that is in the process of being dislocated, disjointed, disadjoined, and of which I begin to be aware. Something is 'deconstructing' and it has to be answered for."

[2] Jacques Derrida and Elisabeth Roudinesco, "Death Penalties", in For What Tomorrow, Stanford, California: Stanford University Press, 2004:139-65, 164.

[3] JWG van der Walt, "The (im)possibility of two together when it matters", 2002, Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg,462, 472-4.

[4] Jacques Derrida, "On Forgiveness", in On Cosmopolitanism and Forgiveness, reds Jacques Derrida, Mark Dooley and Michael Hughes, New York: Routledge, 2001:27-60.

[5] Van der Walt supra, 472.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top