Varsgebreek suck

  • 4

Foto: Canva.com

Varsgebreek suck

Ek loop op die strand met ’n koue, nat soutbries in my gesig en tel goetertjies op. Skulpies, stokkies en glasstukkies wat deur die see daar uitgespoeg is. En klippies. 

Nee, ek soek nie na mooi, heel skulpies nie. Dis te gewoon. Ek hou van die stukkies wat oorgebly het na die see sy breekwerk gedoen het. 

Maar ook nie varsgebreektes nie. Net dié wat nie meer skerp kante het nie. Dié wat gladgeskuur is deur sand en water, met rondgemaakte hoekies en op ’n manier deur die elemente nuutgevorm is tot pragtige brokkies wat nie meer probeer om – trots – iets te wees wat hulle nie meer is nie. Selfde met stokkies en glasstukkies en klippies. Ek gaan staan stil, los alles waarmee ek besig is en gaan tel dit op waar my oog daarop val. By die huis het ek canned-fruit bottels vol daarvan. 

Ek hou van mense ook op hierdie manier. Héél kry jy nie eintlik nie. Almal is op ’n manier al gebreek. Maar varsgebreek is nie mooi nie. Varsgebreek het skerp kante. Hulle sny en krap en byt selfs. Varsgebreek is verbitterd en giftig. 

Elke nou en dan is ek ook varsgebreek. Dis hoekom ek dan eerder my snater toehou, want ander mense geniet nie my tirades en galbrakery nie. Hulle verstaan per slot van rekening nie my emosies nie. 

Iemand het eenmaal vir my gevra om vir haar ’n klippie in die see te gooi terwyl ek op vakansie is. Ek het. Maar ek het ’n mooi, gladde en rondgeskuurde klippie gesoek, want dis wie sy vir my was. Iemand wat deur die lewe gemaal is tot iets heel anders as wie sy eers was. Iemand besonders.

Ek wou vandag ’n klippie vir myself in die see gooi. Maar ek het daarteen besluit, want al die klippies was dan so mooi rond en glad ... Varsgebreek is nie mooi nie, dit suck.

  • 4

Kommentaar

  • Die stukkie is so waar en treffend. Varsgebreek is gevaarlik, maar deur die lewe gevorm is ook nie altyd lekker nie, maar dit is deel van die lewe.

  • Avatar
    Chris Kleynhans

    Ja, jy skryf 'n waarheid hier vas wat ons almal eerlik oor moet wees met onsself. Ek kan nie meer byvoeg nie, behalwe dat ek hou van die metafoor. Dankie vir jou skryfwerk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top