Variasies op ’n tema: ’n filmresensie

  • 0

https://www.youtube.com/watch?v=KNdIQCBvWhI

Variasies op ’n tema
Met Hettie Farmer en Johanna Adams
Regisseurs en draaiboekskrywers: Devon Delmar en Jason Jacobs 

En daar sit sy asof sy uit klip gebeitel is. Die koppige, stoere ouma Hettie, gespeel deur die kosbare Hettie Farmer. Kosbaar, want so ’n naturalistiese, sielsopenbarende vertolking (teenoor “spel”), skop jy nie agter elke tweede Karoobossie uit nie.

Die ouma leun op haar kierie tussen die rotse, haar beste vriende naas haar bokke. Sy staar vir kilometers ver oor die verlate Noord-Kaapse vlaktes buite Kharkams uit en wag op beter dae. Ook ’n ou geldjie. Want sien, haar pa, die oupagrootjie van een van die rolprentmakers, Jason Jacobs, het dekades gelede aan die front vir die Geallieerdes gedurende die Tweede Wêreldoorlog geveg en as ’n skaduwee van die man wat hy was teruggekeer. Sy siel het oorgeloop van die las van die dooies wat hy saam met hom in sy kop gedra het.

Daar was blink beloftes toe hy voet aan wal sit, meer as die sterre aan die hemeltrans. Maar al wat hy in 1945 in Suid-Afrika ontvang het, was ’n paar stewels en ’n fiets. O ja, daar is geld belowe, maar daardie beloftes het soos fonteine in die droë dorpie opgedroog. En nou, soveel jare na sy dood, wag ouma Hettie nog steeds op kompensasie. Smag daarna, maar besef dis vergeefs.

........
Daar was blink beloftes toe hy voet aan wal sit, meer as die sterre aan die hemeltrans. Maar al wat hy in 1945 in Suid-Afrika ontvang het, was ’n paar stewels en ’n fiets. O ja, daar is geld belowe, maar daardie beloftes het soos fonteine in die droë dorpie opgedroog. En nou, soveel jare na sy dood, wag ouma Hettie nog steeds op kompensasie. Smag daarna, maar besef dis vergeefs.
..........

Beloftes uit geldkringe loop oor soos die trog waaruit varke vreet. Die besigheidskurke klou aan die geld soos bokdrolle aan die Karoogrond. Ouma sien nie ’n sent nie, al belowe die vetgevrete rykes geld in blinkgepoetste woorde. Daar word opnuut nuwe blou vorms uitgedeel om vir die soveelste keer ingevul te word.

Daar is ’n lappieskombers van mense om haar in die pragrolprent Variasies op ’n tema. Dis gemaak deur dieselfde span wat Carissa geregisseer en geskryf het en wat binnekort die Deleen Bekker-prys van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang vir hulle draaiboek vol juwele van beskrywings en stil dialoog.

Hierdie is nie goedkoop sitkomkarikature waarvoor ’n mens skater vanweë hulle eksentrisiteite nie. Jy beskou hulle soos mense wat voor jou in die straat verbyloop. Hul karaktereienskappe lê in die slenterstappies, waardigheid, haarstyle of oë waarin die lewe oud geword het. Fliekgangers verkyk hulle aan die stukkies menswees wat verby drentel en deur ’n lens vasgevang is.

Dink hier aan die flambojante haarkapper wat vroue se hare straighten in sy garage wat ook maar net-net staan; twee ou mans en ’n hond wat buite ’n kleinhuisie vertoef; en ’n doodgewone boorling van die distrik wat lag oor die “zombies” wat mens glo in Las Vegas kry. Daardie kraai  van die lag weergalm ironies deur die armoedige straatjies

Dit is hierdie besonderse wêreld wat Jacobs en Delmar so briljant vasvang in skote wat lyk of ’n skilder hulle geverf  het. Tonele of prentjies word gekenmerk deur eenvoud. ’n Werkende kombuis waarin elke voorwerp spreek van die mense se gewoontes. Soos Athol Fugard sou gesê het: “People are living there.” Of ’n stowwerige kamer waar ’n oom ’n gat met ’n pik grawe om by ’n diamant uit te kom.

Laas met Katinka Heyns het ons so ’n perfekte komposisie van skote gesien. Respek vir die kontras tussen die kleure van die palet en hoe hulle versigtig inmekaarvloei. Donkerte en lig kontrasteer treffend langs mekaar in ’n enkele skoot.  Dit is beelde en stories wat “die mure wat dit omring die nag inpraat”, om die wysheid van ’n inwoner te parafraseer.

.......
Jacobs en Delmar bewys hiermee hoe hulle die krag en impak van ’n beeld en komposisie respekteer. Ook die eenvoud van die spaarsamige dialoog. Dan die belangrikheid van die dorre bleekwit-bruin wat beeldskoon in sy verlatenheid is. Alles vorm ’n merkwaardige eenheid soos selde tevore in ’n Afrikaanse rolprent gesien is. Gray Kotzé is die kinematograaf.
........

Jacobs en Delmar bewys hiermee hoe hulle die krag en impak van ’n beeld en komposisie respekteer. Ook die eenvoud van die spaarsamige dialoog. Dan die belangrikheid van die dorre bleekwit-bruin wat beeldskoon in sy verlatenheid is. Alles vorm ’n merkwaardige eenheid soos selde tevore in ’n Afrikaanse rolprent gesien is. Gray Kotzé is die kinematograaf.

Die twee filmmakers het uit hul vorige rolprent, Carissa, geleer. Soms kan ’n stilte te lank word, sodat die kyker daardeur ingesluk word. Partykeer vertoef ’n beeld (’n meisie agterop ’n bakkie om haar terneergedruktheid weer te gee) te lank, sodat dit sy trefkrag verloor.

“We learnt to kill our darlings,” sê die Engels-Afrikaanse Devon Delmar. Daarom blyk dit dat hulle hul tonele waar niks op die oog af gebeur nie maar tog so baie gesê word, verkort het. Variasies op ’n tema is slegs 65 minute lank. Net genoeg om ’n blik op hierdie dorp te kry, maar nie ongenooid te lank mag bly nie.

Luister ook na die invloed van klassieke musiek soos die Goldberg-variasies van Bach wat die rolprent nog ryker maak. Dit is juis hier waar die rolprent sy naam vandaan kry.

Dis hoegenaamd nie vir die vinnig vorentoe-spoel-TikTok-geslag nie. Die film beweeg so tydsaam soos ’n tolbossie wat omtol en op die vlaktes sy rus kry.

Jason Jacobs en Devon Delmar het hier ’n klein meesterstuk geskep waarin niks op die oog af gebeur nie, maar tog so baie plaasvind. Hulle beweeg doelbewus weg van die driebedryfstruktuur waaraan Amerika en stromingsnetwerke so verslaaf is, en skakel oor na ’n gedagtestroomtegniek in vyf bedrywe, sonder dat die storie gerieflik vasgeknoop word. Jy vertoef nog oorbluf tussen die mense en jy deel in hulle hoop, maar dan is dit verby.

Variasies op ’n tema wys vir ’n week by uitgesoekte teaters in Suid-Afrika (8 tot 14 Mei) om te kwalifiseer vir ’n Suid-Afrikaanse Oscar-benoeming. Dit is ’n ervaring vir deurwinterde, geduldige rolprentgangers wat unieke rolprentbeelde waardeer en as  ander mense uit die teater wil stap.

Jy is nie eers  bewoë nie. Maar wel diep onder die indruk van die bittere las van menswees.

Dit wys in die Labia en die V & A Waterfront in Kaapstad, en The Bioscope en Cinema Nouveau in Johannesburg.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top