Vandag wil ek my blou skoene dra: ’n onderhoud met Koos Kombuis

  • 0

Vandag wil ek my blou skoene dra
Koos Kombuis

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426080

Skrywers oor hul nuwe boeke: Koos Kombuis gesels met Naomi Meyer oor Vandag wil ek my blou skoene dra.

Vandag wil ek my blou skoene dra is jou eerste digbundel in ’n paar jaar. Baie geluk daarmee, Koos! Wil jy iets vertel van die ontstaansproses van een of twee van die gedigte? Dalk ook uitbrei op die titel van die bundel?

Ek het die laaste paar jaar ’n soort “ontwaking” beleef en dit het neerslag gevind in ’n paar albums, onder andere my “geestelike” album getiteld dertien en ook die laaste album saam met David Kramer, Langpad na Lekkersing. In hierdie tyd het ek ook so nou en dan ’n gediggie geskryf. Dit was merendeels gelukkige gedigte met ’n vrolike of speelse inslag. Die skryf van die gedigte was slegs vir myself bedoel – ek het nooit op enige stadium publikasie in boekvorm oorweeg nie, hoewel ek sommige daarvan op LitNet en in Ons Klyntji gepubliseer het, en ook ’n sekere groepie daarvan in die virtuele bundeltjie rock ’n roll-karoo. ’n Klompie van hierdie gedigte, wat vir my saam gehoort het in terme van beelde en trant, het ek lukraak in een manuskrip saamgegooi en aan Naledi-uitgewers gestuur. Ek het egter dadelik na ek die manuskrip gestuur het, daarvan vergeet en nooit in my wildste drome verwag het dat hulle dit sou aanvaar nie!

As jy ’n gedig skryf, is dit vir jou anders as die skryf van ’n liedjie se lirieke? Dink jy dat jy al jou gedigte sou kon sing, of al jou liedjies se woorde sonder musikale begeleiding sou kon voordra, byvoorbeeld? Of hoe verskil die skeppingsproses vir jou?

Toe ek begin sing het, het ek op ’n stadium dié bogsinnetjie kwytgeraak: “Woorde is alles, musiek fokkol.” Die saak is in werklikheid natuurlik nie so eenvoudig nie, en gedigte is uiteraard ook meer as slegs liedjies sonder wysies. Die tipiese liedjie – myne altans – het ’n voorspelbare kedoenks-kedoenks-ritme en eenvoudige paarrym. In poësie is eindrym skaarser en maak mens gebruik van allerhande vorme van binnerym en klankpatrone. Dis ’n ander tegniek. Daarom leen slegs enkele van hierdie gedigte hulleself tot toonsetting, en dan slegs as ’n aardigheid – ek glo nie ek sou sulke toonsettings ooit op ’n musiekalbum gebruik nie. Dit is hoogstens om nou en dan op die verhoog te sing. Dalk as promosie vir die bundel! 

Daar het baie dinge in jou lewe verander sedert die ontstaan van jou heel eerste skryfwerk. Wat was vir jou die mees waterskeidende gebeurtenisse, as jy ’n paar kan uitsonder, en hoe het dit in jou skryfwerk neerslag gevind? Ook: as wat? (Rubrieke, gedigte, liedjies, romans?)

Ek is minder kwaad as toe ek ’n jong skrywer was. Ek is hopelik ook ’n bietjie minder selfbehep. Daar was ’n tyd toe feitlik al my publikasies outobiografies van aard was – sommige mense het dit selfs gesê van The secret diary of God! Een rede vir hierdie getorring met die self was die eenvoudige feit dat ek baie lank geworstel het met ’n swaar vrag persoonlike bagasie en pyn wat ek opgegaar het sedert my ontsettend traumatiese kinderjare. Vir my het Vandag wil ek my blou skoene dra gevoel soos ’n bevryding van daardie ou klomp pyn. Dit was soos om jou ore oop te gaap as jy afkom van ’n bergpas.  Dis ’n dun bundeltjie, met redelik eenvoudige en toeganklike verse, maar dit spreek vir my van ’n soort verligting, ’n nuwe loslit en vryer omgang met die lewe. Ek voel asof hierdie groter "losheid" ook begin deurslag vind in my ander werk, selfs my rubrieke. Dis hoog tyd!

Skryf jy oor mense naby aan jou, en indien wel, hoe en oor wie?

In hierdie bundel is daar gedigte wat ek geskryf het oor my vrou, oor vriende, en selfs oor my gunstelingskoene: ’n aaklige paar blou Crocs wat seker die lekkerste en gemaklikste skoene is wat ek nog ooit besit het. Daar is ook ’n gedig oor Samsung-fone – dalk sien hulle dit raak en bied my ’n borgskap aan!

Ek het ook die onderhoud op Versindaba gelees, waar René Bohnen met jou gesels het. Hoe persoonlik of hoe verwyderd is hierdie bundel van jou, as mens, sonder ’n skuilnaam?

Ek kan een naam hê of baie, dit verander nie aan wie ek essensieel is nie. Ek het nou ’n sterker gevoel van wie ek eintlik is. Ook wie ek is wanneer ek nie op die verhoog is of besig met ’n onderhoud nie. Dis ongelooflik dat dit my so lank geneem het om by hierdie punt uit te kom! Daar is mense wat van geboorte af hulleself is en nooit deur so ’n lang soektog hoef te gaan nie. Sulkes is so fokken lucky ...   

Raak jy gefrustreerd as jy nie skryf nie? Anders gestel: Is jy altyd besig om aan iets te werk, op een of ander manier?

Om eerlik te wees, ek is op my gelukkigste wanneer ek writer’s block het, dws wanneer ek nie skryf nie. Dan kan ek al my aandag gee aan my gesin, my vriende en my troeteldiere (sien foto’s). Maar so elke nou en dan gryp ’n idee my … hetsy vir ’n gedig, ’n liedjie, ’n storie, ’n rubriek of selfs net ’n prentjie. Dan sonder ek myself af tot dit klaar is. Op ’n manier is dit ook lekker. Ander ouens kyk krieket of vang vis. Ek foeter met woorde. Dis nou maar my ding. 

 

Nog een van jou kunsgedaantes is die shows waarby jy betrokke is, soos nou weer by die Suidoosterfees (saam met Stef Bos – Stef en Koos: Suidoos). Waarna kan mense hier uitsien? Waaroor gaan jy en Stef praat en sing? 

Ek en Stef is min of meer in dieselfde fases van ons lewens; ons is albei gelukkig getroud, het gesinne begin, en is besig met ’n proses van afskaal en vereenvoudig. Dit beteken nie ons stagneer nie; hierdie show gaan heelwat anders wees as ons vorige collaborations. Dit gaan uit die aard van die saak ook baie fokus op die Kaap, want ons is albei Kapenaars – ek is hier gebore en hy het hom hier gevestig vanuit Nederland. Dit gaan dalk meer ’n gemaklike tweegesprek wees as ’n show, met omtrent ewe veel insette deur elkeen.

Van Kaapstad en die Suidoosterfees gepraat, hoe voel jy oor die toekoms hier? Of hoe voel jy oor vandag?

Ek is baie positief oor Suid-Afrika op die oomblik, baie meer as selfs nog ’n jaar gelede. Ek dink mense wroeg te veel. Ons is nog ’n jong land, ons nasiebewussyn is pas besig om te ontluik, en hoewel ons nog broos voel na die verskriklike lyding van apartheid en die geweld en korrupsie van die eerste dekade van hierdie eeu, is dit asof daar nou eindelik hoop is, die begin van ’n proses van selfontdekking, ’n ontdek van mekaar. Ek hoop regtig die ergste kak is nou verby, want die hemel weet, ons het genoeg kak gehad.

Is daar enigiets anders wat vir jou interessant lyk op die Suidoosterfees se program?

O, daar is so baie, dis onmoontlik om te kies … Katlego Maboe, Jack Parow, soveel musikante, soveel temas wat ontgin word in teater, tot Ingrid Jonker en Adam Small – te min tyd om alles te sien! En dan moet ons nog rehearse ook!

Dalk kan jy ten slotte een van die gedigte uit jou nuwe bundel met ons lesers deel? Of, dalk een wat nie die bundel gehaal het nie?

Hier is enetjie wat nie die paal gehaal het as “hidden track” op my laaste album nie omdat dit ’n rapsie te sentimenteel was. Ek het dit later oorweeg vir die bundel, maar die rym is baie voorspelbaar. Dis ’n swak werk, ek weet, maar fok, dit het uit my hart gekom! Kyk daarna soos na ’n poskaart met ’n kitsch foto'tjie op:

Verjaarsdagliedjie
(geskryf op my 60ste)

ek sien die sonskyn deur die ruit
ek hoor die koffiekan wat fluit
ek weet nou hoe my siel kan rus
ek weet nou wie ek is

ek voel die laaste nagkombers
my toevou soos ’n liefdesvers
my trane het nou opgedroog
daar’s ’n glinster in my oog

ek kan nie meer die pyn onthou
die nagmerries is weg en nou
wil ek die universe bedank
en die voëltjies op die vensterbank

my littekens is lank vergeet
ek wil nie meer van woede weet
ek is weg uit daardie wildernis
ek weet nou wie ek is.

Ns. As iemand die bundel wil koop en te lui is om na die boekwinkel te ry, SMS slegs die woord “blou” na 41199 en kyk wat gebeur! Dankie vir die belangstelling!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top