Van woorde en pistole

  • 1

Die stories wat woorde en name onderspan, duik dikwels in verrassende ruimtes op.

Tog ’n vreemde toeval dat die swart voëlkyker wat op 25 Mei vanjaar deur die Kanadese vrou Amy Cooper in die stad New York se Central Park in ’n onderonsie ingetrek is, dieselfde van as sy het.

Op Memorial Day, ’n landwye vakansiedag in die VSA wat gesneuwelde soldate in herinnering roep, was Christian Cooper, ’n Harvard-alumnus, eertydse strokiesprentskrywer en tans redakteur van biomediese tekste, in The Ramble, ’n natuurreservaat binne-in Central Park, met sy verkyker om sy nek voëls aan’t afloer.

Amy Cooper, ’n wit bankier, het teen die reëls in haar hond leibandloos in hierdie ekologies-sensitiewe deel van Central Park laat rondhardloop.

Christian het haar daaroor aangespreek – waarop sy gedreig het om die polisie te ontbied en vir hulle te sê dat haar lewe deur ’n swart man – “an African American male” – in gevaar gestel word.

Met ’n voorsienigheid wat dalk daaruit spruit dat hy in minstens twee opsigte ’n buitestander is – swart en gay – het Christian terstond die relletjie op sy selfoon opgeneem. Ook toe Amy met ’n kunsmatig verskrilde stem die polisie probeer wysmaak dat die reëlbehepte voëlkyker haar lewe bedreig.

In die berigte wat vir enkele dae die koerante daardie land oor vol was – totdat George Floyd se dood in Minneapolis kort daarna die storie van suurstof ontneem het – het lesers oral gesien dat versigtige joernaliste êrens boaan hul stories, met onbedoelde ironie, opmerk: “no relation”.

Die smerige tafereel se een Cooper is nie aan die ander ene verwant nie. Maar is die aanname in ieder geval geregverdig dat almal wat die agternaam Cooper het, waarskynlik verwant is? Die van Cooper het immers verskillende herkomste.         

En New York is natuurlik ’n reusemetropool.

Enersyds kan iemand wat die van Cooper dra, die afstammeling van iemand wees wat in die Middeleeue in Engeland die vervaardiger of verkoper van vate of kuipe was. Daar sou natuurlik baie kuipers gewees het – een op elke dorp? – wat benewens ’n gedeelde nering geen ooreenkoms had nie; beslis geen gedeelde bloed nie.

In die Nederlandstalige wêreld – en by verlenging in Afrikaans – is daar die ekwivalente agtername Kuiper, Kuijper en Kuyper. Dít het eweneens uit die baantjie wat kuipers vervul, ontstaan. ’n Kuipery, vertel die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal vir woordspeurders, is die plek waar ’n vatmaker sy brood verdien.

Die Skotse variant van die van Cooper word herlei na die dorp Cupar suid van Dundee in die streek Fife. Daardie pleknaam kom waarskynlik uit die taal van die Pikte; die betekenis is duister.

As dit ’n Jood is wat die van dra, kan dit dikwels herlei word na die Duitse woord Kupfer, wat “koper” beteken en wat waarskynlik daarop sou dui dat ’n voorsaat as kopersmid werksaam was.

Wikipedia vertel dat Cooper vandag die 35ste mees gewilde agternaam in Engeland is en, interessant genoeg, die vierde mees gewilde een in die Wes-Afrikaanse republiek Liberië. Dít het in 1847 tot stand gekom nadat die American Colonization Society die hervestiging van duisende vrygebore of vrygemaakte slawe uit die VSA, en ook ’n aantal Afro- Karibiërs daar bewerkstellig het. Cooper, moet ’n mens hieruit aflei, het waarskynlik ook vroeg al onder swart Amerikaners gevestig geraak.

Kortom: agter die feit dat dit twee Coopers was wat mekaar een oggend in Central Park tromp-op geloop het, is daar ’n stuk geskiedkundige kompleksiteit.

*

Maar hierdie storie het nóg ’n boeiende woord te berde gebring.         

Toe hy in die dae ná die ongelukkige insident die koerante te woord staan, het Christian Cooper gesê: “I don’t think there’s an African American person in America who hasn’t experienced something like this at some point. I don’t shy away from confronting the scofflaw when I see it. Otherwise, the park would be unusable – not just to us birders but to anybody who enjoys the beauty.”

Amerikaanse Engels het ’n wonderlike seggingskrag. En soos dit ’n groot land met hope ondernemingsgees betaam, het daar oor die eeue ook baie uitdrukkingsvolle woorde daaruit gespruit. Veral weens die invloed van rolprente en die televisie het hulle ook dikwels elders ’n vastrapplek gevind. Tog, al kon ek uit die konteks aflei wat dit beteken, was die selfstandige naamwoord scofflaw vir my ’n nuutjie.

Die e-weergawe van die woordeboek Merriam-Webster verklaar dit so: “a contemptuous law violator”.

’n Baie onlangse voorbeeldsin, wat op 31 Mei op die nuuswebblad oregonlive.com verskyn het, lui: “Police claim that scofflaws are terrorizing people in and out of camps.” Van waar Gehasi? wonder ek.

Heel gepas het die woord in ’n ietwat soortgelyke tydsgewrig as nou ontstaan. In 1923 het Delcevare King, ’n vername voorstander van die verbanning van tiermelk, ’n sogenaamde Prohibitionist dus, ’n neologismewedstryd van stapel gestuur. Die doel daarvan? King was so ontsteld oor die mate waartoe die Agtiende Wysiging van die Amerikaanse Grondwet, wat van 1918 tot 1933 die maak, vervoer en verkwansel van alkohol verban het, geminag is dat hy deur die skep van ’n nuwe woord ’n skandvlek wou werp op diegene wat hulle aan sulke optrede skuldig maak.

Merriam-Webster vertel: “King was op soek na ’n woord wat diegene wat die wette teen die inname van alkohol oortree, in ’n slegte lig sou stel.” Die woord moes die heersende elitevooroordeel teen drank beliggaam en verkondig. Lede van die publiek moes derhalwe ’n nuwe woord munt wat ’n wettelose drinker sou beskryf. Daar het digby 25 000 inskrywings ingestroom. Woorde soos boozlaac en hooch-sniper is aan die hand gedoen.

Twee siele, Henry Dale en Kate Butler, het per toeval met presies dieselfde wenwoord vorendag gekom: scofflaw. Dis natuurlik ’n woord wat uit twee onderdele saamgestel is: die werkwoord scoff, wat “minag” beteken, en die selfstandige naamwoord law. Dale en Butler het die allemintige prysgeld van $200 gedeel.

Soos dit ook vandag met koronanuutskeppinge gesteld is, skryf Merriam-Webster: “Al was dit hoe onwaarskynlik, het die woord scofflaw ten spyte van taallui se aanvanklike geringskatting daarvan gaandeweg steun gewen. Dit het sy Prohibition-geboorteplaas ontgroei en die betekenis verkry van iemand wat enige wet oortree, nie net wette wat op drink van toepassing is nie.”

*

Maar daarmee is hierdie wrang storie se bemoeienis met woorde ook nie volkome afgeloop nie.         

Die videogreep wat Christian op sy selfoon opgeneem het, vang die oomblik vas wat soveel swart Amerikaners, veral mans, al mee te kampe gehad het. Wanneer Amy die woorde “African-American male” in die oor van die polisielied sis wat aan die ander kant van die telefoonlyn inluister, is daar ’n onmisbare lading nyd en vrees. Hierin opgesluit lê waarskynlik Amy se grootste sonde: Sy was goed onder die indruk daarvan dat daardie dubbelloopbeskrywing allerlei vooroordele in die luisteraar se gemoed sou afvuur, veral as hy of sy wit is. Soos wat King met die woordjie scofflaw wou regkry, was Amy daarop uit om die welbekende pejoratiewe waarde wat in die uitdrukking African-American male opgesluit is, te gebruik om die polisie tot spoedige aksie oor te haal. Hulle moes terstond haar weergawe van die gebeure – waarvan die filmpie se kykers geweet het dat dit vals is – aanvaar. Hulle moes haar te hulp snel. Hulle moes Christian Cooper benader soos hulle vantevore so baie swart mans aangepak het. Sagkens gestel: met agterdog en met oormatige brutaliteit. Soos George Floyd dae later sou uitvind.

*

In die openbare gesprekke wat op die Central Park-sage gevolg het, is Amy, wat gou haar hoëstatuswerk kwyt was, tot die argetipiese Karen gedoop. Nóg ’n woord of naam wat tot enkele jare gelede ontbloot was van alle bybetekenis. Vandag dui dit op ’n eieregtige, boelieagtige wit vrou wat in haar middeljare wentel en wat meen waar háár wil lê, dáár is daar ’n weg, of dit nou is deur die bestuurder se kantoor te nader of deur woorde as wapens aan te wend. Op Engels word gesê sy sou nie skroom om ’n frase soos “African American male” te weaponize nie.

Dalk het die taalindoenas reeds met ’n Afrikaanse vertaling vir die Engelse werkwoord weaponize vorendag gekom. My eie soektoggie het niks opgelewer nie, totdat Jana Luther laat weet dis tot wapen maak.

Tog ontbreek dit aan die skerpheid, die skrilheid van die Engels.

Dalk is ’n wedstryd, soos King se toentertydse ene, nodig om ’n woord of uitdrukking te skep wat ’n koeëlgat agterlaat.

  • 1

Kommentaar

  • Vreedsame siel

    Baie dankie vir die insiggewende artikel. Die geskiedenis en verbande van woorde is fassinerend.

    "Weaponize" - dalk "koeëlbloedig maak"? (Dit kan met die naam van 'n taal ook gedoen word.)

    'n Ekstreme voorbeeld van vuurwapengeweld deur polisie is die skietdood van Amadou Diallo in 1999 in New York: https://en.wikipedia.org/wiki/Shooting_of_Amadou_Diallo

    In reaksie het Bruce Springsteen die lied "American skin (41 shots)" geskryf:
    https://www.youtube.com/watch?v=406QaJ8IZ2Q

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top